Inmengingsbeleid en die stryd teen skaarsheid en gebrek

ekonomiese krisis

Argieffoto.

Wanneer ekonomiese sake beskou word, is dit soms voordelig om ʼn tree terug te gee en te vra wat die punt van ʼn ekonomie nou eintlik is. Dit is redelik om te dink die doel van ʼn ekonomie is om mense se behoeftes en voorkeure te bevredig, maar dieper as dit is die ekonomie eintlik ʼn stelsel van sosiale samewerking wat lynreg teenoor gebrek en skaarsheid staan.

As mense is ons almal eintlik voortdurend vatbaar vir gebrek en skaarsheid. Skaarsheid en gebrek is ʼn werklikheid wat maar altyd in die agtergrond skuil, maar dié werklikheid is wel, juis weens die suksesvolle en langdurige samewerking in die markekonomie, vir die meeste mense, veral in die Westerse samelewing, minder akuut.

Die vryemarkekonomie is verantwoordelik vir ʼn ongekende toename in die aantal hulpbronne, produkte, dienste en veral verbruikersgoedere, wat vandag aan ons beskikbaar is. Waar die proses tot ʼn groter mate toegelaat is om in werking te tree, is rykdom geskep, algehele lewenstandaarde verbeter en baie mense van armoede verlos.

Tog, in sekere gevalle, soos tans in Venezuela gesien word, kan dié lofwaardige proses, waardeur mense voortdurend daaraan werk om skaarsheid en gebrek teë te werk in die wiele gery word, wat meebring dat skaarsheid, gebrek en ʼn daling in lewenstandaarde ʼn samelewing weer kan inhaal en oorval.

Skaarsheid en gebrek beteken hulpbronne, produkte en dienste reën nie uit die lug op ons neer nie. Bykans alles wat ons as mense verbruik, moet verbou óf vervaardig word. Dié proses is iets wat daagliks voortgesit moet word en daar is feitlik geen waarborg dat markdeelnemers dit môre, soos vandag, sal voortsit nie.

Die vraag waarmee ons dan te kampe het, is hoe presies dié diverse aantal hulpbronne, tegnologie, arbeid en produksieresepte in die breë en mettertyd, ten bate van ons almal gekoördineer behoort te word.

Daar word gewoonlik drie groot antwoorde op dié probleem gebied. Die een is een of ander vorm van sosialisme, wat eintlik uiters gesentraliseerde staatsbeheer beteken en die ander is die kapitaalryke, vrye markekonomie wat funksioneer met veilige regte van privaatbesit en betekenisvolle markpryse.

Tussen dié twee moontlikhede staan intervensionisme of inmengingsbeleid waarmee regerings tot wisselende mates met statutêre dwang by die markekonomie inmeng om sosiale of politieke doelwitte te verwesenlik. Dié roete maak ook in ʼn mindere mate as volkome sosialisme inbreuk op die werking van die markekonomie en privaatbesitregte.

Die voorstaanders van volkome sosialistiese staatsbeheer het gereken die vryemarkekonomie vermors onder andere hulpbronne, is ʼn vorm van uitbuiting en dat die “samelewing” (lees apparatjiks en staatsamptenare) hulpbronne beter as die markekonomie kan koördineer, met die regverdiging dat dit ten bate van die “gemene bes” gedoen sal word.

Die uiterste van ʼn dwangstelsel van sentralistiese sosialistiese ekonomiese bestuur, met volkome staatseienaarskap van alle hulpbronne en kapitaalgoedere, het oorwegend in onguns verval, veral ná die ondergang van die Sowjet-unie, waar die stelsel met groot oortuiging en oorgawe op mense afgedwing is.

Die Sowjet-unie was ʼn enorme ryk met ʼn oorvloed minerale hulpbronne, maar sy sosialistiese ekonomiese stelsel van staatsbeheer kon eenvoudig nie die groot Westerse ekonomieë verbysteek nie. Die nalatenskap van kommunisme is steeds sigbaar. Gemeet aan BBP, is die Rusland van vandag, jare na die val van die Sowjet-unie, nog steeds ʼn kleiner ekonomie as Brasilië, Italië, Korea en Frankryk en maak dit slegs ongeveer 7% van die VSA se ekonomie uit.

Die Sowjet-unie was ʼn ryk waar hulpbronne so gekoördineer is dat Yuri Gagarin as eerste man na die ruimte gestuur is, terwyl ʼn groot gedeelte van die bevolking groot gebrek, veral aan genoeg verbruikersgoedere, gehad het. Een ding is duidelik, die stelsel kon nie ekonomiese hulpbronne ten gunste van Sowjet-Jan Alleman koördineer nie.

Volgens oorlewering was mense in die Sowjet-unie gereeld gesien met ʼn sogenaamde avoshka (авошка), ʼn Russiese woord wat met iets soos ʼn geluksakkie vertaal kan word. Die gevlegte tousakkies is blykbaar byderhand gehou, net in geval Sowjet-Jan Alleman op ʼn nodige produk afgekom het en dit dadelik moes koop. Die meeste Westerlinge, wat in die ekonomies vryer gebiede van die wêreld leef, ken nie dié vorm van gebrek nie.

Inmengingsbeleid vind neerslag in ʼn reeks wette en beleide wat die markekonomie reguleer in ʼn poging om sekere sosiaal-maatskaplike (dalk polities voordelige?) uitkomste volgens die doelwitte van ʼn heersende staat teweeg te bring.

Dié ingrepe gaan baie verder as die blote instandhouding van ʼn basiese funksionerende regstelsel wat mense van oortredings teen lewe en privaat eiendom beskerm – ʼn meer tradisionele beskouing oor die redelike rol van ʼn regering.

Die voorstaanders van inmengingsbeleid glo die kostes van sulke ingrepe kan deur ander voordele wat dit meebring geregverdig word, maar ekonomies gesproke dra sulke ingrepe steeds geleentheidskostes.

Die sakesektor in SA het met heelwat wette en regulasies te kampe, waarvan ʼn hele paar uit die diskresie van heersende politici en beleidmakers duidelik as inmengingsmaatreëls ingestel is.

Sekerlik kan nie alles wat in die Suid-Afrikaanse wetgewing voorkom as nadelig beskryf word nie. Sommige reëls is redelik en word wel in dié wetgewing verwoord. Waarop wel klem gelê moet word, is die ekonomiese koste van oordadige wetgewing en regulasies. Dit bring ʼn mens by die vraag oor wanneer inmengingsbeleid te ver gaan.

Die koste van ongewenste inmenging is bykans onmoontlik om in ʼn empiriese laboratorium te bepaal, maar dis logies denkbaar dat so ʼn koste teenwoordig sal wees. Eenvoudig gestel, hoe hoër die koste van sake doen gestel word, hoe minder sake sal gedoen word.

Terwyl regulasies, soos byvoorbeeld arbeidswetgewing en wetgewing oor verbruikersbeskerming, poog om werknemers en verbruikers te beskerm en sekere voordele aan hulle te verskaf, is dit ook so dat geen voordele of beskerming sonder ʼn koste kom nie.

Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum presteer SA op arbeidsgebied, uit ʼn ranglys van 138 lande, uiters swak in die volgende gebiede: samewerking in arbeidsverhoudinge (138ste uit 138); buigsaamheid van loonskikkings (135ste uit 138) en aanstellings en afdankings (135ste uit 138).

Daar is geen manier wat die bestaande arbeidswetgewing nie bydra tot verswakte produktiwiteit en hoër werkloosheid nie. Die koste van oorregulering, met betrekking tot arbeid, is bes moontlik verhoogde werkloosheid, verswakte arbeidsproduktiwiteit en die gevaar dat dié wette en regulasies (soos die minimumloon) diegene wat werk ten koste van ander, soos diegene wat wil werk, beskerm.

Wette oor regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is nog wette wat genoem kan word. Dié wette veronderstel die bevoordeling van die swart gemeenskap in Suid-Afrika om “reg te stel”, maar ook hier kan daar nie ʼn voordeel sonder ʼn koste wees nie.

Die kostes hieraan verbonde is ook moeilik om te kwantifiseer, maar sluit hoogs waarskynlik in verswakte arbeidsproduktiwiteit, traer belegging in die privaatsektor en ʼn vermorsing van belastinggeld in aankope deur die regering.

Die voordele wat sekere groepe uit RA en SEB ontvang, is gewoonlik sigbaar en kan maklik aan joernaliste uitgewys word, terwyl die skade bes moontlik oor die algehele ekonomie versprei en baie moeiliker is om raak te sien, soos gewoonlik die geval is met skadelike beleid.

Die markekonomie en selfs ʼn markekonomie gebonde deur inmenging, is uiters lewenskragtig. Selfs in die Sowjet-unie het die deelnemers buite die staatbeheerde markte, in die ‘swart mark’, baie gedoen om die inmenging en hindernisse teë te werk om noodsaaklikhede aan mense te verskaf, maar inmengingsbeleid dra altyd ʼn ekonomiese koste.

ʼn Redelike vraag om te vra is hoeveel sterker ons plaaslike ekonomie kon gestaan het indien daar heelwat minder inmenging en skadelike beleid teenwoordig was. Tot op hede bly die SA-regering hoogs toegewyd aan sy bestaande inmengingsbeleid en die progressiewe uitbreiding daarvan.

Die skade wat deur oorregulering en swak beleid aangerig word, manifesteer verspreid oor die algehele ekonomie in ʼn verswakking van die voortreflike vryemarkkoördinering van hulpbronne, kapitaal, arbeid en tegnologie. So ʼn verswakking beteken uiteindelik ʼn swakker ekonomie as wat waarskynlik kon gewees het, wat op sy beurt beteken dat die land in geheel armer is as wat nodig is.

In die konteks van ʼn swak wêreldwye ekonomie, die plaaslike nasionale begroting wat onder druk is en makro-ekonomiese risiko’s, waarvan die moontlikheid van ʼn volgende Europese skuldkrisis en broeiende probleme met China se ekonomie slegs twee is, is die kool van oormatige regulasie en nadelige beleid die sous nie werd nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Die Kubaanse regeringstyl het skynbaar opnuut ons land se topbestuur in vervoering. Dit laat mens wonder of dit sommer net ‘n ge-ooh en ge-aah is om kiesers tot nuwe onderdanigheid te lei en of die ANC werklik weer die ou uitgetrapte wee na ellende wil beproef…

Henry ·

Ja.
Die regimes van Sub-Sahara Afrika asook hul versameling truuks, verhoed dat die ‘ekonomieë’ wat deur hulle bedryf word, sommerso binne een van die drie kategorieë wat hierbo genoem word, tuishoort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.