Internasionale oorsig 2020: Nagorno-Karabakh, BLM en terreur

In die eerste aflewering van die internasionale oorsig van 2020 is daar onder meer gefokus op die Covid-19-pandemie, die Amerikaanse verkiesing en Brexit.

Hier is van die ander belangrike internasionale gebeure en kwessies wat in 2020 uitgestaan het.

Oorlog tussen Armenië en Azerbeidjan

Foto: Dmitri Lovetsky, AP

Die oorlog tussen Armenië en Azerbeidjan oor beheer van die bergagtige, ylbevolkte Nagorno-Karabakh en betwiste gebiede om Nagorno kan as een van die mees tragiese gebeure van 2020 beskou word. Terwyl Rusland vroeg reeds oor die vermoë beskik het om die oorlog tot ʼn einde te bring, het die Russe hulle voete gesleep omdat hulle die Armeniërs ʼn les wou leer nadat ʼn meer pro-Westerse eerste minister verlede jaar in Armenië aangewys is.

Intussen het Azerbeidjan uit die geld wat dié land die afgelope twee dekades uit sy wesenlike gasreserwes gemaak het, sy weermag met die hulp van Turkye en Israel gemoderniseer en toe die wêreld op die pandemie gefokus was, het Azerbeidjan ʼn verrassingsaanval op Nagorno-Karabakh gelewer en binne enkele weke die verouderde weermag van Armenië, wat nog in 1994 die gebied verower het, verdryf.

Armeniërs woon reeds 2 000 jaar lank in Nagorno-Karabakh, terwyl Azerbeidjan se aanspraak op die gebied spruit uit ʼn onderduimse ooreenkoms tussen Kemal Atatürk en Joseph Stalin uit die 1920’s waarvolgens Nagorno-Karabakh deel van die Azerbeidjanse deel van die Sowjetunie geword het.

Foto: Armenian Defense Ministry/PAN, AP

Die oorlog om die beheer van Nagorno-Karabakh en die betrokkenheid van verskeie buitelandse rolspelers is ʼn tragedie. Hoewel vrede uiteindelik deur Rusland onderhandel is en die etniese Armeniërs net beheer oor ʼn deel van hulle land verloor het, bly die oorlog en sy uitkoms ʼn tragedie.

Turkye se betrokkenheid deur die verskaffing van wapens en Islamitiese vegters aan Azerbeidjan behoort tot ʼn finale breuk tussen Turkye en die Weste aanleiding te gee. Israel se verkoop van gevorderde hommeltuie en ander militêre toerusting aan Azerbeidjan is om die minste te sê immoreel.

Daarby moet die onvermoë van Westerse lande om Armenië by te staan ernstige vrae oor die Weste se verbintenis tot die beskerming van uiters weerlose Christenminderhede in die Midde-Ooste en Asië laat ontstaan.

Dit is steeds nie seker presies hoeveel mense in die oorlog dood is nie, maar duisende soldate het hulle lewe verloor en meer as 1 000 Armeense soldate is steeds vermis. Duisende etniese Armeniërs moes ook uit hulle huise vlug toe Azerbeidjan beheer oor hulle dorpe gekry het. Die stryd vir die etniese Armeniërs om beheer oor hulle historiese hartland is steeds nie verlore nie, maar het in 2020 ʼn groot terugslag gekry. Christenvolkere oor die wêreld moet hulself afvra waarom hulle nie daarin kon slaag om die Armeniërs by te staan nie.

Black Lives Matter-betogings oor die wêreld heen

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Die dood van die swart Amerikaner George Floyd op 25 Mei 2020 in die Amerikaanse stad Minneapolis nadat hy deur polisielede in hegtenis geneem is, het tot wydverspreide betogings oor die hele VSA en uiteindelik honderde stede oor die wêreld aanleiding gegee. Floyd het die gesig van beweerde polisie-aggressie teen swart mense geword.

Hoewel dit duidelik is dat die polisieman wat Floyd in hegtenis geneem het, nie korrek opgetree het nie, is dit ook duidelik dat Floyd ʼn dwelmverslaafde en gewoontemisdadiger was wat tydens die voorval onder die invloed van dwelmmiddels was. Floyd het ook ernstige gesondheidsprobleme gehad wat waarskynlik tot sy vinnige dood bygedra het.

Ten spyte van Floyd se twyfelagtige agtergrond het hy vinnig ná sy dood die gesig van sogenaamde swart onderdrukking en beweerde polisiebrutaliteit geraak. Ten spyte van talle studies wat bewys dat swart Amerikaners wat misdade pleeg nie teen ʼn hoër koers as misdadigers van ander rasse deur die polisie gedood word nie, het die Black Lives Matter-beweging oor groot dele van veral die Westerse wêreld gespoel en het dit soms met gewelddadige betogings en voortdurende opstande gepaardgegaan.

Die wyse waarop die BLM-aktivisme by sportbyeenkomste ingesypel het, is ʼn voorbeeld van hoe die beweging se politieke agenda nou ook op ander terreine afspeel. Daar is egter ook in die VSA en elders ʼn groeiende beweging van mense van alle rasse wat genoeg gehad het van die gewelddadige, Marxistiese en anargistiese BLM-beweging en verskeie teenreaksies het die beweging tans op die agtervoet. Die ekstremisme van die BLM-beweging gepaardgaande met versoeke om die finansiering van polisiedepartemente in die VSA te staak het tydens die onlangse verkiesing tot ʼn swaai in stemme onder verskeie minderheidsgroepe na pres. Donald Trump aanleiding gegee.

Veldbrande

Foto: Rick Rycroft, AP

Verwoestende veldbrande, sommige die ergste ooit of minstens die ergste in dekades, het vanjaar oor die wêreld enorme skade aangerig. Eers was dit die veldbrande in die ooste van Australië wat meer as sewe miljoen hektaar verwoes en tot die dood van miljoene diere en selfs ook 445 mense (27 weens die direkte gevolge en die res weens indirekte gevolge soos rookinaseming) aanleiding gegee het.

Ernstige veldbrande het ook in Kalifornië in die VSA, Brasilië en Rusland tot die vernietiging van woude, infrastruktuur en kosbare plantegroei aanleiding gegee. Klimaatsverandering, die wyse waarop die mens beboste gebiede benut en selfs bewoon, asook uitdagings met brandbestryding en bosbeheer kan in die toekoms tot selfs meer verwoestende veldbrande oor die wêreld lei.

Ontploffing in Libanon

(Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Die ontploffing by ʼn pakhuis in die hawe van Beiroet op 4 Augustus het tot die dood van meer as 100 mense en enorme skade aan infrastruktuur in groot dele van dié stad aanleiding gegee. Wat die ontploffing egter op sy wrede wyse geopenbaar het, is die politieke krisis waarin Libanon tans verkeer met politieke koalisies wat hulle eie belange dien, burokratiese rompslomp en grootskaalse korrupsie.

Beiroet is een van die oudste bewoonde gebiede in die wêreld met mense wat reeds vir sowat 5 000 jaar daar woon. Die stad is ook die bymekaarkomplek van die Midde-Ooste se historiese volkere wat Christene, Soenniete en Sjiiete (Moslemgroepe) en tot mindere mate Jode insluit.

Sedert Libanon in die 1940’s onafhanklik van Frankryk geword het, het die land tye van stabiliteit, maar ook verskeie oorloë en voortslepende etniese stryd ervaar. Die toekoms van Libanon bly onseker met die land wat tans ʼn ernstige ekonomiese krisis beleef en die vernietiging van die land se besigste hawe wat net verder daartoe bydra. Wat die krisis in Libanon egter bevestig, is die uitdaging vir Midde-Oosterse lande om steeds interne kohesie te bewerkstellig, ekstremisme te beveg en korrupsie uit te roei.

Terreur en massa-immigrasie in Europa

Foto: REUTERS/Eric Gaillard

Terwyl terreuraanvalle deur veral Islamitiese terreurgroepe ʼn alledaagse ervaring in talle Midde-Oosterse en noord-Afrikalande is, was daar in 2020 weer ʼn toename in terreuraanvalle in Europa. Brittanje, Duitsland, Oostenryk en Frankryk is hierdeur geraak en dit was veral die onthoofding van ʼn onderwyser in Parys en kort daarna die wrede aanvalle op besoekers aan ʼn katedraal in Nice in Oktober, wat Europeërs bekommerd oor hernude Islamitiese terreur gemaak het.

Die probleem in Europa is tweeledig. Eerstens, soos wat die voorval in Nice bewys het, kan ʼn persoon wat as ʼn sogenaamde vlugteling in Europa aankom gemaklik na enige land in Europa reis en dan daar sy beplande terreurdaad uitvoer. Tweedens ervaar talle Europese lande die gevolge van groeiende Moslembevolkings wat in enkele woonbuurte saamwoon, hulle eie reëls volg, hulle kinders self onderrig en weerstand bied teen enige pogings wat nasionale regerings op hulle wil afdwing om hulle te laat assimileer. In stede soos Parys, Londen, Manchester, Liverpool, Brussel, Antwerpen, Amsterdam, Den Haag, Rotterdam, Wenen, Stockholm, Berlyn, Frankfurt en München bestaan daar reeds gebiede met byna eksklusiewe Moslembevolkings wat hulle leefruimtes en leefwyse inrig volgens hulle Moslemlande van herkoms. Dit is in hierdie woonbuurte waar jongmense gereeld geradikaliseer en dan oortuig word om terreuraanvalle uit te voer.

Daar is geen maklike antwoorde hierop nie. Talle Wes-Europese lande het Moslembevolkings van sowat 10% van hulle bevolkings en die bevolkingsaanwas is ook baie groter onder Moslems in hierdie lande as onder enige ander bevolkingsgroep. Gedwonge assimilasie raak al hoe moeiliker uitvoerbaar. Intussen stroom immigrante, asielsoekers en veral geluksoekers steeds te voet en met bote in en raak die probleem eerder groter as kleiner.

Die beste korttermyn-oplossings is baie strenger grensbeheer, verhoogde deportasies, harde optrede teen ekstremistegroepe en selfs imams en moskees soos wat deur die Franse president Emmanuel Macron voorgestel word. Selfs dit gaan net ʼn pleister plak op ʼn seer wat die potensiaal het om Europa oor die volgende dekades wesenlik te destabiliseer.

Normalisering van verhoudinge tussen Israel en Arabiese lande

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Wanneer daar na 2020 teruggekyk word en selfs wanneer daar oor ʼn paar jaar na die Trump-administrasie se nalatenskap gekyk word, sal die historiese ooreenkomste wat die Amerikaners tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Soedan en Marokko onderhandel het, as een van die grootste politieke deurbrake van 2020 beskou word. Die Trump-administrasie verdien erkenning hiervoor.

Vir dekades reeds probeer veral Amerikaanse regerings om ʼn vredesooreenkoms tussen Israel en die Palestyne te sluit en daardeur vir die Palestyne ʼn eie staat te skep en vir Israel ʼn meer seker posisie in die Midde-Ooste te help uitkerf. Hierdie proses het die afgelope paar jaar keer op keer misluk.

Pres. Donald Trump het ʼn totaal ander, meer omstrede benadering gevolg, deur die Amerikaanse ambassade in Israel na Jerusalem te verskuif, Israel se aanspraak op sommige dele van die Wesoewer te erken en intensiewe druk op Arabiese lande wat bondgenote van die VSA is, te plaas om verhoudinge met Israel te normaliseer.

Die gevolg hiervan is dat al hoe meer lande wat vir dekades geen verhouding met Israel gehad het nie nou amptelike diplomatieke bande daargestel het wat ʼn enorme erkenning van Israel se bestaansreg beteken. Vir Israel beteken hierdie erkenning groter sekerheid en veiligheid en belangrike ekonomiese geleenthede in veral Noord-Afrika en die Arabiese lande van die Persiese Golf. Vir die Arabiese lande beteken dit groter samewerking met die VSA en ook wesenlike ekonomiese geleenthede in ʼn streek waar regerings besef dat hulle hul afhanklikheid van olie moet begin verminder. Israel hou vir baie van hierdie lande saam met die VSA die sleutel tot ekonomiese diversifikasie.

Foto: Mahmoud Illean, AP

Wat beteken dit alles vir die Palestyne? Die probleem sedert die onderhandelinge by Camp David in die VSA wat deur pres. Bill Clinton gefasiliteer is, is dat daar keer op keer goeie ooreenkomste aan die Palestyne voorgelê is, maar wat hulle keer op keer weens interne verdeeldheid, halstarrigheid en blote haat vir Israel die voorgestelde ooreenkomste bly verwerp het. Die ooreenkoms wat by Camp David voorgestel is, en waartoe Israel ingestem het, sou die Palestyne in ʼn baie beter posisie geplaas het as enige voorstelle wat tans op die tafel is.

Wat Trump se optrede veroorsaak het, is om die Palestyne op die agtervoet te plaas. Die wêreld, ook talle Arabiese lande, is moeg daarvoor om vir die Palestyne te wag. Terwyl die meeste lande in die wêreld graag wil sien dat ʼn vredesooreenkoms tussen Israel en die Palestyne gesluit word en die Palestyne hulle eie staat moet kry, sal die Palestyne nou moet wys dat hulle ernstig is oor vrede. Dit begin by die uitwis van radikale elemente in veral die Gasa-strook, ʼn duidelike politieke mandaat vir die Palestynse leierskap en ʼn verbintenis tot die onderhandeling van ʼn werkbare ooreenkoms.

Die ooreenkomste tussen Israel en Arabiese lande het die politieke landskap in die Midde-Ooste wesenlik verander en dit sal ʼn invloed op ekonomiese, veiligheids- en politieke terreine in die streek hê. Die vraag is nou of die Biden-administrasie by hierdie suksesresep gaan bly.

Ander belangrike nuusgebeure

Afgesien van bogenoemde was daar natuurlik in 2020 ook talle ander belangrike internasionale nuusgebeure. Dit sluit onder meer in die krisis in Venezuela, verkiesings in talle lande, die aanwys van ʼn nuwe eerste minister in Japan, konflik, geweld, terreur en ander uitdagings in talle Afrikalande, die vergiftiging van ʼn Russiese opposisieleier, die stryd tussen sentraal-Europese lande en die Europese Unie en die onderhandeling van ʼn langtermynbegroting vir die EU. Die oorloë in Sirië, Jemen, Afganistan en Libië is steeds nie opgelos nie. Die stryd in die noorde van Ethiopië het ʼn eens stabiele Afrikaland in ʼn enorme krisis gedompel. Die stryd tussen Pakistan en Indië in Kasjmir deur ook voort. Die lys gaan aan en aan. In ʼn reeks artikels oor die volgende paar weke sal baie van hierdie sake bespreek word as deel van ʼn ontleding van wat vir elke wêreldstreek in 2021 verwag kan word.

Namate ʼn nuwe jaar aanbreek, is dit belangrik om te besef dat 2021 ʼn jaar van nuwe geleenthede en selfs herstel ná die pandemie kan wees, maar dat die krisis van 2020 en sy gevolge nog diep wonde in 2021 sal bly toedien en dat ʼn onsekere tyd die wêreld in die gesig staar met duidelik groter konflik wat in verskeie wêrelddele dreig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.