Internasionale oorsig: Duitse verkiesing – CDU onder toenemende druk

Duitse soldate begin met opruimingswerk ná die vloede. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Die regerende party van die Duitse kanselier, Angela Merkel, verkeer die afgelope paar maande onder toenemende druk in aanloop tot September se federale verkiesing.

Gedurende Junie en die eerste helfte van Julie het die CDU, en sy Beierse sustersparty die CSU, egter weer ’n stewige voorsprong in peilings begin toon, veral nadat die onervare kanselierskandidaat van die Groenparty ’n paar blapse begaan het. Die vraag is egter of verlede week se vloede in Rynland Palts en Noordryn-Wesfale wat tot die dood van sowat 170 Duitse burgers aanleiding gegee het, hierdie positiewe neiging in steun kan beëindig.

In ’n studie wat deur die Konrad Adenauer-stigting gedoen is, is die CDU se sterkste punt, vertroue. Terwyl kiesers wat oor vars, nuwe leierskap en klimaatsverandering besorg is veral die Groenparty steun en sakelui se steun weer die afgelope tyd sterk na die pro-vryemark (FDP) verskuif het, is die Christen-Demokrate steeds die party wat die meeste vertroue by Duitse kiesers inboesem. Terwyl alternatiewe soos die Groenparty die afgelope paar maande heelwat kiesers aangegryp het, vertrou die meeste Duitsers die CDU om ’n goeie regering daar te stel.

Die federale regering, waarvan die CDU die senior vennoot is, sowel as die CDU-geleide regering in Noordryn-Wesfale met Merkel se opvolger as CDU-leier, Armin Laschet, as premier, het die afgelope week onder fel kritiek deurgeloop vir hulle hantering van die vernietigende vloede.

In ’n peiling wat deur Der Spiegel onderneem is, het slegs 26% van Duitsers die afgelope week gesê dat Laschet ’n goeie krisisbestuurder is. Selfs die kanselierskandidaat van die sentrumlinkse Sosiaal-Demokrate, Olaf Scholz, het baie beter op hierdie vraag gevaar met 41% van kiesers wat hom as ’n goeie krisisbestuurder beskou. Slegs 24% van kiesers dink dat die sukkelende kandidaat van die Groenparty, Annalena Baerbock, ’n goeie krisisbestuurder is.

Laschet het ook heelwat kritiek uitgelok nadat hy tydens ’n besoek aan die vloedgeteisterde gebied van sy deelstaat gefotografeer is waar hy ’n grappie vertel het en self lekker saam lag. Laschet, wat reeds min steun onder Duitse kiesers geniet, se steun het die afgelope week nog verder gedaal.

Lugfoto van Schuld, Duitsland (15 Julie 2021) (Foto: Christoph Reichwein / dpa / AFP) / Germany OUT)

Uiteindelik is die groot vraag nou of die vloede ’n impak op die verkiesing, wat oor twee maande plaasvind, gaan hê. Nog meer as 100 mense word vermis en daar word verwag dat die finale dodetal soveel as 300 kan wees, terwyl tientalle mense ook in Nederland en Vlaandere oorlede is. Honderde huise is heeltemal verwoes, groot dele van sommige dorpe en openbare infrastruktuur soos paaie, treinspore en openbare geboue is heeltemal in die vloede vernietig.

Al die groot politieke partye in Duitsland, behalwe die regse Alternatief vir Duitsland, het klimaatsverandering die skuld vir die vloede gegee. Hoe politieke leiers soos Laschet, Merkel, Scholz en Baerbock oor die volgende twee maande op die vloede gaan reageer, kan sekerlik ’n invloed op die verkiesing hê.

Die werklikheid in die huidige Duitse politiek is egter, dat die CDU vir 50 van die afgelope 70 jaar Duitsland regeer het. Die meeste Duitsers wil steeds primêr politieke en ekonomiese stabiliteit behou en vertrou die CDU die meeste om presies dit te doen. ’n Meerderheid Duitsers het min, indien enige, vertroue in al die kanselierskandidate van die vernaamste partye. Laschet se redding gaan dalk juis in sy opponente se onvermoë om sekere mense van hulle eie vermoëns te oortuig, lê. Terwyl die vloede onsekerheid oor die politieke landskap gebring het, bly die beste voorspelling steeds dat die meeste Duitsers vir stabiliteit gaan stem en dat die CDU/CSU eerste sal eindig. Daar kan ook voorspel word dat Laschet in ’n koalisie met die SPD of die Groenparty sal regeer. Wat die vloede egter ook bewys het, is dat ’n enkele rampspoedige gebeurtenis maklik die fokus kan verskuif en dus ook die politieke toneel kan affekteer.

Taiwan-vraagstuk versterk alliansie teen China

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

’n Hele paar gebeure die afgelope twee weke dui daarop dat ’n breë alliansie van Westerse en Asiatiese lande daarvan oortuig is dat die beste manier om China se aggressiewe optrede in Asië en die groeiende Chinese militêre mag te stuit, die beskerming van Taiwan sal wees. Japan se nuutste witskrif vir verdediging wat ’n week of twee gelede uitgereik is, bevestig dat Japan die toenemende militêre aktiwiteite van die Chinese in die Seestraat van Taiwan as ’n ernstige krisis beskou.

Vroeër hierdie maand het die adjunk-premier van Japan, Tarō Asō, gesê dat Japan saam met die VSA Taiwan sal moet verdedig sou dit deur China aangeval word. Hoewel Asō later gedwing is om sy opmerking terug te trek, is dit duidelik dat die Japannese besef dat China se uitbreiding van militêre mag in Asië juis by sy aanspraak op Taiwan gestuit kan word.

Die Britse minister van verdediging, Ben Wallace, het die afgelope week Japan besoek en het tydens sy besoek aangekondig dat die Britse vloot twee oorlogskepe permanent in Oos-Asië gaan ontplooi. Hoewel die Verenigde Koninkryk nie ’n vlootbasis in Asië het nie sal hulle waarskynlik op Japan, Suid-Korea en Indië vir logistieke en ander ondersteuning staatmaak.

Die Britse premier, Boris Johnson, het oor die besluit om twee oorlogskepe na Asië te stuur nie doekies omgedraai nie en gesê dat die doel juis is om ’n boodskap aan China te stuur dat die Britte hulle deel sal doen om die internasionale seereg in stand te hou. Dit is natuurlik ’n verwysing na China se betwiste aansprake op dele van die Suid-Chinese See, maar ook China se voortdurende skending van Taiwan se soewereiniteit.

Die afgelope week is nuwe wetgewing ook in die Amerikaanse kongres voorgestel waarvolgens Amerika Taiwan sal bystaan om sy reserwemagte op te lei. Die wetgewing wat breë steun van Demokrate en Republikeine geniet sal heelwat Amerikaanse hulpbronne hiervoor beskikbaar stel. Terwyl die Amerikaanse kongres die afgelope tyd die verkoop van heelwat wapentuie aan Taiwan goedgekeur het, is die opleiding van Taiwan se reserwemagte ’n belangrike volgende stap.

Taiwan se weermag bestaan uit minder as 200 000 voltydse soldate, maar die reserwemag bestaan uit nog byna 2 miljoen persone wat, sou ’n oorlog met China uitbreek, opgeroep kan word. Die Chinese weermag het byna 2,2 miljoen voltydse soldate en nog 1,1 miljoen reserwemagte.

Die Amerikaners verstaan dat die beste manier om ’n Chinese aanval op Taiwan af te weer juis die versterking van Taiwan se verdedigingsvermoë is. Verder fokus die Biden-administrasie, net soos die Trump-administrasie voor hom, daarop om ’n breë koalisie van lande te ontwikkel wat China se aggressie sal teenwerk.

Die Chinese president, Xi Jinping, het onlangs tydens die Kommunistiese Party van China se honderdjarige herdenking China se aanspraak op Taiwan herbevestig en in geen onduidelik terme dit gestel dat China beplan om volle beheer oor Taiwan te neem nie. Sedert die einde van die Chinese Burgeroorlog maak die Volksrepubliek China (ook net bekend as China) aanspraak op die eiland Taiwan en ’n groep ander kleiner eilande om Taiwan wat saam as die Republiek China of bloot net Taiwan bekend staan.

Tydens die Chinese Burgeroorlog is die Nasionaal-Chinese regering onder leiding van die Kuomintang-party deur die Kommunistiese Party uitgedryf en het hulle na die eiland Taiwan uitgewyk vanwaar hulle sedert 1949 daarop aanspraak maak dat hulle die ware Chinese regering is.

Oor die afgelope sewe dekades het Taiwan de facto ontwikkel in ’n volwaardige soewereine staat, hoewel China dit nie wil erken nie en steeds op internasionale forums ’n stokkie daarvoor steek dat Taiwan as sulks erken word. Die demokratiese regering in Taiwan berei reeds vir jare voor vir ʼn moontlike aanval uit China.

Die afgelope paar jaar het die situasie egter bly versleg met China wat in 2005 wetgewing goedgekeur het waarvolgens enige onafhanklikheidsverklaring deur Taiwan met oorlog begroet moet word. Die afgelope tyd gebruik die Chinese ook oorlogskepe en vegvliegtuie om Taiwan te intimideer.

Vir die VSA, Brittanje, Japan en selfs Indië gaan die konflik oor veel meer as bloot net die regte van die Taiwannese. China se groeiende globale invloed is ’n groot bron van kommer vir Westerse moondhede, maar ook onder sy buurlande, veral demokratiese pro-Westerse lande soos Japan, Indië, Suid-Korea en die Filippyne.

Al hierdie lande is dit eens dat China se aggressiewe uitbreiding van sy invloed juis by Taiwan gestuit kan word. Sou die VSA, Japan, Brittanje, Indië, Australië en nog lande almal Taiwan teen China help verdedig sal selfs die magtige Chinese weermag nie maklik daarin slaag om beheer oor Taiwan te neem nie.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake besoek binnekort Indië om juis groter militêre samewerking met dié land te bespreek. Terwyl Indië nog enkele jare gelede sterker bande met China oorweeg het, het Indië se fokus die afgelope paar jaar toenemend na die Weste verskuif.

China se aggressiewe optrede teen Indiese soldate in die Himalaja-gebergtes was die strooihalm wat die kameel se rug gebreek het. Dit het die Indiese regering waarskynlik finaal laat besluit om deel van ’n groter alliansie teen Chinese militêre aggressie te word.

Die huidige Amerikaanse regering het die afgelope paar maande sy buitelandse fokus hoofsaaklik op die Chinese-vraagstuk geplaas en dit is duidelik dat die VSA nie wil toelaat dat China verder sy invloed in Asië en ander wêrelddele moet uitbrei nie. Ook Japan is bekommerd oor die veiligheids-, ekonomiese en politieke implikasies van ’n magtiger ondemokratiese China in Asië.

Hoewel China se militêre vermoë steeds uitbrei, mag dit wees dat die land die afgelope tyd sy hand oorspeel het. China het nie net die Japannese nie, maar ook Indië, die Filippyne en nog lande in Asië en die Stille-Oseaan-gebied vervreem. Dit is heeltemal moontlik dat China se aspirasies vir groeiende internasionale invloed deur die Taiwan-vraagstuk bepaal gaan word. Konflik en selfs oorlog tussen China, en die VSA en sy bondgenote is nie ’n gegewe nie, maar word toenemend meer waarskynlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.