Internasionale oorsig: Enorme uitdagings vir China op die pad na globale oorheersing

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Die Chinese president Xi Jinping het dit reeds die afgelope paar jaar ten doel om China as die voorste ekonomiese, politieke en militêre mag in die wêreld te vestig. Daarmee saam wil Jinping die VSA se oorheersende rol van die afgelope paar dekades tot ʼn einde bring. Om China se globale invloed uit te brei, moet dié land se ekonomiese sukses egter voortgesit word. Dit lyk egter tans of daar ernstige probleme in die Chinese ekonomie is wat China se beweegruimte om sy invloed uit te brei, kan beperk.

Die afgelope twee dekades het die Chinese ekonomie jaarliks met byna 10% gegroei. Gedurende die tweede helfte van 2021 het die Chinese ekonomie egter al hoe stadiger gegroei, en daar word verwag dat dié land se ekonomiese groeikoers in 2022 tussen 4,5% en 5%, dus selfs laer as die verwagte groeikoers vir die VSA en ander Westerse lande, gaan wees.

Een van die grootste uitdagings in die Chinese ekonomie is ʼn toenemende skuldkrisis wat met die eiendomsmark verband hou. Die eiendomsmark maak een derde van China se bruto binnelandse produk (BBP) uit, en enorme eiendomsontwikkelings die afgelope paar jaar het dikwels tot China se sterk ekonomiese groei bygedra. Verlede jaar het twee van China se grootste eiendomsontwikkelaars, Evergrande en Kaisa, egter skuldprobleme ontwikkel en kon nie daarin slaag om hulle skuld getrou terug te betaal nie.

Baie jong Chinese wat in dié land se stede woon, sukkel ook om huislenings terug te betaal. Dit lyk toenemend of die groot eiendomsontwikkelings van die afgelope paar jaar vanjaar wesenlik kan afneem, wat ʼn groot demper op ekonomiese groei in China kan plaas.

‘n Gereguleerde ingangspunt na ‘n woonarea in Wuhan. Foo: (Chinatopix via AP)

China se hantering van Covid-19 dra ook nie tans by tot versnelde ekonomiese groei nie. China is een van slegs enkele lande wat steeds probeer om die verspreiding van Covid-19 heeltemal te beperk. Die afgelope paar weke is talle groot stede volledig afgesluit, alle burgers getoets en mense verplig om tuis te bly. Dit het in baie stede ekonomiese aktiwiteit benadeel en daar is die afgelope week berig oor die groot uitdagings wat China tans met uitvoere ondervind wat ernstig vertraag word.

Die afgelope tyd gaan China ook gebuk onder kragonderbrekings, stygende arbeidskoste en die globale styging in grondstofpryse. Verskeie Chinese bedrywe ervaar toenemende mededinging van ander Asiatiese lande wat tans produkte teen laer pryse vir die wêreldmark kan vervaardig.

Die Chinese regering het ook verlede jaar verskeie industrieë, veral in die tegnologiesektor, strenger begin reguleer, wat tot ʼn afname in buitelandse beleggings aanleiding gegee het. Die regering sal waarskynlik nie hiervan afwyk nie. Verlede week het die Chinese regering sy ekonomiese planne vir 2022 bekend gestel, en dit is duidelik gegrond op die stabilisering van die Chinese ekonomie, wat beteken dat Jinping en sy kabinet deeglik bewus is van die huidige uitdagings.

Die Kommunistiese Party van China sal later vanjaar sy konferensie hou waar Jinping waarskynlik tot ʼn derde termyn as sekretaris-generaal aangewys sal word. Terwyl Jinping se magsposisie in China sterker as ooit in die verlede is, is dit egter voortydig om te voorspel dat China se globale rol binnekort dié van die VSA sal oortref.

Dié kiesers kan bepaal wie Franse verkiesing wen

Emmanuel Macron (Foto: Ludovic MARIN / POOL / AFP)

Twee peilings die afgelope week het bewys dat pres. Emmanuel Macron se herverkiesing in Frankryk geen uitgemaakte saak is nie. Terwyl Macron volgens die peilings gemaklik eerste sal kom in die eerste ronde van die Franse verkiesing wat op 10 April plaasvind, sal hy slegs tussen 25% en 27% van die stemme op hom verenig. Sy uitdaging sal dan wees om in die tweede ronde nog 25% van kiesers te oortuig om vir hom te stem.

Die kandidaat wat tans die beste kans het om Macron uit te knikker is die sentrumregse Valérie Pécresse van die Republikeinse Party. In een peiling loop sy en Macron gelyk met 50% van die stemme elk indien albei na die tweede ronde sou deurdring, en in die ander peiling geniet Macron 52% van die steun en Pécresse 48% in ʼn tweede ronde.

Die grootste uitdaging vir Pécresse sal eers wees om wel tot die tweede ronde op 24 April deur te dring. Dit is tans ʼn kop-aan-kop-stryd tussen haar en Marine le Pen vir die tweede plek. Éric Zemmour, die onlangse regse toetreder tot die stryd, is in alle peilings in die vierde posisie met tussen 12% en 14% van die steun.

Franse kiesers het die afgelope paar jaar wesenlik na regs beweeg en daar is geen kans dat ʼn linkse kandidaat tot die tweede ronde gaan deurdring nie. Die linkse topkandidaat is tans Jean-Luc Mélenchon, wat die ekstreemlinkse vleuel van Franse politiek verteenwoordig. Die Groen Party se presidentskandidaat geniet 7% van die steun in peilings, en die Sosialiste, wat nog onlangs ʼn president opgelewer het (François Hollande tussen 2012 en 2017), se kandidaat kry net 4% van die steun.

Valérie Pécresse (Foto: JULIEN DE ROSA/AFP)

Vier regse kandidate geniet tans saam 50% van die steun in peilings. Dit is egter slegs Pécresse wat volgens peilings daarin gaan slaag om die regse en sentrumregse stemme in ʼn tweede ronde teen Macron te verenig. Baie sentrumregse kiesers is nie bereid om in ʼn tweede ronde vir Le Pen of Zemmour te stem nie, en albei kandidate se beste prestasie in peilings beweeg tans tussen 35% en 45% in ʼn tweede ronde teen Macron.

Macron se steun in die eerste ronde kom uit die stedelike politieke sentrum en sentrumlinkse kiesers wat veral voorheen vir die Sosialiste sou stem. In die tweede ronde sal hy heelwat van die ander linkse partye se kiesers kan oortuig om vir hom te stem, maar dit lyk onwaarskynlik of veral ekstreemlinkse kandidate in ʼn tweede ronde hulle steun aan Macron sal toesê.

Die afgelope paar weke is die verkiesingsveldtog gekenmerk deur die meeste kandidate (Macron, Pécresse, Le Pen en Zemmour) se gevry na regse kiesers se steun. Macron het onlangs ʼn onderhoud aan ʼn gewilde regse publikasie toegestaan, en verlede week het hy oudpres. Nicolas Sarkozy geprys omdat Sarkozy vir ʼn debat oor Franse identiteit gevra het.

Macron se besluit om in Julie 2020 die regse politikus Gérald Darmanin as minister van binnelandse sake aan te stel, was ook ʼn poging om te wys dat die Macron-regering ernstig is oor die stryd teen onwettige immigrasie en die groeiende uitdagings wat die Islamisering van woonbuurte oor die hele Frankryk vir die land inhou.

Eric Zemmour (Foto: Karen MINASYAN/AFP)

Macron se kans om herkies te word, hang tans van twee belangrike sake af. Eerstens moet die vraag oor wie sy teenstander in die tweede ronde gaan wees, eers beantwoord word. Sou dit Pécresse wees, sal Macron se uitdaging groter wees. Indien dit Le Pen of Zemmour is, sal hy, soos vyf jaar gelede, waarskynlik weer probeer om ʼn breë alliansie van ekstreemlinks tot sentrumregs te oortuig om te verhoed dat ʼn sogenaamde verregse kandidaat as president verkies word.

Die afgelope twee jaar was Franse kiesers traag om in streeks- en munisipale verkiesings te stem. Wat die stempersentasie gaan wees en presies wie die meeste gemotiveerd gaan wees om in albei rondes van die verkiesing te stem, gaan ook bepalend wees.

Die tweede belangrike saak is die stand van die Franse ekonomie. Frankryk het verlede jaar een van die beste ekonomiese groeikoerse in Europa gehad, en die Franse ekonomie toon steeds sterk herstel. Werkloosheid is baie laag en 67,5% van Franse is tans in die arbeidsmark opgeneem – die hoogste arbeidsdeelnamekoers in Frankryk in vyf dekades.

Tog is daar, veral onder die Franse werkersklas, groot ongelukkigheid oor stygende lewenskoste. Frankryk se staatskuld het oor die afgelope twee jaar van 97% tot byna 120% gestyg. Die regering se huidige begrotingstekorte is ook onvolhoubaar en veral sentrumregse kiesers word hierdeur afgeskrik.

Regse kiesers in Frankryk sal waarskynlik bepaal of Macron herverkies word. Wie die regse kandidaat in die tweede ronde gaan wees, sal die eerste groot vraag wees. Daarna sal die vraag beantwoord moet word oor die kwessie of regse kiesers in die tweede ronde gaan saamstaan. Macron gaan waarskynlik probeer om sentrumregse kiesers af te rokkel, en dit is hier waar die toestand van die Franse ekonomie bepalend kan wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

groenboer ·

Ietwat van ‘n “nitpick”, soos die Ingelse sê: In China is voorname en vanne andersom as in die weste. M.a.w. die leier se van is Xi en sy voornaam Jinping. Mens sê dus Xi het dit of dat gedoen, nie Jinping nie. Om te sê “Jinping wil die VSA se rol beperk” is soos om te sê “Jaco se artikel bespreeek China se rol” eerder as “Kleynhans se artikel bepsreek China se rol.”

In ieder geval. Gaan kyk mens na China se geskiedenis, sal jy sien die land is inherent onstabiel, en vir baie eeue nou al word tydperke van toenemend outoritêre regering daar afgewissel met tydperke van chaos en burgeroorlog.

In die weste maak ons ‘n katastrofale fout om al ons vervaardiging na China uit te voer bloot omdat dit op die kort termyn goedkoper en “meer doeltreffend” is om dit so te doen. Vroeër of later is China terug in chaos, en skielik raak dit onmoontlik om enigiets van rekenaars tot plastiekspeelgoed in die hande te kry. “Meer doeltreffend” = minder stabiel en meer riskant.

Jaco ·

Die wereld moet China nie onderskat nie. Amerika sukkel ekenomies. En Europa sukkel ook maar, dan blaas Rusland nog ook in hulle nekke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.