Internasionale oorsig: Europa sal anders oor energie en voedsel moet dink

Manfred Weber (Foto: Bertrand GUAY/POOL/AFP)

Een gevolg van globalisering en die Weste se klaarblyklike oorwinning in die Koue Oorlog was integrasie in die globale voedselketting, sowel as groter energie-afhanklikheid in Westerse lande, veral Europa, van energiebronne in Rusland en die Midde-Ooste.

Senior lede van die Europese parlement, onder meer Manfred Weber, voorsitter van die grootste politieke groep in die EU, het die afgelope week tydens ʼn sitting in Straatsburg in Frankryk gevra dat die Europese Unie sy strategie oor voedselsekerheid dringend moet herbedink.

Manfred en ander lede het in ʼn skrywe aan die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, gevra dat boere in Europa toegelaat moet word om meer voedsel te verbou, ook in sogenaamde omgewingsfokusgebiede. Die doel hiervan is om produksie van veral graan en vleis op Europese grondgebied, minstens tydelik, te verhoog uit vrees vir ʼn skerp afname in die beskikbaarheid van voedsel uit ander wêrelddele en veral uit Rusland en Oekraïne.

Dit is egter nie net voedselinvoer wat ʼn probleem is nie, maar ook die invoer van noodsaaklike stowwe soos kunsmis wat veral uit Rusland ingevoer word. EU-lidlande voer tans 26% van hul ureum, 26% van hul fosfaat en 21% van hul kalium uit Rusland in. Die Russiese regering oorweeg tans om al hierdie uitvoere na Europa te staak, wat tot ʼn enorme tekort aan kunsmis in Europa kan lei.

Die afgelope week se sitting van die EU‑parlement is ook gekenmerk deur gesprekke oor Europa se energie-afhanklikheid van Rusland. Sowat 40% van die gas wat in EU-lande gebruik word, word uit Rusland ingevoer. Die EU wil sien dat dit teen volgende jaar met twee‑derdes verminder word, maar die alternatiewe is beperk.

Ursula von der Leyen. (Foto: Olivier Hoslet, Pool Photo via AP)

Hoewel alternatiewe energiebronne soos wind- en sonenergie vinniger ontwikkel word, kan dit nie gas volledig vervang nie. Lande soos Frankryk en Slowakye wil sien dat meer kernkragstasies gebou word, maar dit sal jare neem. Verskeie kernkragstasies, veral in Duitsland, wat die afgelope paar jaar gesluit is, kan egter wel redelik vinnig heropen word, ten minste vir tydelike gebruik. Ook steenkoolkragstasies wat onlangs gesluit is, kan weer tydelik in gebruik geneem word. Dit is selfs meer omstrede as kernkrag weens die geweldige besoedeling wat deur die verbranding van steenkool veroorsaak word.

Europa kyk egter veral na groter olie- en gasinvoere uit lande soos die VSA, Noorweë, Katar, Azerbaidjan, Algerië, Egipte, Turkye, Japan en Suid-Korea. Dit kan egter net ʼn herskikking van die in- en uitvoere van olie en gas in die wêreld meebring, wat ontwrigtend gaan wees, maar nie werklik daarin sal slaag om Rusland vir die oorlog in Oekraïne te straf nie.

Die meeste Europese lande het die afgelope paar jaar, weens hulle ekologiese agenda, steenkool- en kernkragstasies gesluit en daarmee saam meer en meer olie en veral gas begin invoer. Veral in die winter word gas vir verhitting gebruik. Daar is geen maklike oplossing vir hierdie probleem nie, maar die maklikste sal die herindiensstelling van geslote kragstasies, veral kernkragstasies, wees, gekombineer met groter invoer van vloeibare gas uit die Midde-Ooste en ʼn toename in die ontwikkeling van alternatiewe energiebronne.

Die meeste Europese lande en leiers is deeglik daarvan bewus dat globalisering, maar ook ekonomiese integrasie tussen Europa en Rusland, die afgelope paar jaar Europese lande op die terreine van voedsel- en energiesekerheid baie kwesbaar gelaat het. Dit gaan waarskynlik beteken dat albei hierdie sektore oor die volgende paar jaar in Europa herbedink en herskik gaan word.

Azerbaidjan probeer Armeense kultuur, geskiedenis in Nagorno-Karabach uitwis

(Foto: AP Photo/Aziz Karimov)

Die Europese Parlement het die afgelope week ʼn mosie goedgekeur wat Azerbaidjan se voortgesette aanslag op die Armeense kultuurerfenis in Nagorno-Karabach veroordeel. Terwyl die wêreld se oë op die oorlog in Oekraïne gefokus is, het die regering van Azerbaidjan die afgelope tyd die lewens van Armeniërs in dié dele van Nagorno-Karabach wat tydens verlede jaar se oorlog deur Azerbaidjan verower is, onmoontlik begin maak.

Die afgelope week is verskeie aanvalle op Armeniërs in Nagorno-Karabach deur die weermag van Azerbaidjan onderneem. Daar is ook op luidsprekers boodskappe in Armeense dorpies uitgesaai wat Armeniërs aanraai om die gebied te verlaat. Nadat ʼn gaspypleiding beskadig is, is die hele Nagorno-Karabach vir dae sonder verhitting gelaat.

Nagorno-Karabach word reeds byna 2000 jaar deur Armeense Christene bewoon, maar tydens die Sowjet-era is die gebied by Azerbaidjan ingedeel, hoewel die Armeense bevolking se lewenswyse en kultuurerfenis nie bedreig is nie. Sedert die val van die Sowjetunie was Armenië en Azerbaidjan reeds twee keer in hewige oorloë om beheer van Nagorno-Karabach gewikkel. Die regering van Azerbaidjan het die afgelope weke ʼn veldtog begin om Christenkerke en enige historiese nalatenskap van die Armeense erfenis in die gebied te verwoes.

Die regering van die outokratiese president Ilham Aliyev probeer om die geskiedenis van Nagorno-Karabach te herskryf deur die uitwissing van die streek se Armeense erfenis en deur die verdrywing van etniese Armeniërs uit die gebied.

Aliyev gebruik sy land se groeiende inkomste uit olie- en gasuitvoer, veral na Europa, om moderne wapentuig aan te skaf vir ʼn toekomstige oorlog teen Armenië. Ná die oorlog in 2020, waarin minstens 3 330 Armeense soldate dood is, het Aliyev die skedels van gestorwe Armeense soldate in die openbaar laat uitstal.

Sowat 2 000 Russiese soldate tree sedert die einde van 2020 as vredesmagte in die streek op. Sou dié soldate weens die oorlog in Oekraïne nie hulle werk kan doen nie, sal ʼn hernude oorlog waarskynlik uitbreek waarin die laaste Armeniërs uit Nagorno-Karabach, hulle historiese tuiste, verdryf sal word.

Einde dalk in sig vir oorlog in Ethiopië

Mense hou Ethiopiese vlae in die lug tydens ‘n gedenkdiens vir die slagoffers van die Tigray-konflik. (Foto: EDUARDO SOTERAS/AFP)

So onlangs soos drie jaar gelede nog is Ethiopië as die nuwe demokratiese pro-Westerse hoofseun van Afrika beskou. Nou woed ʼn oorlog tussen federale magte en die Tigray-regering in die noorde van die land reeds maande lank, met 83% van Tigray se bevolking wat reeds ʼn tekort aan voedsel ervaar. Van die 5,2 miljoen mense wat voedselhulp benodig, word 900 000 reeds deur erge hongersnood geraak.

Sowat 1,2 miljoen mense het sedert die oorlog in November 2020 uitgebreek het, reeds gevlug en die regering van Ethiopië blokkeer steeds toegang tot Tigray, wat dié streek van noodsaaklike middele ontneem. Internasionale organisasies probeer reeds vir maande toegang tot Tigray kry om voedsel, mediese voorraad en ander noodsaaklike middele te versprei, maar hulle pogings word deur die federale regering belemmer.

Die eerste minister van Ethiopië, Abiy Ahmed, het verlede week gesê dat sy regering gereed is om met die leiers van Tigray te vergader. Die mense van Tigray eis egter dat die blokkasie van basiese middele eers opgehef moet word en dat toegang tot bank- en kommunikasiedienste herstel moet word.

Terwyl Ahmed kort na die uitbreek van die oorlog geskryf het dat die oorlog teen die Tigray Volksbevrydingsfront en nie die mense van Tigray gemik is nie, raak dit egter duidelik dat daar regdeur Ethiopië teen mense wat van Tigray afkomstig is, gediskrimineer word. Die Tigray-mense ervaar wydverspreide diskriminasie, aanhoudende dreigemente en massa-inhegtenisnemings. Duisende word tans in tronke aangehou sonder om van misdade aangekla te word. Baie is al vermoor. Reg oor Ethiopië en in die nabygeleë Soedan woon meer as ʼn miljoen Tigray-vlugtelinge in tydelike skuilings.

Die eerste stap om die oorlog te beëindig sal ʼn einde aan die beleg van Tigray deur federale magte wees. Dan sal albei partye aanvalle moet staak. Openbare dienste soos vervoer, waterverskaffing, elektrisiteitsvoorsiening, telekommunikasie en bankdienste sal weer herstel moet word. Slegs daarna sal ʼn volhoubare ooreenkoms vir vrede bereik kan word.

Met albei partye wat tans ʼn einde aan die konflik wil sien, raak die kanse egter beter dat ʼn onderhandelde skikking wel moontlik is. Ahmed se reputasie het internasionaal egter groot skade gely en in die Weste bestaan daar min hoop dat Ethiopië binnekort weer die voorbeeldige demokrasie in Afrika kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrew ·

Hulle het ook nie rekensksp gegee aan die nuwe aanwas wat kom uit hulle miljoene migrante wat orals in europa nou gevestig is nie.

Marthinus W ·

Die Weste se gewaande “oorwinning in die Koue Oorlog” is n moderne mite. Maar, indien die Weste dan nou die oorlog sou gewen het, waarom is hulle dan afhanklik van Rusland?

George Bush sr. het met die “ons het die Koue Oorlog gewen”-mistasting gekom nadat sy verkiesingsveldtog om vir n tweede keer te staan as president stoom begin verloor het. Hy het verloor.

annie ·

… en wat het toe van die groot kongres oor klimaatsverandering anderdag oorgebly? Nou moet daar weer teruggegaan word op al die drome. Miskien moes ‘ons’ eers gedink het voor ons liewe Navo en die Oekraïene se Zollywood begin finansier het. Useless Rusland word nou wild en wakker geboikot maar atoomkragstasies word nie in ‘n week gebou nie. Miskien krag begin koop by Iran?

Luister ·

Miskien moes Rusland maar net nog ‘n ander gewone land gewees het en nie aspirasies en drome vir ‘n Groot Ryk gekry het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.