Internasionale oorsig: Met lang lys krisisse is Westerse leiers ongewilder as ooit

Pres. Joe Biden (Foto: Stefani Reynolds / AFP)

Die oorlog in Oekraïne. Stygende inflasie en lewenskoste. Spanning met China. Die politieke, ekonomiese en maatskaplike nadraai van die pandemie. Kommer oor terreurnetwerke in Afrika en die Midde-Ooste. Spanning tussen Navo-lande, veral Griekeland en Turkye. Onmin by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. Daar is ’n lang lys van uitdagings wat Westerse leiers tans moet hanteer. Peilings, tussenverkiesings en plaaslike verkiesings en ander maatstawwe bevestig egter dat Westerse politieke leiers tans kollektief meer ongewild as ooit tydens die onlangse verlede is.

In die VSA het president Joe Biden se nuut aangestelde woordvoerder, Karine Jean-Pierre, die afgelope week behoorlik oor haar woorde gestruikel toe sy deur ʼn joernalis oor Biden se hantering van die formulemelkkrisis vir babas gekonfronteer is. Die VSA het die afgelope tyd ʼn groot tekort aan formulemelk gehad. Jean-Pierre se antwoord was dat Biden soveel krisisse het dat hy dalk te laat van hierdie een bewus geword het. Dit is nie juis die soort reaksie wat vertroue by angstige kiesers wat oor inflasie en ʼn moontlike resessie bekommerd is, inboesem nie.

Op grond van die gemiddeld van die afgelope agt peilings geniet Biden tans die steun van 40% van Amerikaanse kiesers. Sy steun in hierdie peilings wissel tussen 36% (Reuters/Ipsos) en 43% (Economist). In alle peilings is meer as 50% van Amerikaanse kiesers ontevrede met Biden se werksprestasie. In die Reuters-peiling is 59% ontevrede en die gemiddeld oor die agt peilings is 55%.

Justin Trudeau. Foto: (Justin Tang/The Canadian Press via AP)

Met die middeltermynverkiesing wat oor vyf maande in die VSA plaasvind, lyk dit waarskynlik dat Biden se Demokratiese Party ʼn ernstige loesing gaan kry. Verder noord in Kanada ervaar dié land se eerste minister, Justin Trudeau, dieselfde ongelukkigheid met sy werksprestasie. Tans is 57% van Kanadese ongelukkig met sy werksprestasie en net 39% is gelukkig daarmee. In Ontario, die ekonomiese sentrum van Kanada, het die Konserwatiewe Party Donderdag in ʼn provinsiale verkiesing gemaklik ʼn oortuigende meerderheid van setels gewen en is die provinsiale premier, Doug Ford, herkies. Trudeau se Liberale Party was die groot verloorder en het twee-derdes van sy setels verloor.

Boris Johnson (Foto: AP)

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan is Boris Johnson se politieke probleme eerder aan die vererger. Die afgelope week het die getal parlementslede van Johnson se Konserwatiewe Party wat wil hê dat hy as leier en dus as Britse premier moet bedank, tot byna dertig aangegroei. Daar word nou allerweë verwag dat dit net ʼn kwessie van tyd is voordat ʼn leierskapsverkiesing in die Konserwatiewe Party plaasvind. Die party het in onlangse plaaslike verkiesings meer as vierhonderd setels verloor en minder as 30% van Britte is nog tevrede met Johnson.

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Francois Mori, Pool)

Op die Europese vasteland lyk die prentjie vir die meeste sittende staatshoofde dieselfde. In ʼn peiling in Frankryk die afgelope week het 44% van Franse gesê dat hulle dink Emmanuel Macron se tweede termyn as president gaan slegter as sy eerste een wees. Slegs 28% dink dit gaan dieselfde wees en net 15% verwag ʼn verbetering. Ten spyte daarvan dat Macron verlede maand tot ʼn tweede termyn herkies is, is hy steeds baie ongewild. Daar is egter ʼn ander belangrike tendens wat juis uit hierdie peiling in Frankryk blyk, en dit is dat min Franse verwag dat Macron hul omstandighede kan verbeter.

In die VSA voel 70% van kiesers dat hul land in die verkeerde rigting beweeg. In Brittanje is negatiwiteit ook aan die opbou. In al hierdie gevalle is dit veral ekonomiese probleme, soos inflasie en vrese vir ʼn komende resessie, wat pessimisme oor die toekoms aanvuur.

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

In Duitsland het die steun vir dié land se kanselier, Olaf Scholz, ook skerp gedaal met ʼn meerderheid van Duitsers wat ontevrede met sy werksprestasie is. In Nederland, België, Spanje en Oostenryk is die huidige leiers almal toenemend ongewild.

Vertroue in die Europese Unie en in die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, is tans ook baie laag. Hoewel Rusland se aanval op Oekraïne veroorsaak het dat baie Europese lande hulle verskille opsy geskuif het, lei die nuutgevonde Westerse solidariteit nie tot ʼn styging in die gewildheid van regeringsleiers nie.

Ongewilde leiers kan soveel moeiliker daarin slaag om bevolkings te oortuig om opofferings te maak of gedrag te verander ten einde spesifieke doelwitte te bereik. Met die huidige globale energieprysprobleme en tekorte aan voedsel, veral graanprodukte, wat grootliks deur die oorlog veroorsaak word, sal dapper leierskap nodig wees om die regte besluite te neem. Die Weste is tans brandarm aan inspirerende leiers wat wye steun in hulle lande geniet. Dit voorspel niks goed vir die hantering van ernstige krisisse oor die volgende maande en selfs jare nie.

Afrika is nou die sentrum van Islamitiese terreur

isis terreur

Argieffoto.

Afrika is nou die sentrum van globale Islamitiese terreur. Selfs die Afrika-unie (AU) het die afgelope week hierdie werklikheid aanvaar met die aanvaarding van ʼn nuwe strategie om die verspreiding van Islamitiese terreur op die kontinent teen te werk. Volgens die AU is terreurgroepe tans vanaf Libië in die noorde van Afrika tot Mosambiek in die suide betrokke en word veral lande soos Mali, Guinee, Somalië, Burkina Faso, Tsjad, Niger, Nigerië, Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo ernstige geraak.

Die Afrika-unie en sy lidlande het verlede naweek besluit om die Afrika-bystandsmag ten volle operasioneel te maak in ʼn poging om die verspreiding van Islamitiese terreur op die kontinent teen te werk. Die AU wil ook sien dat die vasteland minder afhanklik van buitelandse magte, veral uit die VSA en Europa, raak om terrorisme te bestry.

Islamitiese terreurgroepe het die afgelope maande groot vordering in Afrika gemaak, juis weens talle staatsgrepe en die onvermoë van baie Afrika-lande met swak, korrupte of disfunksionele regerings om die nodige intelligensie- en wettoepassingsnetwerke te ontwikkel sodat die terreurgroepe se aktiwiteite aan bande gelê kan word.

Staatsgrepe het verlede jaar in vier lande in Afrika plaasgevind. Talle Afrika-lande word steeds deur diktators of uiters outokratiese leiers wat demokratiese prosesse en instellings onderdruk, regeer. Die huidige globale ekonomiese uitdagings, weens die pandemie en die oorlog in Oekraïne, dreig ook om Afrika selfs meer as ander kontinente te raak. Dit skep ʼn teelaarde vir terreurgroepe om in te funksioneer.

Die Globale Terreurindeks wat vroeër vanjaar bekend gestel is, dui aan dat 48% van wêreldwye sterftes weens terreur verlede jaar in Afrika suid van die Sahara plaasgevind het. Die grootste toename in sterftes weens terreur in die wêreld was in Burkina Faso, Mali, Niger en die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Die Sahel-streek van Noord- en Wes-Afrika het nou die tuiste van sommige van die wêreld se vinnig groeiendste en gevaarlikste terreurgroepe geword. Dit volg veral nadat die Islamitiese Staat en Al-Kaïda se voetspoor in die Midde-Ooste drasties verklein het.

By twee byeenkomste verlede week moes Afrika-leiers erken dat talle terreurgroepe tans besig is om teen ’n snelle pas in verskeie Afrika-lande te organiseer. Die Afrika-unie het ’n beraad oor terrorisme in die hoofstad van Ekwatoriaal-Guinee, Malabo, aangebied. Tydens dié beraad het verskeie sprekers bevestig dat terreurgroepe wat onder andere bande met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat het, nou in Afrika funksioneer.

Na staatsgrepe oor die afgelope twaalf maande in Mali, Burkina Faso, Guinee en Soedan, en met ʼn militêre outokrasie in Tsjad, verkry terreurgroepe wat groot terugslae in die Midde-Ooste, veral in Irak en Sirië, ervaar het, nou ʼn vastrapplek in hierdie en ander Afrika-lande. Buiten ’n hele netwerk van terreurgroepe wat bande met die Islamitiese Staat en Al-Kaïda het, is Al-Shabaab en Boko Haram ook voortdurend besig om terreuraanvalle in veral Somalië en Nigerië uit te voer.

Nog ʼn belangrike geleentheid waar terreur in Afrika verlede week bespreek is, was die jaarlikse vergadering van die Global Coalition to Defeat ISIS, wat in Marrakesj in Marokko plaasgevind het. Teenterrorisme-amptenare en diplomate van tagtig lande, waaronder die VSA en verskeie Europese lande, het in Marrakesj vergader oor die bedreiging wat die Islamitiese Staat tans in Afrika inhou.

Nasser Bourita (Foto: AFP)

Marokko se minister van buitelandse sake, Nasser Bourita, het tydens die vergadering gesê dat die Sahel-streek van Afrika nou die tuiste van die wêreld se vinnig groeiendste en gevaarlikste terreurgroepe is.

Die volgende paar jaar gaan groot uitdagings vir Afrika inhou. Die verlies aan demokrasie in die Sahel-streek, voortslepende konflik in verskeie Afrika-lande en ernstige vrese oor hongersnood, veral in Oos-Afrika, skep die perfekte omgewing vir terreurgroepe om in te funksioneer.

Europese lande, en in die besonder Frankryk, se besluit om hulle teenterreur-aktiwiteite in Afrika drasties af te skaal, speel ook in die hand van die terreurgroepe. Hierdie Europese lande skaal hulle pogings juis af weens die feit dat lande soos Mali en Tsjad nie hulle samewerking op logistieke en ander noodsaaklike terreine verleen nie. Geen Afrika-land of die Afrika-unie beskik tans oor die vermoë om die terreurgroepe suksesvol aan te vat nie, en die heraktivering van die Afrika-bystandsmag kan geensins as plaasvervanger vir Westerse teenwoordigheid in Noord-Afrika gesien word nie.

Uit albei byeenkomste verlede week, onderskeidelik in Ekwatoriaal-Guinee en Marokko, was dit duidelik dat die Weste en Afrika-leiers die omvang van die krisis besef. Dit is egter noodsaaklik dat die Afrika-unie voortgaan om die VSA en Europa by die stryd teen Islamitiese terreur te betrek. Intussen moet ons egter aanvaar dat meer terreuraanvalle in meer Afrika-lande vir eers ʼn werklikheid gaan wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

diktators of uiters outokratiese leiers wat demokratiese prosesse en instellings onderdruk – dit klink soos SA!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.