Internasionale oorsig: Nederlandse boere kan globale protes ten regeringsmaatreëls inlei

(Foto: Ramon van Flymen/ANP/AFP)

Sou jy die afgelope week van Nederland na Duitsland ry, sou jy nie die duisende Nederlandse vlae wat verkeerdom langs paaie, by huise en in sommige dorpe selfs voor munisipale kantore hang, kon miskyk nie. Dié onderstebo vlae is ʼn stille steun van protes deur gewone Nederlandse burgers vir Nederlandse boere wie se toekoms bedreig word deur uitermatige klimaatreëls wat deur die huidige Nederlandse koalisieregering op boere afgedwing gaan word.

Die afgelope paar weke het die grootste protesaksie deur boere in die geskiedenis van Nederland plaasgevind. Boere het paaie versper, beesmis op regeringslui se huise gespuit en in hulle duisende na regeringsgeboue opgeruk om hulle misnoeë te toon met die regering se planne om stikstofproduksie in Nederland teen 2030 te halveer.

Die Nederlandse regering, en in die besonder die land se liberale eerste minister, Mark Rutte, staan reeds die afgelope paar jaar vyandig teenoor die Nederlandse landboubedryf. Die jongste plan wat in Junie uitgelek het, bepaal dat die regering boere se plase sal kan onteien ten einde alternatiewe energie op dié grond op te wek of dit selfs vir die bou van huise of asielsentrums te gebruik.

Volgens ʼn kaart van Nederland sal boere verplig word om hulle stikstofproduksie met tussen 30% en 70% te verminder, wat sal beteken dat duisende Nederlandse boere sal moet ophou boer. Op sommige plase moet stifstofproduksie selfs met 95% verminder word, wat basies beteken dat dié grond nie meer vir landbou gebruik sal kan word nie. Die enigste manier om stikstofproduksie te verminder sal wees deur veekuddes minstens te halveer, wat die meeste boerderye onekonomiese eenhede sal maak. Volgens die regering se plan moet die totale aantal vee wat in Nederland deur boere aangehou word, met 30% verminder word.

Nederland is die wêreld se tweede grootste uitvoerder van voedsel. Die Nederlandse boere het die afgelope paar dekades daarin geslaag om deur die gebruik van tegnologie van die omgewingsvriendelikste landboupraktyke ter wêreld te ontwikkel. Nederland voer jaarliks 26,8 miljard dollar se voedsel na ander lande uit. Sou die regering se planne voortgaan, sal dié bedrag drasties afneem en sal dit ook tot laer globale voedselproduksie lei.

Nederland het meer as 50 000 kommersiële boere, en sowat 660 000 mense werk in dié land se landboubedryf. Die landboubedryf maak 10% van Nederland se BBP uit, maar verteenwoordig ʼn groter deel van die arbeidsektor.

Nederlandse boere boer met 4 miljoen beeste, 13 miljoen varke en 104 miljoen hoenders. Dié piepklein landjie, met ʼn totale oppervlakte van net meer as 41 000 vierkante kilometer waarvan ʼn vyfde water is, is Europa se grootste vleisuitvoerder. Dit is een van die wêreld se digsbevolkte lande, met die EU se hoogste digtheid ten opsigte van vee.

Die Nederlandse boere is van die effektiefste boere ter wêreld en hulle slaag daarin om die hoogste opbrengs teen die laagste insette moontlik te maak. Weens die intensiewe aard van Nederlandse boerdery is die totale stikstofproduksie natuurlik hoog, maar wanneer dit met die land se landbouproduksie vergelyk word, is dit eintlik laag.

Volgens die Nederlandse landbouvereniging het boere self die afgelope tyd voorstelle aan die regering gemaak oor hoe hulle die produksie van stikstof teen 2030 met 40% kan verlaag. Die regering het egter die boere se voorstelle volledig geïgnoreer en voer nie eens gesprekke met landbou-organisasies hieroor nie.

Terwyl die regering ʼn kaart gepubliseer het waar stikstofproduksie oral verlaag moet word, sal die ekonomiese, sosiale en kulturele gevolge van die regering se plan vir die Nederlandse platteland rampspoedig wees. Tienduisende werksverliese, laer landbou-uitvoere en ʼn tekort aan sommige voedselsoorte kan binne die volgende paar jaar ʼn direkte gevolg daarvan wees. Dit sal ook ander Europese lande, en veral lande wat voedsel uit Nederland invoer, raak.

Die bekende Nederlandse wetenskapjoernalis en chemikus Simon Rozendaal het onlangs juis gesê dat Nederlandse boere se omgewingslas (veral stikstofproduksie) per kilogram voedsel wat geproduseer word, laer is as dié van enige ander land ter wêreld. Volgens hom is dit dus nie baie rasioneel van die Nederlandse regering om die landboubedryf by te kom nie. Binne ʼn globale konteks is die Nederlandse landboubedryf ʼn voordeel vir die klimaat en biodiversiteit. Indien Nederlandse boere minder moet produseer, sal daar elders in die wêreld, waarskynlik teen heelwat hoër koste vir die omgewing en klimaat, voedsel geproduseer moet word.

Dit is duidelik dat die Nederlandse boere nie met hulle protesaksie gaan ophou nie en dat die regering se drakoniese planne wat selfs die onteiening van plase insluit, tot breë steun vir boere gelei het. Volgens peilings steun meer as 60% van Nederlandse burgers die boere se protes. Die regerende koalisie, wat tans 76 van die 150 setels in die Nederlandse parlement het, se steun het die afgelope drie maande byna met die helfte gekrimp en premier Rutte se eie gewildheid daal skerp.

Die populistiese BoerBurgerBeweging, ʼn politieke party wat kort voor die verkiesing in Maart verlede jaar tot stand gekom het, is volgens peilings tans die tweede gewildste party in Nederland. Dié party het tans net een setel in die parlement, maar kan tussen 18 en 21 setels wen indien ʼn verkiesing vandag sou plaasvind. Dit is ʼn direkte gevolg van die Rutte-regering en sy koalisievennote se optrede teen Nederlandse boere.

Rutte het die afgelope weke harde woorde vir die boere gehad en hy weier om toegewings te maak. Daar is in ʼn stadium selfs opdrag gegee om op betogende boere te skiet, waarna ʼn boer se 16-jarige seun deur die polisie gewond is.

Boere in lande soos Duitsland, Pole, Italië en Spanje het die afgelope drie weke ook met soortgelyke protesaksie begin. In al hierdie lande is regerings ook besig om planne in werking te stel wat boerdery al hoe moeiliker sal maak.

Die Europese Unie dra natuurlik die grootste skuld vir die drakoniese klimaatdoelwitte wat deur dié instelling gestel en dan op lidlande afgedwing word. Die EU se klimaatdoelwitte is meestal op swak wetenskaplike navorsing en twyfelagtige data oor die landbou se rol in besoedeling, maar ook klimaatsverandering in die algemeen, gebaseer.

Dit is duidelik dat gewone, hardwerkende mense oral ter wêreld keelvol is vir ʼn regerende elite wat min vir die belange van gewone burgers omgee. Die onlangse opstande in Sri Lanka en in talle ander lande bewys dit. Donald Trump se verkiesing in 2016 as Amerikaanse president was ʼn direkte gevolg daarvan. Net so ook die afgelope vier jaar se “geel frokkie”-beweging in Frankryk en die Brexit-verkiesingsuitslag in 2016 in Brittanje.

In Engeland beplan boere ook betogings weens die Britse regering se drakoniese planne om omgewingsregulasies deur te voer. Dit alles vind plaas in ʼn omgewing waarbinne energiepryse reeds die hoogte ingeskiet het en boere se insetkoste dramaties verhoog het.

Daar word verwag dat 6,5 miljoen Britse huishoudings teen die einde van 2022 nie meer hulle basiese energiebehoefte sal kan bekostig nie. In die EU se 27 lidlande word planne beraam om gasgebruik onmiddellik met 15% te verminder, wat tot hoër pryse, laer ekonomiese uitsette en uiteindelik teen die einde van die jaar ernstige maatskaplike probleme aanleiding kan gee.

Regerings in Europa prioritiseer tans hulle klimaatagenda ten koste van voedselproduksie, ekonomiese welvaart, laer inflasie en die beskikbaarheid van energie vir basiese behoeftes. Dit kan net tot groter opstande aanleiding gee. Die Nederlandse boere se opstande is waarskynlik net ʼn voorsmaak van wat vir die res van Europa voorlê. Die opstande gaan oor meer as net omgewingsregulasies wat op Nederlandse boere afgedwing word.

Dit is ook ʼn opstand teen die opwenteling van beleid na die Europese Unie, die Verenigde Nasies en selfs die Wêreld- Ekonomiese Forum waar burokrate in kantore omgewingsbeleid saamstel wat rampspoedige gevolge vir gewone mense kan inhou. Die protes in Nederland, maar ook reeds in ander Europese lande, gaan dus ook oor die vermoë van ʼn land se burgers om weer die beheer oor beleidsbesluite terug te neem.

Goeie kans vir regse regering ná verkiesing in Italië

Mario Draghi (Foto: Pierre Teyssot/AFP)

Kiesers in Italië sal op 25 September na die stembus gaan om ʼn nuwe parlement te verkies nadat die wankelrige koalisieregering van die tegnokraat en voormalige voorsitter van die Europese Sentrale Bank, Mario Draghi, die afgelope week finaal tot ʼn val gekom het. Draghi is in 2021 deur die sentrumlinkse Italiaanse president, Sergio Mattarella, gevra om ʼn regering te vorm nadat die vorige koalisieregering tot ʼn val gekom het.

Die afgelope twee weke het dit egter duidelik geraak dat die populistiese Vyfsterbeweging (M5S) hom aan Draghi se koalisie wou onttrek omdat Draghi geweier het om maatskaplike programme verder uit te brei te midde van ʼn groeiende skuldkrisis in Italië. Die afgelope week het regse partye in die parlement ook geweier om aan ʼn stemming deel te neem, wat tot Draghi se finale bedanking gelei het.

Italianers sou eers volgende jaar na die stembus gegaan het, maar ʼn vervroegde verkiesing beteken nou dat drie regse partye ʼn baie goeie kans staan om ʼn nuwe regering te vorm. Die regse Broers van Italië-party loop tans voor met 24% steun. Die sentrumlinkse Demokratiese Party is tweede met 22%. Die regse Lega-party geniet 15% van die steun en die sentrumregse Forza Italia 8%. Die Vyfsterbeweging, wat links-populisties is, het volgens peilings tans net meer as 10% van die steun.

Die drie regse partye se gesamentlike steun van tussen 45% en 48% in peilings behoort genoeg te wees om ʼn meerderheid setels in die parlement te wen. Weens Italië se ingewikkelde stelsel wat kiesafdelings en proporsionele setels kombineer, behoort die drie regse partye, wat regoor die Italiaanse platteland en ook in die noorde van die land domineer, die verkiesing te wen en ʼn nuwe koalisieregering saam te stel.

Oor die volgende twee maande mag heelwat dinge verander, maar terwyl die drie regse partye gereed is om saam te werk, is daar byna geen samehang tussen linkse partye nie en behoort dit moeilik vir linkse partye te wees om ná die verkiesing ʼn meerderheid in die Italiaanse parlement te bewerkstellig.

Draghi het verlede week ʼn pakket van 26 miljard euro aangekondig om armer Italianers te help om die huidige uitdagings met inflasie en stygende energiekoste te bowe te kom. Linkse partye wou egter ʼn heelwat groter pakket sien.

Terwyl linkse partye in Italië groter besteding wil sien, het regse partye vir laer belastingkoerse by Draghi aangedring. Uiteindelik kon die partye mekaar nie vind nie.

Die drie regse partye is almal ontevrede oor die wyse waarop die Italiaanse regering die Covid-19-pandemie hanteer het en die skade wat dit die Italiaanse ekonomie berokken het. Daarmee saam dring hulle op veel sterker immigrasiebeheer en ʼn eenvoudiger belastingstelsel aan.

Van alle Wes-Europese lande is Italië die afhanklikste van aardgasinvoere uit Rusland. Draghi het saam met Wes-Europese staatshoofde die veldtog van sanksies teen Rusland gelei. ʼn Regse regering in Italië kan moontlik ʼn meer pragmatiese benadering volg ten einde te verhoed dat Rusland gasuitvoere heeltemal staak.

Terwyl die afgelope week se val van die Draghi-regering as net nog ʼn politieke krisis beskryf kan word – iets waaraan Italianers al gewoond is – is die groter probleem in Italië ʼn hernude ekonomiese krisis wat deur ʼn tekort aan energie en stygende energiepryse vererger kan word.

In 2010 het Griekeland se skuldkrisis skokgolwe deur Europa gestuur en finansiële markte vir maande deurmekaar gekrap. Italië se ekonomie is tien keer die grootte van Griekeland se ekonomie, en dit raak duidelik dat Italië besig is om op ʼn ernstige skuldkrisis af te stuur weens die stygende rentekoerse in Europa.

Die Italiaanse regering se skuld het tot 150% van die bruto binnelandse produk gestyg. Die enigste manier om hierdie skuldlas te verminder, is deur sterk ekonomiese groei. Met ʼn krimpende bevolking, hoë inflasie, ʼn energiekrisis en nou ook politieke onsekerheid is daar min rede om te glo dat die Italiaanse ekonomie oor die volgende paar maande sterk groei gaan toon.

ʼn Nuwe regse koalisieregering sal waarskynlik sterk op ekonomiese groei fokus. Daarvoor sal moeilike besluite oor regulasies en energie-invoere geneem moet word, wat waarskynlik weer tot verhoogde spanning binne die Europese Unie kan lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vrijburger ·

Hoe dan nou, hierdie gebeur op Leopoldt se voorstoep maar hy berig nie oor die Nederlandse boere nie?
Mmmmmmm ….

Jacob ·

In die laat 1960s waarsku Paul Ehrlich in sy boek, The Population Bomb, dat die wereld nie 3,8 miljard mense kan onderhou nie. Nou is daar amper 8 miljard mense op aarde en hongersnood is laer as ooit te vore.

Al Gore waarsku dat die seevlak met 5 meter sal styg binne 10 jaar, maar dit is bepaal dat teen die huidige tempo dit sowat 800 jaar sal neem om met 1 meter te styg.

Prof Tim Flannery, World Wildlife Fund Australië waarsku dat die seevlak teen 2017 sowat 45 meter hoër sal wees as ‘n dekade vroeër en beweer dat dit nou is as die mens nog nie uitgesterf het nie.

Dr Patrick Moore, mede stigter van Greenpeace waarsku teen klimaatsdoemprofete en stel dit duidelik dat ons ‘n CO2 armte op aarde het en nie oormaat nie.

Hernubare energie skep probleme wanneer die leeftyd van sonpanele begin uitloop en dit is bepaal dat daar sowat 27 miljoen ton onherwinbare afval per jaar sal wees teen 2035 wat grondwater met kadmium en lood sal vergiftig.

Nou wat nou?

VaalDonkie ·

Sonpanele sit net minder krag uit na hul “vervaldatum”. Hulle hou baie langer as daai 20 jaar. Jy sal net moet meer bylas as die aanvraag die aanbod begin inhaal.

Vexed ·

Mag dalk langer as 20 jaar hou, maar op een of ander punt is hulle basies nutteloos. Ken reeds heelwat mense wat son panele moet vervang. Daar lê die probleem.

Arno ·

Ek bly hier in Nederland en moet sê die EU se vereistes vir klimaat verandering is gek. Hier blameeer enige onregelmatige klimaat gebeurtenis op klimaat verandering. Die onlangse hutte golf was geblameer op klimaat verandering. Asof hulle nog nooit hutte golwe gehad het nie. Ek is nou al so siek om daarvan te hoor.

I.v.m die protes. Ek ondersteun die protes toe dit net begin het, want dit was vreedsaam, maar toe begin sekere van die protes aksies geweldadig raak en hulle daag op by die minister se huis om haar en haar huis gesin te intimideer.. Dit het my so baie laat dink aan die geweldadige protes aksies wat ons in ZA het. Mens kan protes sonder om geweldadig te raak. Ongelukkig is daar ook ‘n paar jong kwaad doenners by die protes, wie nie eers boere is nie, wat saam die boere protes, maar wat net amok wil maak.

Ek verstaan wel hoekom die boere keelvol raak. Hulle pleidooie word net eenvoudig geigrnoneer.

Celia ·

Ja wel, dis omdat hul vreedsame protes geen nie reaksie meebring… dat dit meer geweldadig word.
Almal behoort saam te staan NOU anders kom hongersnood. Word wakker.
Staan by die boere NOU of EU gaan nie kos he.

Arno ·

U moet dalk bietjie mooi lees na my oorspronklike berig. Ek het mos gesê ek ondersteun die boere AS hulle NIE geweldadig is nie. As Mev dink dit is regverdig om so op te tree, moet asb dan nie kla as protes aksies geweldadig raak in ZA nie, want in u oë is dit mos reg.

piet ·

“Nederland is die wêreld se tweede grootste uitvoerder van voedsel.” Eerste as dit kom by vrugte en groente. Dis absoluut verstommend gegewe hoe klein in oppervlakte die land is. Ek wonder hoeveel sou dit reg gehad het in ‘n vasvrae. Blykbaar hoogs gemeganiseerd (min werkers, span sommer robotte in om plukwerk te doen en so aan). Grond is blykbaar ook baie vrugbaar.

Manie ·

Korrek Piet, die Hollanders het in die 1600’s al die waarde van vars water en kos besef, vandaar SA se ontstaan.

Marthinus W ·

n Onderstebo vlag is nie protes nie, dis n noodkreet, om hulp. Dis meestal n militere aksie, wat gebruik word om aan te dui dat n basis deur die vyand aangeval word, of deur die vyand oorgeneem is. Hierdie mense skree om hulp, hulle protesteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.