Internasionale oorsig: Pandemie wyk in Weste, maar krisis verdiep in armer lande

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

In verskeie Amerikaanse deelstate is daar op sommige dae die afgelope week geen enkele nuwe geval van Covid-19 aangemeld nie. Terwyl die meeste Amerikaanse deelstate inperkingsmaatreëls wat die afgelope maande gegeld het stelselmatig uitfaseer, is meer as 80% van Amerikaners nou oortuig dat die ergste van die pandemie in die VSA verby is.

Meer as 255 miljoen dosisse entstof is reeds in die VSA toegedien met byna ʼn derde van die Amerikaanse bevolking wat reeds volledig ingeënt is en meer as 57% wat reeds minstens een inenting ontvang het. Daar was egter die afgelope week ʼn afname in die daaglikse dosisse wat toegedien is en net meer as 2 miljoen mense is daagliks ingeënt.

Israel, die Verenigde Koninkryk, Chili en Hongarye is ook suksesverhale wat hul inentingsveldtogte betref. In Israel is 58% van die bevolking reeds ingeënt. In Chili is meer as 40% reeds ingeënt, terwyl 39% van Britte en 35% van Hongare reeds volledig ingeënt is.

In lande met ʼn hoë inentingskoers is daar nie net ʼn skerp afname in nuwe Covid-19-gevalle nie, maar daar is ook duidelike tekens van vinnige ekonomiese herstel. Namate lande wat meer inwoners inent die inperkingsmaatreëls verslap, slaag hulle ook daarin om vinniger ekonomiese herstel te bewerkstellig.

Die Bank van Engeland het die afgelope week sy groeiverwagting vir die Britse ekonomie wesenlik opwaarts aangepas. Aan die begin van 2021 het die bank voorspel dat die Britse ekonomie vanjaar met 5% sou groei. Die bank het dit vandeesweek tot 7,25% aangepas. Instellings soos die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en verskeie globale banke het hul groeiverwagtinge vir lande soos Hongarye, Israel, die VSA, die Verenigde Koninkryk, die Verenigde Arabiese Emirate, Uruguay en Chili opwaarts aangepas. Dié lande is tans saam met enkele kleiner lande die voorlopers in die wêreldwye wedloop om bevolkings teen Covid-19 in te ent.

Die IMF het onlangs sy groeiverwagting vir Israel vir vanjaar van 2,5% tot 5% verhoog. Die groeiverwagting vir Hongarye is van 3,9% tot 4,5% verhoog en die IMF het ook sy verwagting vir ekonomiese groei in die VSA van 5,5% tot 6,4% vir 2021 verhoog.

Hongarye se suksesvolle inentingsprogram is moontlik gemaak deur dié land se besluit om nie vir die Europese Unie (EU) te wag om entstowwe beskikbaar te stel nie. Die Hongare het miljoene dosisse entstof by Rusland en China aangekoop en is tans die EU-lidland wat verreweg die suksesvolste inentingsprogram het.

In Wes-Europa eis die EU se stadige inentingsprogram steeds sy ekonomiese tol met verskeie Wes-Europese lande wat weer ʼn resessie beleef. Die voorste Duitse ekonomiese navorsingsinstitute het verlede maand reeds hul ekonomiese groeiverwagting vir Duitsland van 4,7% tot 3,7% vir 2021 afwaarts aangepas. Daar heers ook kommer in Europa oor die groeiverwagtinge vir lande soos Frankryk, Spanje en Italië.

Pasiënte ontvang suurstof in mediese tent langs ‘n pad in Ghaziaba, Indië. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Die grootste kommer is egter oor die voortslepende omvang van die pandemie in Asiatiese lande soos Indië, Nepal, Pakistan en Bangladesj, en in Suid-Amerikaanse lande soos Brasilië, Argentinië en Peru. Die verwagting is dat lande wat tans ʼn hoë voorkoms van Covid-19 ervaar, nie daarin gaan slaag om ekonomiese groeiteikens wat aan die begin van die jaar gestel is, te behaal nie. Dit kan die kloof tussen ryker en armer lande wêreldwyd vergroot.

Tog is daar hoop dat die meerderheid van die wêreldbevolking vanjaar nog teen Covid-19 ingeënt kan word. Bykans 1,3 miljard dosisse entstof is reeds toegedien en daar word tans byna 20 miljoen mense per dag wêreldwyd ingeënt. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verwag dat dié syfer reeds in Mei kan verdubbel.

Intussen brei die meeste farmaseutiese maatskappye hul produksiekapasiteit uit en daar word verwag dat daar teen Junie meer as 2 miljard dosisse entstof maandeliks wêreldwyd vervaardig sal word. Dit is ʼn verdubbeling van die 1 miljard dosisse wat in April vervaardig is. Teen dié tempo kan meer as 70% van die wêreld se bevolking teen die einde van vanjaar ingeënt wees.

Vir baie lande beteken dit egter nog voortdurende reisbeperkings en ander inperkingsmaatreëls wat ekonomiese herstel sal vertraag. Die IMF verwag dat die globale ekonomie vanjaar met 6% sal groei, terwyl ʼn groeikoers van 4,4% vir 2022 voorspel word. Terwyl genoeg entstowwe later vanjaar beskikbaar sal wees om die meeste mense in die wêreld teen die koronavirus in te ent, sal die sukses van inentingsprogramme afhang van goeie logistieke stelsels en die vermoë van armer lande om entstowwe aan te koop, te berg, te versprei en toe te dien.

Biden-plan nie oplossing vir entstofuitdagings

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

Pres. Joe Biden van die VSA se besluit om oproepe van die WGO vir die tydelike opskorting van intellektuele eiendomsregte vir Covid-19-entstowwe te steun, het gemengde reaksie ontlok. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het Donderdagaand gesê sy steun dit nie en die kans is gering dat die EU so ʼn drastiese stap sal steun. Ook farmaseutiese maatskappye is sterk gekant teen ʼn stap wat dit moontlik sal maak vir maatskappye oor die wêreld wat entstowwe vervaardig om Covid-19-entstowwe, wat deur ʼn handjievol maatskappye ontwikkel is, te kan vervaardig.

Terwyl die WGO meen dat ʼn tydelike opskorting van intellektuele eiendomsreg tot verhoogde produksie van entstowwe kan lei, verskil sommige kenners, waaronder die Duitse regering, daarvan. Sou so ʼn opskorting in werking tree, kan dit farmaseutiese maatskappye ontmoedig om nuwe en beter entstowwe teen Covid-19 te ontwikkel.

Dit is veral Indië en Suid-Afrika wat die afgelope ruk steun vir die opskorting van intellektuele eiendomsreg op entstowwe gewerf het. Dit hou egter verband met verskeie lande soos Indië en Suid-Afrika wat oor bedrywe beskik om entstowwe te vervaardig, maar wat oor beperkte plaaslike vermoëns beskik om nuwe entstowwe te ontwikkel.

Nóg ʼn rede waarom dit ʼn verkeerde stap sal wees, hou direk verband met die beheer oor die gehalte van entstowwe wat in sommige aanlegte vervaardig word. Solank as wat maatskappye soos AstraZeneca, Pfizer, Johnson & Johnson en Moderna die produksie van hul entstowwe uitkontrakteer, behou hulle die reg en plig om gehaltebeheer toe te pas. Sou hulle verplig word om hul “resep” vir entstowwe verniet weg te gee, sal die gehaltebeheer ook wegval en neem die kanse toe dat swak of selfs foutiewe entstowwe vervaardig word.

Verskeie farmaseutiese maatskappye het reeds die afgelope week of twee verhoogde produksiekapasiteit aangekondig. Pfizer en BioNTech het verlede week bekend gemaak dat hulle vanjaar 3 miljard dosisse entstof sal vervaardig. Dit is baie meer as die 1,2 miljard wat hulle ʼn paar maande gelede voorspel het. Ook Moderna verwag om vanjaar 800 miljoen dosisse, in plaas van net 600 miljoen, te vervaardig. AstraZeneca beplan om ook 3 miljard dosisse te vervaardig. Johnson & Johnson en entstofvervaardigers in Rusland en China verwag almal ook verhoogde produksie in die tweede helfte van 2021.

Lande soos die VSA en die Verenigde Koninkryk het groot bedrae geld aan die ontwikkeling van entstowwe bestee. Sou intellektuele eiendomsreg op hierdie entstowwe opgeskort word, sal verdere investering ongetwyfeld afneem. Dít, gepaardgaande met die verlies aan geloofwaardigheid van entstowwe wat sonder goeie oorsig vervaardig word, kan tot ʼn groter uitdaging lei as die huidige tekort aan entstowwe wat in elk geval binne enkele maande iets van die verlede behoort te wees.

Trump steeds in beheer van Republikeinse Party

Oudpres. Donald Trump. (Argieffoto: Evan Vucci/AP)

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het die afgelope twee weke sy voortgesette beheer van die Republikeinse Party bevestig met verskeie belangrike steunverklarings aan kandidate. In Texas het Trump se besluit om Susan Wright te steun in haar veldtog om haar man in die Huis van Verteenwoordigers op te volg, tot Wright se gemaklike eerste plek in ʼn tussenverkiesing gelei.

Volgens berigte is daar weekliks honderde versoeke van kandidate en potensiële kandidate wat aan volgende jaar se middeltermynverkiesing wil deelneem en wat Trump graag wil ontmoet om sy steun te vra. Trump het die afgelope twee weke sy steun aan verskeie kandidate begin aankondig en dit is duidelik dat hy veral daarop gaan fokus om kandidate te steun wat by hom gestaan het tydens die verhoor teen hom vroeër vanjaar in die Kongres.

Trump se veldtog teen Republikeine wat ten gunste daarvan gestem het om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas, het ook in felheid toegeneem. Trump se fokus was veral op Liz Cheney, die dogter van die voormalige adjunkpresident Dick Cheney en die derde magtigste Republikein in die Huis van Verteenwoordigers. Cheney verteenwoordig die deelstaat Wyoming in die Amerikaanse Kongres. Sowat 70% van kiesers in Wyoming het verlede jaar vir Trump gestem.

Cheney is vroeër vanjaar deur Republikeine in die Huis van Verteenwoordigers in haar leierskaprol herkies. Intussen het Trump egter daarop begin aandring dat sy uitgeskop moet word, en volgende week sal Republikeine daaroor stem. Daar word toenemend verwag dat Cheney vervang gaan word.

Intussen het twee Republikeine in Wyoming ook aangekondig dat hulle Cheney in volgende jaar se middeltermynverkiesing gaan uitdaag. Albei kandidate probeer Trump se steun kry en daar word verwag dat Trump binnekort sy steun aan een van die twee sal toesê. Tans lyk dit ʼn gegewe dat Cheney se politieke loopbaan volgende jaar deur Trump beëindig sal word.

Volgende jaar se middeltermynverkiesing hou ʼn groot geleentheid vir die Republikeine in om weer beheer oor die Huis van Verteenwoordigers te kry. Dit is nog onduidelik of Trump se betrokkenheid ʼn positiewe of negatiewe invloed op die Republikeine se kanse gaan hê.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Therese ·

Die skade van hierdie voortsloerende pandemie (oorsprong: Wuhan China) is onberekenbaar, met geen verantwoordbaarheid of enige onderneming om soortgelyke toekomstige uitbarstings te probeer verhoed nie.
Sterftesyfers is deurgaans op onsensitiewe wyse aangewend in politieke magspeletjies, soos nóu weer met entstowwe.
Intussen kom die gróót sondebok skotvry …

David ·

Natuurlik gaan Suid Afrika aanspraak maak op ander maatskappye se intellektuele regte. Wat het hulle nou al geproduseer sederd hulle aan bewind gekom het? Hulle het nog net afgebreek.

Teen die tempo wat inentings in Suid Afrika gedoen word, gaan dit nog 15 jaar vat om 40 miljoen te bereik. Ek reken ons sal natuurlike immuniteit bereik lank voordat ‘n noemenswaardige getal mense ingeënt is.

Sulke radikale idees is seker hulle beste poging nog om die regering se mislukte hantering van die pandemie te probeer toesmeer

SwartBees ·

…..dan kom ons by Suider A-freeca. *****en dan bars almal uit van die lag*****

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.