Internasionale oorsig: Rooi ligte oor staatskuld, inflasie in die VSA

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/various sources/AFP)

Die Amerikaanse begrotingstekort het in die ses maande vanaf 1 Oktober verlede jaar tot 31 Maart vanjaar tot ʼn nuwe rekordvlak van $1,7 biljoen (Engelse trillion) gestyg. Daar word verwag dat die begrotingstekort oor die volgende ses maande tot die einde van die Amerikaanse federale regering se begrotingsjaar nog heelwat gaan toeneem nadat pres. Pres. Joe Biden onlangs ʼn ekonomiese hulppakket van byna $2 biljoen en ʼn infrastruktuurplan van selfs meer as $2 biljoen aangekondig het.

Die enorme bestedingsprogramme wat deur die Biden-regering aangekondig is, verhoog nie net die land se begrotingstekort en staatskuld nie, maar laat in die VSA ook kommer toeneem dat dit tot verhoogde inflasie, en dalk selfs hiperinflasie, aanleiding kan gee. Die VSA se inflasiesyfer vir Maart is die afgelope week bekend gemaak en verbruikerspryse het in Maart die skerpste styging in meer as agt jaar getoon.

Die inflasiekoers in die VSA was in Maart 2,6%, hoër as wat die meeste ekonome verwag het. Daar bestaan egter kommer dat ʼn skerp toename in kontant tot ʼn verdere styging in inflasie kan lei. Namte die Amerikaanse ekonomie herstel, gaan Amerikaners ook geld wat veral verlede jaar gespaar is, begin bestee wat tot ʼn verdere styging in verbruikerspryse aanleiding kan gee. Die handelsoorlog met China en huidige invoertariewe kan ook bydra tot hoër inflasie.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Amerikaanse federale regering se begrotingstekort in Maart was $660 miljard, wat 454% hoër is as die begrotingstekort van Maart 2020.

Die Amerikaanse kongres se begrotingskantoor het reeds aan die begin van 2021 voorspel dat die Amerikaanse federale staatskuld vanjaar tot 102% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gaan styg. Dit is die hoogste sedert 1945 en 1946 toe die VSA weens die Tweede Wêreldoorlog ook groot staatskuld opgehoop het. Daar word egter nou verwag dat die staatskuld vanjaar tot meer as 102% gaan styg en teen 2051 tot meer as 200% van die BBP sal styg, veral weens stygende mediese en maatskaplike koste.

VSA en ander Navo-lande onttrek uit Afganistan

(Foto: JOHN MOORE/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Biden-administrasie het die afgelope week aangekondig dat alle Amerikaanse soldate teen 11 September, presies 20 jaar ná die terreuraanval op die VSA wat tot Amerika se oorlogverklaring teen Afganistan aanleiding gegee het, uit dié land sal onttrek. Ander Navo-lidlande beplan om ook teen dieselfde datum hulle soldate te onttrek.

Die oorlog in Afganistan is die langste oorlog waarin die VSA nog ooit gewikkel was en ook een van die duurste oorloë sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Meer as 2 300 Amerikaanse soldate is die afgelope 19 jaar in die oorlog in Afganistan dood. Meer as 3 500 soldate van die VSA en sy bondgenote is altesaam in die oorlog dood. Die Verenigde Koninkryk het die naasgrootste verlies gehad met 456 sterftes, gevolg deur Kanada met 157 sterftes, Frankryk met 88 en Duitsland met 57.

Byna 50 000 burgerlikes is die afgelope twee dekades in die oorlog oorlede, terwyl 73 000 soldate van Afganistan gesterf het. Meer as 3 000 Amerikaanse kontrakteurs is ook reeds in die konflik dood. Hoewel die Taliban tienduisende vegters verloor het, het die groep tans 85 000 voltydse vegters en is die Taliban in die sterkste posisie sedert die uitbreek van die oorlog in 2001.

(Foto: Mark Makela/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Taliban het Afganistan vanaf 1996 tot 2001 regeer. Hoewel die terreurgroep vinnig deur die Amerikaanse en Navo-magte uit die kussings gelig is, kon die groep nie vernietig word nie. Die Taliban beheer tans 21% van alle regeringsdistrikte in Afganistan. Die Afgaanse regering het volledige beheer oor 33% van distrikte, en beheer oor die orige distrikte is onseker of wissel voortdurend namate die konflik tussen die Afgaanse weermag en die Taliban voortduur.

Die groot vraag is of ʼn vredesooreenkoms tussen die regering van Afganistan en die Taliban voor 11 September gesluit sal kan word. Die Taliban het Dinsdag aangekondig dat hy hom onttrek aan vredesonderhandelinge wat later hierdie maand in Turkye moet plaasvind, en eers weer aan onderhandelinge sal deelneem nadat alle buitelandse soldate uit Afganistan onttrek het.

Geldige vrese bestaan dat die Taliban ná die onttrekking van Amerikaanse en Navo-soldate ʼn hernude aanslag van stapel kan stuur om beheer oor meer gebiede te verkry, wat die land weer in ʼn volskaalse burgeroorlog kan laat verval. Daar is tans egter min steun onder die burgery in die VSA en ander Westerse lande vir ʼn voortdurende militêre betrokkenheid in Afganistan.

Navo-betrokkenheid in die Oekraïne kan dié land in kruitvat omskep

Pres. Volodymyr Zelensky. (Foto: Bertrand GUAY/AFP)

Die regering van die Oekraïne het die afgelope twee weke groot moeite gedoen om Navo-lidlande te probeer oortuig om lidmaatskap vir dié Oos-Europese land te versnel. ʼn Hoëvlak-vergadering van afgevaardigdes van Navo-lidlande het Woensdag by dié organisasie se hoofkantoor in Brussel, België, plaasgevind om die groeiende konflik in die ooste van die Oekraïne te bespreek.

Rusland dreig reeds jare lank dat dié land nie sal toelaat dat Westerse lande, en veral die VSA, sy invloed tot op Rusland se westelike grens uitbrei nie. Die Russe is baie sterk gekant teen lidmaatskap van Navo vir die Oekraïne.

ʼn Oorlog het in 2014 in die ooste van die Oekraïne uitgebreek nadat Rusland die Krim-skiereiland, wat ʼn deel van die Oekraïne was, geannekseer het uit vrees dat die Oekraïne by Navo sou aansluit en Navo-magte in die Krim-skiereiland ontplooi kon word. Rusland se besluit om die Krim-skiereiland te annekseer, het gevolg nadat pro-Westerse betogers die Russiesgesinde president van die Oekraïne, Viktor Janoekowitsj, ontsetel het.

In die Donetsk- en Loehansk-oblaste, of administratiewe gebiede, van die Oekraïne het Russiese separatiste besluit om regeringsgeboue te beset in ʼn poging om dié twee gebiede, wat groot Russiese meerderhede het, onafhanklik te verklaar. In reaksie hierop het die regering in Kiëf, die hoofstad van die Oekraïne, soldate na Donetsk en Loehansk gestuur wat tot ʼn volskaalse oorlog aanleiding gegee het.

Meer as 13 000 mense is sedert 2014 in die konflik tussen die Oekraïense regering en die Russiesgesinde separatiste dood. Met die ondertekening van ʼn skietstilstandooreenkoms verlede jaar het die hoop opgevlam dat die konflik tot ʼn einde kon kom.

Die konflik in die ooste van die Oekraïne het egter die afgelope weke weer vinnig begin eskaleer namate dit duidelik raak dat die skietstilstandooreenkoms wat verlede jaar ingetree het, uitmekaar begin spat. Rusland het die afgelope drie weke duisende bykomende soldate na sy grens met die Oekraïne verskuif, en terwyl die Duitse kanselier, Angela Merkel, verlede week die Russiese president, Wladimir Poetin, in ʼn telefoonoproep versoek het om die opbou van sy troepe op die grens te verminder, het die Amerikaanse Departement van Verdediging sover gegaan om te sê dat hulle beplan om oorlogskepe na die Swartsee te stuur. Die Amerikaanse vloot het ook reeds begin om met verkenningsvliegtuie in die internasionale lugruim oor die Swartsee Russiese vlootbewegings te monitor.

Ten spyte hiervan het Rusland die afgelope week voortgegaan met die ontplooiing van sy soldate en daar is nou reeds sowat 85 000 Russiese soldate naby die grens tussen Rusland en die Oekraïne.

(Foto: STR/AFP)

Die situasie in veral Donetsk is vinnig aan’t versleg. Tydens die eerste week van April is die skietstilstandooreenkoms 1 424 keer oortree. Sedert die begin van die jaar is 26 soldate van die Oekraïne reeds in Donetsk deur skerpskutters doodgeskiet.

Die president van die Oekraïne, Volodymyr Zelensky, het verlede week tydens ʼn besoek aan die gebied ʼn beroep op Navo gedoen om die Oekraïne onmiddellik as lid van dié transatlantiese militêre groepering toe te laat. Dit is natuurlik presies waarvoor Rusland vrees. Met die Baltiese State se lidmaatskap van Navo, wat Navo-lidlande dus reeds tot op die Russiese grens uitgebrei het, wil Rusland verhoed dat Navo ook in lande soos die Oekraïne, Moldowa en Georgië toegang tot die grens van Rusland verkry.

Sou Navo-lidlande nou besluit om die Oekraïne deel van dié organisasie te maak, sal dit olie op die vuur van die Russe wees. Rusland se besluit om soldate na sy grens met die Oekraïne te stuur, is juis ʼn boodskap aan die Weste om die buffergebied tussen Navo-lidlande en Rusland te respekteer.

Intussen is ʼn nuwe ronde van gesprekke tussen Westerse lande en Rusland om oor die krisis in die Oekraïne te praat, vir 19 April geskeduleer. Dit sal wys wees vir alle lande wat in die konflik betrokke is om hulle tot ʼn de-eskalasie te verbind. Navo-lidmaatskap vir die Oekraïne sal ook nou olie op die vuur wees. Tans lyk dit nie of die konflik in die gebied vinnig opgelos gaan word nie en daar bestaan eerder vrese vir ʼn grootskaalse oorlog waarby talle wêreldmoondhede ingesleep kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Carel ·

Gewonder hoe lank dit Biden sou neem om Trump se finansiële omkeer strategie te kelder.
Biden het mos ‘n nuwe voordeurmat met die volgende insetsel . . . “Alle parasiete wat by die Welsyns Vreettrog wil kom aansit, is baie welkom”

A ·

Snaak hoe jy tjoepstil was toe Trump se begrotingstekort $7 biljoen (trillion) was.

ouMo ·

Vertrou die marxiste en populiste om enige ekonomie te verwoes.

Dirk Mostert ·

S.A. is in dieselfde bootjie as die VSA t.o.v. staatskuld en inflasie, net op ‘n ander skaal.
Wat die Oekraine betref, al die verwoesting is die gevolg van ‘n CIA-georkestreerde staatsgreep, in hierdie geval ‘n suksesvolle regime-verandering, anders as Sirie.

Vrijburger ·

Jip, die ‘VSA se ANC’ het nie remme nie: Staatskuld, inflasie, maatskaplike toelaes, oop grense, korrupsie. lieg en bedrieg, sentralisering van mag……….

marius ·

Hulle het self hul koning gekies . Laat hulle met sy wette saamleef .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.