Iran nou weer oop vir die Weste, én die ‘Groot Satan’

 

John Kerry, Amerika se minister van buitelandse sake, en Javad Zarif, Iran se minister van buitelandse sake. Foto: Facebook

John Kerry, Amerika se minister van buitelandse sake, en Javad Zarif, Iran se minister van buitelandse sake. Foto: Facebook

Die groot nuus, dat internasionale sanksies teen Iran opgehef gaan word, beteken dat dié land oplaas uit sy isolasie gaan ontsnap. Iran se kernooreenkoms met verskeie state wat in Julie 2015 gesluit is, het uiteindelik in werking getree.

Iran het natuurlik groot reserwes olie, wat die land van 80 miljoen mense meer waardevol maak as ander lande sonder die kommoditeit.

Die Islamitiese Republiek van Iran het in 1979 tot stand gekom toe die ajatolla Khomeini ʼn rewolusie teen die destydse heerser, die sjah van Iran, gelei het. Iran het daarna streng sharia (Islamitiese) wette ingestel en basies die een polisiestaat vir ʼn ander polisiestaat verruil. Die nuwe sonde was nou vir mans om met ʼn kortbroek en vir vroue om sonder ʼn hijab (kopdoek) rond te loop of ʼn bier in jou huis te drink. Iran se godsdienstige polisie, die moettawa, keer enigeen wat hierdie reëls oortree aan en diesulkes word streng gestraf.

Die regime van die ajatolla het onmiddellik sy twee groot vyande geïdentifiseer: die VSA (volgens die Iranse regering die Groot Satan) en Israel (oftewel die Klein Satan).

In die 1980’s en 1990’s het die Islamitiese Republiek hom besig gehou met terrorisme, meer spesifiek staatsterrorisme. Hul agente het Joodse en Amerikaanse teikens wêreldwyd met selfmoordbomaanvalle gepeper en Iran het terselfdertyd sommer ’n oorlog teen Irak ook gevoer. Irak het ʼn meerderheid Sjiïtiese Moslem-bevolking, maar Saddam Hoesein se regering is saamgestel uit Soenni-Moslems. Iran is die enigste staat met ʼn byna homogene Sjiïete-Moslem meerderheid. Die meeste state met Moslems het Soenni-meerderhede. Ons het reeds vroeër in hierdie rubriek na die verskille tussen dié twee Moslem-strome, wat op die oog af klein is, verwys: naamlik wie die ware opvolger van die profeet Mohammed was en hoe aanbid moet word en so meer. Nietemin lei hierdie verskille tussen Moslems tot groot verdeeldheid en deur die eeue het die Sjiïete en Soenni’s al in baie sektariese oorloë betrokke geraak.

Tans is die Moslem-wêreld weer verdeel in oorwegend Sjiïties-beheerde lande (Iran, Irak en Sirië) en die Soenni-beheerde res (veral Saoedi-Arabië is een van Iran se grootste vyande).

Om terug te keer na Iran. Sedent die 1990’s het Iran uraan begin verryk en oënskynlik begin met ʼn projek om kernwapens te bou. Iran se radikale leierskap het hierdie beskuldiging deurentyd ontken en daarop aanspraak gemaak dat hulle slegs vir vreedsame doeleindes kernenergie wil gebruik. Nietemin het verskeie Amerikaanse administrasies Iran keer op keer gedreig met aanvalle op sy kernaanlegte. Israel het dit natuurlik aangepor omdat Iranse kernwapens sy voortbestaan sou bedreig.

Die verkiesing van ʼn meer gematigde Iranse leier, pres. Hassan Rouhani, in 2013, en ʼn hele reeks internasionale sanksies teen Iran het die Iranse ekonomie egter onder soveel druk geplaas dat Rouhani in samesprekings met die VSA, Rusland, China, Frankryk, Brittanje en die Europese Unie betrokke geraak het om die sanksies te beëindig. Daar is uiteindelik in 2015 ʼn ooreenkoms bereik dat Iran sy kernaanlegte sou afbreek, sy verrykte uraan sou verkoop en sy kernfasiliteite sou oopstel vir internasionale inspeksies. In ruil sou die VSA en ander lande ná ʼn tydperk die vordering moniteer en sanksies ophef.

Nou ja, Iran het toe die toets geslaag en sanksies gaan nou opgehef word. Al die partye betrokke by die ooreenkoms is tevrede dat Iran sy deel van die ooreenkoms nakom. Die ooreenkoms en daaropvolgende afskaffing van sanksies kon nie op ʼn beter tyd vir Iran gekom het nie. Die internasionale olieprys het tot sy laagste vlak in tien jaar gedaal en Iran se verouderde petroleum- en ander infrastruktuur het die land se groeikoers groot skade aangedoen.

Die opheffing van sanksies het natuurlik nie net voordele vir Iran nie. Benewens die feit dat die Iranse kernbedreiging beëindig is, lek heelwat Westerse maatskappye hul lippe af om die groot Iranse mark te betree. Groot informasietegnologiemaatskappye en maatskappye wat masjinerie aan die olie- en gassektor verskaf en eksplorasiewerk doen, gaan veral baat vind (Iran is nie net ʼn olieland nie, daar is ook groot gasreserwes). Westerse maatskappye is steeds voorlopers in dié veld.

Die voordele vir Iran is natuurlik ook groot:

  • Eerstens gaan Iran ʼn addisionele 500 000 vate olie per dag aan die internasionale mark lewer wat sy inkomste met US$10 miljard (sowat R170 miljard) per jaar gaan opstoot.
  • Tweedens verwag Iran $30 miljard se buitelandse investering in verskeie infrastruktuurprojekte in die volgende klompie jare.
  • Derdens kan Iranse beleggings ter waarde van $50 miljard wat in oorsese bankrekeninge bevries was tydens die sanksies, weer deur Iran gebruik word.

Hierdie inspuitings gaan die ekonomie met 5% per jaar laat groei, nie sleg in ʼn tydperk van baie lae oliepryse nie.

Op die keper beskou is die ooreenkoms dus ʼn reuse-sukses. Daar is op vreedsame wyse vir die eerste keer in jare in die Midde-Ooste nóg ʼn oorlog vermy. Die rol van die VSA se minister van buitelandse sake, John Kerry, en die Iranse pres. Rouhani moet hier uitgelig word. Hoewel wantroue tussen die ajatolla-regering en die Groot Satan gaan voortduur, het die VSA en Iran mekaar nodig in die komende stryd teen die Soenni-Moslems wat die hele Midde-Ooste bedreig. Die Islamitiese staat (IS) is vir albei ʼn bedreiging en hulle veg teen dieselfde vyand. Die ou storie van jou vyand se vyand is jou vriend?

Suid-Afrika se verbintenis met Iran is nogal interessant. Eers het Suid-Afrika die olie-boikot in die 1970’s oorleef deur olie direk by Iran aan te koop. Hier is tegniese aspekte ter sprake wat min of meer hierop neerkom: Suid-Afrika se olieraffinaderye is spesifiek gebou om die “ligte graad” ru-olie van Iran te verwerk in petroleum. Suid-Afrika kan nie die Noordsee Brent-ru-olie of ander swaarder olies hanteer in ons raffinaderye nie. Na die sjah se val het Suid-Afrika steeds ligtegraadolie bekom deur tussengangers.

Ná 1994 het die regering natuurlik weer gemaklik olie van Iran aangekoop. Wel, tot in 2012. Die Weste het die sanksieskroewe so styf aangedraai en Suid-Afrika met sanksies gedreig as laasgenoemde die boikot omseil, dat die regering maar later genoodsaak was om meestal olie van Koeweit en ander aan te koop. Nou kan Suid-Afrika weer olie van Iran aankoop.

Terselfdertyd het die MTN-selfoonmaatskappy in 2004 Iran se isolasie gebruik om homself as ʼn groot selfoonverskaffer in dié land te vestig. Dit was natuurlik nie sonder probleme nie; daar is heelwat aantygings oor korrupsie en omkopery om dié kontrak te verkry. Nou kan MTN egter makliker buitelandse valuta vanuit Iran onttrek (soveel as R17 miljard) wat die maatskappy kan versterk. Dit volg nadat MTN onlangs groot boetes in Nigerië en Kameroen opgelê is.

Feit van die saak is dat die regime van die ajatollas (die ajyatolla Khomeini se opvolger, die ajatolla Khamenei is steeds as geestelike leier die eintlike heerser van die land) nou sterker is as tevore. Waar die VSA met die Arabiese Lente (van 2011) dalk gehoop het die ajatollas gaan ook omvêr gewerp word, het die Iranse regering in baie opsigte sy konfronterende houding verander en kan as stil bondgenoot teen die groeiende mag van die Soenni-radikale ingespan word.

Net tyd sal leer of die Groot Satan weer die verkeerde perd in die Midde-Ooste opgesaal het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Martin ·

Beteken dit hulle gaan nou ophou om mense se koppe in die openbaar af te kap en op te hang?

Loeis ·

Natuurlik nie. Daai raak nie die VSA en hulle vrinne se belange nie, so dit vorm nie deel van enige onderhandelinge nie.

Nicholas ·

Israel en sy mense is die grootste probleem van ons tye. Jy sal agter elke bloedige revolusie en groot maatskappy een van hulle kry wat die toue trek. Selfs hier met die Anglo-Boere oorlog en die ANC se “struggle”. Blykbaar wil hulle nou polisie op die internet begin speel teen “haatspraak”.

Dis George Soros die Israeli wat verantwoordelik is vir die miljoene Moslems op pad na Europa.

Die hoeveelheid voorbeelde wat ek kan gee is amper oneindig. Dus moet ek saam stem met Iran se positsie oor Israel. Is dit nie ‘n asemrowende feit dat ISIS niks oor Israel te se het nie? Komaan mense.

chrisp ·

Nicholas.
George Soros is anti Israel(uitgesproke) so veel so dat hy eintlik ‘n Natzi was(hy het joodse eindom help opneem deur die Natzis).
Dat sy mense verantwoordelik is vir baie dinge is waar.Ek is egter van mening dit is net hulle “elite” die gewone mens weet nie hiervan nie.Net soos die geval met die Duitsers was.Die mense is ook maar net instrumente in ‘n ander organisasie se orkes.

Jou mening ISSIS is baie insiggewend en stof tot nadenke.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.