Is ’n Derde Wêreldoorlog om die draai?

Derduisende mense het Sondag in Mashhad opgeruk. Foto:(Mohammad Hossein Thaghi/Tasnim News Agency via AP)

Die kruitvat in die Midde-Ooste is weer aangesteek nadat die Amerikaanse president Donald Trump opdrag gegee het om van ʼn senior figuur in Iran se “godsdienstige weermag”, die Koeds-mag van die Islamitiese Revolusionêre Wag, ontslae te raak.

Genl.maj. Kassem Soleimani en ander militêre leiersfigure het Vrydagoggend gesterf in ʼn missielaanval op hul voertuig wat deur ’n Reaper-hommeltuig in Bagdad (in Irak) afgevuur is.

Die moellas soek wraak

Dié aanval het die wêreld op hol en die regime van die moellas (geestelike leiers) onder ajatolla Ali Khamenei in Iran het onmiddellik wraak gesweer. Trump word deur sy politieke opponente daarvan beskuldig dat hy ʼn Derde Wêreldoorlog aanvuur met sy optrede en daar is heelwat spekulasie oor hoe en wat Iran gaan doen om wraak te neem; en dat dit die Midde-Ooste in nog ʼn onsinnige oorlog gaan dompel. Die aanval het reeds die olieprys laat styg en die wêreld hou nou asem op.

Trump het eintlik nie veel van ʼn keuse gehad om die Iraniërs te laat aanval nie. Hy het die laaste paar maande keer op keer sy militêre adviseurs se aandrang op missielaanvalle teen Iran teengestaan. Die Iraniërs het hierdie as oënskynlike swakheid geïnterpreteer – dat Trump te bang is om ’n moontlike oorlog te begin in ’n Amerikaanse verkiesingsjaar. Dit volg nadat Iran in die laaste maande Amerikaanse en Westerse belange aangeval het, onder meer, skepe in die seestraat van Hormuz en ʼn reuse-olieraffinadery van die Yanks se Midde-Oosterse bondgenoot, Saoedi-Arabië. Les bes het die Iraniërs (deur hul bondgenote) ʼn gewelddadige optog teen die Amerikaanse ambassade in Bagdad aangevuur en vuurpylaanvalle op Amerikaanse basisse in die noorde van Irak geloods.

Die Midde-Ooste is kompleks

Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

Eerstens moet genoem word dat die hele Midde-Ooste eintlik onlangs in ’n internasionale oorlogsone ontwikkel het en in die proses is die politiek in die Midde-Ooste seker nou meer kompleks as ooit tevore.

Aan die een kant is daar die Moslem-fundamentalistiese Irannese regime wat sedert 1979 dié land met ʼn ysterhand regeer. Iran is nie ʼn hierjy-landjie nie, dit is ’n sterk opkomende moondheid wat heimwee het oor die ou Persiese ryk wat meer as tweeduisend jaar gelede groot dele van die wêreld oorheers het. Iraniërs is ook nie Arabiere nie, maar Perse, en hoewel hulle Moslems is soos in ander groot state in die Midde-Ooste, is hulle Sjiïete-Moslems. Dit beteken hulle verskil van die oorgrote meerderheid Moslems in die Midde-Ooste, wat grootliks Soenniete-Arabiere is.

Die verskil tussen die Sjiïete en Soenniete gaan basies oor wie die werklike afstammelinge van die profeet Mohammed is en gevolglik is daar ’n ernstige haat tussen dié twee strome in Islam. Om sake verder te kompliseer, ondersteun Rusland die Moslem-regering (die moellas), meestal omdat Rusland die Siriese regering ondersteun wat deur ʼn pro-Russiese Sjiïete-regering gelei word in die Siriese burgeroorlog wat al amper ʼn dekade duur. China is ook so half en half in die Irannese bootjie, aangesien die Chinese die meeste van hul olie vanaf Iran kry – ten spyte van sanksies teen Iran.

Die taai sanksies wat Trump se regering teen Iran ingestel het, het die regime so geïsoleer, dat hulle so onlangs soos November verlede jaar groot betogings moes afweer van mense wat ongelukkig is oor ekonomiese omstandighede en die regime se onderdrukking van sy mense.

Aan die ander kant is daar die VSA, huiwerig gesteun deur Europese state wat nie weer in ’n oorlog ingesuig wil word nie. Die Yanks se boeke is immers nie skoon nie en is al feitlik ononderbroke in oorloë betrokke in die Midde-Ooste sedert die Golfoorlog in 1990 uitgebreek het. Die verwydering van Saddam Hoesein se regime in Irak het, ironies genoeg, die weg gebaan vir ʼn pro-Irannese Irakse regering wat gedomineer word deur Sjiïete-Moslems.

Die VSA het natuurlik reusebeleggings in die Midde-Ooste, veral in die oliesektor, en was vir dekades afhanklik van olie uit die Midde-Ooste om sy ekonomie aan die gang te hou. Die VSA het eers onlangs die wêreld se grootste olieprodusent geword en sy afhanklikheid van olie uit die Midde-Ooste heelwat verminder. Nietemin kies die Amerikaners die kant van die Soenniete-Moslems wat deur Saoedi-Arabië gelei word. Dan is daar nog die Israeli-regering wat ’n belangrike VSA bondgenoot is en Iran se nommer een-vyand is en ook ander rolspelers soos Turkye wat alles verder kompliseer.

Net om verder die deurmekaarspul te beklemtoon – die VSA, Iran, Rusland en Turkye het teen die Islamitiese Staat (Isis) terroriste geveg – nou wel nie saam nie, maar teen ’n gesamentlike vyand – ’n Soenniete ekstremistiese beweging wat teen die Weste, die Sjiïete en die Soenniete-Arabiese regerings gekant was.

Oorlog of nie oorlog nie?

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Kevin Wolf)

Die groot vraag is: wat nou? Iran kan sekerlik nie oorlog teen die VSA verklaar nie, maar kan wel Amerikaanse belange in die Midde-Ooste aanval. Trump het belowe dat enige sodanige aanval met nog groter vuurkrag op geselekteerde teikens teen Iran beantwoord sal word. Met die hommeltuig-tegnologie beteken dit dat selfs individue in die Irannese regering nie veilig is nie. Iran het natuurlik sy eie hommeltuie, maar dié is nie naastenby so gesofistikeerd soos die Amerikaners s’n nie.

Dit is dus ’n groot tameletjie vir die Iraniërs. Hulle weet Trump wil nie regtig in ’n konvensionele oorlog betrokke raak nie, aangesien Trump se ondersteuners grootliks gekant is teen verdere oorloë in die Midde-Ooste waarin duisende Amerikaners reeds gesterf het. Nietemin het Trump hulle geskok met sy aanval op een van die sleutelfigure in die Islamitiese Republiek. Nog aanvalle op geselekteerde teikens kan die Irannese regering verlam en ’n vlaag burgerlike opstande laat opvlam.

Daar is immers geen gebrek aan druk op Trump om verder op te tree teen Iran nie. Israel, wat baie simpatie van Trump ontvang, probeer al lankal die VSA aanpor om Iran militêr aan te vat en dus hul grootste bedreiging te verswak. Saoedi-Arabië sien sekerlik ook die geleentheid om sy nemesis eweneens deur Amerikaanse vuurkrag te verswak. Dan is daar natuurlik nog die konserwatiewe oorlogsugtiges in die VSA (oftewel “neo-cons”) wat hoop dat die VSA finaal die mag van die moellas kan breek.

Dis Iran se skuif

Trump het tot dusver hierdie druk weerstaan en sal poog om nie in ’n oorlog betrokke te raak nie, aangesien dit die VSA en wêreldekonomie kan kniehalter. Die puik groei in die VSA se ekonomie kan reeds toegeskryf word aan beleidsmaatreëls van Trump binnelands en ’n aggressiewe buitelandse handelsbeleid. ʼn Oorlog kan alles ongedaan maak.

Hoewel die Iraniërs onvoorspelbaar is, lyk dit tans of hulle tydelik die knie sal moet buig. Hulle is nie nou in ʼn gunstige posisie om die VSA se vuurkrag aan te vat nie. Dit beteken egter beslis nie dat hulle gaan boedel oorgee nie. Hulle sal ander magte onder hul beheer in die Midde-Ooste of daar buite gebruik om Trump en die VSA voortdurend te toets. Hoewel hulle lanklaas betrokke was by terreur-aanvalle weens internasionale druk, kan hulle ook hierop terugval, hoewel dalk eers in ’n latere stadium.

Iran het vir Trump onderskat en Trump het sy troefkaart gespeel deur Soleimani te laat “uithaal”. Die Derde Wêreldoorlog is gelukkig nog nie aan die kom nie, hoewel vrede in die Midde-Ooste nie sommer in ons leeftyd gaan plaasvind nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

ALLAN ·

Baie goeie artikel Nico, jy het baie van my vrae goed beantwoord, Dankie en hou so aan met die goeie werk

JohanR ·

Die Derde Wereld oorlog? Die ANC gaan MK magte Midde-Ooste toe stuur, met Ace Magashule in bevel. Die span sal bekend staan as Umkhonto Vinnig Weg Hardloop we Sizwe! Om hulle te stuur sal permissie eers van die vakbonde verkry moet word. En daar val ek al weer van my stoel af van die lag….

ChrisE ·

Nettie, ek lees wat jy skryf. Daar is nog steeds ‘n skeepsvaart opsie om die Kaap. Maar wat doen jy as VSA of Europa as die roete deur jou Sjinese broers/bendelede beheer/patroleer en reguleer word. Die VSA het al skepe laat omdraai wat op pad Sjina toe was. Vergelding sal soet wees.

Nico K ·

Ek het in 1988 ‘n boek gelees met die naam: “Die Midde-Ooste as internasionale konflik gebied”. Na 30 jaar het niks verander nie.

ChrisE ·

Hoe meer dae hoe meer dinge. Die Iraniërs krap nou al bykans veertig jaar aan die Amerikaners. Een of ander tyd sal dit tot ‘n punt moet kom. Die Iranse dreigement kan moontlik tot dade oorgaan. Al hoe ek voorsien is dat ‘n Amerikaanse Lugredery vliegtuig iut die lug geskiet word. Die VSA en Europa moet egter baie diplomaties te werk gaan en die ander lande in die streek nie vervreem nie. Al wat die manne daar doen is stop/keer al die skepe wat deur die Straat van Hurmuz vaar. Sluit die Seuz en Panama kanale en jy bemoeilik olietoevoer na Europa en die VSA. Dit gaan slim dans en boks kos om die storie te ontlont. Ek sal baie graag wil weet wie is die werklike vark in die sage.

Nettie ·

@ChrisE – jy vergeet dat daar nóg ‘n skeepsvaartweg is …… om die suidpunt van die Kaap, soos wat dit was vóór die Suez-kanaal geopen is; hulle sal maar seker dan moet doen wat gedoen moet word. Dit wil my voorkom asof Irak met die leeu se kortetjies gespeel het en nou het die leeu opgestaan en Irak ‘n taai klap met die voorpoot gegee ….

Sebastiaan ·

Soos ons dit ken, n nugter, insiggewende en gebalanseerde artikel. Dankie Nico.

Bess ·

Al die lande in die wereld word deur sie illuminati behewr. Trump is n betaalde akteur…

Fanie ·

Bess, jy’t dit seker by Elvis Presley in die kroeg gehoor?

Badie ·

Uitstekende objektiewe artikel Nico. Ek glo die Nuwe wereld orde sal alles in hul vermoe probeer om die Derde Wereld Oorlog aan die gang te kry. En ons sit dan nog met ons eie regering wat simpatiek staan teenoor die Iranese en hul al hoe meer by kommunistiese lande skaar ten koste van Westerse kapitalistiese moondhede.

Frans C ·

Qassem Soleimani van bokkedief om troepe te voed tot die mees gevreesde en invloedryke persoon in die Midde-Ooste.Hy was die breinkrag agter die sukses van
Hezbollah in Libanon.Hy het ‘n hand in al die konflikte-daar word selfs vermoed dat hy ‘n handjie gehad het in die Irakese-regering van President Maliki.

Sou het hy bv na ‘n besoek aan die slagveld van die oorlog tussen Irak en Iran gesê:
“Die slagveld is die verlore paradijs van die mens. Die paradijs waarin moraal en menselike gedrag op hul hoogtepunt is. Sommige mense stel hulself die paradijs voor met kibbelende waterstrome, pragtige maagde en mooi landskappe . Maar daar is ‘n ander paradijs: die slagveld.”

Dit verraai die persoonlikheid van die man en daarom het Amerika een van die grootste
terroriste van die aardbol verwyder en is die reaksie van Iran en sy ondersteuners so groot.

Mog-het-troffe ·

Baie goeie artikel. Ongeveer 7% van SA se ru-olie invoere was die afgelope dekade afkomstig vanaf Iran en 39% vanaf Saudi-Arabia. Laat ons hoop en bid vir permanente vrede in die Midde-Ooste, want dit is die kruitvat van die wêreld.

Griet ·

Puik artikel.

WW3 het eintlik op 11 September 2001 afgeskop, en vlam sedertdien kort-kort op – my beskeie mening.

Gerrit ·

Koop goud ( Krugerrande). In krisistye styg die goudprys. Maak geld uit die sirkus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.