Johnson probeer Britte laat fokus op toekoms ná pandemie

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Die Britse Konserwatiewe Party se jaarlikse kongres kon nie vanjaar soos gewoonlik plaasvind nie, maar ʼn grootliks virtuele konferensie is aangebied. Die Britse premier, Boris Johnson, verkeer die afgelope ruk onder groot druk en in sy toespraak op Dinsdag het hy ʼn optimistiese beeld van die Verenigde Koninkryk ná die Covid-19-pandemie probeer gee.

Terwyl 92% van die Britte in Maart tevrede was met Johnson se hantering van die pandemie, het daardie tevredenheid nou tot 28% gedaal. Daar heers grootskaalse frustrasie oor die omvang van die pandemie, hernude inperkingsmaatreëls in verskeie stede en die ekonomiese gevolge daarvan. Die Britse Arbeidersparty het intussen ʼn nuwe leier, Keir Starmer, gekry en hy loop kop aan kop met Johnson in peilings.

Johnson se Konserwatiewe Party het in Desember verlede jaar ʼn enorme meerderheid van 80 setels in ʼn vervroegde verkiesing behaal en daardeur ʼn duidelike mandaat van kiesers gekry. Nou, tien maande later, het pessimisme ingetree met baie Britte wat oor die toekoms van hul land twyfel. Terwyl daar bykans geen vordering in onderhandelinge tussen Brittanje en die Europese Unie die afgelope tien maande gemaak is nie en die oorgangstydperk op 31 Desember verstryk, het die pandemie Johnson se planne lelik deurmekaar gekrap.

Brittanje is een van die lande in die wêreld wat die hardste deur die pandemie getref is. Die Britse ekonomie het in die tweede kwartaal met sowat 20% gekrimp en die land se staatskuld is besig om skerp toe te neem. Die Britse regering se vermoë om werksverliese te stuit, raak al hoe meer beperk en daar is waarskuwings oor grootskaalse werksverliese oor die volgende paar maande in Brittanje.

Ernstige onrustigheid in sy eie party is egter besig om die groter uitdaging vir Johnson te word met verskeie vooraanstaande persone in die Konserwatiewe Party wat vra of die party nie besig is om heeltemal van sy beleid af te dwaal nie. Die huidige regerende party is nie meer een van konserwatiewe waardes, sosiaal en ekonomies, nie, maar word toenemend ʼn liberale party wat al hoe meer beloftes maak oor nuwe hospitale, nuwe skole, ondersteuning aan werkloses en infrastruktuur- en maatskaplike besteding waarvoor daar nie geld is nie. Johnson se oordrewe fokus Dinsdag op die ontwikkeling van alternatiewe, skoner energiebronne teen ʼn beduidende koste vir Britse belastingbetalers het tot hierdie frustrasie bygedra.

Johnson se drie temas tydens sy toespraak was ʼn groener, gesonder en gelukkiger Brittanje. Min is gesê oor die Konserwatiewe Party se vryemarkideale, die ontginning van geleenthede ná Brexit en wat Johnson beplan om te doen om Brittanje se staatskuld, wat die afgelope twee jaar onder sy leiding van 85% van die bruto binnelandse produk (BBP) tot meer as 100% gestyg het, te laat afneem.

Die afgelope ruk is heelwat stories in omloop in die Britse media oor Johnson se gesondheid nadat hy self vroeër vanjaar weens Covid-19 in die hospitaal beland het, sy persoonlike lewe en selfs bewerings dat hy persoonlike finansiële probleme het. Al hierdie negatiewe publisiteit benadeel sy v

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

ermoë om as ʼn sterk leier in stormagtige tye op te tree.

Die volgende verkiesing in Brittanje is nog ver weg en die Konserwatiewe Party het ʼn gemaklike meerderheid in die Britse laerhuis. Johnson is egter slim genoeg om self te besef dat sy regering toenemend in die moeilikheid gaan beland as hy gaan toelaat dat verdeeldheid in die party toeneem en gewone Britte hul vertroue in sy regeervermoë verloor.

Intussen vind ʼn belangrike verkiesing volgende jaar in Skotland plaas met die Skotse Nasionale Party wat in peilings tans tussen 50% en 57% van die steun geniet, en dus ʼn algehele meerderheid in die verkiesing kan behaal. Sou dit gebeur, sal die druk op Johnson toeneem om ʼn referendum oor Skotse onafhanklikheid uit te roep – iets wat hy ten alle koste wil vermy.

Johnson het egter in sy toespraak van 6 Oktober die meeste van hierdie uitdagings vermy deur te fokus op ʼn positiewe toekoms van skoner energie, beter gesondheidsorgstelsels en ʼn Brittanje waarin mense gelukkiger saamleef. Die realiteit is egter dat die huidige uitdagings – wat insluit die voortslepende pandemie en die gesondheid- en ekonomiese uitdagings wat dit skep, Brexit, staatskuld en groeiende steun in Skotland vir Skotse onafhanklikheid – nie vanself sal weggaan nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.