Johnson sal Britte weer van Brexit moet oortuig

Boris Johnson. Foto: AP Photo/Frank Augstein

Ná verskeie terugslae die afgelope paar weke word daar wyd bespiegel oor of die Britse eerste minister, Boris Johnson, nog daarin gaan slaag om Brittanje se onttrekking uit die Europese Unie suksesvol deur te voer. ’n Meerderheid van Britse parlementslede staan duidelik sy pogings teen en dit raak duidelik dat slegs ’n verkiesing duidelike rigting aan die proses kan gee.

Hoewel Johnson daarin kon slaag om – sedert hy in Julie eerste minister geword het – die Konserwatiewe Party se steun onder kiesers grootliks te herstel, gaan hy steeds ’n baie moeilike taak in ’n verkiesing hê. Vir Johnson om te slaag, sal hy weer eens (soos in 2016) genoeg Britte moet herinner aan al die goeie en geldige redes waarom Britse lidmaatskap van die EU ’n fout was.

Sedert 52% van Britse kiesers in ’n referendum op 23 Junie 2016 ten gunste van die Verenigde Koninkryk se uittrede uit die Europese Unie gestem het, woed ’n permanente stryd oor die toekomstige rol van dié land binne Europa en ook die internasionale politieke en ekonomiese omgewing.

Johnson sal Britte aan hul eie geskiedenis moet herinner. Verder sal hy goeie redes moet gee waarom Brittanje nog nooit regtig deel van Europa was nie.

Toe Brittanje in 1963 deel van die Europese Ekonomiese Gemeenskap wou word, was dit die groot Franse staatsman, Charles de Gaulle wat daarteen geredeneer het omdat hy Brittanje se verskille met die Europese vasteland goed verstaan het. Volgens De Gaulle was Brittanje afgesluit van die Europese vasteland en was dit ’n maritieme land met markte en handelsbande in afgeleë dele van die wêreld.

Brittanje was in die Westerse wêreld ’n voorloper met die ontwikkeling van demokrasie, ’n parlementêre regering, vryehandel en die beginsels van persoonlike vryheid – alles waardes waarop lande soos die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland uiteindelik gebou is. Juis daarom is daar vandag heelwat meer ooreenkomste tussen Brittanje en hierdie voormalige kolonies as tussen Brittanje en Europese lande.

Brittanje se besluit drie dekades gelede om deel van die Europese Unie te word, was gebou op die utopiese denke wat ná die Tweede Wêreldoorlog in Europa, en ook in Brittanje, geheers het. Die Britte se besluit om nie die Euro as geldeenheid aan te neem nie, is egter nóg ’n bewys waarom dié land nooit regtig deel van die moderne Europese integrasieprojek geword het nie.

Brittanje het vir lank grootliks die Europese sosialistiese model verwerp en dit was veral die beleid van Margaret Thatcher wat deur ekonomiese hervorming Brittanje in ’n moderne ekonomiese era ingelei het. Hoe langer Brittanje egter deel van die Europese Unie was, hoe meer het dié land by die Europese tradisie van oorregulering begin aanpas.

Indien Brittanje ’n belangrike internasionale rolspeler wil bly, het die land nodig om homself strategies te onderskei. Dit kan begin met Brittanje se uittrede uit die Europese Unie. Indien Johnson egter nie daarin slaag om sy mense van die noodsaaklikheid hiervan te oortuig nie, sal die land voortgaan om soos die afgelope paar dekades stelselmatig sy rol en relevansie op die globale politieke en ekonomiese terrein te verloor.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Ek stem nie saam met die stelling dat Brittanje nog nooit Europa se sosialisme gedeel het nie. Lank voor Margaret Thatcher was Brittanje al baie sosialisties. Werkloosheidstoelaes was nog altyd baie hoog in Brittanje. So hoog dat werkloses nie nodig gehad het om te werk nie. Dis waar die Andy Capp karikatuur vandaan kom.

John ·

… en queen sal dit veral heftig ontken, maar Duitsland het die hele EU, die Oostelike dele inkluis wat gedink het hulle is bevry van woeste Rusland + die Britse eilande oorgevat. Duitsland rules the waves…. vir eers want Islam gaan dan weer sy burka span oor die hele Europa en die muezzin’s se luidsprekers die ruim oorheers… so much vir die grootse EU en Brexit.

Marthinus Willemse ·

De Gaulle wou Brittanje nie toelaat nie omdat hulle Amerika in Europa sou inbring, en hulle almal omskep in vasalstate van Washington. Hy het gesê Europa is “van die Atlanties tot by die Oerals”, wat beteken dat Rusland deel van Europa is. Marine le Pen het dit so `n jaar of wat gelede herhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.