#JongStemme: Die grys-area, middeweg en neutraliteit in politiek

Deur Louis van Wyk

(Foto: Reint Dykema)

Ek gaan werk toe en terug huis toe en môre presies dieselfde. Ek moet deur slaggate ry om by die werk te kom en daarby moet ek my deure sluit omdat bendes die strate regeer.

Daar is ʼn burgerlike organisasie wat wil hê ek moet lid word en dalk R50 per maand betaal sodat hulle die gate kan opvul en ʼn patrolliediens op die been bring. Ek weier om dit te doen, want ek wil nie assosieer met ʼn organisasie wat dalk deur die regering as “regs” gebrandmerk kan word nie. Ek speel dit eerder veilig en bly neutraal oor die misdaad sowel as die slaggate-probleem.

Volgende week is stemdag, maar dit sal ek ook nie doen nie, want wat help dit? En selfs al gaan stem ek, sal ek ongelukkig wees. Ek sal waarskynlik vir ʼn party stem wat die beste kans het om te wen en nie vir die party met wie my oortuigings saamstem nie. Vanaand in die nuus lees ek dat die regering die magte van ouers, onderwysers en beheerliggame wil wegneem uit die skoolbestuur en dit oorgee aan die staat, maar ek gaan nie te veel daaroor dink nie. Hoe verkeerd kan die regering met betrekking tot hulle plan met skole nou eintlik wees?

Dis ʼn grys-area, maar ek laat dit maar daar. En as ek op die skoolterrein my mening oor hierdie debat moet lig, sal ek maar die middeweg kies tussen die skool en die regering, maar kant kies sal ek beslis nie – dis té gevaarlik!

Dié scenario is natuurlik nie op almal van toepassing nie, maar daar is ongelukkig te veel Suid-Afrikaanse burgers wat ʼn ommeswaai in hierdie verband sal moet kry om sodoende die land te help red.

Louis van Wyk (Foto: Verskaf)

Eerstens op politieke vlak. Om jou kruisie te trek, is nie ʼn mors nie. Dit breek en verklein die regerende party se mag in die parlement, in die wetgewer én in die munisipaliteit. Dit gesê, werk Suid-Afrika met ʼn proporsionele kiesstelsel wat verseker dat géén stem tot nuut gaan nie. Hierdie kiesstelsel bied ook die geleentheid dat jy vir ʼn politieke party kan stem met wie jy werklik in ooreenstemming is. Die getal stemme wat die ANC aan bewind hou, moet ook nie oorskat word nie.

Tweedens op burgerlike vlak. Om organisasies, vakbonde en soortgelyke groepe wat teen die regering gekant is, te ondersteun (hoe klein en min dit ook mag wees), versterk die krag van die gemeenskap. Die Afrikanergemeenskap het die krag wat ʼn gemeenskap kan oplewer al telkemale deur die geskiedenis heen bewys.

Die beginsel bly staan: Die tyd het aangebreek om uit die grys-area te beweeg en om te besluit wat is reg én verkeerd vir die land. Daarby is dit tyd om sonder skaamte te kan verklaar wat jou waardes is en om dan aktief jou bydra te lewer – op die politieke én die burgerlike vlak. Die ANC-bewind gaan homself nie uit die weg ruim nie!

  • Louis van Wyk dien as jeuglid asook jeugsektretaris van die VF Plus in die Vrystaat.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

De Bok ·

Jy is reg. Ons het mense met ruggraat nodig! Politieke deelname is soveel meer as stem, mesne moet hulle opinies uitspreek!

Hendrik ·

Die wyksgrense is so getrek deur die ANC gesinde Demarcation Board dat gemeenskappe eintlik nie sitplekke in die rade kan wen nie maar net proposionele sitplekke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.