Deur Esmari Marais
Die vibrasie van my selfoon ruk my terug na die werklikheid terwyl ek nog aan gisteraand se oorskiet smul. Dis ’n onbekende nommer van Johannesburg; of so sê my foon. Ek huiwer ’n oomblik, watter lening wil iemand nou weer aan my afsmeer? Tog bedink ek myself en antwoord:
“Hallo?”
“Goeiemôre, is dit mevrou Marais?”
Duidelik is dit nie ’n lening nie, anders sou die onbekende stem Engels praat en nie my van ken nie. Dit is ’n vrou van Pretoria FM wat vra hoe ek voel oor die uitwissing van Afrikaans (“Dit is vir my baie, baie hartseer,” is al wat ek kon prewel) en wat Afrikaans vir my beteken. Ek wens ek het meer tyd gehad om te dink, maar met ’n bakkie oorskiet voor my kon ek nie so helder dink as wat ek nou met ’n vol maag doen nie. Ek het begin om my ligtelike sentiment van my moedertaal uit te spreek; die jongste taal in die wêreld, die derde grootste taal in Suid-Afrika. Tog kon ek steeds nie vinnig genoeg gesê kry wat ek eintlik wou nie.
Ná die foonoproep het die woorde, wat moes uitkom, steeds by my gespook en daarom het ek dit regverdig gedink as ek hulle nou vrylaat: Afrikaans is meer as ’n blote vorm van kommunikasie. Hierdie taal strek oor die Vrystaat se vlaktes en delf diep in die klowe van die Drakensberge waar dit op ’n tyd geëggo het. Afrikaans is ’n deel van die tannie wat vetkoek bak, die reuk van pannekoek by ’n kerkbasaar – hierdie taal is sinoniem met die platteland waar almal gegroet word wat verbyloop.
Afrikaans is die taalmonument in die Paarl wat uitbeeld dat hierdie jongeling nog besig is om te groei na hoogtes wat ons nie ken nie. Afrikaans is Jan Braai vir Erfenis en elke ander naweek wanneer braaivleisvure aangesteek word, want waar daar ’n Suid-Afrikaanse rokie trek, is daar ’n Suid-Afrikaanse kuiertjie. Hierdie taal is die Kaapse Klopse wat “Saai die waatlemoen” sing in Houtbaai. ’n Taal met lekker woorde wat jy speels in jou mond rondrol voordat jy dit sê.
Afrikaans is vasdans en vastrap. Afrikaans is Kurt Darren se “Kaptein”, wat ná dertien jaar steeds sukkel om sy seile te span. Afrikaans is die houtbanke in ’n NG klipkerk op ’n Sondagoggend, die gesels wat daarna kerksaal toe skuif waar daar kolwyntjies en koffie bedien word.
Afrikaans is ’n groeiende taal in verskillende rigtings met sy nostalgiese wortels. Hy groei in kykNET se sepies, in gedigtekompetisies en drama-opvoerings. Hy reis na Stellenbosch se Woordfees, na Oudtshoorn se KKNK en Potchefstroom se Aardklop. Dan word daar nog nie eens gepraat van die jaarlikse Liefde by die dam-musiekkonsert of die Jool in Potchefstroom nie, want selfs dáár maak Afrikaans ’n draai.
Afrikaans probeer sy bes om aan die lewe te bly terwyl hy ons smeek om hom nie agter te los nie; dat ons hom nie laat vereensaam nie. Daarom beteken Afrikaans vir my meer as net die “jongste taal in die wêreld” en die “derde grootste taal in Suid-Afrika”.
Dit is my herinneringe as ’n kind, my manier van uitdrukking en my verwysing na tradisie.
Mag Afrikaans nooit slegs nou en dan verskyn en verdwyn soos Namakwaland se daisies nie, maar mag sy woorde eerder sterk vloei soos die Oranjerivier in die droë gebied.
- Esmari Marais is ‘n derdejaarstudent in kommunikasie aan die NWU se Potchefstroom-kampus.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.
Esmari, jy kook. Ek hoop om nog bydraes van jou te lees!
Terwyl jong mense soos jy hulself so mooi in Afrikaans kan verwoord, vrees ek glad nie vir Afrikaans se oorlewing nie.
Doen so voort!