#JongStemme: Geen taal moet val nie

Dalena d’Assonville skryf vir #JongStemme oor moedertaalonderrig en taalbeleide. Foto: Verskaf.

Deur Dalena d’Assonville

“Afrikaans must fall”. Een kort stelling en tog gelaai met soveel emosie, aggressie en seer. Iets wat in die verlede absurd sou klink, is nou aan die orde van die dag. Ons, as jong studente, sien en hoor hierdie stellings nie net op ’n afstand in die media nie. Dit raak ons direk. Ons sien voel en hoor dit met ons eie oë en ore.

As studenteleier bevind ek myself gereeld in ’n situasie waar ek probeer sin maak van die stelling en die redenasie wat daarop volg. Ek gaan op kronkelpaaie terug na die geskiedenis, ek maak vergelykings en ek skep scenario’s. Alles tevergeefs, net om weer eens met teleurstelling te besef dat ek terug is by ’n dwase sirkelredenasie begrond in leuens.

Ek vra myself hoe ons hier uitgekom het. Hoe dit moontlik geword het dat daar geen gesprek meer oor taal gevoer kan word sonder dat dit kompleet polities gekaap word nie? Taal is een van daardie rare konsepte wat sowel vatbaar is in wetenskap en tegelykertyd abstrak beskryf kan word as ’n gevoel van identiteit, kultuur en selfs geborgenheid. Enige taal is ouer, ryker en meer kompleks as net sekere hoofstukke uit die geskiedenis.

Met ’n groot skok moet ons as jong Afrikaanssprekendes besef dat die platform vir gesprek totaal en al onder ons voete uitgeruk word. Die Afrikaanse taal word as’t ware die voorreg ontneem om op wetenskaplike-, kulturele- of identiteitsvlak in ’n gesprek oorweeg te word.

Afrikaans as taal moet die las dra van sekere hoofstukke uit die geskiedenis, soos apartheid, wat veroorsaak dat Afrikaans gekoppel word aan onderdrukking en diskriminasie. ’n Taal wat deur verskillende volke en kultuurgroepe in ons land gepraat word en in die verlede gepraat was, word deur politieke agendas voorgeskryf, beperk en afgewater tot ’n taal wat volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir die verkeerde optrede van mense en ’n voormalige regering.

Ek as jongmens en liefhebber vir debat kan nie anders as om ’n gevoel van totale verslaenheid – nee, selfs meer as dit: totale onbegrip vir hierdie siening te ontwikkel nie.

In ’n postmodernistiese samelewing smeek almal en getuig ons Grondwet van gelyke behandeling en die voorkoming van diskriminasie. Die wyse waarop Afrikaans behandel word, getuig egter van die teendeel: ongelyke behandeling en openlike diskriminasie.

Bestaan daar plakkate en krete wat sê English Must Fall weens die gruwelike dade wat tydens Britse kolonialisme gepleeg is? Die taal wat etlike dekades gelede, ironies genoeg, spesifiek ook Afrikaans onderdruk het.

Dit mag lyk na ’n vreemde vergelyking en tog wil ek die volgende punt maak: Wanneer mense en regerings verkeerd opgetree het, kan ’n taal nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Die hele wêreld sal in ’n sogenaamde taalkrisis ontaard, want as ons hierdie drogredenasie konsekwent toepas, dan beteken dit bykans dat geen taal skuldvry daarvan gaan afkom nie. Dit is tog absurd om te verwag dat die taal gestraf moet word en nie die mens wat die daad gepleeg het nie.

CJ Langenhoven het gesê: “As die kortpad die beste was, sou die hoofpad daar geloop het.”

Dit sou dalk makliker wees en minder geld kos om te sê kom ons vat Afrikaans weg as onderrigmedium. Dit sou wel geensins reg wees nie. Die rede hoe dit gemotiveer word, weier om die wetenskaplike argumente in ag te neem en om die politieke agendas (gefundeer in mag) te ontmasker.

Die oomblik wat ons dít toelaat, erken ons ’n leuen: dat ’n taal daartoe in staat is om skuld te dra. As ons dit erken, moet ons ten minste ook konsekwent wees. Sterkte, want dan wonder ek nogal watter taal jy gaan praat.

  • Dalena het reeds haar BA Regte- en LLB-grade verwerf, en is tans besig met ’n nagraadse diploma in bestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy dien tans as voorsitter van die studenteraad.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jimmy ·

Die probleme het tussen 1990 en 1994 begin. Toe was hierdie student seker nog nie eens gebore nie. Haar generasie moet nou die kastaings uit dit vuur probeer krap. Die ouer garde het nie antwoorde nie.

Barry H ·

Mens vind dikwels dat jongmense los en vas met Afrikaans omgaan, hulle besef nie hoe groot die skat is wat hulle ontvang het nie. Hopelik is daar meer mense wat soos hierdie dame dink oor die taal. Bou en behou, dis wat ek sê.

Amanda ·

Ongelukkig word Afrikaans steeds (deels uit onkunde en deels uit moedswilligheid) geasssosieer met die onderdrukkers van die verlede, en word die liefde vir ons taal die vlymskerp dolk waarmee politici en haatdraendes, Afrikaners kan bykom.
Dit is ‘n vergeefse oproep (en waarskynlik ook ‘n te intellektuele benadering vir die haters en wraaksoekendes) om die taal in isolasie te sien. Dit is ‘n maklike pad om die Afrikaner by te kom, selfs in die lig daarvan dat Afrikaans ook vir ander groepe in SA hulle huistaal is. Ek wonder soms hoe voel hulle as Afrikaans so vertrap word?

Gert ·

Dit gaan nie oor die taal nie, dit gaan daaroor om ‘n spesifieke etniese groep by te kom wat daardie taal gebruik. Kleinlike haat en afguns.

Jerry ·

Goeie skrywe en argumente vir Afrikaans as taal soos gesien uit n jong slim Christen Afrikaanssprekende en die se mentor se verwysingsraamwerk. Die argumente sou waterdig in n eerste wereld westerse land gewees het waar daar wetsgehoorsame strewe na geregtigheid heers “God is Liefde”! In n derde wereld pan-africanist land soos SA is die argumente egter totaal nutteloos waar daar wetsongehoorsame strewe na wraak heers “God must burn them”! Die psige verdra geen onreg nie wat dus gepaard gaan met vergelding deur die mees ondenkbare, gewetenlose en wrede wraaksugtige optredes en dade! Deur teen jou en jou taal te diskrimineer, jou leed aan te doen, neem die wraaksugtiges wraak teen jou voorouers, wie deur apartheid bevoordeel en beskerm was! Die klug van die demokratiese bestel in SA verleen homself tot die geleentheid vir wraak “reverse discrimination”! Hierdie is die dinge waarvan diegene wat wil he die Afrikaner jeug moet in SA bly, of onbewus van is, of doelbewus vanaf wegskram! Die situasie is baie sleg en die jeug besef dit nie, want dit word afgemaak asof dit maklik hanteer sal word, wat nie die geval is nie. Selfs met selfbeskikking is dit n donker wolk wat oor die Afrikanerjeug se toekoms in SA bly hang, veral gemeet aan die jeug se onskuldige argumente en waarheid wat tot nutteloosheid gedoem is in SA!

Petrus ·

Afrikaners is maar suckers vir mooi stories en word maklik ‘n rat voor die oë gedraai. Die ANC het dit al lank gelede besef.

Hans ·

Verstaan heeltemal die inhoud van die artikel,maar sou graag by skryfster wil weet wat sy as studenteleier afrikaans in al sy fasette by NWU bevorder. Het nie ‘ n enkele woord van teenstand/beswaar gelees toe die universiteitsbestuur vir Steve Hofmeyer verbied het,maar die EFF gaan met rassistiese en verdelende uitsprake voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.