#JongStemme: Kuberboelies maak my lam!

Deur Danielle Kleyn

Danielle Kleyn.

Die nuwe Mej. Suid-Afrika is verlede naweek in Kaapstad gekroon. Ek het nog nooit werklik belanggestel om die kroningsgeleentheid te volg nie, maar het vanjaar om die een of ander rede besluit om dit wel te doen.

’n Pragtige (en positiewe) foto van die glimlaggende Shudufhadzo Musida word op al wat ’n nuuskanaal is, gedeel. Van die kommentaar op die plasings laat my egter aan my oggendkoffie verstik.

“Maar sy is nie eens mooi nie?” Nog een: “Lyk soos ’n kankerpasiënt. Nee wat, as dit die mooiste vrou is, wil ek nie die lelikste een sien nie.” Sommige mense noem dat sy te maer is, ander spreek hul ongeloof uit oor hoe breed haar heupe is.

’n Ouer man, ewe geklee in ’n spoggerige kerkpak op sy profielfoto, merk op, “Die lelikste Mej. SA tot op datum. Sy het dan nie eens hare nie. Sies man. ”

Hy sluit sy plasing af met ’n emoji van ’n mannetjie wat braak. Nuuskierig oor watter tipe mens sulke afbrekende dinge kan sê, gaan kyk ek op sy profiel. Sy tydlyn bestaan uit Bybelversies en Christelike prentjies. Meneer, hoe kan jy jouself as ’n Christen voordoen as jy so optree? Daar staan tog in Genesis dat God die mens tot sy beeld geskep het. Jy wy jouself daaraan om vir ander mense te preek wat ’n “goeie Christen” betaam, maar jy tree dan daarteen op. Nee, sies vir JOU!

Indien ek dit nog nie voorheen besef het nie, tref die werklikheid my nou – ons het ’n kuberboelieprobleem in Suid-Afrika! Dit is nie net bekendes wat onder skerp tonge deurloop nie, maar ook die Jan Alleman.

Ek word teruggeneem na jare gelede toe ek op laerskool deur ander leerlinge vertel is dat ek onaantreklik is. Ek word teruggeneem na my vriendin se hartseer gesig toe sy aan my vertel hoe ’n man wat saam met haar op skool was, dit nodig geag het om vir haar ’n Facebook-boodskap te stuur om te sê dat sy “mooi geword het” en dat hy meer tyd saam met haar sou spandeer het indien hy geweet het dat sy aantreklik gaan word.

Wat my die meeste pla van kuberboelies, is die gebrek aan verantwoordelikheid vir hul dade. Dit is altyd die slagoffer se skuld.

Hoe verpes ek die woorde “Ek maak net ’n grappie. Hou op om so sensitief te wees.” In my oë is iets slegs ’n grappie wanneer beide partye daaroor lag. Daar word van kleins af verskonings gemaak vir boelies se gedrag. Daar word skoueroptrekkend geskerts dat dit “maar kinders is” wanneer daar gekla word oor boeliegedrag.

Al ooit gehoor van die Engelse sêding, “Beauty lies in the eye of the beholder? My pleidooi aan almal is tweevoudig: Steek ’n stokkie voor boeliegedrag en bly liefs stil indien jy nie iets mooi kan sê nie. Die wêreld het genoeg ander probleme.

  • Danielle Kleyn het haar BCom-graad in ekonomie en regte in 2020 aan Akademia voltooi, waar sy ook op die studenteraad gedien het. Sy is tans besig met haar LLB-studies aan UNISA.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Androclus ·

Daardie kommentare wat so lelik is ,is bloot van jaloesie,daardie meisie is ook maar net mens met gevoelens.

Luister ·

Jy slaan die spyker op die kop! Dit is maar wat fout is met die hele wêreld vandag – niemand wil ander ‘n plekkie onder die son gun nie.

Daleen ·

Kuberboelies is so hartseer duidelik mense wat lae selfbeeld of ander emosionele/fisiese probleme het maar kan wegkruip agter lelike woorde en selfoonskerms om mense wat hulle nog meer minderwaardig laat voel te teiken.. Ergste is 3/4 van hulle kan nie eers spel nie. Vir diesulkes se ek “get a life” en los ander mense uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.