#JongStemme: Maar wat van daai één ding, oom Cyril?

Ansie Bylsma. (Foto: Verskaf.)

Deur Ansie Bylsma

Oom Cyril, daar is iets wat jy vergeet.

Elke keer wat ons hoor dat die president ‘n toespraak gaan lewer, sit ons soos orrelpypies gepak voor die televisie. Die hele familie, oud en jonk. Ons luister met aandag wat gesê word en neem elke woord in. Of dit uit opregte belangstelling of bloot nuuskierigheid is, is seker onbelangrik.

Ons het gehoor hoe die land agter slot en grendel moes gaan. Hoedat ons mooiste Suid-Afrika vir weke sal moes wegkruip vir die dreigende virus wat beloof om duisendes te laat sneuwel.

Hoendervleisoomblikke.

Maar daar is een ding waarvan ons nie hoor nie.

Ons het geluister hoe daar reëls uiteengesit is en watter tipe produkte taboe sou wees. Ons het gedwee aanvaar dat dit ‘n rukkie sal wees voor ons weer enetjie sal kan skink… “met eish, ja”.

Ons het swaar gesluk met die aanhoor van ‘n verlengde vlak vyf, en al was ons bly toe vlak vier aangekondig is, was daar ‘n kriewelrigheid onder ons. Miskien oor die onsekerheid daarvan, miskien oor die bekommernis dat die dodetal net nie wil daal nie. Steeds is daar daai een ding waaroor niks gesê word nie.

Deur al hierdie sitkameroomblikke van luister en wonder en bid en wag, het heelwat ander dinge in die wêreld gebeur. ‘n Man het sy lewe verloor aan die hand van ‘n figuur wat hom moes beskerm. Dit het gelei tot opstande en betogings wat ‘n paar maande terug onwerklik sou klink. Soos een man, het miljoene mense saamgestaan vir die bevordering van geregtigheid onder mense van kleur. #blacklivesmatter en ander frases het baie vinnig baie beroemd geraak.

Ek onthou in ‘n stadium het ek vir my ma vertel hoe bly ek is dat ek nie eendag in ‘n geskiedenisklas hoef te sit en leer van 2020 nie, want jislaaik!

Terug in die sitkamer, hoor ons hoe oom Cyril vlak drie aankondig. Meer vryheid en meer sterftes. Skole maak (ná ‘n groot gesukkel) oop en universiteite gaan voort met aanlyn onderrig.

Steeds so stil soos die graf oor daardie een ding waarvan ons nie hoor  nie.

Teen Jeugdag verskuif die oog van Amerikaanse optogte, na plaaslikes toe. Daar word opgestaan vir die arme vroue en kinders wat in die afgelope paar dae as slagoffers van geweld moes sterf. Waarheen is ons op pad?

Gisteraand sit ons weer en wag geduldig vir oom Cyril se bekende “My fellow South Africans”… ons hoor hoe salonne en restaurante mag oopmaak ná weke se bakleiery en hofsake. Ons hoor hoe die jeug die bul by die horings moet pak, wanneer dit kom by geslagsgebaseerde geweld en rassisme. Ons hoor hoe vrouens en kinders sterf… vermoor word deur mans.

Ongelukkig is daar een ding waarvan ons steeds nie hoor nie.

Hoewel ek elke woord van oom Cyril indrink en na hom luister asof ek verslag sal moet gee daaroor, is ek (met alle respek gesê) teleurgesteld in ons president.

Ek is teleurgesteld en kwaad en bang en hartseer. Ek wil weet hoekom word daar ‘n geheim gemaak van iets waarvoor daar wêreldwyd baklei moet word. Ek wil skree “I can’t breathe!”, want my keel trek regtig toe elke keer wat ek hoor van nóg ‘n plaasaanval. Elke keer wat ek hoor dat ‘n boer se lewe geneem is, breek ‘n stukkie van my hart.

Ek kan statistieke hier noem wat elke persoon wat hierdie meningstuk lees, hoendervleis sal laat kry. Ek kan skakels gee na foto’s wat geneem is net ná grusame aanvalle en wat enige iemand slapelose nagte sal gee.

Ons boere, die mense wat ons letterlik aan die lewe hou, vrees elke dag vir hul lewens. Ons boere, die hartklop van Suid-Afrika, word daagliks vermoor… en niemand sê iets daaroor nie.

Jy kyk na ‘n ketel wat kook en dink aan jou beker boeretroos wat jy netnou gaan geniet. Ek kyk na ‘n ketel wat kook en dink aan die ou oom wat op 6 Junie op sy plaas gemartel is met kookwater.

Het jy daarvan gehoor? Dalk. Ken jy die oom se naam? Waarskynlik nie.

Hoor jy van enige optogte of betogings vir hom en die duisende ander boere wat aan die hand van misdadigers gemartel word en sterf? Beslis nie.

My vraag is, hoekom nie? Hoekom verdien George Floyd die hele wêreld se samewerking in opstanding, maar Roelof Botha (wat in dieselfde week met ‘n panga op sy plaas vermoor is) kry bloot ‘n enkele opskrif in die koerant?

Hoekom bly ons stil oor hierdie kwessie? Hoekom duld ons hierdie moorde op die mense van wie ons die meeste afhanklik is?

Oom Cyril, ons luister graag na jou… maar die tyd om dringende kwessies soos hierdie daadwerklik die hoof te bied, is nou! Ek smeek jou, help ons boere. Hulle is die sout van die aarde en die hemel weet, hulle verdien meer. #Plaasmoorde #breakthesilence #icantbreatheeither

  • Ansie is ‘n uitgesproke mens en ‘n trotse plaaskind wat net buitekant die pragtige klein dorpie, Ohrigstad in Limpopo woon. Sy is tans ‘n tweedejaar LLB-regstudent aan die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroom-kampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JANINE ·

Ek het onlangs die fliek Treurgrond gesien. Ek het hardop gehuil … Die magteloosheid om iets aan die moordvlae te doen laat mens lam van vrees voel. Here, hou U hand oor ons boere asseblief!!!?

Martie Smartie ·

Ansie, moenie jou asem mors op hom nie. Moenie vir hom oom se nie, hy verdien dit nie. Kyk na sy kwalik bedekte rassistiese opmerking teenoor Dr Pieter Groenewald. Hoe gouer jongmense hierdie kookpot verlaat, hoe beter.

koos10 ·

Ansie, jy sien nog die wêreld met kinderoë ondersteun deur jou goeie opvoeding.
Jy praat van die president as oom. Ek het respek vir al my ooms, lewendig of dood. Hierdie oom waarvan jy praat verdien nie die term nie. Hy respekteer nie alle mense van die land, soos hy belowe het, toe hy die ampskleed op hom geneem het nie. Hy is die vertoon venster van ‘n gebroke party wat alles in hulle vermoë sal doen om aan bewind te bly, want sien, as hulle die verkiesings verloor sal hulle almal werkloos wees. Soos die jare vir jou, Ansie, gaan aanstap, gaan die oom en nog hordes ander ooms, na wie jy as oom verwys deur respek, jou bitter baie teleur stel. Roelof Botha was ook ‘n oom maar ongelukkig het die wat hom vermoor het nie jou opvoeding gehad nie, en het geen respek nie. Dit is ‘n gevolg van die ANC en IIK se aksies, en dan het hulle nog die vermetelheid om vir die VF+ en apartheid daarvoor te blameer, en dit is die rede hoekom ons NOOIT hom iets daaroor sal hoor sê nie!!!!

JohanR ·

Ansie ek is soe lief vir Afrika. My broer bly al vir 15 jaar is die VSA, maar waar behalwe in dieretuine daar kan jy ‘n groot maan haar leeu, ‘n kameelperd, ‘n Springbok of ‘n oliphant in lewende lyfe sien, en die son opkoms en afgaan van Afrika. Het 25 jaar is die mooiste Rhodesie gebly, en toe terugekeer na die land van my geboorte want Robert Mugabe was net ‘n stuk gemors. My ouers is in 1996 op ‘n plaas aangeval maar dankbaar dit oorleef. Hierdie ANC se Mantra is Me, Myself & I, en vir jongmense sien ek nie ‘n toekoms in die land nie. Vra nog hoe ‘n president van ‘n land vir ‘n wit opposisie leier kan se “swart ekonomiese bemagtiging is hier om te bly, en dat “Groenewald en sy soort” (Groenewald and his ilk) eerder die wandade van die verlede moet probeer regstel as om struikelblokke in die pad te rol. Woensdag 17de was 24 dae vanaf Oom Cyril laas gepraat het. Gaan terug op MM tot die 25de May en werk voorentoe, en sien hoveel plaasaanvale daar was in 24 dae. Skokkend!

SomeOne ·

juf bylsma, stuur jou berig uit suid afrika, na die wereld dat hulle kan sien wat hier aangaan

Peet ·

Onthou hy praat van ons(wit) as soort, nie as deel van die land nie.

Jan ·

Die hoofstroommedia wat ons almal so aanbid en glo is in die hande van die geldmag, en CR en die ANC buit die situasie uit. Daar is géén pandemie nie, ten spyte van buitengewone pogings om covid-19 sterfgevalle op te stoot, kom hulle steeds nie naby die sterftes aan gewone griep nie. Dis ook net ‘n klein breukdeel van werklike sterftes weens TB, wat ELKE DAG, jaar in en jaar uit, 172 lewens eis, maar steeds pomp die media hul naïewe aanbidders vol met leuens oor die groot virusgevaar. Ons kyk nou al selfs skeef na iemand wat dit op straat sonder ‘n masker waag.

Veel erger nog is die feit dat ons immuniteit ons enigste beskerming teen virusse is. Nou het die media ons oorreed dat ons alles moet doen wat immuniteit aftakel. Isolasie, angs, gebrek aan suurstof, sonlig, oefening, geld vir gesonde kos, sosiale interaksie, liefdevolle aanraking, dit alles is teenproduktief en geld net om ons voor te berei vir die volgende gewone virus wat amok gaan maak weens die verswakte weerstand.

Lourens CFG ·

Ansie, saluut meisiekind, mooi maniere in jou skrywe getoon.

Tienie ·

Tooooooo much talk and no work Presss.

Respek word nie sooo maklik verdien nie. Mens moet werk vir dit.

Ettienne ·

Ansie, die antwoord (hoewel godskryend) is eenvoudig: #BLDM (Boere Lives Don’t Matter) vir Suid Afrika se regering…

Anoniem ·

Ansie ek stem meer as 100% saam met jou. Volgens my gaan dit dat ons velkleur nie reg is nie. Was ons swart dan was dit ‘n perd van ander kleur!!! As ek die berig van jou lees dan raak ek verbitterd!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.