#JongStemme: Moedertaalonderrig moet bevorder word

Wiehan Steenkamp. Foto: Verskaf.

Deur Wiehan Steenkamp

Suid-Afrika is uniek in die opsig dat dit een van baie min lande ter wêreld is waar daar van kinders verwag word om weg te doen met hul moedertaal as onderrigtaal.

Daar word van die meeste kinders in die land verwag om tussen graad 1 en graad 3 oor te skakel na Engels, of in ’n mindere mate Afrikaans, as hoofonderrigtaal. Die redes hiervoor is dat beide tale oor sterk tersiêre funksies beskik en dat spesifiek Engelse geletterdheid as noodsaaklik geag word om suksesvol deel te neem aan die Suid-Afrikaanse en wêreldekonomieë.

Ja, Engels is belangrik in die rol wat dit as ’n wêreldtaal speel en ek glo vas dat almal Engels magtig moet wees, maar dit kan nie die kritiese funksies van jou moedertaal vervang nie.

Daar is ’n magdom bewyse dat kinders beter en vinniger in hul eie moedertaal leer en dat kritiese denkwyse en probleemoplossingsvaardighede beter ontwikkel word met moedertaalonderrig. Voorts is daar bewyse dat kinders met ’n sterk moedertaalfondasie makliker ’n nuwe taal aanleer en hul gevorderde denkprosesse na hierdie taal toe kan oordra.

Ek was bevoorreg om my hele skoolloopbaan in my moedertaal te kon voltooi en selfs die eerste twee jaar van my universiteitsloopbaan. Toe ek moes oorskuif na Engelse onderrig, was daar ’n tydperk van aanpassing gewees. Ek was nog bevoorreg met wat ek beskou as ’n sterk moedertaalfondasie. Ek wil nie eens dink aan die graad 1-kinders, wat in die meeste gevalle ’n beperkte begrip van Engels of Afrikaans het, wat nou die basiese akademiese beginsels moet leer wat later gaan bepaal of hulle matriek gaan slaag of nie.

As jy nie volledige begrip het oor die taal waarin jy die komplekse beginsels van wiskunde leer nie, dan maak dit sin dat slegs 54% van matrikulante in 2019 die 30%-subminimum vir Wiskunde behaal het.

Die Zimbabwiese geleerde dr. Themba Dlodlo het al in 1997 gewaarsku dat Afrika wetenskaplik, ekonomies en tegnologies agter gaan bly tensy skole die leerders se moedertaal as onderrigmedium begin gebruik.

Verskeie bekommernisse is al uitgespreek oor die gepastheid van Afrikatale in hoër onderwys weens die gebrek aan wetenskaplike terme in hierdie tale en die feit dat sekere Afrikatale net eenvoudig nie die nodige kompleksiteit kan oordra nie.

Die Project for Study of Alternative Education in South Africa (PRAESA) het egter bewys dat hierdie bekommernisse bloot net nonsens is.

Die einste dr. Dlodlo het ook al bewys dat dit moontlik is om gevorderde termodinamiese beginsels in al die verskeie Nguni-tale oor te dra deur slegs gebruik te maak van die woordeskat wat reeds in hierdie tale bestaan.

Moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners is dus teoreties moontlik en nodig, maar die praktiese uitvoerbaarheid daarvan is problematies. ’n Magdom ondersteuningsnetwerke sal gevestig moet word, onderwysers sal opgelei moet word, en akademiese hulpbronne soos handboeke sal vertaal moet word. Dit kos alles geld, neem tyd en daar is 11 tale waarvoor voorsiening gemaak moet word.

Artikel 6 van die Suid-Afrikaanse Grondwet bevorder juis die bewaring, uitbreiding en uitbouing van alle tale in Suid-Afrika en die grondwetlike instelling van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) geniet grondwetlike kragte om bogenoemde te bewerkstellig.

Alhoewel daar in verskeie tale baie vordering gemaak is op die gebied van kunste en vermaak, het die onderrigstatus van die meeste tale egter onveranderd gebly en, in die geval van Afrikaans, verswak.

Internasionale Moedertaaldag word sedert 21 Februarie 2000 gevier ter bevordering van taalkundige en kulturele diversiteit en veeltaligheid. Met dié dag in gedagte, hoop ek dat bewustheid by belanghebbende partye gekweek kan word oor die voordele van moedertaalonderrig en dat hulpbronne gemobiliseer kan word om moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners moontlik te maak.

Ek wil dit net weer duidelik maak – ek sê nie daar moet weggedoen word met Engelse onderrig nie. In Suid-Afrika se huidige omstandighede speel Engelse onderrig steeds ’n uiters belangrike rol, maar daar moet meer ruimte geskep word vir ander tale om ook bevorder te word.

Ek wil my mede-Suid-Afrikaners aanmoedig om hul gewig agter die idee te gooi dat, eerder as om ’n Afrikaanse universiteit te verengels, ons onsself moet beywer vir die bou van byvoorbeeld Xhosa- of Zoeloe-universiteite en -skole.

Ek gaan my gewig agter Afrikaans gooi om sy toekoms as onderrigtaal te bewaar en ek hoop Suid-Afrikaners van ander taalkundige agtergronde doen dieselfde vir hul tale, om te verseker dat die intellektuele hulpbronne wat met taalkundige diversiteit gepaardgaan, nie verlore sal gaan nie, maar liewer ingespan word tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

  • Wiehan Steenkamp is ’n meestersgraadstudent in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.
  • #JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Goeie skrywe deur Wiehan Steenkamp.Jou 10 de paragraaf vat dit mooi saam en die wil wat ontbreek is die oorsaak hoekom die afrikatale nie verder ontwikkel sal word nie.Dit is baie makliker om ‘n taal te gebruik wat reeds ontwikkel is tot akademiese vlak.Afrikaans het wel ‘n nok gevat maar is besig met ongekende groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.