#JongStemme: ʼn Fout so eenvoudig dat slegs geleerde ekonome dit kan maak

Deur Carl Sebastian Steenekamp

Carl Sebastian Steenekamp.

Drie weke gelede het Tito Mboweni, minister van finansies, sy aanvullende begrotingrede gelewer onder ʼn refrein van oproepe vir ʼn post-Covid-19- ekonomiese herstelplan. Terwyl Suid-Afrika na alle verwagting ʼn hewige ekonomiese slag gaan verduur, het fiskale omsigtigheid van uiterste belang geword.

Vroeër hierdie maand het ʼn groep van 100 ekonome ʼn beroep op die parlement gedoen om die aanvullende begroting van Mboweni te verwerp en eerder meer as minder regeringsuitgawes aan te gaan om die post-Covid- ekonomiese krisis wat Suid-Afrika in gesig staar te bekamp. Hierdie ekonome beweer dat besnoeiings in die begroting sal lei tot ekonomiese stagnasie.

Maar om die situasie as ʼn eenvoudige keuse tussen groter spaarsamigheid en groei uit te beeld, is intellektueel oneerlik. Die werklikheid is dat, ongeag die plan wat in werking gestel word om die skuldkrisis in Suid-Afrika op te los, die gevolge vir albei hierdie keuses pynlik sal wees. Die werklike keuse is dié tussen pyn gevolg deur hernieude vooruitgang, of pyn gevolg deur selfs nog pyn.

In die lig van die pandemie blyk ʼn beskeie toename in staatskuld verstandig te wees en ʼn aantal lande reg oor die wêreld het stimuleringspakkette geïmplementeer om die ekonomiese toestande wat deur die Covid-19-krisis veroorsaak is, te verbeter. Die Suid-Afrikaanse regering het ook ʼn sogenaamde “stimuluspakket” van R500 miljard geskep, selfs al is hierdie bewering ietwat twyfelagtig.

Hoewel beskeie uitbreidings aan skuld vir smal en doelgerigte uitgawes verskoonbaar is of selfs as verstandig geag kan word, veral in ʼn tyd van lae rentekoerse, is dit kommerwekkend dat hierdie groep ekonome aanvoer dat ons nie bekommerd hoef te wees nie oor ons skuldvlakke nie.

Onvolhoubare skuldvlakke

Griekeland is ʼn voorbeeld van ʼn land wat sy skuld ná die finansiële krisis in 2008 verkeerd bestuur het en meer as ʼn dekade later steeds die las dra van onvolhoubare skuldvlakke. Toe hulle geleende geld bestee het, het hulle gedink dat skuld nie ʼn probleem was nie. Enigiemand met ʼn mate van kennis van Griekeland se skuldkrisis, sowel as dié van Argentinië wat nie sy skuld betyds kon afbetaal nie, moet weet dat onvolhoubare skuldvlakke uiteindelik struikelblokke word wat die private sektor versmoor, groei belemmer en uiteindelik self ekonomiese stagnasie veroorsaak.

Dus, die voorstel dat ons nie oor ons skuldsituasie bekommerd hoef te wees nie, is kortsigtig en gevaarlik, veral omdat Suid-Afrika die afgelope dekade ʼn onvolhoubare skuldpad gevolg het en homself opgesaal het met ʼn onvolhoubare skuld-tot-BBP-verhouding. Om miljarde rande meer by te voeg sal, soos die Griekse geval aantoon, die begin van Suid-Afrika se ekonomiese ondergang wees. Die skuldkrisis wat noodgedwonge sal volg indien die aanbevelings van hierdie 100 ekonome geïmplementeer word, sal ʼn sosio-ekonomiese hel ontketen.

Groot besteders

Dié ekonome se verweer sou waarskynlik wees dat die uitbreiding van die begrotingstekort deur meer staatsbesteding goeie nuus vir ekonomiese groei sal wees. Hulle kan verder aanvoer dat daar baie min empiriese bewyse is wat daarop dui dat begrotingstekorte ekonomiese groei as sodanig belemmer – so waarom moet ons nie meer belastingeld bestee om die ekonomie te stimuleer nie?  As daar iets is, so sê die groot besteders, kan dit die ekonomie bevoordeel sodra dit onder die gemiddelde groeikoers val.

Die probleem is dat die werklikheid gevolglik byt. Groter wordende tekorte het histories monetêre gevolge, wat neerkom op die ontketening van kragtige inflasiekragte. Geen ekonomiese kwalifikasie kan die realiteit van gevaarlike hoë skuld voorkom in die vorm van hoër belastings of nuwe, parasitiese skemas om staatsbesteding te finansier nie. ʼn Voorbeeld hiervan is die toenemende aptyt van die regering om die regulatoriese raamwerk te wysig om plek te maak vir voorgeskrewe bates.

Die lastige impak van owerheidsbesteding wat op kortsigtige toegeeflikheid van skuld gebou is, kan nie gesystap word nie. Hoe meer die regering bestee, hoe meer moet hy leen, en om dit in die toekoms terug te betaal, sal die belastingbetalers al hoe meer moet betaal.

Wanneer Keynesiane beweer dat besteding aan tekorte noodsaaklik is, eis hulle dat huidige regerings ondersteun moet word ten koste van toekomstige belastingbetalers. En tot watter doel?  Daar is geen kortpaaie vir ekonomiese groei nie, en regeringsbesteding op sigself bied geen oplossing vir ekonomiese stagnasie nie.

Mboweni is korrek as hy sê: “Die oortuiging dat ons ons weg uit lae groei kan bestee met belastinggeld, strook nie met die beste beskikbare empiriese bewyse nie en ignoreer Suid-Afrika se onlangse swak prestasie in die gebruik van staatsbesteding as ʼn instrument vir broodnodige ekonomiese groei.”

ʼn Uitkoms, nie ʼn beleid nie

Ekonomiese groei is ʼn uitkoms, nie ʼn beleid nie. Die vraag is: Hoe kom ons daar?

Die kompleksiteit van die ekonomie verberg die waarheid dat daar eenvoudig nie iets soos ʼn gratis middagete bestaan nie.

Slegs opgeleide ekonome sou probeer om dit te ontken, maar in die hier en nou is daar geen uitweg uit ons haglike ekonomiese situasie sonder om terug te keer na fiskale omsigtigheid en ʼn dringende en drastiese implementering van pro-groei-beleid nie.

  • Carl Sebastian Steenekamp is 19 jaar oud en is tans ʼn intern by die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge (SAIRV).

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae