#JongStemme: Polities korrekte terminologie wat so bitter (soet) is

René van der Vyver (Foto: Verskaf)

Daar gebeur iets wat jou hare laat rys. Jou bloed kook. Jou spiere bult, want sekerlik kan niemand dié keer hierdie wandaad reg praat nie. Maar dan kry jy ’n kol op jou maag. Die mooiste woorde wat al vrot gebruik – of eerder misbruik – is, word rondgeslinger asof ’n regdenkende mens nog daarvoor moet val.

Ek praat nie net van Dis-Chem se kru rassediskriminasie wat opspraak gemaak het nie. Dit is ’n goeie voorbeeld, ja. Dié groot maatskappy het mos die vrymoedigheid om oop en bloot te kommunikeer dat geen mens met ’n wit velkleur aangestel of bevorder moet word nie – want hulle moet rasseteikens probeer haal, of hulle word beboet.

Die mense se hare het gerys. Die mense se bloed het gekook. Die mense se spiere het gebult. Maar die mense het weer ’n kol op die maag gekry.

Wragtig – geen verrassing nie – daar kom Dis-Chem se brief wat om verskoning vra. Nie met opregtheid of berou nie, nee. Met daai einste mooi woordjies wat ons al lankal ken as ’n dekmantel vir harde diskriminasie.

Dit is ongelukkig nie net Dis-Chem wat homself skuldig maak aan die misbruik van hierdie bitter terminologie wat as soete stroop opgelek word deur die 21ste eeuse wêreld nie. Dit word wyd en syd gebruik om blatante rassisme edel te laat klink.

Jy hoor dit in die werksplek. In universiteitsbeleide. In sportspanne se kwotastelsels. In elke plek waaraan jy kan dink. Dit moet uitgelig word, sodat jy op jou hoede kan wees vir hierdie terme wat die volgende spreekwoord bewaarheid: “Pasop vir die wolf in skaapsklere”.

Inklusief

Hierdie term word gereeld gebruik om kulturele identiteit te vernietig in die strewe om een “inklusiewe” of “diverse” instelling, land of besigheid te vestig.

Dit is ’n fout om te dink dat die belofte van “inklusiwiteit” beteken dat verskillende, diverse kulture ingesluit word, soos afgelei kan word uit die woordeboek se definisie. Hierdie term word amper altyd gebruik waar daar gepoog word om juis verskille uit te skakel, sodat daar een gestandaardiseerde “kultuur”, of eerder anti-kultuur, is.

Dink byvoorbeeld aan universiteite wat moedertaalonderrig afskaf om “inklusief” te wees deur alles te verengels. Op hierdie manier word net een van die 11 amptelike tale in Suid-Afrika dus ingesluit – Engels.

Transformasie

Transformasie is ’n gewilde term om ’n anti-Afrikaanse sentiment te verbloem as ’n strewe na vernuwing – wat slegs een groep op ’n onvolhoubare, staatsafhanklike wyse bevoordeel.

Dit is ’n lekker vangnet vir diegene wat hulself skuldig maak aan ’n onregverdige en ongegronde afbreek-karakter. Dink maar aan die afbreek van standbeelde of monumente wat klaarblyklik ter bevordering van transformasie is.

Is my blote bestaan as Afrikaner in suidelike Afrika ’n struikelblok in die pad van die transformasieagenda?

Gelyke indiensneming

Afrikaners verwerk dikwels uitdagende situasies met humor. Hierdie verkeerdelike gebruik van die term “gelykheid” is beslis iets waaroor ons kan lag! Ek lag vir mense wie se ore nie die opvallende teenstrydigheid kan hoor nie.

Hoe is dit “gelyke indiensneming” as daar ongelyke teikens vir indiensneming, op grond van ras, is? Ek wens hulle wou dit noem wat dit werklik is: “ongelyke indiensneming”.

Hierdie term maak mos meer sin vir ’n besigheid waar daar teikens is om 90% van die poste te reserveer vir een groep. Die term “gelyke indiensneming” kan eintlik net gebruik word by besighede wat personeel slegs op grond van meriete aanstel.

Verteenwoordigend van die nasionale demografie

Terwyl die res van die wêreld pleit vir die beskerming van minderheidsregte, word Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika onderdruk. Dit sodat al hoe meer regte vir politici, hulle familie en vriende gegee kan word onder die dekmantel van geregtigheid vir die meerderheidsgroep.

Die terminologie wat gebruik word om hierdie belaglikheid te laat klink soos iets edel is: “Ons bevorder inklusiwiteit en verteenwoordiging,” soos Dis-Chem dit in die halfhartige jammer-sê-brief gestel het.

Dit klink tog so pragtig om almal oor die hele demografiese spektrum in te sluit. Dit is egter kommerwekkend dat ’n meerderheidsregering die behoefte het om ’n minderheidsgroep deur hierdie terminologie te kniehalter – alles om ’n klein groepie elites te bevoordeel onder die dekmantel van “geregtigheid.”

Regstellende aksie

Hoe stel jy iets wat verkeerd was reg met iets ander wat ook verkeerd is? ’n Mens kan nie. Wat word wáárlik “reggestel” as ’n klein groepie mense onregverdige voordeel trek uit goed wat vir hulle op ’n blink skinkbord gegee word?

Dit terwyl die armes net armer word. Boonop is dit ’n onverdiende pakslae vir die groep wat op alle terreine “reggestel” word – enigiemand wat 30 jaar of jonger is, is gebore in die “nuwe Suid-Afrika” wat ironies gekenmerk word as die land met die meeste rassewette.

Dekolonisasie

Hierdie gevaarlik-breë term is deesdae ’n gonswoord. Dit blyk om enigiets in te sluit wat te make het met die afbreek van instellings met Westerse wortels, wat waarde toevoeg tot die samelewing.

Die skuldiges ontbloot deur hul aksies hulle onkunde van kolonialisme deur enigiets wat mense met ’n wit velkleur opgerig het as ’n simbool van kolonialisme te bestempel. Afrikaners, wat ook ’n wit velkleur het, is byvoorbeeld die nasate van die Voortrekkers wat tydens die Groot Trek Suid-Afrika se grootste weerstandsbeweging teen kolonialisme gelei het.

Afrikaners het ook in die bloedige Boereoorloë juis teen kolonialisme – in die vorm van die Britse Ryk – geveg.

Dit is ook nie kolonialisme wat te danke is vir, of soos ander redeneer die skuld moet dra, die oprig van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom nie. Nee, dit was die teenkoloniale groep Afrikaners wat juis hierdie universiteit in hulle taal en hulle geloof gebou het met geld van volgehoue koeksisterverkope.

Swart ekonomiese bemagtiging

Sê vir my wie word bemagtig? ’n Minderheidsgroep se loopbane word gekelder, omdat die leuen dat alle mense met ’n wit velkleur ryk geërf het steeds bestaan.

Die meerderheidsgroep, wat veronderstel is om bemagtig te word deur hierdie beleid, kry ook al hoe swaarder. Die ekonomie word versmoor. Die werksgeleenthede word al hoe minder. Die politici en hul familie en vriende word net ryker.

Daardie poste wat gereserveer is om klaarblyklik swart mense te bemagtig, bereik selde die kamstige doel om vir minderbevoorregte mense geleenthede te skep. Daar is talle stories van sakemanne wat na jare se opbou van ’n besigheid skielik ’n lys – met ’n paar kader-name op – ontvang en hoor dat hy nou 50% van sy besigheid moet wegteken aan ’n persoon wat hy nog nooit ontmoet het nie. En waarskynlik nooit gaan ontmoet nie.

Laat hierdie skrywe jou hare rys? Jou bloed kook? Wel, ten minste kan ons in die vervolg voorbereid wees vir die kol op ons maag, want ons weet dat hierdie gewilde terminologie van skreiende dubbelstandaarde getuig. Mense kan dit so versier soos hulle wil – die polities-korrekte terminologie bly só bitter.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Goldy ·

Heropbou na kolonialisme waarna, na steentydperk. Polities korrektheid val gelukkig almeer soos meer mense besef dis eintlik heeltemal on-korrek.

Goldy ·

Land met die meeste raswette, goed gestel. Hierdie reenbooghuwelik het uitbuitend uitgedraai en skei is noodsaaklik. Kaapse referendum vir onafhanklikheid, boere wat gedreig word, begin skeisaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.