Kaapse Forum wil ‘ongeletterdheid’ oor selfbestuur nek omdraai

Heindrich Wyngaard (Foto: Verskaf)

Flip Buys, een van Suid-Afrika se voorste denkleiers, lê sy gehore dit altyd op die hart om (hier ietwat aangepas) deur die voorruit van die voertuig van ons lewensbestaan te kyk na die oorsake van voorspoed. Die keersy hiervan sou wees om gedurigdeur by die agterruit na die oorsake van armoede en ellende uit te staar.

Soos ek dit verstaan, is dit nie asof Buys hiermee sê dat die verlede nie enige relevantheid het nie of dat dit geïgnoreer moet word nie. Beslis nie. Slegs dat jy nie van jouself ʼn slagoffer van die geskiedenis moet maak nie. Dit is wel wat die ANC-regering sal wil hê sodat hulle kan aanhou om “slagoffers van die geskiedenis” te laat glo dat hulle van die party afhanklik is om uit daardie toestand van slagofferskap te ontsnap.

Die geel wortel is die maatskaplike toelae vir oues van dae, gestremdes, pleegouers, kinders en werkloses, maar dit is tog wêreldwyd ʼn staatsfunksie (of staatkundige verpligting) om na die weerloses onder sy burgery om te sien. Hier te lande word die weerloses gelaat glo dat die toelaes seëninge van die ANC is, wat kwansuis die armes ter wille is, ʼn goedhartige regerende party wat tog so verskriklik baie vir die armes omgee dat jy dit nie durf kritiseer as ʼn manier van staatsafhanklikheid skep nie.

Slagofferskap is dan ongelukkig iets waaraan talle in bruin gemeenskappe steeds ly; dalk was dit ook vir ʼn baie lang tyd met my persoonlik die geval.

Maar ek blameer nie mense wat steeds in daardie toestand vasgevang is nie, en ek wil die leser ook aanraai om dieselfde te doen: Jy help immers niemand om sy of haar vernederende en mensonterende ervarings van die verlede te oorkom deur uit te vaar teen so ʼn persoon met uitsprake soos: “Kan julle nie maar net die verlede vergeet en oor dit kom nie!”, want dit is nie jy wat dit deurgemaak het nie. Jy kan nie weet hoe dit voel nie en hoe maklik of moeilik dit is om oor dit te kom nie.

Máár jy kan wel – met empatie – hande vat met sulke gemeenskappe en hulle help bevry van die slawerny van slagofferskap deur die geleenthede aan hulle te openbaar wat deur saamspan en saamstaan ontsluit kan word. Dit is die aard van Kaapse Forum en AfriForum se samewerking (vennootskap, verbintenis) tot die omkeer van die historiese en hedendaagse vervreemding van bruin gemeenskappe.

Dit beteken noodwendig dat ons ook dié gemeenskappe moet help weg beweeg van die fatalistiese ingesteldheid wat geskets word deur ʼn baie bekende aanhaling uit ʼn gedig van prof. Adam Small, iemand by wie ek my trotse bruinmensskap aangeleer het.

Die aanhaling lui:

die Here het gaskommel

en die dice het vi’keerd geval

vi ôs

daai’s ma’ al

Hierdie verskynsel van “fatalisme”, platgeslaan wees, nie meer omgee nie, uitsigloosheid of wat Small in sy essay Die Eerste Steen? in 1961 ʼn “gaan-lê-psige” noem, word meegebring deur die omstandighede van moedeloosheid wat in dele van die bruin gemeenskappe sigbaar is. Dit is ʼn verskynsel wat so ver terug as 1973 geïdentifiseer is deur die werk van die Erika Theron-kommissie na aangeleenthede rakende die “Kleurlingbevolking”.

Die kommissie het onder meer voorstelle gemaak oor meer staatsbeleggings in die “Kleurling”, maar het terselfdertyd dié groep aangemoedig om hand in eie boesem te steek. Te midde van die “subkultuur van armoede” of die toestand van “chroniese gemeenskapsarmoede”, moes ons wat onsself bruin mense noem ook leer om sélf iets te begin doen vir die verbetering van ons eie “welsyn en menswees”.

In 2016 het prof. Sampie Terblanche, sameroeper van die kommissie se werkgroep oor ekonomie en arbeid, geskryf dat die boonste derde van die bruin mense se posisie wel “besonder goed verbeter het” gedurende die veertig jaar wat op daardie stadium verloop het ná die uitreiking van hul verslag. Ook die bruin middelklas het “gevorder”, maar dit was vir prof. Terreblanche “ontstellend dat (…) die onderste deel van die armstes nog so aansukkel”.

Die redes waarom hierdie onderste 40% van die bruin gemeenskap steeds so sukkel is waarskynlik dieselfde as drie bykomende faktore – naas die staatkundige redes – wat destyds deur die Theron-kommissie aangebied is. Dit is: “groot gesinne, werkloosheid en ʼn gebrek aan (vaardigheids- of tersiêre) kwalifikasies”.

Om die idee en die ideaal van selfbestuur in bruin gemeenskappe neerslag te laat vind, en om aan te sluit by wat die Theron-kommissie bevind het, vermoed ek sal ons by die onderwys moet begin.

Soos bevind is in ʼn studie wat die Solidariteit Navorsingsinstituut vir die Afrikaanse Taalraad gedoen het, het slegs 1,1% van bruin Afrikaanssprekende skoolverlaters in 2011 met universiteitsopleiding kon spog; slegs 1,3% in 2016. Wat tersiêre onderrig in die algemeen betref, dobber die syfer tussen 2011 se 4,5% tot 2016 se 4,7% rond.

Maar dink ʼn bietjie daaraan: bruin mense is die grootste bevolkingsgroep in die Wes-Kaap, die tweede grootste bevolkingsgroep in die land, en dit is ʼn jóng bevolkingsgroep. Net 4,58% van dié groep is bó 65 jaar en 46,9% onder 25 jaar.

Jy kan eenvoudig nie toelaat dat so ʼn groep nie behoorlik geïntegreerd is in die ekonomie van die land en die provinsie nie. Jy kan nie bekostig dat hulle gewoon op sypaadjie of op stoepe in die son sit of die eerste week van die maand inval by die lang rye van Sassa-begunstigdes nie. Jy moet hulle help om op te staan en hulself af te stof en hulle gesonde liggame en gesonde verstand in die poel te gooi vir die opheffing van hul eie gemeenskappe.

Dit begin met beskeie inisiatiewe, met klein happies aan die groot olifant van ongeletterdheid, wat wyer strek as net ongeletterd wees of laag geskoold wees met betrekking tot leer lees en skryf. Die langtermyndoelwit van Kaapse Forum behels ook dan om in bruin gemeenskappe die ongeletterdheid oor selfbestuur en gemeenskapsfederalisme die nek om te draai.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heindrich Wyngaard

Heindrich Wyngaard is die uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

De Bok ·

Julle is op die regte pad Heindrich. Vertel ons meer, wat DOEN julle? Hoe gee julle hande en voete aan die oplossing?

Harley Davidson ·

Die weskaap het die beste kans vir oorlewing mits hulle onafhanklikheid verkry en hulle probleme self kan oplos hulle het die infrastruktuur om n eerste wêreld land in Afrika te word .

Manie ·

Die DA glo nog steeds dat hulle ‘n nasionale verkiesing kan wen en is bang om stemme buite die Wes-Kaap te verloor, sou hulle onafhanklik wou word. Totdat hulle nie besef dat hulle nooit ‘n nasionale verkiesing sal wen nie, bly Wes-Kaapse onafhanklikheid net ‘n droom. Dit lyk kompleet asof die DA tevrede is met hulle posisie as amptelike opposisie vir die ANC.

Republikein in die Wes Kaap ·

Werk hard om ‘n onafhanklike land vir jou mense te vestig, Heindrich.

annie ·

Die Kleurlinggemeenskap moet eerstens erkenning gee aan hulself as unieke groep. Soos die Afrikaners moet hul hul eie baan oopveg en -werk. Niemand kan iemand anders vir hom uitdink en bou nie. Die Kleurlinge het ‘n eie persona, taalgebruik en musikaliteit. Bou dit uit. Moenie aanhak by ander groepe nie; soos loodsvisse bly hoop op leiding en hulp nie, want dan word jul misbruik. Wees julself!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.