Kan ons begrip hê vir vriend én vyand?

die vraag

Kernvrae waarmee sommige van die eerste historici, soos Herodotus of Thusidides, reeds geworstel het, is dít:  Wil ons na ‘n konflik (soos die grensoorlog) kyk uit één observasiepos of uit so véél as moontlik verskillende observasieposte, swart én wit?  Veral dít:  Wil ons ons met één stel dryfvere vereenselwig of wil ons probeer aanvoel wat in almal skuil?  Is dit inderdaad wel moontlik om die stewels van die een, vir die stewels van die ander, te verruil?

die agtergrond

Vóór iemand die bydrae hieronder verder lees, mag dit van nut wees om eers die pad, na Piet le Roux se perspektief van 24 November Debat groter as die deelnemers te vat, én ook, onderaan dié perspektief, na Suné van Heerden se inhoudsopgawe tot die grensoorlogdebat.

die verdieping

Om die betekenis van my paar gedagtes hieronder te verklap, sal dit help as iemand méér as een keer hardop maar stadig daardeur stap, as hy kyk hoe vlammende oë in die konflik in Suidwes en Suid-Afrika mekaar aanstaar, en hom daarna verdiep in die werk Ons was daar.

die ironie

Nadat ons, in dié bydrae, eers saam met rewolusionêres in die stryd teen die Suid-Afrikaanse staat betrokke raak, verskuif ons steun later na ánder magte, en begin ons, byna ongemerk, op patrollie oor die selfbeskikking van die Afrikaner waak.  Terwyl ons die hooftitel oor “wit setlaars” sodoende nou ironies maak, word ons kampvegters vir die Afrikanersaak.

…………………………….

Die oorlog van die wit setlaars

“Die veragtelike grensoorlog is gevoer vir die behoud van ‘n stelsel van wit voorregte.”  Andile Mngxitama, redakteur New Frank Talk, Junie 2011

Gewere

Onbekende SWAPO-vegter. (Foto: Swapo-party)

Eeu na eeu na eeu
word hierdie vasteland –
óns ras, óns grond,
óns kraal, óns huis –
oorrompel met geweer en perd
deur wit setlaars
uit Berlyn en Amsterdam
uit Londen en Parys

Elke comrade wat
hom wíl verset en kán
word soos Madiba
Robbeneiland toe verban

Die Suid-Afrikaanse Weermag
word opgelei, bewapen en ontplooi
om rykdom te beskerm
teen elke swart nasionalis,
om wit mag met
apartheid af te dwing –
dié stelsel wat ‘n misdaad
teen die mensdom is –
tot ons bywoners word
op óns grond
waar Casspirs in
die townships kom
en Buffels met
masjiengewere oor
die noordgrens van
Namibië brom
Maar in die 1960s-70s-80s
dekade na dekade
gaan die oorlog hier
en op die grens verby:
nes in Suid-Afrika
bring elke Swapo-ongeval
die laaste stuiptrekkings
van wit heerskappy

Helde

Op die morele hoë grond
bou Zanu PF in Harare
kort voor lank
sy presidentspaleis,
in Windhoek bou Swapo syne
voordat, in Suid-Afrika,
die ANC uit Luthuli House
Uniegebou toe verhuis

Die Waarheids-en-
versoeningskommissie
ontbloot grusame misdrywe
van hoe setlaars regeer
terwyl ons die name
van ons struggle-vegters –
van MK, Apla, Kuba –
in Vryheidspark vereer

en wit soldate,
van letsels lewensmoeg,
oor die verlore stryd
bewend stotterend wroeg

Al vergewe ons
die setlaars in Afrika
die ongeregtigheid
van elke wandaad, elke ramp,
gaap steeds ná 350 jaar
ons wonde van
minderwaardigheid
in elke misdaadbende, elke plakkerkamp

Stewels

'n G5-kanon in afvuur. (Foto: Joffel van der Westhuizen)

Koue storte spoel
vlak grappe weg
voor Buffels eerste lig
uit Oshivello vleg
om ons in Mahanene
en Oembalantoe af te skud
om voor patrollies
saam te bid
dat bruin stewels
deur warm sand kan beur
en tot laaste lig
oeshanas patrolleer,
tydelike basisse stig,
oornag op wag,
vir insurgente spoorsny
dag na nag na dag
Hoekom lê die kamp so ver:
onderkant die môrester?

Harte

Met haastige voorvingers
skeur ek gou
briewe oop van my ma,
my broer, my vrou,
my kind
waaruit ek weet
hoekom ek op die grens
moet sweet

Hoekom sê ek nie
lang woorde nie
soos nasionalisme
en demokrasie?
Hoekom galop
net beelde deur my kop?

As ons hier terugval
sal volksgenote voor dié
wat oor grense stroom
moet wyk
Nét as ons vasbyt
sal ons weer kan stem
vir leiers wat soos
óns loop en lyk
en dié vervang
wat mag misbruik
of uit die hoogte
na ons kyk

Maar krygsgevangenes
met hamer en sekel op die mou
fluister saans
in Kubaanse Spaans
oor rooi leiers –
standbeelde in sement –
wat nie vervang mág word nie
is té intelligent

As ons ons voorkop
noordwaarts draai
waar Navo sy wapens
oor Wes-Europa laai
voel ons hoe
deur die SAW
die yswind van
‘n Koue Oorlog waai

Strome

Terwyl troepetreine
en groen flossies
grens toe ry
om niemandsland
in noord-Suid-wes
oop te stoot
en oop te brand
vermeerder hulle
agter ons rug:
binne-in óns vaderland,
stroom hulle
vanuit die platteland
die stede in

Het ons nie
reeds aan die begin
soos Verwoerd gesnap nie:
ons is gans te min!

Die oorlog
waardeur ons paar
in Suider-Afrika
vry wil bly
is teen 1994
vir goed verby

Vlam

Die Uniegebou (Foto: Wikipedia)

Die Uniegebou sien
hoe westerlinge die vlam
wat hulle aangesteek het
gee vir die groter stam,
hoe sy lig val oor die stad
in Jakarandas toegeweef,
hoe deftig Afrikane aantrek,
hoe lank oudstes bly leef,
sien hul vermoë om te lees en skryf
is nóú die hóógste op die vasteland
en wonder:  Hoe hoog sal dié stam
oormôre hierdie vlam laat brand?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae