‘Kill the Boer’-uitspraak dui op gebrek aan kennis

Totdat ʼn hoër hof as die Johannesburgse hooggeregshof anders bevind, kom die EFF se strydliedjie “Dubul’ ibhunu” (skiet die boer) nie op haatspraak neer nie.

Dít is altans die uitkoms van die saak wat AfriForum teen die EFF aanhangig gemaak het. AfriForum het die hof gevra om te bevind dat die lied op haatspraak neerkom en dat die sing daarvan dus verbied word.

Regter Edwin Molahlehi was egter van mening dat die lied, gegewe die “politieke en kulturele konteks”, bloot die EFF se politieke visie rakende die bereik van “radikale ekonomiese transformasie” weergee. Gegewe die Grondwet se beskerming van die vryheid van spraak, kan hy dus nie aan AfriForum se aansoek voldoen nie.

Baie mense, aan albei kante van die politieke spektrum, reageer uiters emosioneel op die uitspraak. Sommige spring uit hul vel van blydskap; ander meen dit maak die pad oop vir geweldpleging en selfs moord onder die beskerming van die Grondwet.

Maar hoe begryplik emosie ook al is, dié saak moet koudbloedig beskou word. Die Grondwet is die bepalende faktor.

Die groot vraag is wat die verhouding tussen vryheid van spraak en haatspraak is. Hoe ver kan jy met die vryheid van spraak gaan voordat dit haatspraak word?

Artikel 16 van die Grondwet, deel van die Handves van Regte, beskerm die vryheid van spraak, waarby inbegrepe is persvryheid, die vryheid om inligting of idees oor te dra, artistieke kreatiwiteit, en akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing. Wat dit nié insluit nie, is

  •  “propaganda vir oorlog,
  • “die aanstigting van dreigende geweld, of
  • “die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak”.

Nog ʼn beperking op spraakvryheid is laster. Ek kan byvoorbeeld nie sonder gegronde redes (soos openbare belang) verkondig dat president Cyril Ramaphosa gereeld in die bed van sy buurvrou opgemerk word nie.

Vryheid van spraak is ʼn deurslaggewende hoeksteen van enige demokrasie. Daarmee kry ek byvoorbeeld die verskanste reg om die ANC vir sy beleid te kritiseer en wantoestande aan die kaak te stel.

Hoe belangrik dit is, blyk daaruit dat diktature en outoritêre state sterk daarop toeslaan. Pas het president Wladimir Poetin van Rusland weer ʼn kritiese joernalis in sy land laat aanhou, en daar is verskeie voorbeelde van kritici wat op geheimsinnige wyse in Rusland of daarbuite opeens dood aangetref word.

Wat nou van “Dubul’ ibhunu”? Naas die bepalings van die Grondwet oor haatspraak moet twee sake in ag geneem word.

Die een is die vraag presies hoe die woord “ibhunu” in die lied bedoel word. Is dit diegene wat “boer” invul op ʼn vorm waar hulle hul beroep moet aandui? Of is dit “Boer” (met ʼn hoofletter), die ekwivalent van Afrikaner?

Wel, die Engelse vertaling van die lied bevat die woorde “kill the boer, kill the farmer”. Jy sou op grond daarvan kon aanvoer dat dit om diegene wat die beroep van boer uitoefen, gaan.

As dit só is, kom dit neer op ʼn aanklag teen die wyse waarop wit mense in die verlede ʼn monopolie op grondbesit gehad het, en waarop verreweg die meeste ekonomies produktiewe grond steeds in wit besit is.

Maar dan bly steeds die woord “dubul’” (maak dood) oor. Daar is eenvoudig geen ander vertolking moontlik nie: Gegewe die politieke en kulturele konteks waarin dié woorde gesing word, kom dit in die praktyk neer op ʼn oproep om wit grondeienaars – boere – te vermoor.

ʼn Mens sou egter ook verder kon gaan. In Suid-Afrika word die begrippe “boer” en “Afrikaner” oorweldigend gelyk gestel.

Dit geld ook vir die Zoeloewoord “bhunuí”. Weereens, as ʼn mens die politieke, kulturele én historiese konteks in ag neem, kan die lied slegs vertolk word as ʼn oproep om die Afrikaners uit te wis.

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Hoe enige regter dié oorwegings oor die hoof kon sien, kan ek eenvoudig nie verstaan nie. Dit sê nie veel vir sy kennis van die Grondwet, ons land se geskiedenis en sy gesonde verstand nie.

Die woorde herinner sterk aan ander woorde wat op 6 Februarie 1836 in die Zoeloe-hoofstad, uMgungundlovu, deur die koning van die Zoeloes te midde van ʼn krygsdans geskree is: “Bulalani abatagathi!” (“Maak dood die towenaars!”) Dit het op die massamoord van Piet Retief en ʼn aantal Voortrekkers uitgeloop.

Het koning Dingaan daar eenvoudig sy reg op spraakvryheid uitgeoefen? Of het almal om hom geweet wat hy met die “towenaars” bedoel?

Spraakvryheid is uiters belangrik. In ons land beskerm dit nie slegs diegene wat die ANC ondersteun nie, maar ook dié wat die ANC op demokratiese – geweldlose – wyse beveg. Dit beteken dat politici van byvoorbeeld die DA en VF+, koerante (asook dié skrywer) gegronde én selfs ongegronde kritiek op die ANC mag uitoefen.

Dit beteken dat die ANC ook kritiek op sy politieke teenstanders mag hê. Dit beteken nié dat die EFF mense mag aanmoedig om Afrikaners en boere dood te maak nie.

Dit maak van die EFF ʼn fundamenteel ondemokratiese party, wat die grense van die liberale demokrasie ruimskoots oorskry. In beginsel sou die sing van só ʼn lied – synde die aanmoediging tot geweld, met inbegrip van dodelike geweld – tot regsoptrede teen die sangers moes lei. Maar die politieke wil om die reg toe te pas, ontbreek nou eenmaal by die ANC, wat heel waarskynlik minstens heimlik met instemming op die lied reageer.

Dis nie onlogies nie. Ondanks sy formeel nie-rassige ideologie tydens die struggle, het die ANC in die jare voor 1990 sy steun onder die swart bevolking in die praktyk veral op grond van anti-wit sentimente gewerf en gekry.

Begrippe soos nie-rassigheid en demokrasie beteken vir die ANC dikwels bloot instrumente om sy eie mag te behou. Noudat sy steun begin wegkalwe, wil hy keer dat dit in die rigting van die EFF gly. En dus staan hy nie alte sterk op die strenge nakoming van die Grondwet nie.

Dit alles bring ʼn mens by die eindgevolgtrekking: Die ANC gaan geen vinger lig om regter Molahlehi se fundamenteel gebrekkige uitspraak binne die beperkings van die reëls reg te stel nie. Daardie taak sal deur die burgerlike samelewing – waaronder AfriForum – op hom geneem moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

groenboer ·

Moeilik om te sien hoe die blote vertoon van die ou landsvlag as haatspraak beskou kan word, maar nié “kill the Boer” nie…

Manie ·

Hulle sal ‘n heel ander deuntjie sing wanneer die paw paw die fan strike.

Charl Albertus ·

Mag ons dan nou ons eie weergawe sing?
Protect the Boer, Protect the Farmer
of wat van
Kill the Killer, Kill the farm killer
Skiet die Impi, skiet die kameraad

Sou enige van die opstaan in die hof? Mag ek dit vrae? Is dit haatspraak?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Skerp soos ‘n skeermeslemmetjie!

Kobus ·

Verbasend / teleurstellend dat MRK se Gaum en Nissen nog niks gesê het nie.

H.A. ·

Deur die anc, eff en hulle ondersteuners wil ek maar liewer die land verlaat. Die blankes gaan nog baie erger verdruk word in die toekoms.

Republikein in die Wes Kaap ·

Inderdaad. Maar sê my, indien die Wes Kaap of ‘n gedeelte van die provinsie wegbreek om ‘n onafhanklike staat te word, sal jy soontoe verhuis en die nuwe land help opbou?

annie ·

Alle swartes stem nie vir die EFF of die ANC nie. Waar is hul reaksie op die dreunsang? Wat is hul mening? Waar is diegene onder Afrikaners, Engelse ea wat nie plase besit nie? Hierdie tipe uittarting het ‘n lang aanloop. Die geskiedenis begin nie eergister nie. Sedert die grondlegging en ge-scramble vir Afrika deur buitelandse moonthede is die Boere met mag teëgestaan om uitbreiding te verhoed. Liberales wil die geskiedenis net aanwend soos dit hul geval. Afrika weet dit. Die stilte vanaf groot koloniale spelers is oorverdowend.

piet ·

Na die uitspraak van die Hof het ek spesifiek na die reaksie op sosiale media gekyk. Die reaksie wat ek gesien het, was verstommend. Omtrent al die swart mense het gereken die uitspraak is reg en dat maar gesing kan word dat die blankes vermoor word. Enkeles was daarteen. Gemeet daaraan, dink ek ons sit met ‘n moewiese probleem.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Baie goeie artikel, maar ai tog, is die steekhou na Poetin werklik nodig. En daar word steeds geswyg oor Zelenski se outokratiese optredes. Intussen doktor, gaan koop nog komberse. Die winter is op pad… en dit gaan koud en donker wees.

Human ·

So volgens jou is die verwysing(voorbeeld) van Putin n steekhou na Putin, maar wat is die verwysing van jou dat Zelenskyn outokraat is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Human, hy het amptenare wat ses maande gelede nog bankvas agter hom gestaan het summier afgedank. Van hulle gaan aangekla word van hoogverraad. Een van hulle is die gewese prokureur-generaal wat haar twyfel uitgespreek het oor sy obsessies en inmenging met strafsake. Gematigde ambassadeurs is afgedank. Senior lede in die veiligheidsmagte is afgedank nadat hulle sy beheptheid met die Azov bende gekritiseer het. Hy het van sy eie partylede in die tronk gestop. Die wettig verkose opposisieleier is al geruime tyd in die tronk. Dan praat ons nie eers van opposisie lede in die Donbas wat al jare in die tronk is nie. Van hulle het spoorloos verdwyn. Moet ek voortgaan? Gewone Oekraïners is moeg en wil sien dat daar met Moskou onderhandel word. Vir jare het jou held voortgeploeter op sy eie missie. Maar wag, die Nobelprys vir vrede wink, en die Weste sal daarvoor sorg.

Marthinus W ·

Zelenski het alle media wat krities van hom is, gesluit. Gorbatsjof, wat Dinsdag oorlede is, was aandeelhouer van Novaya gazeta, n opposisiemedia wat nie deur Poetin gesluit is nie. Zelenski het alle opposisiepartye gesluit; dis nou ‘n eenpartystaat, maar omdat hy Brussel en Washington se liefling is, is dit seker n “demokrasie”.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Alle inwoners van Suid-Afrika of hul voorgeslagte, uitgesluit die San en Khoikhoi, is SETLAARS. En menigde van hierdie setlaars het menigde van die San en Khoikhoi van hul gronde verdryf. Ek het nog geen wetenskaplike bewyse gesien dat die San en/of die Khoi die oorspronklike bewoners van koloniale Suid-Afrika is nie. Hulle mag dalk ook setlaars wees.

piet ·

Dis niks anders as uittarting en daarop gemik om rassespanning verder op te laai nie. Kon dalk 50 jaar gelede as ‘n “struggle-song” gesien word maar ons is nou ver verby daai punt. In die huidige omstandighede het dit geen plek nie en is inderdaad haatspraak, ongetwyfeld…en dit word natuurlik deur die Grondwet verbied. Hierdie uitspraak sal verseker omgekeer word, kan nie reg wees nie. Of Malema uiteindelik skuldig bevind sal word, is egter ‘n ander saak. Sal weer wegkom op een of ander tegniese punt.

gatgogga ·

Piet, ek stem 100% saam met alles wat jy skryf.
Ek dink daar moet nie teen die hofuitspraak ge-appeleer word nie. Laat dit net so staan as ‘n president. Dit sal vorentoe ‘n groot verleentheid word vir die regerende party, asook vir die howe. Laat hulle hul eie foute regmaak, of los dit so vir die wereld om te sien.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die EFF en Dudula brigade begin mekaar nou opdons. Lyk my niemand is meer vriende nie. Wittes is slegs toeskouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.