Kommunisme verdruk en verarm werkers

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Workers of the world – forgive me. Karl Marx. Grafitti in Moskou 1991

“Socialism only works
In two places:
Heaven where they don’t
Need it and hell where they already have it.”
-Ronald Reagan

Socialism can be summed up in one word: no property rights. (Karl Marx)

Kommuniste het hulself nog altyd as ʼn “Werkersideologie” beskryf en hul planne in die naam van die “werkers” bedryf. Daar is voorgegee dat kommunisme “uit die werkers, deur die werkers, vir die werkers” was. Daarom was hul Groot Belofte dat die kommunistiese ideologie hemel op aarde vir die werkers sou wees. Maar in die praktyk het hierdie Werkersparadyse werkers veel eerder aan die hel as die hemel herinner. Dis waarom die filosoof Hoelderlin betekenisvol opgemerk het dat hel op aarde juis veroorsaak word deur ideologieë wat hemel op aarde probeer skep. Dit het ook geblyk dat diegene wat aan bewind gekom het met plegtige beloftes dat hulle die werkers wou dien, eerder net oor hulle wou heers.

In die praktyk is dit oor en oor bewys: kommunisme is die slegste stelsel denkbaar vir werkers. Werkers in kommunistiese state het die laagste lewenstandaard en swakste lewensgehalte gehad, hulle het  die minste vryheid geniet, hul werksomstandighede was beroerd, beroepsveiligheid en gesondheid was swak, vakbonde was onwettig of ʼn verlengstuk van die owerhede, omgewingsbesoedeling was algemeen en hulle was veel eerder die slagoffers  van ʼn verdrukkende stelsel as wat hulle as “werkersklas” hulself regeer het.

Hoe langer die Kommunistiese bewind geduur het, hoe meer moes hulle die staatsmag aanwend om aan bewind te bly omdat hul regerings al ongewilder  geword het. Maar uiteindelik kon die ideologie nie meer standhou teen die werklikheid nie en het die stelsels met ʼn magtige gedruis wat regoor die aardbol weerklink het, ingeplof. Karl Marx het altyd beweer dat die kapitalisme op ʼn onkeerbare ondergang afstuur weens die innerlike teenstellings van die stelsel. Die ironie van die geskiedenis is dat dit toe die kommunisme was wie se eie innerlike teenstellings so groot geword het, dat die stelsel  op homself ingeplof het. Terwyl die Marxisme ter wille en in die naam van die werkersklas kommunisme wou instel, was ʼn werkersopstand in Pole die begin van die einde van hierdie veronderstelde werkersideologie.

Base word slawe

Die Ideologie wat gelykheid moes bring het uitgeloop op oorheersing en ʼn gelykopverspreiding van armoede. Die staat wat die werkers moes dien, het in werklikheid oor hulle geheers. Die werkers moes uiteindelik die staat dien. Die base het die slawe van die kommunisme geword. Die staat wat die werkers moes versorg, moes uiteindelik deur hulle gedra word. Die werkers se armoede is juis veroorsaak deurdat hulle die staat moes subsidieer deur middel van hul swak salarisse!

Die vraag is wat presies verkeerd gegaan het. Waarom het die kommunistiese ideologie wat ʼn beter lewe vir werkers moes bring, juis tot armoede en onderdrukking gelei? Die redes kan as volg opgesom word:

  1. Kommunisme lei tot verarming

In kommunistiese stelsels mag niemand wins maak nie, omdat wins gesien word as diefstal van die werkers se geld. Omdat niemand wins mag maak nie, mag niemand ook geld belê nie. Daarom is daar altyd ʼn tekort aan geld in die land. Kommunistiese lande sluit die deur vir buitelandse beleggers, omdat sulke beleggers gesien word as uitbuiters van die werkers. Daar is dus nie buitelandse geld wat in die land inkom nie en ook nie binnelandse beleggers nie. Kommunistiese lande is dus verplig om geld iewers vandaan te kry om te betaal vir fabrieke, myne, salarisse, skole en hospitale en kos en klere vir die bevolking.

In ʼn kommunistiese land werk almal vir die staat, wat beteken dat die hele bevolking staatsamptenare is. Die staat is die enigste werkgewer, wat alleen besluit oor werkers se vergoeding. As ʼn werker voel hy word te min  betaal, is daar niks wat hy daaraan kan doen nie, want daar is nie ander werkgewers wat dalk meer betaal nie. Hy het nie die vryheid om ʼn ander werk te soek met meer geld en voordele nie. Daar is ook nie vakbonde wat namens hulle kan onderhandel nie, of die vakbonde is self deel van die stelsel wat werkers beheer.

Die enigste manier waarop die staat dan geld kan kry om vir alles te betaal, is om die werkers uit te buit deur almal se salarisse laag te hou. Net die staat kan dan wins maak deur die land se produkte goedkoop genoeg uit te voer na ander lande wat dit vir ʼn hoër prys koop. Só kry die staat dan geld om vir alles in die land te betaal. Maar die ingeboude bose kringloop van die stelsel lei tot ʼn permanente en groeiende armoede. Hoe meer geld die staat nodig het om vir alles te betaal, hoe meer wins moet hulle met uitvoere in die buiteland maak en hoe minder moet hulle die werkers van die land betaal. Só subsidieer die werkers dan die staat.

Omdat die verarmde werkers nie geld het om vir die produkte en dienste wat hulle nodig het te betaal nie, is daar nie ʼn binnelandse vraag na produkte en dienste nie en word fabrieke nie opgerig om dit te maak nie. Daar is dus nie ekonomiese groei nie en dus ook nie werkskepping nie. Maar omdat die bevolking groei en daar nie werkloosheid in ʼn kommunistiese land mag wees nie, word die bestaande salariskoek net deur meer en meer werkers gedeel en kry almal minder en minder. Daarom word almal net armer en armer, behalwe natuurlik die regering wat as  “verteenwoordigers van die werkers” alles beheer. Geen fabriek kan bankrot speel nie, omdat daar nie iets soos wins en verlies is nie. Bestuurders word om politieke redes aangestel, omdat die kommunistiese party alles beheer. Dis nou kaderontplooiing op sy ergste! Daar was byvoorbeeld nie een sakeskool in die hele Sowjet Unie waar bestuurders opgelei is nie, maar wel talle politieke skole wat kaders opgelei het. Die bestuur het gevolglik nie die kennis gehad om die “ondernemings” te bestuur nie. Grootskaalse wanbestuur, vermorsing en korrupsie was gevolglik algemeen. Dit het in alle kommunistiese state tot wydverspreide verval en agteruitgang gelei, wat uiteindelik die hele stelsel laat verbrokkel het.

Produktiwiteit in kommunistiese lande is ook so laag is dat dit die land en die werkers arm hou. Die rede hiervoor is dat almal (feitlik) dieselfde salarisse kry, ongeag watter soort werk jy doen of hoe hard jy werk. Die luiaard en die werkslaaf kry ewe veel. Daar is geen aansporing vir mense om harder of beter te werk of hul produktiwiteit te verbeter nie, terwyl daar terselfdertyd alle rede is om saam op die stelsel se rug te ry.

Die rede hiervoor staan sentraal in die kommunistiese siening van werk en vergoeding. Karl Marx het dit die beste opgesom met sy beroemde sleutelstelling “werk volgens jou vermoë en verdien volgens jou behoefte.” Dit beteken dat jou vergoeding nie bepaal word deur jou bydrae of produksie nie, maar deur jou behoefte of verbruik soos deur die staat bepaal. In die praktyk kan ʼn lui hande-arbeider met ses kinders dan meer verdien as ʼn produktiewe tegnikus met drie kinders wat homself gekwalifiseer en opgewerk het, omdat die hande-arbeider se behoeftes meer is. Dit lei tot armoede, omdat ʼn stelsel wat verbruik beloon en produksie ontmoedig, ʼn resep vir ondergang is. Die probleem van sosialiste, het Margaret Thatcher gesê, is dat die ander mense se geld uiteindelik opraak.

ʼn Kommunistiese staatsekonomie raak uiteindelik dan maar net ʼn reuse welsynstelsel waar almal uittap maar niemand intap nie. Dan raak die dam gou leeg. Daarom is die gemiddelde salaris in Kuba vir die afgelope dekades al 20 Amerikaanse dollar oftewel sowat R240 per maand. Kommuniste kla nie te veel hieroor nie, want almal is minstens gelyk. En kommunisme is mos ʼn gelykheidsideologie. Daarom het Winston Churchill gesê die keuse is tussen die ongelyke verspreiding van rykdom en die gelyke verspreiding van armoede.

Karl-Marx

Karl Marx. Foto: En.wikipedia.org

 2. Skaarste aan gehalte produkte en dienste

In ʼn kommunistiese stelsel het mense nie die vryheid om self te besluit waar hulle wil werk en of hulle eerder ʼn eie onderneming wil begin nie. Jy moet vat wat die staat jou gee en kan nie ʼn beter huis of kar koop of met jou geld maak wat jy wil nie. ʼn Sentraal beplande bevelsekonomie neem van bo af die ekonomiese besluite vir almal. Dit het twee gevolge. Eerstens word mense se vryheid ingeperk. Hulle kan nie meer hul eie besluite na goeddunke en in hul eie belang neem nie. Dit word weggeneem en vervang met besluite deur die owerheid wat namens hulle besluit wat die beste vir hulle is, selfs oor die mees basiese dinge. Tweedens word mense se besondere behoeftes misken, omdat ʼn sentraal beplande bevelsekonomie nie voorsiening maak vir persoonlike behoeftes nie.

Mense se eie behoeftes het geen rol gespeel in die staat se beplanning van produksie nie. Die staat het oor alles besluit, ook oor wat wanneer produseer moes word. In Mao Zedong se China het almal in die land altyd dieselfde klere gedra (ʼn groen uniform) en in die Sowjet-unie was daar tot sy val in 1990 net een soort kar, ʼn 1955 model Lada.

Daar is ook geen mededinging nie, wat beteken dat daar vir dekades lank feitlik geen ontwikkeling of verbetering was in produkte of dienste nie. Dit was nou behalwe die Weermag se wapens, wat goed was omdat hulle met die Amerikaners moes meeding! Sonder mededinging kan daar ongelukkig geen vooruitgang wees nie. Die politici se behoeftes het bepaal wat produseer moes word en nie die bevolking se voorkeure nie. Die uitwerking hiervan was dat daar in kommunistiese lande altyd ʼn nypende tekort is aan feitlik alle produkte, dat feitlik alles wat wel beskikbaar is totaal verouderd en van ʼn uiters swak gehalte is en dat dienste soos onderwys en gesondheid swak en ondoeltreffend is. Die groot state was so lomp en duur dat hulle uiteindelik geval het.

Die geskiedenis het onteenseglik bewys dat die vrye besluite wat miljoene mense vir hulself neem, beter werk as die sentrale beplanning, outokratiese besluite en planne van ʼn klein klompie politici en staatsamptenare. Wanneer politici die ekonomie regeer, is armoede en vedrukking die noodwendige gevolg.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leendert van Oostrum

“In Mao Zedong se China het almal altyd dieselfde klere gedra.”

Nou dra ons dit – plastieksakke uit China.

Wanneer laas het iemand enige katoen/wol/linne by kettingwinkels (of selfs “beter” winkels) gesien?

Alles plastiek en “made in China”.

Harry

Maroela, is dit dalk moontlik om hierdie artikel in Engels te vertaal, dat ons dit soos ‘n veldbrand deur hierdie land kan versprei.
Met al die toelaes wat die regering betaal and al die arbeidswette wat werkers (meer die lui/slegte as die goeie) beskerm is ons al byna daar.

Bruno Stef

Ons sit met die Kamerade in SA op ons voorstoep en hulle is in baie strategiese posisies van gesag geplaas.Kameraad Lem met sy skril stemmetjie en pofferhandtjies/gesiggie is dikvellig besig om sy ideologie in die mees goedgelowige nie belangstellende publiek as aanvaarbaar te verkwansel.My vraag aan Kameraad Blade is waarom trek jy n pak klere aan en ry in n peperduur motor rond stel die voorbeeld met grys safari pakkie kommunistiese styl dan kan jy miskien meer geloofwaardigheid onder die armes bekom wat jy se jy verteenwoordig.

Peet Schabort

Dankie vir ‘n uiters insiggewende artikel Flip. In ‘n boekie “Die Hart, Gesindheid en wese van die KOMMUNISME en die Christelike weerlegging” deur Dr.. Fred C. Schwarz definieer hy kommunisme as “‘n Godsdiens van belofte. Dit het dwarsoor die wêreld op die vleuels van ‘n belofte aangeruk. Daardie belofte is van ‘n tweevoudige aard. Een voorkoms van die Kommunistiese belofte is baie goed bekend, dog die ander is byna onbekend. die een voorkoms lok die arme, die onkundige en die onbevoorregte; die ander voorkoms lok die ryke, die verstandelik meerdere en die idealistiese hervormers”. Dit is ook gebaseer op Godloëning… Lees meer »

Henry

Goeie beskrywing van die Marxiste se onwerkbare Utopia.
Die ou spulletjie en hul geesgenote die sosialiste, se Utopia’s is soos alle ideologieë gedoem tot mislukking.
Probleem met meeste ideologieë is dat dit so voorskriftelik is en gewoonlik geen ruimte laat vir alternatiewe oplossings nie. ‘n Miskenning van een van die mens se mees waardevolle bates – eie inisiatief.