Koronavirus: hoe gaan dit wêreldpolitiek verander?

Argieffoto: Pixabay

Noudat ons vir drie weke basies in huisarres verkeer weens die vinnige verspreiding van die dodelike koronavirus, oftewel Covid-19, kan ons seker maar vra wie het ons in hierdie gemors gedompel en wat se verandering die tragedie in wêreldpolitiek gaan meebring?

Die sondebok

Dit volg op ’n bekgeveg tussen die Amerikaanse president Donald Trump en sy grootste opponent, die linksgesinde massamedia. Trump het die Covid-19-virus die Chinese virus begin noem, en die polities-korrekte media het amper ’n ineenstorting beleef omdat dit kwansuis Asiatiese Amerikaners in die beskuldigde bank laat staan en aangevoer het dat dit aanvalle op veral mense van Chinese afkoms gaan veroorsaak. China het ook sommer vinnig op die lawaaiwa gespring en selfs verklaar dat die VSA op een of ander wyse die virus in China gaan versprei het.

Trump soek natuurlik ’n sondebok. Sy hele presidentskap gaan oor hoe die ekonomie opgehef is en werkloosheid verminder is. Die koronavirus het die hele appelkar omgekeer. Die mensdom gaan ’n onseker toekoms binne waar miljoene mense hul werk reeds verloor het of gaan verloor; en die skade van die inperkings wat regerings oral instel, gaan nog vir baie jare met ons wees.

Ten spyte van die klaagliedere is Trump natuurlik korrek dat die virus se oorsprong in China is. Daar is natuurlik baie samesweringsteorieë – sommige wat selfs nogal sin maak – maar totdat daar werklike feite op die tafel is, word die oorsprong teruggevoer na bedenklike praktyke in Wuhan.

Die resultaat is dat daar duisende sterftes wêreldwyd is en alle aanduidings is dat daar nog baie mense kan omkom. Nodeloos om te sê, is ons relatiewe gestruktureerde materiële bestaan in ’n groot mate daarmee heen. Ons kan minstens verwag dat die dodelike virus nou deel van ons lewe gaan wees vir ’n lang tydperk, of ten minste tot een of ander teenmiddel daarvoor ontwikkel word.

Impak op grense en mense

Die ekonomiese impak van die virus gaan katastrofies wees en die volle omvang daarvan is nog onseker. Heelwat rykdom en besparings in veral aandele is oornag vernietig. Die meeste lande, groot maatskappye en klein besighede sal nou in werklikheid van voor af moet begin bou aan ’n toekoms. Stimuluspakkette wat die ryk lande aankondig, gaan maar beperkte verligting verskaf.  Hoe presies herstel gaan plaasvind en hoe lank dit gaan duur, is ’n ope vraag.

Die impak van die virus het ook baie implikasies vir die wêreldpolitiek en bevat lesse wat reeds nou al duidelik is. As iemand twee maande terug gesê het dat omtrent alle lande in die wêreld hul grense gaan sluit, ander lande se burgers toegang gaan verbied en ongeveer ’n kwart van die wêreldbevolking in huisarres gaan verkeer, sou sulke mense sekerlik as stapelgek beskou word.

Tog is dit presies wat gebeur het. Suid-Afrika se grense is gesluit en daar is klaarblyklik (uiteindelik) pogings om ’n grensheining op die grens met Zimbabwe op te rig. Burgers van ander lande, veral die VSA, Brittanje, en China word selfs toegang tot Suid-Afrika geweier. Die VSA se grense met Mexiko en selfs Kanada is gesluit. Selfs binne die Europese Unie (EU) het state grensbeheer, wat al vir 20 jaar nie meer bestaan nie, weer ingestel. Italië, wat seker die ergste geraak is deur die virus tot dusver, het desperaat by sy mede-EU-lidlande om hulp gesmeek. Hul reaksie was om die grense te sluit. Italië het later mediese toerusting van China ontvang en, glo dit of nie, dokters van Kuba ingeneem om te kom help.

Dis natuurlik ironies dat Trump, wat op 31 Januarie reeds lugverkeer met China gesluit het en daarmee sekerlik die ramp wat Italië getref het, minstens tydelik afgeweer het in die VSA. In teenstelling met die VSA, het Italië Chinese reisigers wat ná die Chinese Nuwejaar na Italië teruggekeer het, hartlik verwelkom. Inteendeel, om polities korrek te wees en te bewys dat Italianers nie rassisties is soos Trump nie, het mense, soos die burgemeester van Florence, ’n Gee-’n-Chinees-’n-drukkie-veldtog bevorder. Die resultaat was natuurlik dodelik, gegewe die geweldige hoë sterftesyfer tans in Italië weens die virus.

Trump was reg

Ter nabetragting, blyk dit dat Trump se beleid om weg te beweeg van globalisme en Amerika te versterk, in hierdie krisistye amper visionêr was. Dit volg daarop dat die Amerikaners nou skielik motorvervaardigers moet kry om ventilators te vervaardig, aangesien dit blyk dat China ’n amperse monopolie op die vervaardiging van sulke lewegewende mediese toerusting het. Aangesien die Chinese eerste gekonfronteer is met die Covid-19 virus, wou hulle amper niks daarvan uitvoer na ander lande met koronaviruskrisisse nie. Weens globalisme, vervaardig China tans blykbaar ook 90% van antibiotika wêreldwyd.

Trump se mantra was nog altyd dat landsgrense beveilig moet word, dat Amerika sy eie goedere moet vervaardig en nie van ander lande afhanklik moet wees nie en dat Amerika altyd eerste gestel moet word. Noudat alle lande hulself isoleer en die globaliste en linkses doodstil is, word hy reg bewys. Geslote grense en min passasiersvlugte gaan immers vir die kort- tot medium termyn ’n realiteit wees en lande sal hul eie bedrywe moet herbou. Globalisme gaan in die proses vinnig agteruitgaan.

Groot internasionale kwessies

Daar is natuurlik ook heelwat ander politieke, ekonomiese en sosiale implikasies van die pandemie. As voorbeeld weet ons dat toerisme jare gaan neem om te herstel. Vinnig vlieg Europa toe vir ’n ski-vakansie of ’n plesiervaart in die Middellandse See is vir eers uit.

Die vernaamste veranderinge; of minstens ernstige besinning oor die toekoms van politieke en ander implikasies sluit in:

  • Demokrasie was reeds onder toenemende druk weens bevolkings se teenstand teen globalisme, maar met die inperking van mense en hul vryhede tans, het die staat in werklikheid volle besluitreg oor hul burgers.
  • Oorbevolking is ’n tydbom. Ons moet nog sien hoe oorbevolking in Afrika en Asië deur die koronavirus geaffekteer gaan word. Nietemin moet politieke oplossings vir oorbevolking gevind word.
  • Liberalisme het skielik by die agterdeur uitgewaai. Vlugtelinge, wat weke terug nog na Europa gestroom het en omarm is deur links-liberales, is skielik nie meer lus vir immigreer nie en in elk geval nie welkom nie. Grense is gesluit, individuele regte word opgeskort. Westerse burgers wat in arm lande behulpsaam was met ontwikkelingshulp, het sak en pak gevlug terug na die luukse van mediese sorg. Absurdhede rondom regte en kwessies soos aborsie, geslagsvryheid, ensovoorts is skielik nie meer die middelpunt van lande se debatte nie. Dis moeilik om te sien hoe linkse liberalisme hierna weer wêreldpolitiek gaan oorheers.
  • Dit blyk dat klein, homogene landjies en bevolkings beter geskik is om ’n pandemie te keer of verwerk as groot en heterogene lande.
  • Die pandemie het skielik ook mense op ’n persoonlike vlak geraak. Baie mense het skielik weer sin in godsdiens gevind en die familie is nou skielik weer die middelpunt van mense se bestaan – al is dit dalk tydelik weens inperkings. Daarmee saam blyk dit dat tuisonderrig dalk baie mense se voorkeurkoerse gaan bly. Inperkings veroorsaak ook dat tuis werk binnekort die norm gaan word, want in sommige bedrywe word werkplekke en ellelange vergaderings skielik oorbodig.

Daar is sekerlik nog baie ander kwessies waaroor individue, groepe en lande oor sal moet besin. Die koronavirus het skielik hierdie kwessies uitgelig. Aan die ander kant is die koronavirus steeds met ons en het nog die potensiaal om baie lewens te eis, veral in oorbevolkte lande in Afrika en Asië.

Dat die virus egter die wêreld binne weke totaal omgekeer het en tot grootskaalse armoede aanleiding gaan gee, is nie te betwyfel nie. Nietemin is daar dalk wel positiewe verwikkelings wat hieruit gaan voortvloei. Vir nou moet almal eers probeer keer dat die virus nie na kwesbare mense versprei nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JC Venter ·

Nou is die vraag, betreffende Amerika, hoe innoverend kan Trump na dese nóg wees? Kan hy sy suksesse van die afgelope paar jaar herhaal? Hy sal ‘n waarlike Houdini moet wees, want nou is alle lande in die wêreld se ekonomieë vodde en hy is nie meer ‘n jong man nie, maar dit lyk my sulke terugslae verwerk hy gou. Dit is vir hom ‘n uitdaging, dan dryf hy voort.

Én hy hou nie van verloor nie.

Ja, en dan is daar Afrika met die kwessies wat jy aanspreek en ons hier aan die suidpunt.

JC Venter ·

En waar pas Afrika en ons president nou in met se dryf na vry handelsgebiede en oop grense???

Maria ·

net so. en dis ook sommer nou die tyd om van regstellende aksie en BBBEEE ontslae te raak.

Michael 1 ·

Ek sekondeer skrap die diskriminasie gebaseer net op velkleur onmidelik.

Michael 1 ·

Dit is wat President Trump uniek maak sê n ding soos dit is en dit was n china virus dit kom van china en of n paar chinese nou aanstoot neem dit is soos dit is ware feite en basta.

Therese ·

Puik artikel!
Dankie tog vir die onafhanklike skrywers hier en daar.

Wêreldleiers sal ‘n keuse móét maak.
Dis, óf volgehoue politiek korrekte-gedienstigheid teenoor China, óf steun die Amerikaanse president en roep die Chinese tot verantwoording, en verhoed toekomstige tragedies.

frank ·

Baie dankie vir die insig gewende berig.
Ek het tot die gewaarwording gekom : DIE LEWE VAN 2 WEKE TERUG IS VERBY.
Die Boere volk het die kennis om binne die 3 weke , soos hul se n nuwe gewoonte aan te leer.
Baie het nog oupas en oumas en alles is opgeskryf om te lees en te luister hoe om te oorleef.
Laat jou kindertjies video en computor speletjies speel ter wyl die 2 Optic fibre Kabelstjies op die see vloer le.MAAR MY INTELIGENTE BOERE BURGER. as daardie 2 kabektjies breek.
Leer hul weer wat is n graaf vurk hark kruiwa en n emmer.Hoekom daar n suurlemoen boom (jammer
n vit C boom) in die oumense se jard gestaan het.jy hoor dan nou VitC word 90% in China gemaak.
maar die vliegtuie is op die grond.Hul vlieg nie meer petrol uit nie dit is volop en goedkoop en al vit C is daar aan die boom.
Die wat gaan oorleef is die wat gaan AANPAS en gou ook.
VOORSPOED MET ONS ALMAL SE LEWENS AANPASSINGS .
Soos Boere se :n aartappel smaak net lekkerder as jy dit geplant het.en n vis wat jy gevang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.