Krisisberaad: Ek is ‘n Afrikaner en ek wil hier bly

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit tydens die Beweging se krisisberaad op 5 Mei 2015 by die Voortrekkermonument. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, tydens die Beweging se krisisberaad op 5 Mei 2015 by die Voortrekkermonument. Foto: Reint Dykema

Hierdie toespraak is gelewer deur Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, tydens die Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.

Ik ben een africaander – Ik wil niet loopen, ’k ben een africaander al slaan die landdrost mijn dood of al setten hij mijn in de tronk.

Hierdie kreet word aan ’n kompanjieburger, Hendrik Biebouw, toegedig.

In 1707 het Hendrik Biebouw in die Kaap aangebly; hy het nêrens heen geloop nie.

Sy gesig is na Afrika gedraai en sy rug na Europa.

Só het ons Afrika geword; Afrika is in ons naam Afrikaners; Afrika in ons taal Afrikaans; Afrika in ons bloed; en ons bloed is in Afrika.

Tog het Hendrik uit Europa na Afrika gekom. Só is die rykdom van die Westerse erfenis na Afrika gebring. Ons is Afrika én Europa en Suid-Afrika het al twee geword.

My eerste voorvader was Hans en hy het in 1657 hier aangekom. Ons is nou al 11 geslagte hier: Hans, Nicolaas, Hendrik, Marthinus David, Marthinus Nicolaas, Willem Adriaan, Marthinus Nicolaas, Jacobus Johannes, Marthinus Nicolaas, Dirk Johannes, (dis ek en my vier dogters.) Julius, ons is al 11 geslagte hier aan die suidpunt van Afrika. Kan jy vir my jou geslagsregister van 11 geslagte in Suid-Afrika bring? Moenie bekommerd wees nie, al is jy ʼn “colonialist of a special kind” sal ek nie jou monumente afbreek nie, kan jy grond koop en ondernemings besit. Moenie eens probeer sê ek is ʼn vreemdeling hier nie.

Ik ben een africaander – Ik gaan niet loopen.

Ek gaan ter wille van myself, my familie en my gemeenskap hier in Afrika, en in die besonder in Suid-Afrika, bly.

My agterdeur is toe; ek gaan nêrens heen nie. ’n Groot daad van politieke protes is om te sê: “Weggaan is nie ’n opsie nie.” Ek bly net hier.

Die feit dat ek nie ʼn alternatief het nie, is my geheime wapen vir ʼn toekoms in Suid-Afrika.

Ek hou daarvan om hier te kampeer, te braai, te kuier en vakansie te hou. Ek skree graag vir ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan en is deel van ’n unieke rugby- en sportkultuur. Ek hou van blatjang, biltong, braaivleis en potjiekos.

Hier wil ek kerk toe gaan en God in die taal van my hart aanbid en besing. Waar ek leef en onder my mense is dit nie vreemd om ’n Christen te wees nie. Ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.

Ek kan my taal, Afrikaans, ’n inheemse Afrikataal, hier gebruik en uitleef. Ek is mal oor Afrikaanse musiek en trots op ’n Afrikaanse letterkundige skatkis. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet in hul moedertaal onderrig word. Ek droom graag in Afrikaans oor Afrikaanse dinge.

So lief soos wat ek vir die land is, so kwaad is ek oor die manier waarop die land regeer word.

Ik ben een africaander – Ik kan niet lopen. Ek kan net hier bly.

Maar hoe kan ek hier bly?

Die uitdagings van 2015 is anders as die uitdagings van 1652; dit is anders as in die tye van die Groot Trek; in dié van die Anglo-Boereoorlog en die opstaan ná die oorlog; in die depressietyd, en in die tydperk van die groot republiek. Die uitdagings is nie groter nie – wel anders.

Die groot republiek van 1961 is nog vars in die geheue. Dit was ’n tyd van groot leiers, groot staatsgeld, groot politieke partye en groot mag.

Ons antwoord lê egter eerder opgesluit in die tydperk tussen die republieke – die tydperk tussen die Boererepublieke en die groot republiek van 1961. Dit is die tydperk toe die gemeenskap self betrokke was by hul eie toekoms en self plekke geskep het waarbinne hulle kon leef.

Die tydperk is ook gekenmerk deur ʼn diep geloof en vertroue in die toekoms. Mense het gedoen wat hulle moes doen en het dan op die Here vertrou. Roepingsgedrewe onderwysers het kinders toegerus en gehelp dat Afrikaners binne een geslag gemoderniseer het.

Gedurende die oorlog is 33 000 vroue en kinders dood in konsentrasiekampe; 32 000 Boere is weggestuur as bannelinge; honderde plase is afgebrand en duisende stuks vee is doodgemaak. Die oorlog het 20 000 kinders wees gelaat en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) word uit hierdie nood gestig om na hul lot om te sien.

Die groot ontwrigting lei tot die groot opstaan.

Die SAVF neem self verantwoordelikheid en die idees wat uit hierdie vroueorganisasie ontstaan het, was die stimulus vir die opstaantyd ná die oorlog.

Die gemeenskap het self begin verantwoordelikheid neem om sy eie ruimte te skep.

Om dit te kon doen, was instellings nodig.

In 1915 is die Helpmekaarfonds gestig; ʼn Afrikaanse koerant, Die Burger, is gestig; en die Armblanke Verbond, wat gehelp het met werkplasing, is in 1917 gestig. Daarna is die Eerste Volksbank (ʼn handels-en-spaarbank), Santam en Sanlam gestig. Uniewinkels is gestig in die gees van die destydse “Koop Afrikaans”-veldtog.

Later was die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut alles instellings waardeur Afrikaners opgestaan het.

Daar was dus nie reuse-bemagtigingsprojekte en regstellende aksie deur die staat nie, maar eie inisiatiewe wat met klein bydraes van arm Afrikaners opgerig is. Dit was nie die groot party wat die Afrikaner opgehef het nie.

Ook in die 1930’s is op kultuurgebied ruimte deur instellings geskep. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, die Afrikaner Broederbond, die FAK, die ATKV, die Voortrekkers en die Rapportryers is almal gestig.

Afrikaans is in 1925 as amptelike taal van die Unie erken en die eerste Afrikaanse Bybelvertaling is in 1933 bekendgestel. Uit die sakke van arm Afrikaners is universiteite soos die PU vir CHO gestig en Afrikaans het tot akademiese taal ontwikkel.

Vandag beset die regering net eenvoudig die bestaande instellings. Dit is nie wat Afrikaners gedoen het nie. Instellings is opgerig deur straatkollektes en die bak van koeksisters en pannekoek.

Indien ons dus oplossings soek om hier te bly, moet ons dit soek in die opstaantyd ná die oorlog – ʼn onsekere tyd en ʼn onvriendelike regering.

Ek gaan, aan die hand van Flip Buys se raamwerk, 20 riglyne gee oor hoe so ’n toekoms anderkant die groot republiek kan lyk. Dit is nie 20 antwoorde nie, maar 20 lusmakers om debat te stimuleer.

  1. Staatsafhanklikheid moet plek maak vir gemeenskapselfstandigheid.
  2. Daar moet ʼn balans gevind word tussen die absolute individu en die absolute kollektief. Die balanspunt lê in die individu binne die gemeenskap.
  3. Afrikaners moet weer ʼn gesonde historiese bewussyn ontwikkel. Geskiedenis moet teruggevat word en kinders moet ʼn gebalanseerde historiese beeld kry. Die kontinuïteit van eeue se waardes wat ontwikkel het, moenie verbreek word nie.
  4. Groot politieke idees moet plek maak vir klein dade.
  5. Die tyd van die groot politieke leier is verby, maar die tyd van sterk gemeenskapsleiers het aangebreek.
  6. Die Afrikaner se toekoms lê in sterk burgerlike instellings waardeur lewensruimte geskep kan word. Lewensruimte sluit in ’n plek waar ʼn gemeenskap in sy volheid kan funksioneer.
  7. Gemeenskappe moet georganiseer en gemobiliseer word om plaaslik wag te hou oor regeringsfunksies, veiligheidstrukture te vestig, kulturele aktiwiteit te stimuleer en maatskaplike ondersteuning te gee.
  8. Saam met burgerlike instellings moet Afrikaners die kuns van burgerlike en kulturele ondernemerskap baasraak.
  9. Onttrekking moet plek maak vir betrokkenheid. Afrikaners moet vra: Waaraan kan ek deelneem?
  10. Betrokkenheid geld ook vir die gesin. Vir ʼn suksesvolle Afrikanertoekoms is gesonde gesinne noodsaaklik.
  11. Kreatiewe metodes moet ontwikkel word om miljarde rande se gemeenskapsbelasting te mobiliseer.
  12. Groot klem en kapitaal moet geplaas word op goeie Afrikaanse onderrig en instellings daarvoor insluitend ʼn nuwe privaat Afrikaanse universiteit.
  13. Groot Afrikaanse studiefondse is nodig om jongmense toegang tot onderrig te gee.
  14. Ondernemerskap-opleiding en -ondersteuning raak al belangriker.
  15. Om suksesvol te wees, moet Afrikaners 100% Afrikane, Suid-Afrikaners, Afrikaans en Afrikaners wees. Hulle mag dit alles wees.
  16. Afrikaners moet dus juis deelnemende burgers in Suid-Afrika wees. Isolasie is nie ʼn opsie nie.
  17. Om deelnemende burgers te wees, moet burgerregte met selfvertroue opgeneem word.
  18. Die honderdduisende Afrikaners oor die wêreld moet as ambassadeurs en nie as verraaiers nie gesien word.
  19. Die kerk moet selfvertroue kry en weer sy volwaardige plek inneem. Dit geld ook vir die diakonale funksie.
  20. Afrikaners moet weer hul sin vir roeping terugkry en glo aan God se toekomsbelofte. Dit is die fondament waaruit hoop gekry en waarop die toekoms gebou word.

Kom ons keer weer terug na die praktiese sy.

Omdat ek hier wil bly, mag ek nie stilbly nie.

Ons hoef nie verdraagsaam teenoor nonsens te wees nie. As jy nonsens opvreet, plaas jy jouself in ʼn posisie dat jy nonsens sal ontvang. In die Solidariteit-wêreld beding jy niks deur bloot “nice” te wees nie. Afrikaners gaan niks kry deur te bedel nie, ons moet beding. Ons het nie tyd in ʼn krisis vir koek-en-tee-gesprekke en voetjie-voetjie onder die tafel met die ANC nie. Ons het wel tyd vir behoorlike bedinging met die oog op ʼn skikking, waarvan al die voorwaardes in plek is.

Ons kan dus met selfvertroue nee sê:

  • Nee vir aanvalle op ons monumente en identiteit
  • Nee vir aanvalle op Afrikaans as onderrigtaal
  • Nee vir nuwe rassisme, rassekwotas en die ideologie van verteenwoordigendheid
  • Nee vir korrupsie en staatsverswakking
  • Nee vir sosialistiese ideologieë wat werk vernietig
  • Nee vir misdaad
  • Nee vir vrot regering
  • Nee, nee, nee

Maar ek moet ook ja sê:

  • Ja, ek wil hier bly en ʼn verskil maak.
  • Ja, ek sal help bou aan ʼn nuwe universiteit.
  • Ja, ek sal hof toe en na die Verenigde Nasies toe gaan oor rassekwotas.
  • Ja, ek sal veiligheidstrukture help skep.
  • Ja, ek sal help om takke op dorpe te stig.
  • Ja, ek sal help om Afrikaanse skole te beskerm en sterker te maak.
  • Ja, ek sal Afrikaanse kinders help om te studeer.
  • Ja, ek sal doen!

Maar nog nader aan die individuele vlak:

  • Ja, ek sal patrollies in my gemeenskap ry.
  • Ja, ek sal ʼn Afrikaanse boek en CD koop.
  • Ja, ek sal in my gemeenskap vra vir om in Afrikaans bedien te word..
  • Ja, ek sal betrokke raak by my kerk en my skool.
  • Ja, ek sal na ʼn Afrikaanse rolprent gaan kyk.
  • Ja, ek sal help om ʼn konsentrasiekampkerkhof skoon te maak of ʼn monument te versorg.
  • Ja, ek sal gemeenskapmedia ondersteun.
  • Ja, ek sal help om kultuur op my dorp te stimuleer.
  • Hier is ek, ja, ek sal!

As ons dus praat van ʼn groot Afrikanerplan, is dit so klein soos dit wat ek en jy as individue kan doen. Elkeen moet doen wat hy of sy moet doen – nie as groot leiers nie, maar gemeenskapsleiers, burgemeesters sonder kettings.

Jou stukkie van die legkaart is deel van ʼn baie groter toekoms, maar sonder jou stukkie is die legkaart onvolledig.

Jou klein bydrae help dat ʼn groot verskil gemaak word. Klein druppels vorm ʼn stroompie en stroompies vorm ʼn rivier en riviere vorm damme.

As ons dus twyfel oor die toekoms moet ons begin bakstene pak en al die stene saam bou ʼn toekoms.

In ʼn lied, geskryf deur ʼn veertienjarige seun, Nico Nelissen, van Bethlehem en gesing deur Steve Hofmeyr en Andries Hendrik Potgieter, word gesing: “Ons is Afrika, die goud van Afrika, dis hier waar ons bly, ek sal veg vir jou en my want ons is Afrika.”

Ik ben een africaander – Ik wil niet, kan niet, gaan niet en moet nie loopen, ’k ben een africaander al slaan die landdrost mijn dood of al setten hij mijn in de tronk.

In Afrika is ek geplant, in Christus is ek begrond.

Ek is Jan van Afrika – los my uit!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae