Leuens: Die ondeug van ons tyd

Prof. Natie van Wyk (Foto: Verskaf)

Aanhoudend, om elke hoek en draai, word daar vir ons gelieg. Die heersende maghebbers blyk die ergste leuenaars te wees, en dit lyk of dit hulle geensins pla nie. Die teleurstellende is dat talle ander mense, ook dié naby ons, dikwels ook nie die waarheid praat nie.

Dit lyk of die duiwel, die vader van die leuen (Johannes 8:44), los loop en groot getalle mense in sy greep het. Hierdie waarneming is korrek, maar dit geld nie net vir die laaste 30 jaar nie. Die Switserse teoloog, Karl Barth (1886 – 1968), het alreeds ná die Eerste Wêreldoorlog betoog dat die vertel van leuens die grootste sonde is en die meeste voorkom. Leuens is alomteenwoordig en alledaags. Volgens Barth is mense van nature geneig om leuens te vertel, om ander se leuens te glo, en om selfs ʼn leuen te lewe.

In die lig hiervan behoort dit verstaanbaar te wees, dat ons ʼn bietjie aandag skenk aan die negende gebod[1] en ander Bybelse gedeeltes en filosofiese waarnemings wat met leuens te make het.

Die negende gebod

Die meeste van ons ken leuen en waarheid hoofsaaklik vanuit die Bybel. Die verbod op die vertel van leuens (Eksodus 20:16) was en is ʼn belangrike element van ons godsdienstige opvoeding, en dit is dalk daarom dat ons so ongemaklik is met al die blatante leuens waaraan ons blootgestel word.

johannes-calvyn

Johannes Calvyn. Foto: Af.wikipedia.org

Die negende gebod is ʼn belangrike rigtingwyser in die soeke na oriëntasie, maar dek nie al die gestaltes van die leuen nie. Die negende gebod kom uit die Joodse regspraak. Die oorspronklike bedoeling was om mense aan te moedig om eerlike getuies in “hofsake” te wees. Om ʼn leuenagtige getuie wees, is vir ʼn godsdienstige Jood, sonde (Numeri 35:30, Psalm 27:12, Spreuke 6:19). Deur die waarheid te praat word die goeie naam van die naaste nie geskaad nie, terwyl ʼn leuen sy reg en eer minag.

Die negende gebod wil dus verseker dat mense nie onskuldig aangekla en veroordeel word nie, en dat hulle eer en waardigheid beskerm word. Die negende gebod het dus ʼn antropologiese toespitsing. Dit wil in liefde mense en hulle integriteit beskerm. Latere Bybelse gedeeltes wat niks met juridiese sake te make het nie, het dieselfde toespitsing. Die hele Jakobus 3 is ʼn vermaning om die tong onder beheer te hou; die tong wat onwaarhede oor ander verkondig, en só mense se eer en aansien skaad.

Die Reformatore soos Luther, Melanchthon en Calvyn het in hulle behandeling van die negende gebod ook telkens aandag gegee aan die skade wat leuens aan mense aanrig. Vir hulle was dit belangrik om in formele sake soos die sluit van ʼn saketransaksie eerlik te wees, en om ander nie te bedrieg oor die kwaliteit van produkte wat jy aan hulle wil verkoop nie. Verder is die bedoeling dat jy ander mense, veral diegene wat met jou kompeteer, se goeie naam sal respekteer deur nie skinderstories en onwaarhede oor hulle te versprei nie.

Om doelbewuste karakterskending te keer, maak dus die kern van hierdie gebod uit. Ons kerkvaders het ingesien, en só behoort ons dit ook te verstaan, dat die negende gebod in noue verbondenheid met die liefdesgebod uitgelê en verstaan moet word.

Die veelkantigheid van die leuen

Die antieke filosowe het baie moeite gedoen om leuens te beskryf en te definieer. Denkers soos Plato (427 – 347 v.C.) en Aristoteles (384 – 322 v.C.) het al ontdek dat een van die belangrikste kenmerke van die leuen, sy veelkantigheid is. Die leuen lyk vandag só, maar kan volgende week weer in ʼn ander gestalte na vore tree. Die leuen laat hom daarom nie vir eens en altyd beskrywend vaspen nie.

In ons huidige leefwêreld is dit opmerklik dat die leuen hom dikwels in die volgende gestaltes voordoen: Bedrieglike inligting oor gebeure en toestande, algemeen bekend as fopnuus; selektiewe beriggewing met die bedoeling om die volle waarheid te versluier; die verspreiding van onwaarhede met die bedoeling om angs en vrees te wek wat vir sekere sektore finansiële voordeel inhou; die bemarking van produkte op grond van sogenaamde “wetenskaplike navorsing” wat nooit gedoen is nie, en só mense se goedgelowigheid finansieel uitbuit. Daar kan nog talle ander voorbeelde opgenoem word, maar ʼn konkrete voorbeeld uit die aktuele politiek, illustreer die argument dalk die beste.

Leuenagtigheid in die politiek

Augustinus van Hippo, belangrike filosoof en kerkvader van die vroeë Middeleeue (Foto: Godong/Leemage)

Met behulp van die kerkvader Augustinus (354 – 430 n.C.), word daar na ʼn uitspraak van ons geagte president gekyk wat hy tydens ʼn onlangse staatsrede gelewer het. Die president se belofte van ʼn hoogsontwikkelde tegnologiesgedrewe stad naby Lanseria, waarmee daar alreeds begin is, is nie net ʼn dagdroom nie, maar ʼn leuen waarmee die “massas van ons mense” gemanipuleer word.

Ons almal behoort te weet dat hierdie belofte in sy staatsrede nie net ʼn fout (error) was nie, maar ʼn leuen (mendacium) is. Hierdie belofte, soos talle ander beloftes wat voortdurend deur hom en sy kabinet gemaak word, is nie net ʼn onware uitspraak (enuntiatio falsa) nie, maar dit dien as ʼn verkullingsmotief (intentio fallendi), om die bevolking se vertroue te probeer behou. Hierdie tipe beloftes wat aanhoudend gemaak word oor sake soos kragvoorsiening en die vervoerstelsels, verklap ongelukkig ook iets van die karakter van die spreker, naamlik dat hy as mens ten diepste oneerlik is (locutio contra mentem).

Dít kan die maghebbers natuurlik min skeel, aangesien die leuen ingespan word om polities ʼn goeie resultaat op te lewer (finis intentus); dit moet naamlik hulle magsposisie bestendig. Indien één uitspraak deur die staatshoof (óf was dit net ʼn grappie?), soveel boosheid kan bevat, behoort almal te besef dat ons nie vir mekaar moet lieg nie. Leuens ondermyn die onderlinge vertroue, en wel nie net in die politici nie, maar ook in die politieke strukture en instellings. Leuens skaad ook die samehorigheidsgevoel in die land; iets wat in elk geval ʼn skaars kommoditeit geword het.

Die etiese plig om die waarheid te praat rus nie net op die politici nie, maar op alle landsburgers. Dit is nie armoede en ongelykheid wat hierdie politieke bedeling gaan laat tuimel nie, maar die gebrek aan een van die mees vanselfsprekende aspekte van menslike moraliteit, naamlik die praat van die waarheid.

Goeie bedoeling of plig?

Portret van die Griekse filosoof Plato (Foto: Bianchetti/Leemage)

Dalk is daar nou té gou by die gedagte van die plig tot waarheid uitgekom, aangesien leuens so ʼn komplekse aangeleentheid is. Beide Plato en Aristoteles het die leuen nie reglynig verwerp nie. Plato het in sy Politeia (Rep 389b) betoog dat die staatshoof tog die vyand en die volk met behulp van onwaarhede kan toespreek, mits dit tot die voordeel van die land en die volk sal wees. Wanneer hy oortuig is dat die volk by ʼn leuen positief kan baat, is dit nie noodwendig ʼn verwerplike ondeug nie. Wanneer halwe waarhede en misleidings die samelewingsorde dien, kan ʼn leuen ʼn goeie deug wees.

Die staat kan byvoorbeeld, by monde van die weermaghoof, en met die oortuiging dat dit tot die beswil van die volk sal wees, sekere inligting oor dreigende gevare van hulle weerhou. Binne hierdie denkwyse word die vertel van leuens as ʼn goeie deug beskou, aangesien dit “goeie resultate” kan oplewer. Ook Aristoteles het in sy Nikomachiese Etiek (IV,13,1127a) nie ʼn kategoriese leuenverbod bepleit nie. Hiermee het hy die leuen nie as boosheid as sodanig beskou nie. Wanneer ʼn leuen goed (dit is, tot voordeel van die samelewing) benut kan word, is dit ʼn goeie deug. Maar, ʼn leuen is volgens Aristoteles ook nie van nature ʼn goeie deug nie; dit word eers goed wanneer die uitkoms goed is.

Xenophanus (430 – 354 v.C.) het hulle hierin ondersteun (Memorabilia IV, 2, 14-18) deur te stel dat ʼn leuen, met goeie bereikbare doelwitte, ʼn goeie deug kan wees. Die Griekse filosowe volg dus teleologiese en selfs utilitaristiese benaderings met betrekking tot leuens; met ander woorde, edele doelstellings en nuttige uitkomste kan die gebruik van ʼn leuen regverdig. Die kritiese vraag is dus: Dink ons president in lyn met die Griekse filosowe? Glo hy (en sy provinsiale leiers) dat utopiese beloftes – wat niks anders as leuens is nie – goed is vir die land en sy mense? Probeer hulle om met behulp van hierdie drome die massas onder beheer te hou, of wat is die spel wat gespeel word?

In die Christelike etiek word die leuen nie teleologies nie, maar deontologies beoordeel; met ander woorde, ʼn leuen is verkeerd al is daar goeie bedoelings daarmee. Ons het reeds na ʼn paar Bybelse teksverse verwys waarin die leuen as ʼn goeie deug verwerp word. Volgens die kerkvader Augustinus, die grondlegger van die Roomse kasuïstiek, moet elke leuen as eties onaanvaarbaar beskou word. Daar kan geen uitsondering op die reël wees nie. Binne die Protestantisme was daar egter meestal ruimte vir iets soos die “noodleuen”. Om ʼn eerbare persoon se lewe te spaar deur ʼn moordenaar in ʼn verkeerde rigting te stuur, was een van die toelaatbare uitsonderings. Luther noem so ʼn misleiding ʼn “liefdesleuen”, of ʼn “verkullingsleuen” of ʼn “vroom leuen” wat vergewing sal vind.

‘n Kontemporêre prent toon die Duitse filosoof Immanuel Kant (Foto: Diener / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Die interessante is dat die filosoof Immanuel Kant (1724 – 1804), as Protestant, in 1797 ʼn geskrif die lig laat sien het, waarin hy die leuen as onversoenbaar met die kategoriese imperatief beskryf het; met ander woorde, dat ʼn leuen nooit aanspraak kan maak op goeie sedelikheid nie. Onder alle omstandighede het die mens die plig om die waarheid te praat. As Paulus, Augustinus en Kant die vertel van leuens as deugdeloos beskryf, dan moet ʼn mens seker baie goeie teenargumente hê om die teendeel te bewys.

Al het ons nie juis veel politieke mag nie, het ons nog die mag van die “pen”. Met die “pen” moet ons die daaglikse leuens ontbloot. Ons kritiese denke kan ons help om die vryheid van ons gees te behou – en hierdie vryheid sal ons menswaardig laat bly leef in ʼn land van toenemende politieke onvryheid. Ons moet net toesien dat ons kritiek en ons vryheid versoenbaar bly met die gebod van die naasteliefde. ʼn Liefdelose bestaan, is ʼn bestaan van en in onvryheid, en onvryheid beteken ʼn verlies aan menswaardigheid.

[1]  Die negende gebod volgens die Gereformeerde telling, en die agste gebod volgens die Lutherse telling.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fluisterwind ·

Wat moet ons kinders weet: Dat God alles geskape het en nog steeds onderhou. Dat jy vir God belankrik is en dat God se Woord die volle waarheid is. God se waarheid is Heilswaarheid en niks kan daarby gevoeg word nie en niks kan daarvan weggelaat word nie. Die Bybel is die enigste manier hoe God nou sy waarheid aan ons kommunikeer, ons moet dit net lees, glo en leef.

De Bok ·

Jy is heeltemal reg in jou opsomming dat die leuen die groot ondeug van ons tyd is. Dit is ook die oer-onding, die sondeval het gekom deur middel van ‘n leuen. Dit is hoekom die satan die vader van die leuens genoem word in die teks wat jy aanhaal.

annie ·

Dit gaan nou op die aarde presies soos voor Moses die tien gebooie van die Vader ontvang het om as riglyne die mens se gelukige voortbestaan op die aarde te verseker. Ons predikante is te besig om sonpannele op te rig en fopnuus op tv te verteer om die nasie te waarsku en rig. Die ANC moet nie gedien word nie maar die Vader. Sonder onderdanigheid aan Hom gaan ons sink. Marxiste is ateïse, dws hul dien hulself en dus die Bose.

Paul ·

Daar is vele kompleksiteite rondom leuens:
(1) Wanneer jy ‘n eed aflê dat jy die waarheid praat, roep jy God as getuie. Wat my betref, as jy dan ‘n leuen vertel, dan belaster jy God as getuie om ‘n leuen te bevestig.
(2) Die leuenaar moet ook fyn onthou, wat hy gesê het. Dit skep by hom/haar spanning. Dit is ook asof sommige mense nie meer omgee of hulle aand- en môre praatjies verskil nie. Dit gaan vir hulle net oor die situasie. Om so na aan die waarheid te bly, is ‘n resep vir minder spanning in jou lewe.
(3) Dit kan ook gebeur dat mens ‘n situasie uit die verkeerde perspektief sien en dan glo dis die waarheid. Dit sien jy dikwels by charismatiese sprekers. ‘n Ander goeie voorbeeld: Mense sien omdat Jesus ‘n man op aarde was, dat alle mans beter integriteit het. Dit weet ons, is eenvoudig nie so nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die leuen is die fondasie van persepsiologiese oorlogvoering om die hart, siel en denke van die oningeligte gepeupel.

Paul ·

Die probleem rondom beginsels is, beginsels gaan oor ‘n verengde siening. Jy moet in die spesifiek nie leuens vertel nie, maar om iemand se lewe te beskerm kan jy sê: “daardie iemand het alreeds die geleentheid verlaat”. Ek was eenkeer by ‘n geleentheid waar ‘n afgetrede skoolhoof, met ‘n loopbaan van jare se integriteit, ‘n bietjie “tipsy” geraak het van die wyn. Ons het besluit om hom (en sy motor) stilletjies huis toe te te neem (met sy instemming) want hy het gesê dat hy “moeg” was. Toe ander mense (wat ons weet, hulle skinder graag) vra, waar is mnr. So-enso, het ons net geantwoord, mnr So-en-so voel nie goed nie en is huis toe.
Die punt is, dis ‘n leuen wat nie tot enigeen van ons se voordeel is nie, terselfdertyd ook nie tot nadeel van enige iemand is nie. Dit is goed om beginsels te hê, maar weet daar sal altyd “uitdagings” wees. Soos die Bybel sê, die wêreld is nie ‘n volmaakte plek nie. Daarom is naasteliefde so noodsaaklik vir hierdie wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.