Liberië: burgerskap en ras

George Weah van Liberië. Foto: ANA

Liberië, ʼn land in Wes-Afrika, het vroeër vanjaar George Weah, ʼn voormalige sokker-ster, tot president gekies. Wat dit merkwaardig maak, is dat hy nie deel van die regerende elite is nie, maar iemand wat hom uit eenvoudige omstandighede opgewerk het en deur sokker bekend geword het, nie net in Liberië nie, maar ook internasionaal (hy het vir verskeie groot en bekende sokkerklubs soos Milan, Chelsea en Manchester City gespeel).

Met sy biografie kon talle Liberiërs identifiseer en hy het die verkiesing ver gewen. Nog meer ongewoon vir enige politieke leier, het hy sy en sy ministers se salaris aansienlik verminder. Die golf van populisme, waarvan so dikwels in die media gepraat word, is nie tot die Weste beperk nie. Populisme hoef ook nie regs of links te wees nie (in Afrika is die indeling moeilik), ʼn populis is iemand wat soos die gewone mense praat en hulle griewe opneem en onkonvensionele politiek bedryf.

Mnr. Weah het al met ʼn hele paar ingrypende voorstelle gekom wat Liberië drasties kan verander. Een wat tans sterk gedebatteer word, is die plan om die Grondwet te wysig om die diskriminasie op grond van ras op te hef. Min mense weet dat Liberië, wat altyd heel voor in die koor was toe die ou Suid-Afrika gekritiseer of by die VN aangekla is, self ʼn rassistiese staat is en dat sy elite, alhoewel swart, “setlaars” van buite Afrika is. Die Grondwet bepaal dat net swart mense burgers kan wees en net hulle mag stem en eiendom mag besit.

Liberië is die enigste staat in Afrika wat nooit ʼn kolonie was nie en wat, naas Ethiopië, baie langer onafhanklik is as al die ander Afrika-state. Die land is ʼn skepping van Amerikaanse filantrope, wat voormalige slawe weer in Afrika wou vestig, honderde jare nadat hulle van Afrika weggevoer is. Dit kan in ʼn mate vergelyk word met die Joodse terugkeer na die land van hulle voorvaders. Die idee was edel, die probleem was egter dat daar reeds mense gewoon het in die gebied, as Liberië in 1847 onafhanklik sou word.

Die inkomelinge uit die VSA was wel ook swart, maar kultureel Amerikaners wat Engels gepraat het, Amerikaanse vanne gehad en die koloniale leefwyse van hulle voormalige base nageboots het. Ook die Grondwet is van die VSA oorgeneem, die hoofstad Monrovia na ʼn Amerikaanse president vernoem en selfs die vlag lyk baie naby aan die Amerikaanse “Stars and Stripes”.

Die inheemse bevolking is deur die swart kolonialiste, wat die bolaag gevorm het, onderdruk en verag. Terwyl Liberië trots sy vryheid en sy anti-koloniale aard verkondig het, en in die anti-apartheidstryd op die voorpunt teen Suid-Afrika was, was dit in wese self ʼn apartheidstaat. Eintlik nog erger, as ʼn mens bedink dat 5% van die bevolking oor die res geheers het en daar nie eens van selfregering en opheffing van die meerderheid gepraat is nie. Die land het die tipiese rassistiese uitkyk van talle Afrika-leiers en meningsvormers, naamlik dat velkleur alles bepaal en kultuur en etnisiteit niks tel nie. Daarby is die land uiters swak bestuur en is ʼn voorbeeld dat Afrika sonder kolonialisme nie noodwendig beter af sou gewees het nie. Die ekonomiese beleid was een van “neo-kolonialisme”, om groot Amerikaanse maatskappye toe te laat om rubberplantasies op staatsgrond aan te lê, met geforseerde arbeid om die werk te doen en die geld wat in die koffers van die elite gevloei het. Rassediskriminasie (oftewel diskriminasie teen die inheemse inwoners) is eers in 1958 opgehef, in lyn met die Amerikaanse Suide se afskaffing van amptelike diskriminasie. In praktyk het dit nog voortbestaan.

In 1980 het die inheemse bevolking onder leiding van sersant Samuel Doe in opstand gekom en die destydse president Tubman ontsetel en hom en dele van sy kabinet tereggestel. Doe het ʼn 10 jaar lange skrikbewind gevoer en wraak geneem op die elite, tot hy self in 1990 deur rebelle omvergewerp en wreed vermoor is. Daarna het ʼn burgeroorlog gevolg wat met onderbrekings tot in 2003 gewoed het en waarby ook die buurland Sierra Leone ingetrek is. Eers met die verkiesing van Ellen Johnson-Sierleaf in 2005 het dinge weer bedaar en sy het heelwat gedoen vir versoening en stabilisering. ʼn Waarheids- en Versoeningskommissie het die hele tydperk van Doe se staatsgreep tot die einde van die burgeroorlog ondersoek en ná ʼn lang hofproses by die Internasionale Tribunaal in Den Haag is Charles Taylor, rebelleleier en president, wat die wreedste van almal was, in 2012 tot 50 jaar tronkstraf weens misdade teen die mensdom gevonnis.

President Weah is, soos sy van aandui, anders as sy voorganger mev. Johnson-Sirleaf, nie deel van die ingevoerde elite nie. Hy wil nou die Grondwet verander en die vereiste van ʼn swart velkleur vir burgerskap afskaf, ook om buitelandse belegging makliker te maak. Hy verwerp die diskriminasie egter ook uit oortuiging en noem dit onnodig, rassisties en onvanpas en boonop in stryd met Liberië se selfbeskrywing as land van vrye mense.

Die ekonomie word grootliks gedryf deur die klein Libanese minderheid van enkele duisend. Selfs diegene wat in die land gebore is, word as uitlanders beskou en net geduld omdat hulle die ekonomie aan die gang hou. Hulle vervul in Wes-Afrika die rol wat Indiërs en Arabiere tradisioneel in Oos-Afrika vervul en bedryf veral handel.

Kritici vrees dat die grondwetsverandering Liberië aan buitelanders uitverkoop, maar feit is dat selfs met die diskriminerende wette die ekonomie hoofsaaklik deur Libanese en ander gedryf word en sonder hulle totaal in duie sou stort. Hoe vyf miljoen swart Liberiërs ʼn krimpende minderheid van 3 000 Libanese, wat hulle nog altyd uit die politiek gehou het, kan vrees, is moeilik verstaanbaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Nico K ·

Jy mag nie sê dat kolonialisme nie die rede vir Afrika se armoede is nie, maar ongelukkig is daar genoeg rede om dit te glo. Suid Korea, Indoniesië, Singapoer ens, was almal kolonies van Europa en het op presies dieselfde tyd onafhanklikheid gekry as meeste Afrika state. En jy kan nie die ekonomië van die lande vergelyk nie. En state in Suid Amerika soos Bolevia, Nigaragua en Colombia het al voor 1820 onafhanklikheid van Spanje gekry en kan nog nie juis beskou word as ekonomiese reuse nie.

DewaldS ·

Nico K – jou voorbeelde ondersteun dan juis nNIE die standpunt wat jy in die eerste sin maak nie? Of mis ek iets?

Sebastiaan ·

Regstelling: dit was president William Tolbert wat in 1980 deur Samuel Doe ontsetel en gedood is. William Tubman was sy voorganger.

Nico K ·

Ja Dewald, ek dink jy mis iewers iets. Ek sê juis dat kolonialisme nie die rede vir Afrika se armoede is nie.

DewaldS ·

Hi Nico – jammer – ek kan nie glo ek het die sin so verkeerd verstaan nie. Jou voorbeelde en jou stelling is 100% reg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.