Liewe moeder Afrika

Toekomsberaad-Dirk-Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Hierdie is dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se volledige toespraak wat hy Donderdag by die Mistra-konferensie gelewer het oor witheid, Afrikaans en Afrikaners by Konstitusieheuwel in Johannesburg.

Hierdie is bloot my storie; dit is nie ʼn volledige storie nie, maar dit is myne. Ek probeer ook nie in hierdie storie om my broers se storie vertel nie. My ander broers het ook stories, hartseer stories van swaarkry. Al ons stories vorm saam ons familiestorie.

Ma, hoekom is ek jou weggooikind? Ek lyk anders en praat anders. ʼn Ander ma het my beïnvloed, maar is nie my ma nie.

Kort ná 1652 het die eerste Vryburgers hul rûe op Europa en hul gesigte na Afrika gedraai. Só het die geboorte van my, die Afrikaner, begin. Dit was ʼn pynlike geboorte met swaarkry en smart, maar ek het myself na Ma vernoem, “Afrikaner.” Ek het begin praat en ʼn taal ontwikkel en dit na Ma vernoem: “Afrikaans.”

Ma, ek wou nie gedienstig wees aan Europese kolonialiste nie en ek het dieper in jou ingetrek. Ek het nie teruggetrek nie; ek het ingetrek. My trek was vir ʼn plek in Afrika. My broers het ook getrek, ook vir plek in Afrika.

Broer het teen broer geveg vir plekke aan die suidpunt van Afrika. Miljoene moes vlug en honderde duisende – sekere bronne praat van tussen 1 en 2 miljoen – is doodgemaak. Ons huis hier aan die suidpunt is gedestabiliseer. Ons broers, soos die Sotho’s, Matabeles en die Tswanas, moes vlug.

Die vroue en kinders van ander broers is by ons sterk broers ingelyf; mans is doodgemaak. Shaka was die groot vegter en vandag word beelde vir hom opgerig. Ek was deel van daardie trekpatrone. Ek het gesoek na ʼn plek in Afrika. In die groot geweld en ontwrigting het ek ʼn klein rol gespeel. Ek het boonop nog probeer om ooreenkomste aan te gaan en traktate te teken; daarvoor is ʼn deel van my, Piet Retief en sy manskappe, wreed vermoor.

Maar Ma, hoekom bou jy beelde om my broers se Mfecane te herdenk, maar ek is ʼn uitbuiter? Hoekom is Shaka ʼn vryheidsheld, maar Piet Retief, die vermoorde en ander Voortrekkerleiers gee aanstoot?

Hoekom is wat met my ander swart broers deur die hand van swart broers nie ʼn misdaad teen die mensdom nie? Hoekom is jy so geduldig met my swart broers se geweld op mekaar?

Ek moes weer trek, weereens weg van die Engelse kolonialiste. Ek vestig my in die Noorde. Twee republieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat, word gevestig. Die Engelse kolonialiste wil my nie uitlos nie. As Afrika-stam veg ek in die Eerste Vryheidsoorlog en ek word ek ʼn Afrika-stam wat ʼn koloniale mag verslaan.

Die kolonialiste wil my minerale rykdom kolonialiseer en die Tweede Vryheidsoorlog breek uit. Dit was ʼn duur, wrede oorlog. Ek het die duurste prys nóg vir my plek in Afrika betaal. My vroue en kinders is in konsentrasiekampe aangehou. Dáár is sowat 34 000 van hulle dood. Dertig duisend van my mans is as bannelinge weggestuur; plase is afgebrand. Twintig duisend oorlogswesies bly agter. Moeder Afrika, moet my nooit weer ʼn kolonialis – al is dit een van ʼn spesiale aard – noem nie. Dit is ʼn belediging vir my en die grafte van my voorouers.

Soos tipiese kolonialiste wou die Engelse my ná die oorlog by hulle inlyf. As ek my Afrika-taal gepraat het, moes ek ʼn bordjie, “I am a donkey,” dra. Ten spyte van die regering het ons opgestaan. Ons het gemeenskapsinstellings begin vestig.

Droogte, depressie en armoede het my swaar getref. Om op te staan uit armoede het ek geglo ek moet kultureel ryk wees en in die swaarkrytyd is die Bybel in Afrikaans vertaal en talle Afrikaanse instellings is gestig. Só het Afrikaans deel van my opstaan-identiteit geword. Ek praat nie net Afrikaans nie; ek is Afrikaans. Afrikaans het my taal van aspirasie geword.

Die prys van die oorlog was egter hoog. Dit het my aan die “never again”-sindroom laat ly. Die kinders van apartheid het die doodskampe van die oorlog nog in hul huise beleef. Apartheid is nie so simplisties nie, maar “never again” het ʼn groot invloed gehad.

Apartheid was ʼn Suid-Afrikaanse paradoks. In reaksie op die hartseer van kolonialisme is die logika van kolonialisme deur apartheid voorgesit – ʼn sentrale idee en stelsel wat van bo afgedwing is.

Ek is baie bewus van die foute in my verlede en wil dit nie ontken nie. My volle verlede, goed en kwaad, is deel van my. Die stelsel van apartheid was onvolhoubaar. Dit het gelei tot ʼn struggle vir vryheid van die stelsel.

Maar Moeder, het jy ʼn historiese bewussyn van ander vergrype aan die suidpunt van Afrika?

Hoekom swyg jy oor die onreg wat swart broers aan my swart broers in die struggle-tyd gedoen het? Waarom is die 200 mense wat in een jaar deur die “necklace”-metode vermoor is, nie deel van die hoofnarratief nie? Waarom is die raadslede, Inkatha-lede, onderwysers en talle ander wat vermoor en verbrand is, nie deel van die jou hoofstorie nie? Hoekom swyg jy oor my swart broers se smart?

Moeder, vandag hoor ek weer “never again.” Ek hoor van ʼn stelsel wat my broers moet bevry en herstel. Ek hoor my broers wil breek van die slawerny van een stelsel deur slawe te word van nog ʼn stelsel.

Moeder Afrika, dit lyk vir my of die “never again”-sindroom, die denkfout van die apartheidsgeslag, deur jou kinders voortgesit word. In ʼn poging om ʼn vorige stelsel reg te stel, word die logika van die stelsel voortgesit.

Wat my die meeste verstom, is dat jy iemand anders se taal jou taal van aspirasie gemaak het. Jy het jou eie taal opgegee. Hoe kan iemand sê: My taal kan nie?

Jy gaan jou kinders so verloor – dit maak van hulle kolonialiste van ʼn spesiale aard.

Moeder Afrika, ek het ʼn diep liefde vir jou. Jou oopheid, jou natuurskoon, jou klimaat en jou grond. Ek is lief vir jou kinders, my broers en susters, en oor jare het ons ʼn besondere band ontwikkel. Die kinders in ons huis verskil, ons lyk anders, praat anders en doen anders, maar ons het een ding in gemeen – moeder Afrika.

Moeder Afrika, ek het jou omhels, maar ek ervaar nie dat jy ʼn wit kind omhels nie. Jy skryf my uit die definisie van Afrikaan in jou wetgewing. Jou narratief is ʼn eenvoudige goed/kwaad-narratief: Wit is kwaad en swart is goed. Jy sê dat alle probleme begin het toe ek hier aangekom het. Jy skuif my uit en is kwaad as ek eenkant staan. Jou ander kinders se rassisme is legitieme eise, maar my legitieme eise is rassisme. Jy praat van my as “hulle” en van die ander kinders as “ons.”

Hoekom is dit so moeilik vir jou om my as jou kind te aanvaar? Waarom sien jy my as ʼn kind van ʼn ander ma, wat dankbaar moet wees vir die goedgesindheid en geduld van die Afrika-huis.

Moeder Afrika, is jy ʼn rassistiese ma?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Uitstekend gedoen, dr. Hermann. Ons hele geskiedenis in ‘n enkele, aangrypende toespraak.

Of dit tot die spesifieke gehoor gespreek het, is egter te betwyfel, want as Moeder Afrika eerlik antwoord, sal sy sê: “Ja, ek is ‘n rassistiese Ma”. Kyk maar net noord.

Vreemd genoeg, is dit nie noodwendig die Phosas of Motlanthes van SA wat die meeste vyandiggesind is nie; gaan lees gerus wat Adriaan Basson hieroor te sê het. Christi van der Westhuizen, Max du Preez en Piet Croucamp sal binnekort volg met die gewone gesanik.

Dat Plan B nou die knuppel so in die hoenderhok gegooi het! Dit lyk nie asof inisiatief en skouer-aan-die-wiel-sit eienskappe is wat in die ANC se Suid-Afrika juis waardeer word nie. Regtig verstommend.

Bruno Stef ·

Therese die adders in eie boesem het jy by hulle name mooi genoem wat my net van dit ontstel is dat dat hulle platvorms het om hulle gal te bly braak teen die Afrikaner.Met n toespraak soos Dr Hermann sin sal ek my kop in skaamte laat sak as ek hulle is maar vergelyk dit net met Phosa sin en ervaar die stem van redelikheid van n mens wat nugter kan dink.

Andries ·

‘n Mooi storie, maar ons moet versigtig wees om te praat asof ons nie hier tuis is nie. Ons is tuis hier en so is dit ooreengekom in 1991-1994 deur almal wat hier woon. Ek is net nog ‘n Suid Afrikaner en ek geniet d regverdige mense v d land en ek verafsku d ongeregtigheid. Ek strewe om te lewe soos ‘n redelike oordentlike mens, soos baie ander v d land. Groete vanuit d mooiste land

Johan 2 ·

Andries jy woon seker in jou trippel sekuriteits kompleks droomwereld as jy nog welkom voel in SA…Dankie v die mooi opsomming van hoe Afrikaners SA ervaar Dr.Herman. Indien iemand navorsing doen oor 100jaar sal hul dit kan aanhaal, ons moet net seker maak ons kinders kan nog hier woon.

Andries ·

Johan, nee ironies nie. En ja Dirk gee ‘n beter insig waar baie v d Afrikaners vandaan kom, en dat dieselfde struggel wat afspeel d afgelope 21 jaar ook ‘n pad is wat d wit Afrikaner ge loop het. Ons moet egter onthou dat ons net so ‘n regmatige plek in neem in Suid Afrika soos ons mede burgers wat nie Afrikaners is nie. Vanuit hierdie uitgangspunt benader ek d saak. Daar is egter ander mede burgers wat dink hulle besit nou d wereld, maar hulle vergeet daar is 11 ander taal en kultuur groepe in d land wat elkeen deel is v hierdie land. Gelukkig sien hulle ook d arrogansie en ongeregtigheid raak v d sulkes. In terme v d toekoms v my kinders. Ek leer hulle om almal te respekteer en d ongeregtigheid te beveg. Dit verg samewerking v baie en d goeie stryd lei tot d oorwinning. So kom ons stry eerder v dit wat reg en goed is, as om ‘n belangrike onderwerp soos hierdie te verklein na watter tiepe huis ek in bly. Jaag d vrede na met almal en bedink dit wat goed en mooi en loflik is. Op d ou einde gee net een d uitkoms en Hy is regverdig

John ·

Dit verstom my dat ons Afrikaners val vir sekere swartmense en ‘n paar ander se sienings en uitsprake dat Afrika aan hulle behoort. Europa is ook een stuk aarde en word deur verskillende volke bewoon. Ek wil graag hoor hoe die verskillende Europese lande sal reageer as een van die lande daarop aanspraak maak dat die hele stuk eintlik aan hulle alleen behoort. Selfs die swart inwoners van Afrika praat soos die Duitsers of Italianers nie eens dieselfde taal nie. Die Egiptenare is nie swart nie en die Arabiere ook nie en wat van ons San wat voor almal in die suide rondgetrek het. Baie swart inwoners van Suid-Afrika of hul voorsate kom van elders. Daar is selfs die moontlikheid dat die swart volke van Afrika van Australie of van sekere eilande afkomstig is; hoekom nie ook van die Britse eilande of Spanje nie en wat hul later in die Nigerdelta of in die antieke Morokko gevestig het en nog later verder suid uitgewyk het soos hul nou ook maar doen. Die geskiedenis is nie iets wat mense skep nie, dis ‘n lang gebeurtenis en die waarheid is nie soos ons hoop, geduldig nie; mens kan nie net iets se en dit is so nie. Ek spring net in die see om af te koel van die hitte van die somerson en nie omdat party Afrikaners kruipers is of omdat my genetika ander rasse belg nie. Dis nie nodig om vir Moeder Afrika te smeek om ons te aanvaar nie. Daar is ‘n logika agter alles en miskien moet ons net begin leef. Die Franse Hugenote se harte was gebreek toe hulle die skone Frankryk vir hul geloof moes verlaat en toe hulle hier aanland vind hulle nog ‘n Frankryk, net mooier, wat ook die heerlikste wyn lewer en nog meer: vrugte, minerale, geil grond vir graan verbouing en veeteelt. Die land is met harde werk opgebou. Jaloesie is ‘n lelike ding en dit vorm die grondslag van die kritiek jeens die Afrikaners (en ons mooi taal).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.