Lily-myn – menslike tragedie teenoor opportunistiese aasvoëls

lily-myn-nuut-2016-08-01

Die Lily-myn. Foto: Verskaf.

Die tragiese gevolge van die Lily-mynongeluk is drie werknemers wat vermis is, die myn wat onder besigheidsredding geplaas is en 900 werknemers wat in ʼn ernstige finansiële verknorsing verkeer. Al die werkers is verloorders – diegene wat steeds in diens van Vantage Goldfields (Lily-myn se eienaar) is en by die groep se naburige Barbrook-myn geakkommodeer word, ontvang slegs 60% van hul vergoedingspakket, terwyl die werknemers wat afgelê is, nog nie hul afleggingspakket se uitbetaling ontvang het nie.

Die tragedie kan slegs in ʼn suksesverhaal omskep word indien Rob Devereux, die besigheidsreddingpraktisyn (BRP), ’n lening of belegging van R200 miljoen kan bekom. Met dié geld kan die volgende vermag word: agterstallige salarisse en pakkette kan betaal word; ʼn nuwe skag kan gesink word met die doel om die drie liggame te vind en ook om die myn weer in produksie te kry; die mynhope kan ontgin word; en ondergrondse toerusting kan versien en herstel word.

ʼn Mens sou glo dat alle betrokke partye voorgenoemde sou verstaan en die BRP sou ondersteun om ʼn belegger te vind. Die teendeel is egter waar en die myntragedie het ʼn platform geword waar vele partye soos aasvoëls teer op die krisis wat op hande is.

Aasvoël nommer 1 – DMR en politici

Die departement van minerale hulpbronne (DMR) en die betrokke minister, Mosebenzi Zwane, is die grootste struikelblok om ʼn belegger te vind. Vanuit die staanspoor het die minister die ongeluk verpolitiseer omrede dit in ʼn verkiesingsjaar plaasgevind het. Daar is aan die plaaslike gemeenskap ʼn belofte gemaak dat die drie vermistes eers gevind sal word voordat enige werksaamhede by die myn hervat kan word. Die minister steur hom nie aan die verduideliking dat dit R138 miljoen sal kos en ses tot agt maande sal duur om ʼn skag te sink in die rigting waar die vermistes moontlik kan wees nie. Ongelukkig stel geen belegger of bank daarin belang om die herwinning van drie liggame te finansier nie, omrede daar geen inkomste daaruit gegenereer kan word om die lening terug te betaal nie – die minister se deurlopende openbare uitsprake oor sy voorvereiste het vele potensiële beleggers koue voete laat kry.

In onlangse gesprekke het die departement se senior amptenare die BRP gedreig dat hulle die myn sal sluit as daar nie aan hul aanwysings gehoor gegee word nie – sodra ʼn belegger gevind is, sal Solidariteit en Amcu egter die hof van openbare mening teen die departement mobiliseer.

Aasvoël nommer 2 – NUM en Cosatu

Die National Union of Mineworkers (NUM) wat deur aartsvyand Amcu by Lily-myn as verteenwoordigende vakbond onttroon is, het ʼn verdere terugslag beleef toe hulle nie deel van die nuuswaardige gebeurtenis kon word nie en deurlopend deur die BRP en mynbestuur die mynperseel belet word. Die NUM het tesame met Cosatu vele optogte rakende die myn gehou en memorandums en mediaverklarings uitgereik in ʼn poging om deel van die storie te word. Die NUM en Cosatu sing dieselfde deuntjie as die minister en het onlangs vir die tweede keer ʼn ultimatum uitgereik en ook sommer daarop aangedring dat die liggame binne drie dae gevind moes word.

Aasvoël nommer 3 – Amcu

Dit is onbillik om Amcu as geheel as aasvoël te kategoriseer, want sy plaaslike leiers by Lily-myn en Solidariteit werk sy aan sy om beleggers te paai. Amcu is ook besig met baie sensitiewe onderhandelinge om die families van die drie vermiste mynwerkers te oorreed om in die openbaar aan te dui dat die redding van 900 poste net so belangrik is as die herwinning van die liggame. Amcu se president, Joseph Matunjwa, gryp egter elke geleentheid aan om in die kollig te wees en veral die NUM se neuse in die grond te vryf. Ek wil nie te hard op Matunjwa wees nie, want hy waardeer Solidariteit se bydrae terwyl hy die NUM, Cosatu, EFF, DA en ANC al by Lily-myn laat wegwys het, maar ek ken hom goed genoeg om te weet hy is in sy element om, soos by Marikana, die middelpunt van die tragedie te wees.

Aasvoël nommer 4 – AfroCan se Brian Barret

Die grootste skurk in die hele sage is AfroCan se besturende direkteur, Brian Barret, wat $11 miljoen in die myn sou belê. Barret het Solidariteit en Amcu se leierskap oor sy Lily-belegging toegespreek en sy groot toekomsplanne vir die myn met ons gedeel. Om ʼn lang bedrogstorie kort te maak, Barret en sy trawante, wat Mike Prinsloo insluit, is bedrieërs wat al vele bedrieglike transaksies aangegaan het, skynbaar as middelman optree, finansiering van ʼn belegger kry en dan laat spaander. Die gevolg is dat die werkers se blydskap met ʼn groot skok gedemp is toe hul langverwagte agterstallige betalings nie werklikheid geword het nie. Daarby het die BRP en mynbestuur minstens twee ander potensiële beleggers verloor toe AfroCan as voorkeurbelegger geïdentifiseer is. Vantage Goldfields neem gelukkig regsaksie teen Barret-hulle en ondersteun ook al die ander regsaksies wat verskeie individue en maatskappye teen die skelms aanhangig gemaak het.

Aasvoël nommer 5 – SEB-vennoot

Soos die Mynbouhandves voorskryf, moet elke mynmaatskappy ʼn swart ekonomiese bemagtigingsvennoot (SEB-vennoot) hê wat ten minste ’n 26%-aandeelhouding in die maatskappy opneem. Lily se swart aandeelhouer verstewig egter die negatiewe persepsie wat oor SEB bestaan en by die bekragtiging van die transaksie was hy duidelik net bereid om in die wins te deel, maar nie in die verlies nie. (Afgesien van hierdie verwysing gaan ek nie die betrokke persoon se naam noem nie, want daar is aan my verduidelik hy ken “hoë ouens in lae plekke” en dat hy ook baie invloedryke politieke vriende het.) Hierdie SEB-vennoot, wat nie bereid was om enige finansiële bydrae te maak om die lot van die mynwerkers te verlig nie, wil uit die aandeelhoudingstransaksie onttrek, en wil boonop nog iets daaruit kry ten spyte daarvan dat hy sal moet inbetaal, want hy het nog nie die lening wat aan hom toegestaan is om die 26%-aandeelhouding te bekom, terugbetaal nie. Dit bring mee dat hy nou klaarblyklik die rede is waarom die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) nie geld aan Lily-myn wil leen nie. Hoewel die NOK dit ontken, is dit toevallig dat sy voorwaarde om ʼn lening aan die myn toe te staan, ʼn gunstige skikking met Lily se SEB-vennoot moet wees.

Aasvoëls nommer 6 – Joernaliste

Dat die storie nuuswaardig is en vele joernaliste die storie ter wille van hul CV’s wil dek, is ʼn gegewe, maar dit is net die Barberton Times wat afgesien van hul joernalistieke verantwoordelikheid ook kosinsameling en uitdeelaksies koördineer. Talle ander joernaliste wil eintlik “die storie word” en ons vakbonde en Lily-werkers vir binne-inligting misbruik. Ons het almal weereens geleer dat daar nie iets soos “’n mededeling vir niepublikasiedoeleindes”  bestaan nie.

Die Lily-helde

Die teenpool van die “aasvoëls” is die 900 werknemers wat nie bloot getalle is nie, maar regte mense met name, want wat hier gebeur het, is nie bloot ʼn mynongeluk nie; dis  ʼn menslike tragedie. Daar is die name van Pretty Mabuza, Solomon Nyarenda en Yvonne Mnisi wat reeds sewe maande lank vermis is. Dan is daar die helde soos Jan, wat so tussen werksoek deur kosinsamelingsaksies van stapel stuur, verskeie welsynsorganisasies se aksies koördineer, gesinne se welstand monitor en kos gaan aflewer waar dit die nodigste is, voedselkoepons vir werkers by die departement maatskaplike ontwikkeling organiseer, en dan soos ʼn ware aktivis protesoptogte reël. Daar is Sanet met haar sterk geloof wat nie net die mynongeluk se finansiële impak te bowe moet kom nie, maar ook teen kanker veg –  ʼn stryd wat sy besig is om te wen. Weens haar positiewe ingesteldheid is sy ʼn inspirasie vir ons almal. Sanet plaas deurgaans saam met Johan, Leehandra, Willem, Daleen en Johan du Preez treffende geestelike boodskappe en motiveringsboodskappe op ons Lily-WhatsApp-groep. Dan is daar Frans, die plaaslike leier van die Amcu-tak wat hom nie deur Amcu se hoofkantoor laat voorskryf nie en as lekeprediker die gesinne van die vermiste werkers bedien en die gemeenskap en Lily-werkers wat gereeld dreig om tot gewelddadige aksie oor te gaan, kalm hou.

Laastens moet ek na die mynreddingswonderwerk wat min media-aandag gekry het, verwys. Al 75 vasgekeerde ondergrondse mynwerkers het alle veiligheidsprosedures en protokol nagekom en genadiglik veilig uit die myn gekom. Op 17 Mei 2016 het Solidariteit tydens ons jaarlikse Sterre in die Gemeenskap-toekenningsaand drie van die helde van die mynongeluk vereer. Theo Botha is vereer vir die kalm wyse waarop hy die vasgekeerde werkers na veiligheid gebring het; Flip Storm het ongelooflike lang ure by die myn deurgebring om die reddingspoging te lei; en Maryke Stezak het vir dae aaneen kos aan die reddingswerkers, helpers en families van die vermistes voorsien en aan meer as 100 mense drie maaltye per dag voorsien.

Vandeesweek, soos elke week, wag ons in spanning om te hoor of die nodige finansiering gevind gaan word, maar ek het ʼn gevoel die uitkoms is naby, want ten spyte van die “aasvoëls” se negatiewe impak, verdien die werkers om beloon te word vir hul onwankelbare geloof en die waardigheid waarmee hulle die krisis hanteer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

willem en daleen(anoniem) ·

Die lily myn ramp het ons baie skade gedoen. Ni net ons ni maar baie van di ander moes al ons besittings verkoop en by family gaan bly het want daar is nie meer geld om in ons huise te bly ni. Baie van ons kry swaar deur di tragedie

Anchen Coetzee ·

Dit was my, asook almal in die gemeenskap van Barberton, se plesier om ‘n bydrae te kon lewer. Die mense in hierdie dorpie kan voorwaar saamspan wanneer daar nood is.
Dankie vir die mooi woorde Gideon en Maroela Media.
Anchen Coetzee – Voormalige Redakteur – Barberton Times.

John ·

Ek is bevrees die arme eienaars van die myn probeer nou skynbaar die martelaars in die storie speel. Die hele spulletjie lyk baie onprofessioneel. Ek het het geen simpatie met die bestuur nie. Hoekom is geen klag teen hulle gele nie? SA het sedert 1652 vele ervarings beleef en baie base is deur die eeue landuit met sakke vol skatte en al wat oorbly is vernielde aarde en versukkelde Suid-Afrikaners.

Louwrens ·

Weet julle wat vir my altyd vreeslik interessant is en ek se dit sonder om noodwendig politiek of rassisme hierby in te sleep. Wanneer n ramp soos hierdie of iets soortgelyk aan die Lily myn ramp plaasvind is dit altyd blankes wat na die versorging en welsyn van die slagoffers omsien terwyl ons mede burgers slegs aandag gee aan die finansiele voor of nadeel van hulself en die slagoffers. Gaan kyk gerus na ander gevalle waar n ramp n spesifieke gebied of onderneming tref. Gooi maar met klippe as julle moet maar dit is eerlik my persepsie nadat ek hierdie stuk gelees het.

Xavier ·

Hierdie is werklik ‘n besondere stuk beriggewing. Welgedaan aan die skrywer hiervan.

Amanda Celliers-Coetzee ·

Liewe Gideon – sjoe my hart is nou seer. Het ek enige tyd enigiets wat jy, jou kollegas of die bestuur van Lily “off the record” vir my gese het gebruik? Ek doen dit nie. Op my CV staan daar dat ek stories doen. Geen spesifieke stories word daarin gemeld nie. Hoekom sal mens hoegenaamd een storie bo die ander wou uitsonder op jou CV? En dan ja…ek het as mens….nie as joernalis nie….my eerste af dag na die voorval besluit om die reddingwerkers by te staan waar ek kon. Ek was die hele dag op my foon en het rondgery van winkel na winkel om honderde liters water, energie drankies ens bymekaar te maak – goedhartige mense in Witrivier en Nelspruit het gegee. Ek het die Land Rover Klub…waarvan ek lid is….gevra om my te help om dit daardie aand na die myn te vat. Ek het ook as mens gereel dat Shoprite Checkers se sopkombuis soontoe gestuur word. Ens ens. Ek het ook my dienste as kinderoppasser aangebied aan Mike Begg indien enige kinders van die slagoffers liefde en aandag nodig gehad het. Ons joernaliste is nie almal dieselfde nie. Asb. Daar’s baie dinge waarvan julle nie weet nie. My woord is my woord en ek’s trots daarop. Dankie. Amanda Celliers-Coetzee (ex SAUK)

Gideon ·

Amanda dit was verseker nie op jou gemik nie. Jy en Anchen is joernaliste van integriteit en julle beriggewing het bygedra om openbare druk op die proses te plaas. So het julle stories ‘n aandeel gehad in die bietjie vordering wat al gemaak is. Jou bydrae buite jou spesialis veld het nie ongesiens verby gegaan nie.

Amanda Celliers-Coetzee ·

Baie dankie Gideon. Ek waardeer jou woorde. Daar’s soveel kere wat ons as joernaliste sleg behandel word omdat ons joernaliste is en ander in die beroep drooggemaak het en ons daaronder moet ly. Geen storie laat mens ongeraak nie. Maar more moet jy weer die volgende een gaan doen. Een van die redes hoekom ek nou ‘n “ruskans” van harde nuus neem. Groete hier uit die Laeveld :-)

Anchen Coetzee ·

Jip – my vriendin Amanda Celliers-Coetzee van die SAUK (voormalig) is ‘n yster. Sy is ook een van die wat nie ‘n storie op haar CV sal uitsonder nie. Ja, ek ken die tipe waarvan Gideon praat, maar gelukkig is daar die wat nie so is nie. Boonop het ek ‘n gemeenskap gehad wat hul redakteur gehelp het – Amanda het dit nie eens gehad nie. Dit is jammer dat ‘n paar van die wat hulle swak gedra die res ook soortgelyk laat voorkom. Iedergeval – dit is en bly ‘n hartseer storie – vir almal betrokke.

Amanda Celliers-Coetzee ·

Dankie Anchen – die feit dat jy gedoen het wat jy kon is amazing. Ek het gevind dat mense bereid is om te gee. Mens moet net vra. Die Laeveld het bewys hy kan saamstaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.