Menseregte vs. regte mense

Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond. (Foto: Verskaf)

Wat behels die debat oor menseregte alles? Ons het dalk afgestomp geraak, asof dit alles dalk net gaan oor stakings en loonverhogings. Soms misbruik ons selfs menseregte-argumente om maar net ons eie sin te kry en aanspraak te maak op ons eie regte. Kan ʼn Christen egter op ʼn geloofwaardige manier aan die menseregtedebat meedoen?

Kortliks kom die probleem op die volgende neer: Kan ek iets wat God in sy Woord aandui as verkeerd wel opeis as my eie reg? Vir die menseregte-aanhangers gaan dit juis daaroor dat geen “eksterne” bron buite die mens self mag besluit wat is sy eie regte en wat nie. Ons word deesdae veral gebombardeer met die eensydighede van die sogenaamde “woke-kultuur”, wat aanvoer dat iemand die reg het om aan te dring dat iemand anders se kultuur en tradisies vervang en vernietig kan word, as dit maar net sou kon aantoon dat die een of ander vorm van verdrukking aan te toon is.

Hoe moet Christene teenoor menseregte staan? Ons kry twee uiterstes wat nie een sal deug nie:

  • Aan die een kant is daar Christene wat so deur menseregte beïnvloed word dat hulle eintlik die Bybel prysgee. Hulle kan nie regtig die grens bepaal tussen ’n wettige reg (en aanspraak daarop) teenoor ’n onregmatige reg nie. Waar die wet van God, spesifiek die Tien Gebooie, nie meer ’n maatstaf vir regte van mense is nie, daar word die mens self vergoddelik.
  • Die ander uiterste is dat Christene so afgesit word deur die vreemde aansprake van menseregte-aanhangers dat hulle hul rug keer op enige verwysing na of aansprake op regte. Hierdie standpunt loop ongelukkig juis uit op verdere verdrukking van die mensdom omdat dit tirannie of chaos in die hand werk deurdat slegs ’n klein handjie vol mense, gewoonlik dié wat mag begeer of gegryp het, bepaal wat hulle as regte vir ander mense beskou of nie.

Is daar nog regte mense?

Voordat ons kan vra of menseregte verkeerd is of nie, moet ons dalk eers vra: Wat is regte mense? Die Bybel leer ons hier ’n wonderlike waarheid. Ons kan hier die volgende uitlig: Dis belangrik om te stel dat die mens na die beeld en gelykenis van God geskape is. Dit beteken dat God se oorspronklike bedoeling met die skepping nog altyd was dat die mens in verbondenheid met Homself moet lewe. Die mens se lewe en werk moet uitwys dat God se eie beeld aan die mens verbind is. Sake soos reg en verkeerd, geregtigheid en ongeregtigheid, regverdigheid en onregverdigheid, as enkeling en in groepsverband as die mensdom self, is aspekte wat nie los bedink kan word van God self nie.

Verder leer die Bybel dat die mensdom juis in sonde verval het in sy opstand en teenkanting teen God (Genesis 3). Die mens het nou vanuit sy eie rebellie teen God begin dink en praat oor sy eie reg. Die Bybel leer ons dat eie geregtigheid nie net verkeerd is nie, maar inderdaad juis die verskriklike sonde van afgodery is. Waar mens jou eie reg wil handhaaf, dít teenoor God en teenoor jou naaste, behels dit om met “regte” om te gaan sonder om God as die ware God te erken.

Weg van God af

Dit is iets wat ons as Christene altyd in die debat moet duidelik maak. ’n Gesprek oor menseregte – sonder om God as Skepper en Verlosser te erken in jou aansprake – is niks anders as die praktiese toepassing van afgodery nie. Afrikaanse Christene moet hulleself daarom nie laat verlei deur aan menseregte (en menseregtevierings) deel te neem, sonder om eers seker te maak nie: Word God as die Gewer van alle regte werklik erken?

Vanuit hierdie vertrekpunt het ons dan ’n handvatsel om ware en valse regte beter te onderskei. Waar iets teen die wet van God is (en die wet van God is juis gerig op en gebore uit die liefde van God), kan geen mens daarop aanspraak maak dat dit ’n reg kan wees om so op te tree nie. Geen mens het die reg om teen God se liefdesreëling op te tree en dan ’n eis in te stel om toe te sien dat dit plaasvind nie. Geen sonde van die mens is ’n reg nie. Kontemporêre menseregte-aanhangers ken nie hierdie grens nie. Hulle besluit uit hulleself wat is reg en wat is nie reg nie, dus wat is regte en onregte.

As Christene het ons die heerlike voorreg om te getuig van regte mense voor menseregte. ’n Regte mens, so leer die Bybel ons, is slegs moontlik deurdat God die Vader sy Seun ’n ware mens laat word het, dus ’n regte mens laat word het. Daardeur het Hy ons kom wys wat ’n regte mens is. Christus is nie maar net ’n goeie voorbeeld van ’n regte mens nie – Hy is die egte, ware regte mens self.

So leer die apostel Paulus ons: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as ’n prediker en apostel – ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie – ’n leraar van die heidene in geloof en waarheid.” 1 Tim 2:3-7. (Vgl. ook 1 Kor. 15:45 e.v.)

As Middelaar bemiddel Hy juis weer ons mensheid. Ons kan regte mense voor God en vir mekaar wees deur Christus en die Gees wat in ons woon. Regte mense het menseregte: dit is vryheidsgeskenke van God die Skepper en Verlosser. Regte mense weet wat menseregte regtig is. Dis om mens van God te wees. Dit kom alleen deur genade in Christus. Dit is om juis op Menseregtedag die waarheid in liefde te praat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wikus Buys

Dr. Wikus Buys is die uitvoerende direkteur van die Begrond Instituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

‘n Goeie vraag en antwoord sal verskil van mens tot mens. Wie stel jy eerste jou Christenskap en morele waardes of jou menslike kant wat ongelukkig dikwels verskil van die Bybel se riglyne? In die tye waar ons in leef het daar soveel standaarde verander dat sou jy beskeie en spaarsaam leef ander jou sien as inhalig en suining.
Ons beplanning in die lewe verskil so ook ons koers. As werkgewer sien jou werknemers jou anders as wat jy hulle sien. Balans hou tussen mense wat verskil van wat regte en menseregte beteken is absoluut gebaseer op persoonlike oordeel of visie van omstandighede.
Hulp aan ander is jou menslike en christelike plig maar dit kan nie ‘n ander persoon se reg wees om dit van jou te eis nie. So ook die opskorting van jou hulp as dit jou persoonlik nadelig raak. Dan is dit jou reg om jouself en geliefdes eerste te stel.
Waar woorde dat die Bybel gebruik word om persoonlike aksies te regverdig en te motiveer volgens eie vertolking.

Pieter9 ·

Stem saam met skrywer; God altyd eerste, ‘n eie siening/vertolking is onderhewig aan WOORD veto – indien ‘n persoon werklik ‘n oorgawe aan die Here gemaak het is hy’sy totaal NUUT gebore en is hy/sy GEES volkome volmaak herstel deur God. Ons siel en liggaam moet dan die pad loop, gelei deur die volmaakte GEES in jou met die Woord (Bybel) as padkaart. Dan sal ons vyf-sintuig lewe oor tyd al meer in harmonie kom met ons nuut gebore Gees-mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.