Menseregtedag – ’n tyd vir ernstige nadenke

menseregte

Argieffoto.

Deur Christine Botha, waarnemende direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Op 21 Maart word Menseregtedag in Suid-Afrika gevier. Die dag sal vir altyd onthou word vir die tragiese gebeure in Sharpeville op 21 Maart 1960. Op dié dag het 69 mense hul lewens verloor toe die polisie losgebrand het op ʼn skare wat protes aangeteken het teen die apartheidpaswette. Op hierdie dag word ons as Suid-Afrikaners herinner aan die duur prys van die beskerming en erkenning van menseregte in die Grondwet – wat ons deesdae as vanselfsprekend aanvaar. Die Handves van Regte (as dit toegepas word) is ʼn kragtige wapen wat deur die gewone man en vrou op straat gebruik kan word om die Staat se aksies te evalueer, die regmatigheid daarvan te toets en aanspreeklikheid af te dwing.

Die vraag is: Hoe vaar die staat in sy grondwetlike mandaat om menseregte te beskerm, te bevorder en te verwesenlik? As ons terugkyk op die jaar 2018, was die staat se poging om korrupsie te beveg en om iets aan die geloofwaardigheid van staatsbeheerde ondernemings en staatsdepartemente te doen, ʼn kritieke draaipunt van die afgelope 10 jaar.

Dit is belangrik om te onthou dat korrupsie en georganiseerde misdaad nie in isolasie beskou kan word nie. Korrupsie beïnvloed direk die staat se vermoë om menseregte te bevorder. Die konstitusionele hof het dit in die uitspraak van Glenister vs President of the Republic of South Africa bevestig. Aangesien korrupsie ʼn direkte invloed op die staat se institusionele vermoë en hulpbronne het, is dit juis die armstes in ons samelewing (wie se bestaan afhanklik is van die dienslewering van noodsaaklike dienste, soos gesondheidsorg en behuising) wat op die ou end daaronder ly.

Die verskeie kommissies van ondersoek oor korrupsie wat in 2018 aangestel is, die aankondiging van leefstyloudits vir staatsamptenare en die aankondiging van ʼn Nasionale Handleiding vir die aanstelling van raadslede van staat- en staatsbeheerde instellings, was almal positiewe ontwikkelinge. Hierdie ontwikkelinge moet egter opgeweeg word teen die omvang van korrupsie wat tydens hierdie kommissies geopenbaar was en ander skokkende onthullings, soos die R1,84 miljard wat gesteel is van VBS Mutual Bank deur die bank se senior bestuurders, direkteure en politici.

ʼn Ernstige kopseer vir Suid-Afrikaners is die oënskynlike stadige pas van kriminele ondersoeke na korrupsie en die gebrek aan pogings om gesteelde geld op te spoor en te verhaal. Die vermoë om korrupsie te beveg, word ernstig bevraagteken in die lig van die onthullings in die 2017/18-jaarverslag van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging wat aangedui het dat R135 miljoen benodig word om 244 kritiese vakatures in die Nasionale Vervolging te vul.

Alhoewel die geveg teen korrupsie en georganiseerde misdaad krities is, is die herhaaldelike mislukking van staatsdepartemente om die ouditeur-generaal (OG) se aanbevelings toe te pas, ʼn akute aspek wat die staat potjie in die verwesenliking van menseregte. Hierdie onbegryplike en herhaaldelike mislukking kom weer eens ten koste van die armstes in ons samelewing – hulle wat lewensafhanklik is van die staat se vermoë om toegang tot behuising, gesondheidsorg en onderwys moontlik te maak.

In die OG se gekonsolideerde verslag van November 2018 oor nasionale en provinsiale oudituitkomste, beklemtoon die OG die skokkende toename van vrugtelose en verkwistende uitgawes wat van die vorige jaar met meer as 200% gestyg het tot R2,5 miljard. Sonder om enige doekies om te draai, het die OG daarop gewys dat hierdie situasie hoofsaaklik veroorsaak word deur die versuim van staatsdepartemente om sy aanbevelings toe te pas. Die OG het ook uitgelig dat daar dringend in die provinsiale departemente van gesondheid, onderwys en openbare werke ingegryp moet word, aangesien hulle die swakste ouditresultate toon. Hierdie departemente vorm die fondament van die staat se noodsaaklike dienste.

Hierdie ernstige situasie kan dalk in die toekoms (in ʼn mate) behoorlike aandag geniet deur die Wysigingswet op Openbare Oudit, wat in 2018 onderteken is. Die wet (wat nog in werking moet tree) sal die OG van addisionele magte voorsien, soos om skulde direk van verantwoordelike partye in hul persoonlike hoedanigheid te verhaal. Alhoewel die wet aanspreeklikheid sal versterk, is daar wel kommer of die OG se kantoor die kapasiteit besit om siviele eise van hierdie aard te hanteer en of daar nie moontlike konflik en duplikasie is met die staatsprokureur se funksie nie.

Die impak van korrupsie en wanadministrasie op menseregte is dalk makliker om te monitor ten opsigte van sosio-ekonomiese regte, soos toegang tot gesondheidsorg en onderwys, maar dit is belangrik om te onthou dat daar ʼn sterk onderlinge verwantskap is tussen regte in die Handves van Regte.

Met die kwessie van misbruik van hulpbronne kom die reg van gelykheid veral na vore. Volgens die Gini Index (ʼn manier om ekonomiese ongelykheid te meet) is Suid-Afrika die mees ongelyke samelewing ter wêreld. Volgens ʼn 2018-navorsingstuk van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IGV) oor hul 2017 Suid-Afrikaanse versoeningsbarometer, meen 46% van Suid-Afrikaners dat ongelykheid (met verwysing na die gaping tussen ryk en arm) sedert 1994 vererger het. Die IGV-dokument beklemtoon dat ongelykheid ook ervaar word ten opsigte van magsverskille en toegang tot hulpbronne.

Die staat se pogings om gelyke toegang tot geleenthede moontlik te maak, moet baie meer genuanseerd wees. Volgens die World Report 2019 (Human Rights Watch se jaarlikse oorsig) is dit skokkend dat 600 000 kinders met gestremdhede in Suid-Afrika nie toegang tot onderwys in 2018 gegun is nie. Kinders met gestremdhede ervaar verskillende vorme van diskriminasie wat aandag verdien. Hierdie situasie vereis dringende staatsingryping.

Ook op die gebied van billike indiensneming is daar ʼn tekort aan ʼn genuanseerde benadering. Die Menseregtekommissie se Gelykheidsverslag van 2017/18 het sterk aanbeveel dat die Wet op Gelyke Indiensneming gewysig moet word om teikengroepe volgens behoefte, en met inagneming van sosiale ekonomiese aanwysers, te identifiseer. Die voorgestelde Wetsontwerp op Billike Indiensneming van 2018, wat nou numeriese teikens in verskillende beroepsektore voorstel vir mense van aangewese groepe (met ander woorde swart Suid-Afrikaners, vroue en persone met gestremdhede) hanteer glad nie sosiale ekonomiese ongelykhede nie en is ver verwyderd van ʼn genuanseerde benadering wat so dringend nodig is.

Die bevordering en beskerming van menseregte deur die staat is afhanklik van die staat se pogings om korrupsie te beveg en effektiewe bestuur van hulpbronne te hervestig. Maar hierdie poging moet gepaardgaan met staatsinisiatiewe wat spesifiek sosiale ekonomiese ongelykhede teiken.

As dit nie die staat se eerste prioriteit is nie, sal die gaping in ongelykheid net nog groter word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Al die sogenaamde regte in die konstitusie word gebalanseer deur ‘n verpligting vir die individu wat daardie reg wil op-eis. Bv. Ek het die reg tot goeie opvoeding…..die verpligting op my is om op te staan, my skoolklere aan te trek, klas by te woon, huiswerk te doen, te leer vir my toetse en eksamens en hulle te slaag. As ek kies om in die bed te bly lê kan ek nie die reg tot goeie opvoeding op-eis nie. Die enigste reg wat NIE gebalanseer is nie, is die REG TOT LEWE. Dit behoort gebalanseer te word met die REG OM NIE TE LEWE NIE…en vier voorwaardes behoort vir die konstitusionele hof ‘n teken te wees dat ek my reg om NIE te lewe NIE wil op-eis, en behoort daar nog 5 demokratiese keuses vir my te wees, nl. Galg, Inspuiting, Vuurpeleton, Gaskamer of Elektriese Stoel. Dit maak my verantwoordelik vir die uitkoms van my eie lewe na gelang van die keuses wat ek maak….en net ek is verantwoordelik daarvoor. Niemand “straf my dood” nie, en niemand veroordeel my dade nie. Ek vermoor iemand, smokkel dwelms, verkrag ‘n kind of pleeg ‘n gewapende rooftog…..en wys daardeur dat ek die “REG OM NIE TE LEWE NIE” wil op-eis, en behoort my lewenskeuses op erg demokratiese wyse erken en gerespekteer te word. Dis tyd om te begin druk om die konstitusie te gebruik waarvoor dit daar is…..om mense se regte te erken en te beskerm.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dirk, ek weet wat die argumente TEEN die doodstraf is…en ek stem daarmee saam. Ek ondersteun nie die doodstraf nie……….ek ondersteun pro-keuse en demokrasie. Dit wat ek hier beskryf antwoord elke “argument” oor die doodSTRAF…..Ek is ‘n voorstaander van die uitbreiding van menseregte en keuses……….Gaan lees weer: As jy KIES om 1. ‘n moord te pleeg, 2. Dwelms te smokkel, 3. ‘n kind te verkrag, of 4, ‘n gewapende aksie te pleeg dan KIES jy om jou reg om NIE te lewe NIE op te eis….en ondersteun ek jou keuses in daardie verband en help jou om dit vir jou te laat realiseer. Wat verstaan jy nie? Ek straf niemand nie, ek oordeel niemand nie….ek respekteer jou keuses, en die gevolge daarvan, en ek gun jou daardie keuses in ‘n demokratiese bestel….. As jy die reg tot lewe kies……….moenie een van die 4 beskrewe aksies uitvoer nie……….dan kies jy om te lewe, en weereens respekteer ek jou keuses.

John ·

Genuanseerde chaos… Duidelik wou die destydse betogers nie ‘n demokratiese bestel hè nie, maar beheer oor alles ….en nou is ons boot and all waar hulle wou wees. Hoekom nie nou tevrede wees en werk en ontwikkel nie? Die towerlamp is nou in die ANC se hand… hy weet moes net hoe om die lamp blink te vryf. Hoekom spring die towerklong nie uit nie?

Jerry ·

Die ANC staat, selfs die EFF, inteendeel alle revolusioneres is verhewe bo alle wetgewing en vervolging, ingesluit menseregtevergrype, korrupsie ens. Die modus operandi van die staat is om dmv misleiding dubbele standaarde toe te pas soos dit hulle pas en om doelbewus sekere teenrevolusionere groepe te isoleer en uit te sluit uit deelname aan die ekonomie en uiteindelik ook uit die politiek! Sodra hulle klaar is met een groep, gaan hulle oorbeweeg na die volgende groep. Die staat beskerm dus doelbewus net die menseregte van die revolusionere groep.

Gert ·

Menseregte is eintlik doublespeak vir swart regte. Wittes het nie regte nie, soos oa Malema gereeld verduidelik.

Max Berg ·

Dank aan die polisiemanne wat in doodsgevaar verkeer het terwille van wet en orde.

Nel ·

Miskien sal dit beter met ons land gaan as Menseregtedag eerder met ‘n Selfverloëningsdag vervang kan word.
Andrew Murray het in sy boek, Die Goddelikke Geheim, geskryf dat menseregte – soos uit ‘n Christelike perspektief verstaan – lynreg teenoor selfverloëning staan. Hy noem Christus as voorbeeld. Sy lewe op aarde het ‘n streep deur menseregte getrek deur sy verheerliking van God en nie Homself nie. En dit is mynsinsiens wat fout is met Menseregtedag nl die selfverheeliking van die eie ek.
Die ongelowige glo dat mense met sekere onaantasbare regte gebore word, maar die Bybel ken aan die mens slegs regte toe wat God aan hom toeken – nie regte nie maar voorregte wat met verantwoordelikheid gepaard gaan!

Dr P E van der Dussen ·

Dankie Nel! Menseregte is van die Satan wat die eerste mense verlei het om te begeer wat hulle nie toekom nie terwyl hulle alles ja alles gehad het wat hulle nodig gehad het om die HERE ten volle en geluksalig te dien. Selfs die voor-regte wat ons as mense van God ontvang is maar net onverdiende genade uit barmhartigheid. Wie hom daardie genade as “reg” toe-eien, sondig. Maar die gelowige dank elke oomblik van sy lewe die HERE. Boweal dank hy/sy die HERE vir vergiffenis en kwytskelding van ingebore geneigdheid om te sondig. Menseregte is inderdaad Mammonsdiens – elke mens se reg om met die minste moeite soveel moontlik voordeel vir homself te bekom sonder om enigsins ander mense in ag te neem. In Kolossense 3:5 se die Heilige Gees deur die Apostel Paulus: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is.” Almal behels dat elke mens self besluit, die reg van elke mens om daaroor te besluit. Wat beteken menseregte in eie sin is afgodediens – vertroue in iemand anders as die HERE te stel. Dit verwerp die allesoorheersende gesag van die Drie-Enige God uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is. Menseregte staan regstreeks teenoor die Bybelgeloof.

Ra Amon Khan ·

Andrew Murray was n Vrymesselaar en deel van die Brotherhood (Broederbond)wat die grond en mineraalregte van RSA ontneem het om in ruil daarvan die land oor te gee na n ander Vrymesselaar naamlik Nelson Mandela…..maar die liberale media sal dit nie verkondig nie.

Watnou ·

59 jaar sedert 69 mense dood is by Sharpeville en dit word elke jaar onthou, net 59 jaar voor dit(1901-1902) is ʼn geraamde 18000 van hulle mense dood in Britse konsentrasiekampe, en die mense weet nie eers daarvan nie.

Veritas ·

Watnou, jy is verkeerd wat betref dat ons dit nie onthou nie. My ouma was in die konsentrasiekamp toe daar ‘n uitbreek van masels was en al die kinders in die reën moes gaan staan. As gevolg hiervan het sy blind geword. Jong meisies soos sy, 12 jaar oud, was gedwing om ‘ vriendelik te wees’ met die engelse soldate. Jy kan maar jou eie afleiding maak van wat dit sou beteken.
Nee-wat, vir ‘n engelsman het ek minder gevoel as vir ‘n dooie vlieg.

Gert ·

Veritas, ek dink Watnou verwys na swartes wat dood is in die konsentrasiekampe, hulle vergeet dit of weet dit nie maar onthou die paar van Sharpeville.

George in Bloem ·

Die skrywer het my verloor met die snert wat sy praat in die eerste sin of twee van die stuk. Losgebrand? Duidelik het sy haar nie vergewis van die die feit dat hierdie ‘n baie geweldadige en dreigende skare was nie en ook nie van die feit dat vriende en kollegas van die polisiemanne in die tydperk nie baie lank voor die Sharpville skietery in ‘n soortgelyke voorval op die allerwreedste maniere om die lewe gebring is nie. Dis sekerlik elke mens se goeie reg om jou mening te lug maar mens kan tog seker probeer gebalanseerd wees soveel jy kan en so ver moontlik of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.