MRK se sensasiesoekery is klad op sy naam

Deur Glynnis Breytenbach

Adv. Glynnis Breytenbach. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die onlangse dood van 13-jarige Enoch Mpianzi op ’n skool-oriënteringskamp is ʼn tragedie wat nooit toegelaat moes word om te gebeur nie.

Enoch se gebroke familie en sy getraumatiseerde klasmaats verdien antwoorde, en diegene wat verantwoordelik was vir die omstandighede wat tot sy dood gelei het, moet na ’n deeglike ondersoek geïdentifiseer en aanspreeklik gehou word.

Die oomblik toe Buang Jones, die waarnemende regshoof van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), egter betrokke geraak het, het die vooruitsig op ʼn regverdige ondersoek in ligte laaie opgegaan. Namens die MRK het Jones goedsmoeds ʼn moontlike misdaadtoneel betree, oorhaastige afleidings gemaak en groepsgeregtigheid aangemoedig.

Toe Jones laas Donderdag toegang tot die Nyati Bush Breaks Lodge probeer afdwing het, het hy die integriteit van ʼn moontlike misdaadtoneel in gedrang gebring en meer opgetree soos ’n selfbehepte opportunis eerder as iemand wat homself beywer vir die beskerming van die openbare belang.

Ongelukkig het die MRK ʼn lang geskiedenis van bevlekte of partydige ondersoeke. Mpianzi is bloot een van die slagoffers van hierdie gebrek aan integriteit.

Die werklike klad op die MRK se naam is dat die entiteit se soeke na sensasie in prominente aangeleenthede afspeel ten koste van ʼn krities-belangrike aspek van sy mandaat wat grootliks geïgnoreer word. Die MRK is veronderstel om die regering te monitor en by te staan met die implementering van sosio-ekonomiese regte landwyd, veral waar die regering te kort skiet.

Toegang tot water is byvoorbeeld ʼn basiese reg. Dit is dus nie onredelik om te vra wat die MRK doen oor die daaglikse skending van hierdie reg in Suid-Afrika nie. Ernstige watertekorte het byvoorbeeld gelei tot die dood van ’n agtjarige meisie. Ondersoek die MRK dit? Indien wel, word dit ondersoek met dieselfde aggressiewe entoesiasme waarmee uitgesoekte rasbelaaide sake ondersoek word?

Jaar ná jaar is daar dosyne sterftes as gevolg van besnydings wat nie veilig uitgevoer word nie. Hier is die MRK nêrens te sien nie. Is dit omdat hierdie sterftes nie prominent genoeg is nie, of dien hulle nie die rasagenda van die ANC, hul Twitter-trolle en populistiese aanhangers nie?

Totdat menseregteskendings wat deur die regering se wrede, nalatige, of onbevoegde optrede veroorsaak word, nie ook ondersoek word nie, sal die MRK se kredietwaardigheid aanhou bevraagteken word.

’n Geveg namens alle Suid-Afrikaners

Toe die MRK in Oktober 1995 op die been gebring is, was die idee dat hierdie organisasie toegewy sal word aan die beskerming van die menseregte van almal, sonder vrees of vooroordeel.

Die MRK se mandaat spruit uit die Wet op die Menseregtekommissie van 1994. Die MRK beskryf hulself as ʼn onafhanklike instansie wat nie verbonde is aan enige politieke party of die standpunte wat deur enige spesifieke politieke party gehuldig word nie.

Maar, soos so dikwels die geval is, het die droom van ʼn onafhanklike waghond wat vir die regte van alle Suid-Afrikaners baklei, verdwyn in ʼn donker wolk van vooroordeel, politieke besluitneming en raspopulisme. Eerder as regverdige prosesse en deeglike ondersoeke met die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart, kan mens – as Jones se gedrag enige aanduiding is – die MRK nou met reg beskuldig daarvan dat hulle ’n sogenaamde boendoereg (mob justice) aanmoedig.

Hierdie tendens is veral duidelik te bespeur in die tragiese afsterwe van Enoch. Die familie het ’n kind op ʼn sinnelose en tragiese manier verloor. Daar is geen twyfel dat geregtigheid moet geskied nie – en dat, in hierdie geval, diegene wat verantwoordelik is vir die omstandighede wat tot Enoch se dood gelei het, vir hul dade aanspreeklik gehou word.

Vals pronkery, seepkispolitiek en massamobilisasie gaan ons nie help om die onderliggende oorsake van Enoch se dood te identifiseer ten einde seker te maak dat ’n soortgelyke tragedie nie weer afspeel nie.

Adv. Buang Jones, hoof van die MRK se regsafdeling. (Foto: Twitter)

Die MRK moet beslissend teen Jones optree – hierdie is nie die eerste keer dat Jones, en by implikasie die MRK, so laakbaar optree nie. Jones is egter nie die enigste lid van die MRK wat die reputasie van hierdie hoofstuk 9-instelling in gedrang bring nie. Mens kan maar net kyk na verskeie ander ooglopend politiese sake om dit duidelik te verstaan.

In die geval van Julius Malema is klagtes by die MRK gelê wat hom daarvan beskuldig dat hy uitsprake soos “Kill the Boer” gebruik het, en gesê het dat hy “nog nie” vra vir ʼn slagting van wit mense nie. In Maart 2019 bevind die MRK egter dat Malema se uitsprake nie neerkom op haatspraak nie. Die MRK maak in sy beslissing die belaglike standpunt dat sosiale en historiese konteks in ag geneem moet word, en dat sulke uitsprake anders behoort beoordeel te word afhangende van of dit deur ʼn swart of wit persoon gemaak is.

Wat die MRK eintlik sê, is dat oortredings van ʼn wit persoon teenoor ʼn swart persoon ondersoek moet word en teen opgetree moet word. Maar wanneer die oortreder ʼn swart persoon is, moet sy gedrag in historiese konteks gesien word. Dit is niks anders nie as om mense kwyt te skeld van menseregtevergrype op grond van hul ras.

Wat ʼn mistasting van geregtigheid! Die MRK se mandaat is juis om op onpartydige wyse dieselfde kriteria toe te pas op alle oortreders, ongeag hul ras. In plaas daarvan om werklik na die feite van die Malema-saak te kyk, erken die MRK openlik dat hulle hom van blaam onthef omdat hy swart is en die oortreding teen ʼn wit minderheidsgroep geskied het.

Vergelyk dit ook met die Eben Etzebeth-geval. In Augustus 2019 is die Springbokrugbyspeler daarvan beskuldig dat hy rassistiese taal gebruik het en by ʼn moontlike geveg betrokke was in Langebaan.

Die MRK het feitlik onmiddellik met ʼn ondersoek weggespring – waarin Etzebeth sy volle samewerking gegee het. Kort ná die voorval het die einste Jones Langebaan besoek en volgens wat berig word, aan die gemeenskap gesê dat hy ʼn “voorbeeld” van Etzebeth wil maak sodat “ander rassiste” sal leer dat hul uitsprake onaanvaarbaar is. Hy het klaarblyklik ook gesê dat Etzebeth gewoond daaraan is om “weg te kom met moord”.

Die MRK het Etzebeth voor die Gelykheidshof gedaag ten spyte daarvan dat die hoof van die MRK, adv. Tseliso Thipanyane, gewaarsku het dat daar nie genoeg bewyse is om Etzebeth skuldig te bevind aan haatspraak nie.

As die mediaberigte bestudeer word, word dit duidelik dat die MRK meer belanggestel het in wat die gemeenskap van Langebaan sal sê as hulle nie die saak voluit voer nie, as wat die beskikbare getuienis sê.

Gebrek aan aksie

Ons moet daarom nie verras wees dat die internasionale organisasie, Human Rights Watch (HRW), se 2020 World Report aandui dat Suid-Afrika se menseregteprestasie agteruit gaan nie.

Hierdie behoort vir alle Suid-Afrikaners ʼn saak van erns te wees. Die waghond wat gestig is om ons menseregte te beskerm, is in der waarheid tandeloos. Dit is deur die ANC gevang en toegesluit, en gewone Suid-Afrikaners is as gevolg daarvan geweldig weerloos.

Hierdie is nog ʼn tragiese voorbeeld van staatskaping. Om die integriteit en geloofwaardigheid van ons instansies weer op te bou, sal dekades neem.

  • Glynnis Breytenbach is ʼn voormalige staatsaanklaer en nou die DA se skaduminister van justisie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

jones is sekerlik “bang” sy naam sal nie opgeteken word as ‘n rassis en ‘n bevooroordeelde outjie nie,
shame, ek wil ook gesien word, die mrk bestaan mos net uit my

Chris ·

Ek slaan my hande telkemale in byna ongekende ongeloof oor die banale uitsprake, optrede en handhawing van openbare figure saam. Die “openlike verbloemde rassisme en misnoeë” wat teenoor ‘n sekere deel van die bevolking uitgespreek word is opvallend. Verstaan die mense nie dat hulle in diens staan van almal en van die burgers en belastingsbetalers afhanklik is nie. Die onvermoeë van die persoon om te dink almal is nie toerekeningsvatbaar gaan my verstand ten bowe. Hier is die Ingelse gesegde wat lui van toepassing, “an unasked opinion is a sign of stupidity”

Jan ·

Die MRK, net soos Malema, is maar net spreekbuise vir die regering

Sarel ·

Alreeds van tevore sy naam gat gemaak masr sit sit hy?
Hoekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.