ʼn ANC-lidmaatskapkaart word ʼn lojaliteitskaart

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

Verlede naweek het Sondagkoerante die onverkwiklike stand van gebeure uitgelig by Transnet. Die berigte, in veral die Sunday Times, is gebaseer op drie goedgeplaaste bronne wat ingelig is oor die Transnet-situasie.

Volgens die bronne het die Transnet-direksie ʼn lys van drie voorkeurkandidate vir drie senior aanstelling aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voorgehou. Die berig wil dit  hê dat die betrokke kandidate geweeg is en te lig bevind is deur sommige lede van die ANC se ontplooiingskomitee. Hulle het die aanstellings blokkeer na kommer oor transformasie, aangesien nie een van die drie swart Afrikane is nie.

Dit getuig van die ANC se voortdurende naïewe optrede binne die transformasie-debat. Dae later het Gwede Mantashe in die staatsrededebat selfs aangedui dat hulle sal voortgaan met die beleid.

In dié geval word die ANC se ontplooiingskomitee se gesag skynbaar hoër geag as die van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat gebaseer is op gelykheid, die oppergesag van die reg, en die inherente waardigheid van elke burger. Die drie nie-Afrikaan-kandidate vir aanstelling by Transnet het gedink hulle sal ook gelykheid en nierassigheid ervaar.

Veral in hoofstuk 10 van die Grondwet, wat handel met openbare administrasie (artikel 195 (1)(h)), moet openbare instellings in die breë verteenwoordigend wees van die Suid-Afrikaanse bevolking – met indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke wat gebaseer is op vermoë, objektiwiteit, billikheid en die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig. Dit is skynbaar nie van toepassing op die ontpllooingskomitee van die ANC nie.

Twee Transnet-steenkooltreine het op 14 Januarie 2024 by Elubana naby Richardsbaai gebots en ontspoor. (Foto: X / Traffic SA)

Transnet wat reeds sukkel om te funksioneer as gevolg van die uitvloei van kundigheid word al meer ʼn slagoffer van die regering se rasbeleid wat slegs swart Afrikane in leierskapsposisies wil aanstel ongeag ervaring, meriete of kundigheid. Dit is die gevolge van die beleid van transformasie. Die ANC se ontplooiingskomitee tree ongrondwetlik op (vergelyk artikel 195 oor die staatsdiens): “Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat die persoon ʼn bepaalde politieke party of saak steun nie.”

Die ANC en die regering se gedienstigheid aan die ANC se ontplooiingskomitee in stede van die Grondwet, bevestig opnuut dat ras-ideologie die dryfveer moet wees en dat die ANC al dieper in die moeras wegsak, en hoe meer hulle daaruit probeer kom hoe meer slagysters en landmyne word afgetrap. Transnet en soveel staatsondersteunde entiteite word gedwing om in die rassespel saam te speel in ʼn wedstryd waarvan die spelreëls deur die ANC bepaal word, terwyl hy aan die een kant die skeidsregter is en terselfdertyd die doelpale skuif, soos en wanneer dit hom pas.

ʼn ANC-lidmaatskapkaart het niks anders geword as ʼn lojaliteitskaart nie, met kader-ontplooiing as een van die belonings. Toegang tot tenders, blouligbrigade en BBP-voorkeurbehandeling is maar en van vele voordele. Blinde en slaafse navolging van die voorskrifte van Letuli Huis is die enigste vereiste en nie meriete of bevoegdheid nie.

Die ANC se verknogtheid aan ʼn rasgedrewe beleidsraamwerk onder die dekmantel van transformasie word geïnterpreteer en toegepas buite die letter en gees van die Grondwet. Hierin is daar nie plek en ruimte vir wit, bruin of Indiër burgers nie. Slegs Swart Afrikane is in die rashandboek van die ANC. Die ironie is dat die term transformasie nie een keer in die Grondwet voorkom nie, maar dit is waarskynlik die term wat die meeste gebruik word om ʼn bepaalde politieke ideologie te pas en te dryf. Van werklike gelykheid, nierassigheid en nie-diskriminasie is hier dus nie sprake nie.

Huidige nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

In sy eenvoudige verstaan van die toepassing van transformasie, volgens die ANC, is dat alles wat wit, bruin en Indiër is met swart vervang moet word. Soos wat dit nou toegepas word, word die staatsdiens vervreem en ontneem van ʼn professionele diens

Die doel van ʼn professionele staatsdiens is om die belange van die publiek te dien, die regeringsbeleid uit te voer, en om ʼn regverdige, etiese en doeltreffende regeringsdiens aan die samelewing te bied. ʼn Professionele staatsdiens verwys na ʼn openbare diens wat deur gekwalifiseerde en ervare individue beman word en wat toegewyd is aan die effektiewe en etiese uitvoering van regeringsverantwoordelikhede. Hierin speel meriete ʼn groot rol en nie die nukke en grille van die ANC se ontplooiingskomitee nie.

Die ANC se ontplooiingskomitee wat transformasie dryf waarin “Black African” ten alle koste aangestel word, verreken nie die gevolge en konsekwensies nie. Die skrootwerf van rasaanstellings in die staatsdiens en staatsondersteunde instellings, soos Transnet en Eskom, is besaai met die brokstukke van nepotisme, kader-ontplooiing en gevolglike korrupsie en mislukkings.

Terwyl die Grondwet verwys na die ongeregtighede van die verlede is die regering, ondersteun deur die ANC-ontplooiingskomitee besig om nuwe onreg in die hede te skep. Die geskiedenis sal hard oordeel oor die aandadigheid van die ANC binne die grondwetlike bestel wat apartheid moes vervang het, maar eerder ʼn stelsel gevestig het met nuwe onregte deur ras-manipulering en nuwe diskriminasie.

Die strewe behoort op toepassing van die beste praktyke in die wêreld te wees, met die beste mensmateriaal om enigsins globaal te kan meeding.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kroo ·

Lidmaatskap kaarte verseker ongelukkig nie Integriteit, eerlikheid, selfrespek en produksie en samewerking nie

Kosie ·

En toe die Afrikanerbond so flink vir hulle lede poste verseker het te koste van ander wat beter en meer bekwaam was, was dit skynbaar nie ‘n probleem nie. Die Afrikanerbond is mos goed bekend met die konsep van “kader ontplooiing”?

Vrijburger ·

Ai Kosie, jou antwoord vir ons huidige probleem is om 40+ jaar terug te gaan krap vir moontlike ooreenstemmings as regverdiging? Amuseer my, as dit dan so is dat daar ooreenstemmings is – verduidelik vir my die radikale verskillende uitkomste?

OW ·

@Kosie.Ek stem.Daar is so ‘n mate van ‘n verskil,in die sin dat die broederbonders wat aangestel was,die meeste darem kundigheid gehad het,wat die ontplooiingskomitee van die ANC glad nie het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Onbevoegde Broeders is destyds wel aangestel in hogere poste, maar hulle kon darem steun op bekwame werkers op laer vlakke, selfs in die private sektor. En dis op middelbestuursvlak waar die uitvoering gedoen word. Vandag se kaders in hogere poste het nie daai ondersteuning op laer vlakke nie. Maar ons almal weet dat SA gedoem is. Dis ‘n wegholtrein wat reeds oor die afgrond is. Dis hopeloos te laat vir omdraai en regruk.

Manie ·

Ek vind dit lagwekkend dat daar nog steeds instansies is wat besighede bel om hulle kamtig te wil help met BEE registrasie. Ek sit die gesprek net lekker aan die gang en sit dan die telefoon op my lessenaar neer en gaan stap ‘n draai. Wanneer ek na so 10 minute terugkeer, is dit sjoepstil.

annie ·

Interessant dat die onbekende haas wat uit die hoed gespring het so voor die verkiesing, ene Roger Jardine, se pa een van Mandela se meelopers was uit die dae van Liliesleave Farm in Rivonia (+-1963); ‘n erge teenstaander van apartheid. Die groep onder Mandela wou mos destyds die land met geweld oorvat. Die vrae oor RogerJardine se ras en godsdiensagtergrond bly onbeantwoord, maar hy is die super-duper bankbestuurder wat nou skielik glo hy is die man om Suid-Afrika op die pad te plaas wat die ou ANC-kaders beoog het. Dit is natuurlik as hy ‘n R500 biljoen-lojaliteitsfonds kan opbou… Help tog die man… Al ken julle hom van g’n kant nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.