’n Boeregeneraal in Afrika

Oudgenl. Constand Viljoen, Foto: Ian Barbour/Flickr/Commons Wikimedia

Oudgenl. Constand Laubscher Viljoen, voorheen die hoof van die Suid-Afrikaanse Leër (1977-1980) en hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag (1980-1985), is op 3 April 2020 oorlede.

Viljoen se geskiedenis sal in ’n politieke orde soos Suid-Afrika omstrede bly. Dit geld vir sy rol in die Grensoorlog en tydens die dreigende Afrikaner-opstand in die 1990’s. Suid-Afrika se Grondwet sou egter anders gelyk het as hy, in plaas van FW de Klerk, namens Afrikaners met die ANC onderhandel het.

Familie

As mens met Viljoen gesels het, het jy die indruk gekry van ’n presiese persoon, iemand met beginsels en energie. Hy was plat op die aarde, beleefd maar reguit, soms met ’n vonkel in die oog.  Soos van die antieke Romeinse generaals, was hy met oorgawe soldaat én boer. Dit was sigbaar in sy boerehande en sy liefde vir die natuur.

Die Viljoens het swaarkrydae geken. Viljoen se oupa aan vaderskant, ’n diep godsdienstige man, het vir die Boere geveg en was ’n krygsgevangene. Sy pa moes hulpeloos toekyk hoe sy broertjie en twee sussies voor sy ma in die Standerton-konsentrasiekamp sterf.

Viljoen is op 28 Oktober 1933 in Standerton gebore. Sy pa, ’n boer en Jan Smuts-ondersteuner, is dood toe Viljoen veertien jaar oud was. Sy ma het hom en sy tweelingbroer en suster as enkelouer grootgemaak.

Militaris

Viljoen het in 1951 by die Leërgimnasium begin. Hy het hom ingeleef in die aktiewe lewe van soldaat-wees en hoë standaarde nagestreef. ’n Generaal het, toe hy nog kaptein was, droog opgemerk dat hy darem nes ’n generaal salueer.

Viljoen was ’n haastige man wat gelukkig was as hy voel dat hy nie sy lewe verkwis nie. Hy sou na ander se idees luister, maar hy kon veral ’n situasie snel opsom, ’n besluit neem, en dit met energie deurvoer. Sy troepe het hom tereg Stofstrepie genoem.

Stofstrepie

Viljoen het geglo ’n generaal moet ook voor kan lei. Die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) het operasies teen die Suidwes-Afrikaanse Volksorganisasie (Swapo) in Suidwes (later Namibië) en tot steun van die Angolese Nasionale Onafhanklikheidsbeweging (Unita) in Angola uitgevoer. Dit het sy seniors soms sooibrand gegee, maar hy het verskeie kere op die front saamgeveg. Sy voorbeeld het groot respek en lojaliteit by sy soldate ontlok.

Daardie band was wedersyds. In ’n onderhoud noem hy: “As ek eendag sterf, sal ek waarskynlik sterf terwyl ek dink aan my troepe. Hulle was uitstekend. Bruin, swart troepe, blanke troepe. Die beste weermag in Afrika.”

By die 40ste reünie van Operasie Savannah-veterane het ’n bejaarde Viljoen entoesiasties genoem wat hom in die hitte van die stryd opgeval het: Sy soldate se ondernemerskap as dinge skeefloop. ’n Boer maak ’n plan.

Dilemmas

Die “Boere” was ook die skeldwoord van die ANC vir diegene wat hulle sien as onderdrukkers. Die historiese dilemma van Afrikaners was hoe ’n klein en verdeelde volk nie ander groepe oorheers of deur sterker of getalryker kragte oorheers word nie. Ook tydens apartheid het dit Viljoen se aksieruimte gevorm.

Die Koue Oorlog tussen die VSA-geleide Weste enersyds en die Sowjetunie en China andersyds, het in 1947 uitgebreek. Soldate soos Viljoen was later bekommerd oor die Oosbloklande as nuwe imperialiste. Hulle kon die golf van swart nasionalisme ry en dan deur konvensionele oorlog of insurgensiestryde hul gesag in Suider-Afrika vestig.

Afrikaniseer militêre doktrine

Viljoen was as bevelvoerder van die Leërkollege in die 1960’s ’n voordenker om Suid-Afrika se militêre doktrine te Afrikaniseer. Leopold Scholtz noem in Die SAW en die Grensoorlog, 1966-1989 dat Suid-Afrika ná die twee Wêreldoorloë ’n statiese militêre doktrine behou het. Die behoud van gebied was die fokus. Die afstande en grense van Suider-Afrika, die terrein en die beperkte mannekragpoel het egter ’n ander benadering geverg.

Viljoen het genoem dat die vyand na ’n gunstige slagveld gelok moes word. Dit moes dan deur verrassing, ontwrigting, mobiliteit en vuurkrag uitgeskakel word. Hy en van die offisiere om hom het tydens operasies die doktrine getoets. Daarna het hulle gehelp dat veranderings in opleiding, bevelformasies en wapentuig die doktrine uitvoerbaar maak.

Die sukses daarvan het nie net respek vir die SAW by Afrikaregerings versterk nie. Afrikaleiers soos Mobutu Sese Seko van Zaïre en Jonas Savimbi van Unita in Angola het Suid-Afrika ook genader vir hulp.

Wen harte en gemoedere

Baie kommentare oor Viljoen noem sy rol in die semikonvensionele- en konvensionele stryd, en tereg. Hulle mis egter soms die belangrike rol van teeninsurgensie in sy benadering.

Vanaf 1960 het Viljoen die studies oor teensinsurgensies deur David Galula, John McCuen, André Beaufre en andere bestudeer. Galula het genoem dat sulke stryde 20% militêr en 80% polities was.

Nie die vyand se krygsmagte nie, maar die bevolking was die swaartepunt. Krygsoorwinnings moes tyd koop vir die politici om deur hul beleid die insurgente se bevolkingsteun te oorbie.

Viljoen en Mandela se leeslys

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het na gesprekke met Mao Zedong in 1960 besluit dat die ANC, hul bondgenoot, Umkhonto weSizwe (MK) as wapenmag moet stig. Die historikus Stephen Ellis noem in External Mission dat Nelson Mandela, wat toe ’n lid van die ANC en SAKP se leiergroep was, MK se stigtingsvergadering bygewoon het.

Mac Maharaj, een van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP)-denkers, meld in die Financial Times van 26 Julie 2016 dat Mandela by hom boeke bestel het oor suksesvolle teeninsurgensies. Viljoen en Mandela het in die 1960’s dieselfde boeke gelees.

Waardes en vuil hande

Reeds in die laat 1960’s was Viljoen krities omdat die regeringspolitici ongekoördineerd swart strewes hanteer. Onder PW Botha, wat in 1978 premier geword het, sou die nasionale veiligheidsbestuurstelsel die leemtes probeer oorbrug.

’n Teeninsurgensie is selde ’n skoon stryd. Viljoen het egter volgens ’n stel waardes opgetree. Hy het byvoorbeeld respek getoon vir goeie Swapo-vegters. Toe die spesiale magte ’n keer Chris Hani as MK-bevelvoerder wou elimineer weens ’n opdrag van die Staatsveiligheidsraad, het Viljoen dadelik gevra of Hani se gesin ook in gevaar sou verkeer. Toe hulle noem dat hulle nie weet nie, het hy gesê dat hy nie teen vroue en kinders veg nie en het die sending afgelas.

Wisselwerking

Ná sy aftrede in 1985 het die vuil dimensies van die stryd toegeneem. By die Kabwe-konferensie in 1985 het die ANC besluit om hul mislukte plattelandse stryd te verskuif na die swart stedelike woonbuurte. Halssnoermoorde het opgevlam. Die grens tussen burgerlike en veiligheidsmagte as teikens het ook verdwyn: boeregesinne en winkelsentrums is aangeval.

By die Waarheids- en Versoeningskommissie het Viljoen namens die hele weermag verantwoordelikheid geneem: “Die wisselwerking tussen strategieë het ’n onwaardige karakter aan beide kante geskep… Ek wil waarsku teen ’n maklike oordeel teen mense in uniform van beide kante.”

Krygsmag en politiek

Viljoen se denke oor teeninsurgensie verklaar ook van sy politieke keuses. Viljoen het in die 1992-referendum “Nee” gestem teen FW de Klerk se onderhandelinge. De Klerk en Roelf Meyer het in die 1990’s uiteindelik buite hul kiesers se mandaat onderhandel. Die ANC het egter nie De Klerk gevrees nie, wel vir Viljoen.

Viljoen wou met fisieke magsmiddele, of die dreigement daarvan, beter uitkomste in die onderhandelinge afdwing. Onder sy opsies was die uitroep van ’n volkstaat in die kiesafdelings van die Konserwatiewe Party, wat dan verdedig word, of ’n lae-intensiteitveldtog wat druk uitoefen. Hy het in 1994 sy vinger op baie snellers gehad, maar nie dit getrek nie.

’n Eensame vrede

Oudgenl. Constand Viljoen.

Wat het sy besluit beïnvloed om liewer die Akkoord oor Afrikanerselfbeskikking te sluit en deel te neem aan die verkiesing? Die verdelings in sy magsbasis, ’n konflik se onvoorspelbare vernietiging, die moontlike dooiepunt daarna? ’n Deel van sy ondersteuners het hom egter daarna verlaat. Hy kon nie meer ’n groot Afrikanerblok agter hom skaar, De Klerk eenkant stoot, en namens Afrikaners met die ANC onderhandel nie.

Tussen die beroepspolitici van die laat 1990’s was Viljoen nie altyd in sy gemaksone nie. Soldate moet binne ’n sekere dissipline en waardekader aktief optree. Politici en hul kiesers was, daarenteen, anders gerat. Hy en Mandela het mekaar wel gerespekteer. Hy het later genoem dat sy grootste fout was om nie in 1985 as 52-jarige oudgeneraal tot die politiek toe te tree nie.

Viljoen het geglo dat die ANC ná 1994 steeds die rewolusionêre oorlog op politieke en sielkundige fronte voortsit. Van Wyk Louw se woorde, dat dit in Suid-Afrika nie gaan oor reg teen onreg nie, maar oor reg teenoor reg, het steeds gegeld. Die nuwe bewind kon nie sy burgers beskerm nie. In die vredestydse demokrasie was die slagoffers van moord en politieke moord meer as in Afghanistan se oorlog of by Hiroshima.

Lewe en dood in Afrika

Viljoen het ná 1994 steeds Mosambiekse leiers gehelp om die landbousektor op te bou. Hy het die kerk en ander gemeenskapsinstellings aktief gesteun. Toe twee rowers sy beursie afvat, het hy hulle met ’n geskeurde broek en al tot in die openbare toilette gejaag waar die polisie hulle kon arresteer.

In sy sewentigerjare, het hy steeds medeboere fisiek gehelp om vure te blus in die pragtige grasvelde en berge van Ohrigstad en Lydenburg. Vriend en vyand het geweet in watter gees Constand Viljoen die uitdagings van Afrika aanpak. Hy is op sy plaas dood, met sy vrou Risti en baie van sy kinders en kleinkinders by, “met vrede in sy hart.” Sy as sal by die Voortrekkermonument rus.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee beklee die ere-leerstoel in veiligheidstudies by Akademia en is ʼn politieke ontleder in Nederland vir bedrywe in die Midde-Ooste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MakersMark ·

“Vorentoe salueer,……….SALUUT”! Man en militaris uit een stuk.

Michael 1 ·

Ek stem saam sa sou n baie beter plek gewees het as Gen Viljoen die onderhandelinge gedoen het maar ek glo as hy in beheer was sou daar nie n de klerk en meyer in die regering gewees het nie .Ek het en sal altyd vir my kleinkinders vertel wat se eerbare en ware leier Gen Viljoen was en dat ware afrikaners hom altyd moet onthou en respekteer.

MakersMark ·

Hy het. Hy het die AW# gespuis oorreed om BOP te verlaat ongelukkig het dit sleg geeindig maar enige land se soldate sal aksie neem as onskuldige lede van die publiek geskiet word deur basies ‘n invallende mag van “quasi soldate” met jaggewere en .38 Special rewolwers.

Kokerboom ·

“n Groot Afrikaner het gegaan. Vir hom sal ek altyd die grootste respek he. Vraag is net waarom het hy nie ‘n staatsbegrafnis gekry, maar wel die orkesleier van KZN? Vra net!

Rodger17 ·

Hy het nie in die anc se orkes gespeel nie en hys wit natuurlik.Hy was die Leeu van SA sy gelyke was daar nie

Raadslid ·

Dr Matthew baie dankie vir hierdie baie goeie kommentaar.
Ek het in 1982, as dienspligtige in Angola, die man in aksie gesien en beleef.
U raak ook aan die aspek van die Afrikaners wat hul rug op hom gedraai het en daarna na hom as ‘n verraaier verwys het.
Raak dit nie by die dag duideliker dat juis hulle wat na hom as verraaier verwys die werklike verraaiers is/was nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.