ʼn Kern-gewapende Iran: oordrewe gevaar of eksistensiële krisis?

Satellietbeelde van Iran se kernfasiliteit in Isfahan. Foto: Maxar Technologies/Reuters

Vrese oor die moontlikheid van ʼn kern-gewapende (nuclear armed) Iran kring uit.

Kernwaarnemers, die media en wêreldleiers is dit eens dat ʼn kern-gewapende Iran ongekende en onoorkomelike uitdagings bied. Hoewel Iran tans nie deel van die kernwapenklub uitmaak nie, blyk dit dat dié staat sterk op pad is om ʼn kernwapen te ontwikkel. Luidens ʼn September 2020-verslag van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA), beskik Iran oor ʼn kernvoorraadstapel (nuclear stockpile) van ongeveer 3 114,5 kg (in heksafluoriedmassa) van lae-verrykte uraan, oftewel 2 105,4 kg (in uraanmassa).

Kernwaarnemers wys daarop dat Iran binne net meer as drie maande oor genoegsaam hoë-verrykte uraan sal beskik om ʼn kernwapen te kan ontwikkel; in minder as ses maande, kan twee ontwikkel word. Benewens die toenemende kernvoorraadstapel van lae-verrykte uraan, het Iran onlangs (gedurende Junie 2020) sy eerste militêre satelliet – die Noor-1 – afgevuur. Die militêre nut van dié satelliet is egter niksbeduidend. Soos genl. Jay Raymond, die bevelvoerder van die VSA se Ruimtebevel (Spacecom), tereg uitwys, is die satelliet niks meer as ʼn laegehalte-webkamera wat in die ruimte dobber nie. Wat wél tersaaklik is, is dat die missiel van ʼn nuwe satelliet-afvuurvoertuig (satellite launch vehicle) – die Qased (of Ghased) – gebruik gemaak het. Die satelliet-afvuurvoertuig het op sy beurt van ’n nuwe vastedryfmiddelmotor (solid-propellant motor) gebruik gemaak, wat gebruik word met die oog op die ontwikkeling van interkontinentale ballistiese missiele (IKBM).

Hoewel Iran aanvoer dat sy kernprogram uitsluitlik op die vreedsame gebruik van kernenergie gemik is (kragtens die bepalings van Artikel IV van die Kernsperverdrag, waarvan Iran ʼn lidland is), dui bogenoemde moontlik op die ontwikkeling van kernwapens. Hoe dit ook al sy, die belangrike vraag wat ek vandag wil aanroer, is: Kan ons – dit is, die internasionale gemeenskap van state – met ʼn kern-gewapende Iran saamleef?

Vrese oor ʼn kern-gewapende Iran is gewoonlik drieledig: Eerstens, Iran sal waarskynlik sy kernwapenskild (nuclear shield) gebruik om handlangeroorloë (proxy wars) en terreur te steun; tweedens, Iran sal kernwapens aan terreurgroepe oordra en, bykomend, moontlik nie in staat wees om beheer oor sy kernarsenaal uit te oefen nie; en derdens, die moontlikheid bestaan dat ʼn kernaanval op Israel uitgevoer sal word.

Hoeveel waarheid steek in dié vrese? Die vrese is óf uiters oordrewe óf geheel en al ongegrond. Dat Iran sy kernwapenskild sal gebruik om skanddade uit te voer, strook geensins met die geskiedenis van kernwapenstate nie. State se toetrede tot die kernwapenklub gaan gewoonlik met ʼn diepe besef gepaard dat hulle nou met ʼn valkoog deur grootmoondhede dopgehou word, soveel so dat hulle ʼn teiken in die oë van laasgenoemde word. Kernwapens bevorder matige eerder as dapper en aggressiewe gedrag, soos die geskiedenis van Indië en Pakistan, Maoïs-China en, meer onlangs, Noord-Korea duidelik wys. Terloops, enige aggressiewe optrede van Iran sal dít wat die Irannese die meeste op die prys stel, naamlik veiligheid en oorlewing, teenwerk.

Maar wat van die tweede vrees, te wete, die oordag van kernwapens aan terreurgroepe of die gebrek aan beheer oor Iran se kernarsenaal? Die feit dat Iran as die wêreld se voorste staatsondersteuner van terreur gebrandmerk word, boesem ongetwyfeld vrees in. Die skrikbeeld van kernterreur, en die moontlikheid van staatsoordrag van kernwapens, is egter uiters oordrewe. State wat kernwapens aan terreurgroepe oordra, sal maklik uitgewys word, ʼn werklikheid wat kernwapenoordrag in die eerste plek sal ontmoedig. Dít is veral tersaaklik in die geval van Iran, waar die bande tussen Iran en verskeie terreurgroepe geen groot geheim is nie. Voorts dui navorsing daarop dat ná afloop van terreuraanvalle waartydens meer as 100 sterfgevalle aangemeld word, die skuldiges byna moeiteloos uitgewys kan word. Hoe groter die verwoesting en lewensverlies, hoe groter die waarskynlikheid dat die skuldiges uitgewys sal word. Ek kan ook noem dat kernstate uiters versigtig sal wees om hul uiters duur belegging in kernwapens aan terreurgroepe oor te dra, groepe wie nóg vertrou nóg beheer kan word. Die forensiese ondersoek na die gebruik van kernwapens – ʼn wetenskap en kuns wat behoorlik stoom optel – bied bykomende afskrikkingswaarborge teen die gebruik van kernwapens deur terreurgroepe. Dit is vandag moontlik om die oorsprong van kernmateriaal byna moeiteloos met die bron daarvan te verbind, selfs nadat ʼn kernbom ontplof het.

Ondanks die feit dat Iran verskeie leiers het (naamlik, die president, die ajatolla, en verskeie militêre faksies), is daar ook genoegsaam rede tot optimisme dat daar doeltreffende beheer oor dié land se kernarsenaal uitgeoefen sal word. Daar word dikwels gevrees dat die Irannese Rewolusionêre Korps (Iranian Revolutionary Guard Corps of IRK), wat op sigself as ʼn terreurgroep gebrandmerk word, die “bewaarders” van enige Irannese kernwapens sal wees. Is dit nie miskien moontlik dat die IRK kernwapens aan terreurgroepe sal oordra nie? Hoegenaamd nie.

‘n Missiel word tydens ‘n militêre oefening gelanseer. Foto: WANA (West Asia News Agency) via REUTERS

Kernstate het elke moontlike aansporing om hul kernarsenaal met omsigtigheid te bestuur. Terloops, soos Kenneth Waltz tereg uitwys, ʼn enkele militêre faksie wat beheer oor kernwapens uitoefen, is in ʼn soortgelyke posisie as ʼn eenheidstaatrolspeler (unitary state actor): wat kan sodanige faksie met kernwapens doen en wat kan dit nie doen nie? Dit is tersaaklik om te noem dat selfs niestaatlike rolspelers dit haas onmoontlik vind om aan enige ander rede vir die gebruik van kernwapens te dink buiten kernafskrikking. Dat militêre faksies binne Iran aan gebruike vir kernwapens anders as kernafskrikking kan dink, is uiters moeilik om te glo. Kernstate het tot op hede hulle daarvan weerhou om kernwapens aan ander partye oor te dra. Indien die IRK ʼn premie op sy posisie in die Irannese regime plaas en wil toesien dat Iran oorleef, sal dit elke moontlike aansporing hê om nie kernwapens aan ander partye oor te dra nie.

Die derde vrees – ʼn Irannese kernaanval op Israel – is van alle moontlike scenario’s die mees onwaarskynlikste. Hoewel die Irannese leierskap dikwels as irrasioneel (of as “waansinnige ajatollas”) uitgekryt word, plaas hulle – soortgelyk aan ander kernstate – ʼn premie op oorlewing. ʼn Irannese kernaanval op Israel sal waansinnig wees. Die pessimis sal hiér aarsel en vra: Hoe kan ons wéét of glo dat Iran ʼn Westerse rasionaliteit en wêreldbeskouing sal volg? Wel, gelukkig is kernafskrikking nie geskoei op rasionaliteit nie, maar op vrees. Voorts wys kernwaarnemers ook dikwels dat die kernafskrikkingsverhouding (deterrent relationship) tussen Israel en Iran aanmerklik anders as dié van, byvoorbeeld, die VSA en die eertydse Sowjetunie sal wees. Laasgenoemde verhouding was gekenmerk deur die veiligheid wat die skeiding van kontinente en oseane tussen die twee partye gebring het.

Die kernafskrikkingsverhouding tussen Israel en Iran, hierteenoor, sal deur nabyheid gekenmerk word, wat twee gevaarlike gevolge teweegbring: Een, dit kweek kwesbaarheid; en twee, dit verhoog die waarskynlikheid van misrekening dramaties. Daar bestaan egter géén rede om te glo dat kernafskrikking tussen die twee state nie kan werk nie. Beide state sal terdeë bewus dat die gebruik van slegs ʼn paar kernwapens tot wedersydse verwoesting kan lei. Kwesbaarheid en die moontlikheid van misrekening lei tot matige – en nie dapper en aggressiewe – optrede in ʼn kernwêreld nie; in ʼn wêreld sonder kernwapens, lei dít tot oorlog.

Hierdie analise wys daarop dat daar wél, ondanks wydverspreide vrees oor ʼn kern-gewapende Iran, redes tot optimisme bestaan. Derhalwe, op die vraag: “Kan ons – dit is, die internasionale gemeenskap van state – met ʼn kern-gewapende Iran saamleef?”, kan ons bevestigend antwoord. Nie net sal kernafskrikking uiters doeltreffend in die betrekkinge tussen Israel en Iran wees nie, maar vrese oor handlangeroorlog en terreur, die oordrag van kernwapens aan terreurgroepe, en gebrek aan doeltreffende beheer oor Iran se kernarsenaal, is uiters oordrewe. ʼn Kern-gewapende Iran maak beswaarlik ʼn eksistensiële krisis in die internasionale politiek uit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Iran sal nie waag om Israel met ‘n kernwapen aan te val nie, want die Israeli’s sal hulle binne ‘n oogwink van die aardbol verwyder. Die voorsiening van kernwapens aan terreur groepe is die grootste bron tot kommer. Aan die ander kant, sal Israel ook nie huiwer om die gebied vanwaar dit gevuur is in geheel te vernietig nie.

Dirk Mostert ·

Die Arabiese lande sal nie die piepklein Israel met ‘n kernbom aanval nie, want die radio-aktiewe afval kan nie verhinder word om oor sy grense te waai nie.

annie ·

Iran en Islam wil Israel heel en ‘lewendig’ in besit neem. Onthou, die 2e belangrikste godsdienstige moskee is in Jerusalem en Mohammed het glo ook op dieselfde plek as Christus na die hemel opgevaar. Wat ‘n kritiese bekommernis behoort te wees, is die nonchalante wyse waarmee Irannese wetenskaplikes met atoomkraginstallasies omgaan. ‘n ‘Ongelukkie’ of ‘n asprisse foutjie kan insluip.

Dewald ·

Ons lewe ongelukkig in ‘n wêreld waar ‘might is right’ geld en Iran het nie eintlik veel van ‘n keuse as om hulle-self in ‘n posisie te kry waar hulle nie maklik aangeval sal word nie. Die onlangse geskiedenis van Irak en Sirïe brand seker duidelik in hulle geheue. Ek stem saam met die skrywer – dis beswaarlik ‘n eksistensiële krisis vir die wêreld. Iran gaan waarskynlik maar net stil-stil deel van die kernklub word en hulle sal baie meer gerespekteer word. Dit is ook nie noodwendig sleg dat die Midde-Ooste bietjie meer-polig word (in terme van mag) nie .

Dirk Mostert ·

Amerika het die kernverdrag met Iran opgeskort, teen die wil van Wes-Europese lande wat ook in die ooreenkoms was. Iran het sy deel van die ooreenkoms nagekom tot op daardie stadium. Amerika het ook die kernwapen-ooreenkoms met Rusland eensydig opgeskort en kort daarna sy kernwapenprogram hervat. Die Weste moenie nou huil nie.

groenboer ·

Inderdaad: Iran het alle rede om te vrees dat hy deur Amerika binnegeval gaan word. As ek in die Iranese se posisie was, het ek so gou moontlik kernwapens ontwikkel. Die opskorting van die ooreenkoms was een van die stoepitste goed wat Trump aangevang het.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Nou praat ons eindtyd-profesieë! Hierdie plek is nie ‘n kat om sonder handskoene aan te pak nie. Kyk uit vir die ander lande in die Midde-Ooste. Hulle gaan Jerusalem aanval volgens Openbaring, Daniêl en ander profete in hul eindtyd-profesieê, maar die Skepper gaan hul red. Gaan lees weer al die profesieê geassosieer met die eindtyd. Groot dinge is oppad ORALS!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.