Nuus en agenda: Waar lê die grens?

Argieffoto: Pixabay.com

Nuus is veronderstel om akkuraat, nuuswaardig, neutraal en aktueel te wees. Joernalistieke etiek het bepaal dat jy die nodige afstand teenoor die objek van jou nuusartikel behou, met ander woorde dat jy berig, nie beoordeel nie.

Omdat daar wel plek vir beoordeling en indeling is, is daar in elke koerant ook spesifieke meningsartikels of rubrieke wat, ideaal gesproke, aan skrywers uit verskeie oorde ruimte gee om ʼn saak van alle kante te belig. Kommentators is egter nie joernaliste nie. ʼn Goeie joernalis, aldus die oorspronklike leuse, moet hom nooit met enige saak vereenselwig nie, selfs nie met ʼn goeie saak nie, maar slegs berig.

Gesaghebbende nuusbronne wat dié aanspraak gehad het, is oor dekades opgebou en het naam gemaak. Ongelukkig het hulle in die “arrogansie van mag” verval en dikwels hulle oorspronklike edele mandaat versaak. Werklik neutrale nuusbronne bestaan eintlik nie meer nie. Dalk het dit ook nooit bestaan nie, maar die afgelope tyd is beriggewing dikwels so met beïnvloeding gemeng dat ʼn mens verskeie bronne moet lees om die waarheid vas te stel. Joernaliste het aktiviste geword en beskou dit as hulle mandaat om dit wat hulle as goed en edel beskou, te bevorder, en dit wat hulle as verwerplik beskou, te beveg, soms met twyfelagtige metodes.

Sedert die opkoms van die sosiale media het diegene wat nie deel is van die gevestigde media-elite nie wel toegang tot alternatiewe platforms om hulle, dikwels polities niekorrekte, mening te lug en selfs nuus te versprei wat nie deur amptelike bronne gedek en gestaaf word nie. Ongelukkig is heelwat daarvan amateuragtig en nuus word soms kwaadwillig gefabriseer en wetend of onwetend versprei, wat dan lei tot fopnuus, nuus wat eenvoudig vals of ten beste ʼn halwe waarheid is.

Om slegs jou gunstelingkoerant of staatlike TV-(nuus)kanaal te vertrou is naïef en gevaarlik, maar om alles van die internet vir soetkoek op te vreet is ewe gevaarlik. Verwarring en media-oorloë is die gevolg. So belangrik soos wat dit is om ongefilterde nuus, wat deur die gevestigde media geïgnoreer of verwring word, te versprei, is die verspreiding van fopnuus ewe teenproduktief. Fopnuus, terloops, kom egter nie net in die sosiale media voor nie, maar ook in die gevestigde media. Dink maar net aan die onlangse verleentheid van die Sunday Times, wat moes erken dat hulle ʼn storie oor polisiebrutaliteit opgemaak het. Om valse nuus bloot te lê is egter ʼn proses wat langer duur as om valse nuus te versprei.

nuus-nuuswebblad-rekenaar

Foto: Negative Space/Pexels.com

Intussen vervaag die grense tussen die nuus van gesaghebbende bronne en uitgesproke fopnuus al hoe meer. Dit gebeur eintlik al lankal dat ook die sogenaamde hoofstroommedia die waarheid rek. Dit is veral die geval waar geen onderskeid meer tussen objektiewe nuus en subjektiewe waarneming getref word nie. Nog erger raak dit, as van die begin af duidelik blyk wat die boodskap van ʼn nuusberig moet wees, maar die werklikheid so erg gebuig word totdat dit by die verwagte uitkoms pas. ʼn Mens kan ook sê die leuse van sulke joernaliste is: “Moenie toelaat dat feite ʼn lekker storie bederf nie.”

Afrikaners is goed bekend met die verskynsel van sulke eensydige beriggewing. Talle nuusberigte oor Afrikaners, veral in buitelandse nuusbronne, werk met die veronderstelling dat Afrikaners as ʼn reël rassiste is, en elke berig (byvoorbeeld CNN- of BBC-weergawes oor plaasaanvalle en grondonteiening) werk met dié vooroordeel en kleur die berig so in dat Afrikaners, selfs waar hulle slagoffers is, eintlik die skuldiges is omdat hulle mos rassiste is. ʼn Terloopse opmerking of ʼn grap, dikwels misverstaan buite die Suid-Afrikaanse konteks, word dan as bewys gebruik.

Dié soort joernalistiek word egter toenemend uitgedaag namate mense in staat is om self feite na te gaan en namate ʼn bewustheid ontwikkel dat joernaliste nie onaantasbaar is nie. ʼn Onlangse voorbeeld is ʼn “hoogaangeskrewe en bekroonde” ondersoekende joernalis van die Duitse nuustydskrif Der Spiegel, Claas Relotius, wat as bedrieër ontbloot is. Hy het in talle, indien nie die meeste nie, van sy stories eenvoudig fiksie geskryf omdat dit by sy vooropgestelde idees gepas het. Aan mense wat hy dikwels net vlugtig ontmoet het, is name en uitsprake toegeskryf en hy het oor plekke geskryf wat hy nie eens besoek het nie. Alles moes pas by die onderliggende links-liberale agenda. ʼn Gunstelingtema van Relotius was die VSA onder Trump, en die negatiewe en stereotiepe beriggewing oor die plattelandse Amerikaners, wat in hulle meerderheid vir Trump gestem het.

Nadat mense wat te na gekom is egter in sy artikels die talle feitefoute uitgewys het, is Relotius afgedank. Sy geval is egter net die punt van die ysberg, want Der Spiegel en talle ander nuusmedia met soortgelyke uitgangspunte bevorder joernaliste wat skryf soos wat hulle (en die meeste lesers) dit wil hê.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae