Ons het mekaar nodig

Deur Frans de Klerk 

Die Kleine Reus, Orania se amptelike logo, dra ook sy masker.

Die nasionale inperking en die gevolge van die koronavirus het my weer diep onder die indruk gebring van die belangrikheid en noodsaak om deel van ’n gemeenskap te wees. Dit is wanneer ons onder druk kom, dat ons besef dat ons mekaar nodig het en dat ons nie maar net vryswewende enkelinge is nie.

Afrikaners, waarvan baie ná die oorgang in 1994 hoogs suksesvol was, het gou begin agterkom dat baie van hul regte soos, byvoorbeeld, taalhandhawing, veiligheid en moedertaalonderrig, nie op ’n individuele grondslag beskerm kan word nie. Slegs deur kollektiewe optrede kan hierdie regte beskerm en ontwikkel word. Die sukses van die Solidariteit Beweging met sy meer as 500 000 lede is ’n duidelike bewys hiervan.

In Orania se geval is daar ’n verdere toevoeging gemaak in die strewe na die beskerming van Afrikaners se regte sowel as hul waardes, kultuur en leefstyl deurdat die belangrikheid van gebiedsgebonde selfstandigheid deel gemaak is van die strategie. Die uitgangspunt is dat, indien Afrikaners vir hulle ’n selfstandige plek en ruimte vestig, hul kollektiewe vermoë drasties versterk sal word om só aan die suidpunt van Afrika te kan oorleef en floreer.

Die afgelope paar weke het Orania toenemend die waarde ervaar van sy strategie van gemeenskapsvestiging binne ’n eie geografiese ruimte.

Staat van afsondering

Orania is net soos die res van Suid-Afrika in ’n staat van afsondering en inperking geplaas en moes aan nasionale regulasies gehoor gee. Binne hierdie werklikheid was die uitgangspunt van die gemeenskap se optrede dat ons in elke besluit telkens moet vra “Wat is die beste vir Orania?” en dan ons optrede aan die hand van politieke risiko meet. Ons kon dus nie alles doen wat ons wou nie, maar kon ook baie doen wat Orania nie op risiko geplaas het nie.

Vestiging van ’n Nood Operasionele Sentrum (Nos)

Daar is met die vervaardiging van maskers begin.

Die eerste stap in Orania se strategie om die nuwe omstandighede die hoof te bied, was om ’n Nos tot stand te bring om op ’n deurlopende grondslag inligting te versamel, veranderde omstandighede te evalueer, op ’n pro-aktiewe grondslag strategie te bepaal, aksies binne die gemeenskap te koördineer en deurlopend met inwoners te kommunikeer. Die Nos is saamgestel uit kundiges in die gemeenskap en het verteenwoordigers van die dorpsraad van Orania, mediese praktisyns, veiligheidsbeamptes, skakelpersoneel en persone betrokke by dorpsbeplanning en gemeenskapsdienste, ingesluit.

Die Nos het van die begin af ’n goeie werksverhouding met die SAPD gevestig en dit het verseker dat nie die polisie of die weermag gedurende hierdie tyd ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel het nie. Die polisie kon staatmaak op die ondersteuning van Orania se veiligheidsdienste (OVD) om verantwoordelikheid te neem vir interne aangeleenthede en op dié wyse kon die dorp in ’n groot mate selfstandig optree ten opsigte van die handhawing van die openbare orde. Die taak van die Nos en OVD is natuurlik vergemaklik deur ’n sterk kultuur van verantwoordelike optrede en samewerking binne die gemeenskap.

Selfstandige aksies en optrede

Daar is met die vervaardiging van handreiniger begin.

Vanuit die NOS en in samewerking met instellings in die dorp en uit die gemeenskap is verskeie aksies in hierdie tyd onderneem:

  • ’n nood- mediese sentrum is ingerig onder leiding van Orania se algemene praktisyn en verpleegsters met ’n apteek, noodkamers en kwarantynlokale;
  • afsondering van bejaardes nog voor die staat van inperking in werking getree het;
  • onder leiding van ’n plaaslike professionele verpleegkundige is ’n Covid-19-noodlyn in werking gestel om inwoners die geleentheid te bied om die nodige advies te bekom;
  • die dorpsraad het voortgegaan om noodsaaklike dienste te lewer met die gevolg dat water, elektrisiteit, riool en vullisverwyderingsdienste sonder onderbreking gelewer is;
  • inligting is deurlopend aan inwoners deurgegee deur middel van elektroniese kommunikasie en die gebruik van Orania se eie radiostasie Radio Orania;
  • kerke het begin om hul eredienste op sosiale media uit te saai vir enige een wat daarby wou inskakel;
  • nooddienste is deurlopend gelewer;
  • onder leiding van Orania se maatskaplike vereniging is daar deurlopend gekyk na die versorging van diegene wat hulp benodig het;
  • ’n noodfonds is tot stand gebring om met voedselvoorsiening te help. Tot op hede is daar reeds R180 000 ingesamel en voedselskenkings van goedgesinde omliggende boere ter waarde van R50 000 is ontvang. Die uitgangspunt was dat ons dalk almal baie opofferings moet maak, maar dat geen Oraniër honger moet gaan slaap nie;
  • een plaaslike ondernemer het begin met die vervaardiging van gesigmaskers en ’n ander met handreiniger;
  • groentetuine en voedselverbouing het dramaties toegeneem;
  • pogings is aangewend om vir dié wat nie weens die inperking kon werk nie, tydelik werk te kry in noodsaaklike bedrywe soos, byvoorbeeld, die landbou;
  • onderwysinstellings het vinnig ingespring en internetgebaseerde platforms gevestig sodat onderwysers kinders tuis kon ondersteun met onderrig; en
  • waar moontlik, het baie persone van die huis af steeds hul werk verrig.

Daar is hoop en ’n toekoms!

Die dorpsraad het handreiniger by huise afgelewer.

Dit is in tye soos hierdie dat die krag van ’n gemeenskap sterk na vore tree. Ons is daar vir mekaar en saam gaan ons die uitdagings oorkom. Ons kan deur pro-aktiewe optrede ons politieke risiko’s verminder en beheer neem oor ons eie omstandighede.

Ons as Afrikaners maak dikwels die fout deur te dink dat al ons omstandighede en besluite ekstern bepaal word en ons nie daaroor beheer het nie. So sal party mense sê: “Die ANC sal in elk geval Orania tot niet maak”. Orania het egter bewys dat dit gewoon nie waar is nie. Uiteraard is daar aangeleenthede wat buite ons beheer is en waaraan ons nie veel kan verander nie, maar daar is soveel meer waaroor ons self beheer het, en deur kreatief te wees en hierdie taak op te neem, kan ons ons eie toekoms skep.

Ek glo dat Orania uit hierdie krisis sterker na vore sal tree omdat die gemeenskap gebou word op ’n moreel regverdigbare en lewenskragtige idee. Die idee dat enige mens ’n gemeenskap en ’n tuiste nodig het en dat ons vanuit hierdie kollektiewe energie ook as individue kan ontwikkel en elkeen ons eie roeping vind. Dit is waar vir Afrikaners sowel as vir enige ander gemeenskap wat hierdie idee wil opneem.

Reeds vir etlike jare maak die tydsgees dit baie moeilik vir Orania om sy gesonde uitgangspunte en sentrale idee op ’n geloofwaardige wyse in die hoofstroom media bekend te stel. Ondersteuners van die Orania-gedagte kan gerus moed skep uit ’n aanhaling van die bekende ekonoom en Nobelpryswenner, Milton Friedman:

“Only a crisis produces real change. When that crisis occurs, the actions that are taken depend on the ideas that are lying around. That, I believe, is our basic function: to develop alternatives to existing policies, to keep them alive and available until the politically impossible becomes the politically inevitable”.

Die tyd vir Orania het aangebreek. Dit is nou die geleentheid vir enige Afrikaner om betrokke te raak om van Orania ’n werklikheid te maak wat niemand meer sal ontken nie en só ’n ruimte te skep waar ons as Afrikanergemeenskap weer hoop sal vind en kan blom.

  • Frans de Klerk is uitvoerende hoof van die Orania-dorpsraad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.