Ons is vry om oor vryheid te dink

31-mei

Hierdie foto is geneem op 31 Mei 1961 op Kerkplein om 12:00, oomblikke nadat Suid-Afrika formeel ‘n Republiek geword het. Foto: FAK/Afrikanergeskiedenis.co.za

Van tyd tot tyd wroeg ’n mens in jou lewe. Mei was so ’n wroegmaand. Miskien was dit die histerie rondom die afgelope nasionale verkiesing of dalk sommer net die rigting wat sake die afgelope tyd in die land inslaan.

Daar is ’n paar insidente die afgelope maand wat ’n mens diep onder die besef gebring het dat Suid-Afrikaners in hul denke allesbehalwe eensgesind is en dat ons baie, baie harder aan wedersydse respek en erkenning moet werk.

Hoe is dit moontlik dat die Menseregtekommissie kan beslis Julius Malema se oproep vir die slagting van wit mense (hoewel nie vir nou nie) is nie haatspraak nie? Hoe moet ons die sogenaamde konteks verstaan waarbinne Malema sulke opruiende uitsprake mag maak? Dít terwyl die vlaag aanvalle en moorde op veral boere skrikwekkend hoog bly? Hoe is dit moontlik dat daar letterlik ’n woordeoorlog tussen regslui in die Gelykheidshof uitgebreek het oor wat die betekenis van die ou landsvlag vir sommige groeperinge is sonder dat gewone mense kans kry om te besluit of te debatteer of dié deel van die geskiedenis summier verban moet word? En waar val Mondli Makhanya, redakteur van City Press, uit om die burgerregte-organisasie AfriForum summier as openlik rassisties te brandmerk en daarvan te beskuldig dat die organisasie lankal die vure van wit weerstand aangesteek het …

Hierdie en talle ander voortdurende klappe deur die ANC-regering en magsdronk-rubriekskrywers in die hoofstroommedia na Afrikaners – en mense in die algemeen wat net wil sien dat korrupsie uitgeroei word en die land beter funksioneer – is besig om toenemend wrewel by mense te ontketen.

Suid-Afrika is by ’n keerpunt én afgrond. Alle oë is nou op pres. Cyril Ramaphosa om die land in ’n nuwe rigting te neem. Op sy eie gaan hy dit nie regkry nie en afhangend van wie hy kies om sy hande sterker te maak, gaan daar dalk nog eers baie water in die see moet loop voor ons wesenlike verandering sien. Tot dan besef Afrikaners as minderheidsgroep terdeë dat hulle op hul eie is, en derhalwe hul eie oorlewings- en toekomsplanne moet maak.

Wat ’n mens dan ook sommer by Republiekdag eerskomende Vrydag bring. Die dag 31 Mei is nie in die hedendaagse Suid-Afrika meer belangrik nie en wie weet, dalk maak die een of ander politikus Vrydag weer neerhalende aanmerkings oor dié dag uit die geskiedenis.

Dalk gaan dit ’n mens weer kwaad maak, maar dit gaan niks aan die geskiedenis en verlede verander nie. Ons geskiedenis kan gekriminaliseer word, ons kan daaroor verneder, bespot en uitgekryt word, maar dit wis dit nie uit nie. En dit wis nie óns herinneringe uit nie.

Vertel maar gerus Vrydag vir jou kinders wat op 31 Mei 1961 gebeur het toe derduisende mense op Kerkplein saamgetrek het en ons Republiekwording gevier het en die land amptelik die Republiek van Suid-Afrika geword het. Die dag toe die land hom uit die Statebond onttrek en ons onder die Engelse juk uitgekom het. Die dag toe ons ons vryheid teruggekry het.

Ons is steeds vry. Veral vry om te onthou wie ons is, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

Geseënde Republiekdag!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leonard van der Dussen

Dis goed om oor vryheid te praat: en dat ons vry moet dink. Daar is twee sake waar die Afrikanervolk en die kerk beslis nie vry is nie:

1. Die staat skryf die skoolkurrikulum en die werkswyse (assessering ens) in die onderwys voor, en die Afrikaanse en Christelike instellings probeer maar ompaaie en oorbruggings vind, maar in wese word aanvaar dat die staat onderwys beheer.

2. Die kerke se teologiese opleiding vind plaas aan staatsbeheerde universiteite wat menseregte hoër ag as die waarheid oor wie God is, en in leerplanne wat aan staatsakkreditasie onderhewig is.

jaco

dit sal nogal lekker wees om weer onder “Engelse juk” te wees. met Engelse bedoel ek nou geregeer te word uit Engeland, ‘n wit land in Europa. Dink net: verby is korrupsie, beurtkrag, duur petrol, lae standaard onderwys, vuil swak staatshospitale ens ens ens.

Gemaskerde Sopbeen

Hierdie land se mense ly aan Die Dunning-Kruger Effek….gaan google dit.

Jerry

Die Afrikaner wat onthou wie hy is en wie weet waar hy vandaan kom, is die Afrikaner wie weet waarheen hy oppad is. Inderdaad is dit dan so dat die groot trek na die beloofde land begin het!

Renier

31 Mei was die dag toe die Oorgawe (Verdrag) van Vereeniging onderteken is, die einde van ons vryheid was daardie dag. 1961 was bloot manipulasie om ons te misbruik om Joodse belange ‘n rukkie langer te beskerm voordat hulle die dolk nog dieper in ons rûe ingesteek het.