Opposisiepartye kan NGV stuit

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Nog nooit sedert 1994 het soveel potensieel rampspoedig en gevaarlike wetgewing voor die parlement gedien as aan die begin van 2020 nie.

Vanjaar gaan strawwe eise aan die parlement stel, en in die huidige middelpuntvliedende politieke klimaat – plaaslik en internasionaal – is dit onseker of die parlement se bydrae so konstruktief gaan wees as wat dit veronderstel is om te wees.

Die gevaarlikste wetsontwerp wat tans voor die parlement dien, handel oor die nasionale gesondheidsversekering (NGV). Dié wetgewing kan die land se ekonomiese verknorsing verder vererger en tot ‘n katastrofiese uittog van dokters lei.

Indien die opposisiepartye hierdie beoogde wetgewing behoorlik wil teenstaan, sal dit meer  intelligente en onkonvensionele politieke denke vereis as wat daar tot dusver (die afgelope 18 maande) deur die DA, EFF, IVP of VF Plus bewys is.

Daar blyk wel eenstemmigheid tussen hierdie partye te wees dat die huidige ANC-regering nie die geld of die kundigheid het om die stelsel te implementeer nie.

As die vier grootste opposisiepartye mekaar kan ondersteun in hul teenstand teen die implementering van die wet, ten spyte van ideologiese beginselverskille oor die wenslikheid van so ‘n stelsel, kan dié potensiële ramp gekeer word.

In hierdie verband is dit noodsaaklik om op die feite te konsentreer. Die feite oor, onder meer, die mislukte proeflopies met die stelsel, bevestig net weer die opposisie se standpunt heelhartig.

Eerstens maak dit die opposisie feitelik korrek. Tweedens bou dit aan ‘n rasionaliteitsargument wat (soos verskeie kere die afgelope paar jaar gebeur het) waarskynlik deurslaggewend sal wees in die hofsaak wat seker sal moet volg as die ANC voortgaan met die deurdruk van hierdie klaarblyklik ondeurdagte plan.

As die klem dus op die feite van die proeflopies se mislukking geplaas word, kan ‘n sterk saak uitgemaak word dat die instel daarvan irrasioneel is. As die hof saamstem, kan die besluit gestuit word.

Die krag van sulke opposisie-samewerking sal juis wees dat dit uit verskillende ideologiese oogpunte kom, wat die ANC sal verhoed om hierdie ideologiese kaart te speel deurdat die EFF hulle daarvan sal ontneem. Dit sal egter van die DA spesifiek vereis om op te hou met hul onophoudelike aanvalle op ander opposisiepartye – in hierdie geval spesifiek die EFF.

Indien daar dus ‘n mate van samewerking oor grense heen deur die beskikbare feite gestu word, kan die stryd oor nasionale gesondheidsversekering een van die mees bepalende van 2020 wees, en met ‘n positiewe afloop in belang van die land, ‘n sterk moontlikheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elizabeth ·

Ons sal nou moet saamstaan teen die vernietigende besluite wat die regering neem. Oor die NGV beslis, maar ook om Eskom van ‘n totale ineenstorting te red. Kan die DA/Vryheidsfront+/Afriforum hulle ten doel stel om in 2020 hierdie twee swartgate uit die ANC se hande te neem?

Anoniem ·

Sal Afriforum asb die bal aan die rol sit om Eskom onder besigheidsredding te laat plaas, soos die SAA?

Johanna Botha ·

Vertrou die anc 100% om van die NGV ook n gemors te maak !

John ·

… dit kan dalk 500%+ wees, meer as by Eskom en onherstelbaar… met talle dooies wat geen bailouts weer lewendig kan maak nie. Die ANC is een van die leerders wat nie wiskunde wou neem nie. Human Right en Political Fights was hul hoofvakke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.