Paul Kagame en die suksesverhaal van Rwanda

Pres. Paul Kagame van Rwanda (New York 2010) Foto: David Shankbone (VSA) via Wikimedia Commons.

Rwanda is ʼn onwaarskynlike kandidaat vir ʼn Afrika-suksesverhaal: die land was in die koloniale era ʼn aanhangsel wat ver van al die sentrums af was en waar min ontwikkeling plaasgevind het.

Eers was dit deel van Duits-Oos-Afrika, dan, ná die Eerste Wêreldoorlog, van die Belgiese Kongo. Die land was ook ʼn uitstekende voorbeeld vir etniese verdeeldheid en geweld: in die voorkoloniale era, en selfs in die koloniale era, het die heersersvolk van die Tutsi (veeherders) met ʼn koning en ʼn adelklas oor die landbouer-meerderheid van die Hutu regeer.

Ná onafhanklikheid het die Hutu-meerderheid (sowat 85% van die bevolking) deur die stembus die mag verkry en die situasie omgekeer. Voortaan het die Tutsi aan die agterspeen gesuig. Geweld het sporadies plaasgevind, altyd met die agtergrond van wraak op die Tutsi vir vergrype in die verlede. Die situasie in Rwanda het selfs ʼn hele paar ooreenstemmings met Suid-Afrika gehad: ʼn voorheen regerende minderheid wat skielik, ná ʼn algemene verkiesing, magteloos is en gestraf word vir hulle magsposisie in die verlede. ʼn Outokratiese Hutu-leierskap en ʼn eenpartyregering kon egter ʼn mate van stabiliteit verseker.

Toe die president, Juvenal Habyarimana, in 1994 in ʼn vliegtuigongeluk dood is, wat waarskynlik deur Tutsi-rebelle wat vanaf die buurlande opgetree het, afgeskiet is, het chaos losgebars en is die Tutsi (en Hutu wat nie wou meedoen aan die aanvalle nie) op groot skaal deur die Hutu-weermag en Hutu-milisies aangeval en feitlik uitgewis in ʼn volksmoord van drie maande tussen April en Junie 1994. Omdat dit alles plaasgevind het in die tyd van die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika is dit deur die media redelik onderspeel, want op daardie oomblik moes die “goeie nuusstorie uit Afrika” nie met bloed bevlek word nie.

Die Tutsi-rebelle kon egter vanuit Uganda Rwanda tydens die volksmoord binneval en het die mag verower en die volksmoord gestop. Hulle leier was Paul Kagame. Hy het as diktator orde geskep en die skuldiges aan die volksmoord is, sover moontlik, gestraf en daar was ʼn uitgerekte tribunaal.

Geen wraakaanvalle op Hutu’s in die algemeen het egter plaasgevind nie. Kagame het hom sedert 2000 as president verskeie kere laat herkies en kon Rwanda deur sterk leierskap uit die moeras lei. Hy het ook talle Hutu’s by die regering en administrasie betrek en het die verwysing na etnisiteit verbied en op ontwikkeling en gesamentlike Rwandese burgerskap gefokus.

Vandag is Rwanda een van die min suksesverhale in Afrika. Die land het geen noemenswaardige hulpbronne nie, is uiters dig bevolk en tradisioneel word bestaanslandbou beoefen, met koffie as kontantgewas. Afstande na die see is baie ver en vervoerkoste hoog en baie ware moet ingevoer word. Nogtans kon die land merkwaardig ontwikkel. Armoede is verlig en die per capita-inkomste is aansienlik verhoog. Die werkloosheid is gering. Korrupsie word streng gestraf en die administrasie is bekwaam en doeltreffend. Besigheidsontwikkeling en belegging word aangemoedig, nie gestrem nie. Kagame het ook besef dat die natuurlike omgewing juis bewaar moet word om geld deur byvoorbeeld ekotoerisme te genereer, terwyl ander lande soos die Demokratiese Republiek van die Kongo hulle oerwoude afkap en hulle gorillas dood.

Die hoofstad Kigali het verskeie internasionale hotelle en is ook ʼn bestemming vir sakelui en konferensies. Dit is ook een van die skoonste en veiligste stede in Afrika. Paaie word geteer, die lugdiens vergroot en daar is selfs planne vir ʼn aansluiting aan die spoorlyn. ʼn Sterk klem word op goeie opleiding geplaas. Almal praat, benewens die koloniale taal Frans, ook Engels (en dikwels die streekstaal Kiswahili, en natuurlik die inheemse taal Kinyarwanda). Anders as in die meeste Afrika-lande word die meeste geld nie aan verdediging nie maar aan onderwys bestee en amper 100% van alle kinders woon skool by. ʼn Nuwe middelklas word so geskep. Meer mense het ook toegang tot ʼn mediese fonds as elders in Afrika.

Kagame kyk na Singapoer as ʼn voorbeeld vir Rwanda. Soos in die geval met Singapoer, is Kagame ook ʼn verligte outokraat en is daar geen algehele vryheid van die pers nie, en is die opposisie nie ʼn faktor nie. Rwanda en Kagame word deur talle Afrika-leiers as voorbeeld beskou en hulle wil die lesse leer. Rwanda se sukses bevoordeel ook die streek en die Oos-Afrika Gemeenskap, wat ten doel het om interne handel te bevorder.

Kagame het so pas die derde keer met ʼn oorweldigende meerderheid die presidentsverkiesing gewen. Ook die meeste Hutu’s stem vir hom. Hy het etnisiteit probeer uitroei en nasionale eenheid voorop gestel, iets wat in ʼn land soos Rwanda blykbaar ʼn manier is om ʼn herhaling van die verlede te keer. Of Rwanda egter ná die afsterwe van die kragman Kagame sal voortbou op sy sukses, of weer terugval in die ou patrone van etniese geweld, sal nog gesien moet word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Koos1 ·

Ek het so ‘n ruk terug ‘n TV program oor Rwanda gekyk, en was BAIE verbaas. Een Saterdag per maand werk al die landsburgers (President ingesluit) om die omgewing skoon te maak. Dis mos hoe dinge gedoen moet word!

Ampie ·

Die skrywer is reg. Afrika soek verligte outokrate. Daar is min van hulle. Die sogenaamde demokrasieë soos ook in SA is eintlik maar net nog een party state.

Nico K ·

Ampie die probleem met jou voorstel is hoe verseker jy dat ‘n diktator verlig is. As hy magsbehep begin raak, soos in Zimbabwe, het jy geen manier om van hom ontslae te raak nie. ‘n Mens kan die aantal “verligte” diktators in die wêreldgeskiedenis op jou vingers tel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.