Plaasaanvalle: Slagoffers en hul menseregte

Lorraine Claasen, een van die samestellers van die verslag, het die realiteit van plaasaanvalle en marteling wat daarmee gepaard gaan, verduidelik. Sy het die tien gevalle wat ondersoek is, met die media bespreek. Foto: AfriForum

Lorraine Claasen. Foto: AfriForum

Lorraine Claasen

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het Donderdag sy bevindinge in die verhoor oor die uitdagings in landelike veiligheid en sekuriteit bekend gemaak.

Ná die voortdurende en aansienlik wreder aanvalle op boere en hul werkers tydens plaasaanvalle, het AfriForum hom in 2014 weer tot die MRK gewend in ʼn poging om druk te plaas op die onderskeie regeringsdepartemente wat verantwoordelik is vir die beveiliging en ondersteuning van slagoffers en individue wat deur plaasaanvalle geraak word.

In September en Oktober 2014 is relevante departemente, instansies en unies saam met AfriForum genader om ʼn voorlegging vir die paneel, aangestel deur die MRK, te kom lewer oor landelike veiligheid. Die genooides was onder andere die departemente van justisie en grondwetlike ontwikkeling, landelike ontwikkeling en grondhervorming, die Nasionale Ontwikkelingsagentskap, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, AgriSA, TLU, NAFU en Afasa. Hoewel al die deelnemers in hul spreekbeurte direk uitgevra is oor plaasaanvalle, die frekwensie en brutaliteit daarvan, asook hoe die slagoffers deur die SAPD en howe behandel is, is die lot van die slagoffers in die bevindinge nie met die erns wat dit verdien, aangespreek nie.

Die bevindinge sluit tereg faktore en aanbevelings in wat die onderskeie departemente moet toepas. Dit behels die hersiening van die landelike veiligheidstrategie deur die SAPD, die toename in betrokkenheid deur die SAPD en NVG by inhegtenisnemings en suksesvolle vervolging met betrekking tot misdade in landelike gebiede, asook die vraag na ʼn subkomitee by die prioriteitskomitee vir geregtigheid, misdaadvoorkoming en veiligheid waarby die MRK op die hoogte gehou wil word van die inwerkingstelling van aanbevelings.

Daar is aangevoer dat moorde, geweld en ander misdaad oor die hele Suid-Afrika gebeur, ongeag of dit ʼn stedelike of landelike gebied is. Dit word nie ontken nie. Élke moord in ons land behoort as prioriteit beskou te word. Om die erns en noodsaak van ingryping in plaasaanvalle en plaasmoorde aan te raak, beteken nie dat moorde in stedelike gebiede nie dieselfde aandag behoort te geniet nie. Dit beteken dat ʼn krisis geëien word wat die toekoms van boere en hul plase direk en dringend raak, en dat ons binne die wet en in samewerking met ander departemente oplossings in werking wil stel om sodoende lewens te red. Dit beteken ook dat enige optredes gefokus op die bekamping van enige ander geweldsmisdade ook met dieselfde erns getakel sal word.

Te midde die debattering by die kommissie oor statistieke, die beskrywing van terme, die behoefte aan standaardbehuising-spesifikasies en meer toeganklikheid tot sodanige behuising, het die stem (en die regte) van die slagoffer stil geraak.

Ek het weens die aard van my werk al voor so baie slagoffers van plaasaanvalle of hul verslae familielede gesit. Elke persoon het sy of haar weergawe van daardie dag wat hul lewe verander het met my gedeel. Al die vrees, die trauma en hartseer word weer herroep en daar word weer gehuil, gebewe van angs en gerou. Dit maak my egter benoud dat daar so baie mense is met wie ek nog nie gepraat het nie, asook dat daar so baie mense is met wie ek nog moet praat, wie se aanvalle nog moet gebeur.

Slagoffers bevind hulle van die begin van ʼn aanval af op onbekende terrein. Nie net is hulle hul privaatheid, sekuriteit, vrouwees en in sommige gevalle, hul inherente menswees, ontneem nie, maar die onsekerheid oor die prosedures van die SAPD, wat van hulle verwag word met verklarings, uitkenningsparades en verdere hofprosedures en later parooltoelating van hul aanvallers, is alles deel van hul pad vorentoe. Intussen moet hul huise weer skoongemaak, bloed afgewas, deure en vensters herstel, versekering uitgesorteer, motors vervang en eindelose oproepe gemaak word in ’n poging om weer ’n vlak van normaliteit te bereik.

Wat van die slagoffer se eie welstand? Dink maar aan hospitaalkoste en doktersbesoeke, medisyne en terapie. Die uitwerking van so ʼn aanval is net skrikwekkend. En dít is as die slagoffers dit oorleef. Diegene wat familielede wreed en onnodig aan die dood moet afstaan, moet die begrafnis reël en boonop bure se hulp inroep om te help met die dag-tot-dag-bestuur van die plaas. Die werknemers op die plaas wat self aangeval, aangerand, gedreig, verkrag en vermoor is, beleef presies dieselfde gevolge, asook onsekerheid oor die toekoms van die plaas, hul werk en heenkome.

Dit wat ʼn slagoffer van ʼn plaasaanval moet deurgaan, kan nie opgesom word in een of twee paragrawe in ʼn ondersoek nie. Dit kan nóg minder geïgnoreer en afgemaak (en geregverdig) word as die gevolge van transformasie in ons land. Hierdie slagoffers het ook menseregte. Ek sal aanhou soek daarna en veg daarvoor.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Ds ·

Jip voer ‘n verlore stryd.. So vir nag as wat ek kan is ek uit hierdie land uit..

Therese van Schalkwyk ·

Lorraine Claasen, baie sterkte word jou toegewens met die belangrike en uiters moeilike taak.

Dis duidelik dat die uiteenlopende menings oor die saak sake nog verder bemoeilik. Die stelling dat “geweld, misdaad en moorde met almal gebeur oor die hele SA” frustreer my grensloos. Asof dit nou alles regverdig? Die mees skokkende daaraan is dat dit die mening van die meerderheid blankes, almal potensiële slagoffers, ook blyk te wees. Dit neem sowaar politieke korrektheid tot nuwe uiterstes.

As die transformasie van die ou SA na die nuwe SA beteken dat alle rasse, wittes nou ingesluit, vermoor ‘mag’ word, sit ons met ‘n geweldige probleem waarvoor daar nie sommer ‘n oplossing gaan kom nie. Dit beteken dan dat blankes met hul ja-stemme destyds toestemming gegee het vir die wrede aanslag op hierdie minderheidsgroep. Dis mos totaal en al onsinnig en mág eenvoudig nie geduld word nie.

Vir die regering om wakker te skrik, sal die héle blanke gemeenskap uit een mond moet begin praat hieroor, en ek sal eerder nie ‘n mening waag oor wat die kans dáárvoor is nie.

Peet J ·

Nadat die ANC regering Suid-Afrika oorgeneem het moes die huidige maatstawwe wat misdaad in ‘n sekere mate bekamp het behoue gebly het maar die regering het alles afgetakel in terme van die grondwet.
Verafgeleë plekke bejaardes weduwees ens. is sagte teikens waar die kriminele gewoonlik, meer as een , op toeslaan. Die SAPD MRK NVG is deel van die huidige regering en is sekerlik bewus van die plaasmoorde en ander gruwelike misdade wat aan die toeneem is het hulle die aangeleentheid tot nou toe opgeneem met die staatsdepartemente? Ek twyfel.
Die tyd het aangebreek dat ons witmense wat deur ‘n menigte vreemdelinge oorheers word op ons regte staan en die regering verwittig dat
ons nie langer sal duld dat ons familie en vriende aan die hand van ‘n klomp misdadigers vermink of gedood word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.