Pluralisme is die antwoord anderkant modernisme

In my eerste blog sal ek graag ʼn paar notas wil maak oor hoe ek Suid-Afrika se toekoms sien. Ek doen dit in telegramstyl en ek hoop hierdie styl word nie sommer as didakties gelees nie.

Uiteraard gaan ek baie gedeeltelik en oorvereenvoudig oor my onderwerp skryf. Voetnotas dus, blog-styl.

Ek glo dat die toekoms van Suid-Afrika in ʼn pluralistiese benadering lê. Wat beteken hierdie woord, en wat is die konteks wat dit relevant en lewensvatbaar sou kon maak?

Die Bekragtiging van die Verdrag van Münster (Gerhard Ter Borch, 1648) – ‘n baken in die ontwikkeling van die nasiestaat-idee

Die konteks wat pluralisme vir Suid-Afrika – en trouens vir die hele Afrika – die enigste opsie maak is eerstens die feit dat die konteks van die Modernisme, wat begrippe soos die nasiestaat, patriotisme (soos ons dit ken) ensovoorts opgelewer het, verbygegaan het. En daarmee saam is daardie begrippe se relevansie radikaal ingeperk.

Die lande op die Afrika-kontinent – soos ook sommige Midde-Oosterse lande – het nooit ʼn fase van modernistiese ontwikkeling meegemaak nie.  Hierdie lande se ervaring van die Moderniteit (wat eintlik die noordelike kontinente se ontwikkelingsfase was) was deurgaans as slagoffer – om uitgebuit en onderdruk te word vir die gewin van ʼn oorheerser. Hierdie proses word kolonialisme genoem en sy en sy kunsarm, as’t ware, is die neo-kolonialisme.

Suid-Afrika as land is ’n mengsel van die premoderne (tradisionele samelewings) en die postmoderne (omdat ons bepaalde ekonomiese en kulturele begrippe uit die Europese Moderniteit oorgeërf het). En tussen daardie twee pole – die eerste een wat volstrek verby is en nooit weer dieselfde kan wees nie, en die ander een wat hopeloos te vroeg vir ons daag – moet ons ons lang uitgestelde fase van modernisme op Afrikabodem konstrueer. Hoe goed ons as kontinent dit doen, sal afhang van die begrippe waaraan ons as geheel fisiese beliggaming gee. As dit die verkeerde begrippe is, sal ons daaronder ly.

Die Afrikaner (en ook in ʼn mindere mate die breër groepering waarbinne hy val, naamlik die Afrikaanssprekende) is ʼn vreemde vis in die water: deels premoderne Afrikaan, en (by verstek) deels postmoderne Europeaan. Dieselfde mengsel van eienskappe karakteriseer daardie swart Afrikane wat hulself nou al vir etlike generasies in diaspora bevind weens die ontwrigtings van die postkolonialisme.

Ons moet die enigste gawe wat hierdie onbenydenswaardige situasie aan ons as Afrikane uithou, met albei hande aangryp. Dis die gawe van agternakennis. Ons kan die modernistiese ontwikkelingsfase van ’n ander kontinent in terugskoue ervaar, en al die foute wat gemaak is, ontleed. Meestal is die foute wat gemaak is – soos twee wereldoorloë – nie eintlik bona fide foute gewees nie, maar onvermydelike uitvloeisels van die modernistiese begrippe waarmee gewerk is daar. Die skadelikste van hierdie begrippe was die begrip “nasiestaat”.

In Suid-Afrika het ons die geleentheid om omsigtiger met hierdie plofbare – en erg verslawende en onderdrukkende begrip – om te gaan. As daar ’n begrip is wat ek persoonlik aan die Duiwel gelyk sal stel, dan is dit die nasiestaat en sy gepaardgaande uniformpie, die nasie-patriotisme.

Pluralisme, daarenteen, is die volledige oorgawe aan die organiese ontwikkeling van identiteit, ekonomie, kultuur en die res – op plaaslike vlak. (Dis nie soseer ‘n afwenteling nie, want daar is niks histories noodwendig om van af te wentel in Suid-Afrika nie behalwe ’n sintetiese, selfgenoegsame en selfaangestelde sentrum, naamlik die sentrale regering.) Dit gaan eerder daaroor om raak te sien van waar ons in der waarheid is.

Pluralisme veronderstel die teenoorgestelde van sentralisme, die teenoorgestelde van klemdraende oorkoepelende identiteitsvorming.

En die interessante is dat die postmoderne ontwikkeling van die noorderkontinente nou groot plek maak vir die beginsels en gedagte-inhoude wat neerkom op plurale ontwikkeling. Neem byvoorbeeld ’n volhoubare ekonomie ten opsigte van die natuur. Alles in daardie benadering stem ooreen met die implikasies van ekonomiese en kulturele pluralisme.

Ná alles, ná die voltrekking van hul modernistiese fase, kom Europa myns insiens uit by ’n soortgelyke punt as wat op Afrika-bodem deur pluraliste in die vooruitsig gestel word as ’n lewensvatbare modernisme.

Die laatkapitalisme van Europa kan ’n uitstekende wêreldatmosfeer bied om ’n plurale modernistiese ontplooiing vir Afrika in te prakseer.

Om die foute van die verlede – boonop ander kontinente se verledes – nie weer in ons eie konteks te herhaal nie… dis ’n uitdaging.

Maar daarmee saam moet mens die nasiestaat in Suid-Afrika beperk.  Overgesetsynde: Die vlag kan bly, maar die res is wolhaarstories.

En ons kamerade in hierdie besef, glo ek, gaan toenemend ons mede-Afrika-genoet wees. Ons as Afrikaansprekendes kan dit nie sonder hulle doen nie. Hulle is nie ons vyande nie, maar ons vriende – nee, ons broeders en susters – in hierdie onderneming.

Daar is niks soos ’n plurale benadering – van desentralisering, van horisontale masgverhoudings pleks van die oorgelewerde horisontale variasie – om respek vir die “ander” te kweek en te laat gedy nie. Want in geen ander benadering is die self so gelyk aan die ander.

Ons is trouens spieëlbeelde van mekaar.

Sal ’n pluralisme meer regverdig wees as dit wat ons ken? Antwoord vir jouself aan die hand van die volgende vraag: Spieëltjie, spieëltjie aan die wand… wie is die gelykste in die land?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Jorik van Suid-Afrika ·

Baie dankie Charl vir hierdie interessante inset; ek verskil waarskynlik fundamenteel van jou ontleding, jou kategoriese gevolgtrekkings en jou voorkeur vir die integrasionistiese idee; maar ek hoop om later meer oorwoë kommentaar te lewer. Laat ek dit nou eers bietjie verteer.

Louis du Plessis ·

Dag Charl-Pierre ~
 
1  Die pluralisme waarvoor jy pleit maak sin binne die huidige veelvolkigheid en veeltaligheid van Suid-Afrika.

2  Ek sou egter versigtig wees om hardhandig om te gaan met die verskynsels van die nasiestaat en patriotisme.  Hoekom?  Die feit dat dit in ons hoekie van die wêreld in ons huidige kortstondige era nie uitgewerk het nie, beteken nie dit werk nie elders nie.  Inteendeel!  In Europa bestaan meer as dertig uiters suksesvolle nasiestate – met ander woorde, politieke stelsels waarvan meer as tagtig persent van die bevolking dieselfde een ampstaal praat en dus kultuur beoefen.  Dis jou reg om skepties teen die staat te wees, soos Koos Malan en ons almal ook tereg is, maar waak daarteen om dit te veralgemeen.  Moenie die mislukte staat van Suid-Afrika oral in die beskaafde wêreld soek nie.  Maar ek sê weer:  Met jou pluralisme – vir Suid-Afrika – gaan ek akkoord.

3  Nasiestate Charl-Pierre, beman deur volke wat hoog presteer op ontwikkelingsindekse – soos vir lewensverwagting, verstedelikingskapasiteit, inkomste per kop, kalorieverbruik per kop, inligtingtegnologie en geletterheid – byvoorbeeld Duitsers, Swede, Dene, Nederlanders en Japanese – gee tans die pas aan op ons geliefde planeet.

4  Omdat ek aan selfbeskikking glo, is ek ‘n lid van die Oraniabeweging.  Ek glo dat Afrikaansspekendes in die algemeen, en Afrikaners spesifiek, aansienlik meer nodig het as om binne Suid-Afrika slegs goeie verhoudings te handhaaf met ander taalgemeenskappe.  Weet jy wat het ons ook nodig:  om oor onsself te besluit, selfs om onsself te regeer.  En in die menslike geskiedenis die afgelope millennia, spesifiek sedert die opkoms van die Assiriese Ryk en daarna die Persiese Ryk voor die geboorte van Christus, is daar vir selfregering geen vaardiger werktuig ontwikkel nie as die staat. 

5  Slotsom.  Selfbeskikking deur ‘n volk vereis ‘n staat vir daardie volk. 

Met agting

Louis du Plessis

Anoniem ·

Geagte mnr. Naude,

Ek is van mening dat die grootste probleme op hierdie aarde veroorsaak is deur mense wat gesê het dat hul oplossing “die enigste opsie” is. (Dit is nogal ironies dat u pleidooi ten gunste van pluralisme op hierdie voetstuk staan.)

Tog stem ek grootliks saam met wat u skryf rakende die oplossing wat pluralisme vir Suid-Afrika en straks die hele kontinent bied.

Die nasiestaat is nie ‘n begrip wat sondermeer gekoppel moet of hoef te word aan die sentralisering van mag nie.  As sulks is die goeie geveg wat geveg moet word nie teen die nasiestaat as begrip nie, maar teen die begrip van magsentralisme.

Die gedagtes, soos patriotisme, wat met die nasiestaat en modernisme verbind word is, soos prof. Du Plessis hieronder uitbeeld, in sekere opsigte baie positief vir ‘n land en die wêreld se ontwikkeling.

Wat egter selde gebeur sonder ‘n verlies aan veelsydigheid, skoon verantwoordbare regering, respek vir die medemens en ‘n sin vir verantwoordelikheid, is sentralisering van mag.  Mag bederf.

Die belangrikste teenvoeter vir sentralisasie is bemagtigde plaaslike gemeenskappe wat daartoe in staat is, en begerig is om, hul eie sake te handhaaf.  Dit is daardie vryheid (waar dit bestaan) waaroor jaloers gewaak behoort te word en waarna Benjamin Franklin verwys het toe hy gesê het: “Those who would give up essential liberty to purchase a little temporary safety, deserve neither liberty nor safety”.

In hierdie opsig span Switserland die kroon.  Die land het nie ‘n gebrek aan nasionale trots of historiese helde soos Wilhelm Tell nie, maar was wys genoeg om eerder die beginsel van subsidiariteit toe te pas en het daardeur geslaag om nasionalisme tot volle ontwikkeling te ry, maar dit sodanig te tem dat dit nie oor sy grense heen bokgespring het nie.  Switserland se vermoë om neutraal te bly tydens beide die Wêreldoorloë is tekenend hiervan.

Die vraag is hoe kan gemeenskappe wat reeds aan ‘n sentrale magstaat geketting is daarin slaag om van hierdie noodlottige wisselwerking te ontsnap? 

Ek glo dat Orania in hierdie opsig vir ons, asook die ganse Afrika, wys hoe die weg gebaan kan word.

Jessica ·

Pluralisme is ‘n relatief ou konsep in ‘n postmoderne gewaad.  Aldous Huxley
was een van talle voorstanders van soortgelyke utopiese (in ‘n positiewe sin)
idees.  ‘n Soort munisipale federalisme.  Maar you’ve got your work cut out om
die idee in hierdie droewe land met sy toksiese Swart Afrikanisme te laat posvat. 
Daardie gif is net te diep en te wyd verspreid in die swart elite.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.