Pompeo-uitspraak aanduiding dat Weste kennis neem van ANC se grondplanne

Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake (Foto: @SecPompeo/Twitter)

Deur Marius Croucamp

Die onlangse kritiek van die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, op die Suid-Afrikaanse regering se grondgrypplanne is ʼn aanduiding dat die Westerse wêreld op sy hoede is en kennis neem van wat in Suid-Afrika aan die gebeur is. Pompeo se kritiek was reguit en ondubbelsinnig oor wat die ooglopende gevolge van ʼn beleid van onteiening sonder vergoeding vir Suid-Afrika sal wees.

Pompeo het in Addis Abeba, die setel van die Afrika-Unie (AU), gepraat na afloop van ʼn drienasietoer van Senegal, Angola en Ethiopië. Dié drie lande se markte toon vinnige groei en hulle word vir militêre redes as strategies belangrik geag. Volgens Pompeo sal die gevolge van onteiening sonder vergoeding rampspoedig vir Suid-Afrika en sy mense wees. Hy het die belangrikheid van die oppergesag van die reg en respek vir eiendomsreg beklemtoon as synde baie belangrik vir beleggings.

Washington hou die Suid-Afrikaanse regering se optrede met valkoë dop. Suid-Afrika se stemrekord by die Verenigde Nasies dui duidelik op ʼn anti-Westerse en anti-Amerikaanse sentiment. Suid-Afrika kies gereeld kant teen die VSA, soos in die geval waar Suid-Afrika Huawei ondersteun het en die drieparty-alliansie se onlangse protes by die Amerikaanse ambassade in Pretoria ter ondersteuning van Iran.

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Die Amerikaners is tans besig om Suid-Afrika se handelstatus te hersien in die lig van die nuwe voorgestelde wetgewing oor intellektuele eiendomsreg. Suid-Afrika se status as ʼn ontwikkelende land onder die Generalised System of Preferences (GSP) word ook hersien. Die gevolge van ʼn negatiewe hersiening kan Suid-Afrika se handel met die VSA inkort. In 2019 het die waarde van uitvoere vanaf Suid-Afrika na die VSA R89,5 miljard beloop.

Private eiendomsreg en die oppergesag van die reg is voorvereistes vir Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die African Growth and Opportunity Act-skema (AGOA). Ingevolge die regulasies en wetgewing wat AGOA reguleer, kan ʼn begunstigde land se deelnamestatus op ʼn tussentydse basis of jaarliks hersien word. Dié besluit word deur die Amerikaanse president geneem.

Die ANC-regering se besluit om artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig, bots lynreg met Amerikaanse handelsbelange in Suid-Afrika. Daar is baie op die spel vir Suid-Afrikaners. Meer as 70 000 werksgeleenthede word in Suid-Afrika onderhou danksy die gunstige voordele wat AGOA bied. Die VSA (7% van totale uitvoere) is Suid-Afrika se derde grootste handelsvennoot naas China (10,7% van totale uitvoere) en Duitsland (8,3% van totale uitvoere). Die handelsbalans tussen Suid-Afrika en die VSA is sterk in Suid-Afrika se guns.

Beleggersvertroue in Suid-Afrika is op ʼn laagtepunt en indien die ANC-regering planne deurvoer om private eiendomsreg te vernietig, gaan huidige beleggers onttrek en moontlike beleggers gaan Suid-Afrika oorsien ten gunste van veiliger opsies. Die ANC-regering se besluite kom neer op ekonomiese hoogverraad en die Weste neem kennis.

Marius Croucamp is adjunkhoofsekretaris van strategie aan Solidariteit se Instituut vir Strategiese Arbeidsake.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan Venter ·

Mmm… ekonomiese hoogverraad, dan kry mens seker ook politieke hoogverraad waar minderhede op ‘slim’ manier en die gebruikmaak van ‘toorwoorde’ om wit mense deelname aan die ekonomie te ontsê, en dit om die onregte van die verlede in trurat te sit en die petrol diep in te trap. Dan kry mens seker ook taalhoogverraad en dit omdat hulle vies vir Afrikaans en die Afrikaner is. En intussen maak hulle van Eskom ‘n gemors en saboteur die ekonomie tot rommelstatus en die groeikoers duik onderdeur die drievoet dwarslat, aan die anderkant kop eerste in die grond vas.

Johan Venter ·

Prins John was, na sy broer Richard, koning van Engeland van 1199 tot sy dood in 1216. Koning John, wat maar ‘n skurk was, het twee alliansievennote gehad, die een die burgemeester van Nottingham en die ander een, wat ‘n aanstelling van die burgemeester was om belastings te in, was die Sheriff, hy was ‘n opperste tiran en het die bewoners van daardie gebied geterroriseer en mishandel om onregmatige belastings uit hulle te dwing.

Hierdie laat my so baie aan die situasie in ons eie land dink, die ANC met sy twee alliansievennote, maar dan wie hier by ons vervul die rol van Robin Hood?

Hier by ons is die gebied so groot wat beskerm en uit die hande van die Sheriff en kie gered moet word, soos minderheidsregte, SEB en regstellende aksie, Staatsbeheerde instellings, onbetaalbare belastings, geld wat misbruik word en wat met alle mag beveg moet word, nou nie met wapens soos Robin Hood en sy volgelinge nie, maar met breinkrag en finesse, aksieplanne wat werk.

Vervolg …

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Hier by ons kom Robin Hood in vele gedaantes voor. Ek dink aan die Solidariteitbeweging met sy vertakkinge soos bv Afriforum, Sakeliga edm, heelparty stigtings en ander burgerlike organisasies, die TLU SA, AgriSA, Saai, die VF Plus en andere wat hieraan voldoen.

En ons president het ‘n obsessie met grondgrype sonder vergoeding!

Chris ·

Verstaan my mooi, ek is nie ‘n liefhebber/agterryer van die VSA nie. Hul rekord is nie so skoon as wat hul voorgee nie en hul arrogansie steek my ook dwars in die krop. Wat die plunderbende hier ter plaatse nie wil verstaan of ek glo nie kan verstaan nie is, daar is sekere lande wie jy jouself nie van vervreem nie. Daar is ekonomies, maatskaplik en veiligheidsredes waaroor jy moet besin voordat jy ondeurdagte, emosionele, irrasionele en plein onnosele besluite maak. Ons land is soos die tipiese skoorsoeker op die speelgrond. Op ‘n dag sukkel hy net met die verkeerde persoon en kry ‘n oorveeg. Onkunde, verwaandheidswaansin en onnoselgeit is daar nie pille voor nie.

Erik ·

Ek sou graag wou, maar kan nie opgewonde raak indien enige land kennis neem van ons probleme, o.a. grondhervorming nie? Ek wil amper vra, ‘so what’? Indien hul sanksies sou wou instel of ons handel wil inkort lei ek en jy ook daaronder. Ingryp sal hul nie… Daar is baie lande wat baie erger af is as ons en niemand doen iets daaraan nie. Ons maak maar ‘n piepklein deel van die wêreld ekonomie uit so hoekom oor ons worry. Nee wat, dis elke ou vir homself. As jy kan en die guts het (ek sukkel met die guts gedeelde) is dit nou die tyd om die pad te vat.

katerinadiekat ·

Kry die guts en Gaan. Ek kan my nie voorstel dat jy enigsins erger af gaan wees in n ander land nie, behalwe miskien Venezuela. Ek en my familie kan nie gaan nie, kan dit nie finansieel bekostig nie. So nou het my kinders en kleinkinders geen toekoms nie. As jy moontlik Kan gaan, Doen dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.