Protestantisme in ʼn tyd van wrede mensliewendheid

Deur dr. Hercules Boshoff

Hercules Boshoff.

Die Protestantisme het ʼn belangrike rol in die opkoms van die moderne beskawing gespeel. Die moderne lewe, afgesien van talryke voordele, het ook uitdagings en probleme.

So problematies het die moderniteit egter vir sommige geword, dat daar in die geheel daarvan wegbeweeg moet word, dermate dat die woord ‘krisis’ oral opklink, relatiewe vooruitgang van die samelewing op talle gebiede ten spyt. Die vernaamste ding waarvan veral ‘radikaal’ wegbeweeg word, is die Protestantse geestelike stroom wat gelyklopend met die modernisme ontstaan het, terwyl die afwysing van moderne luukshede vir hierdie kritici meer uitdagend blyk te wees.

Twee tendense ontstaan uit hierdie wegkeer wat toenemend na mekaar die hand begin reik: enersyds ʼn postmoderne leefstyl met sy wortels in veral die sosiaal-gesinde Franse Romantiek van die 18de eeu; en andersyds ʼn konserwatief-ingekleurde hunkering na ʼn premoderne bestaan. Laasgenoemde het onder die invloed van Victoriaanse propaganda, deur onder meer die mite van die weldoener-aristokraat, Robin Hood, die populêre bewussyn te binne geskiet.

Wat die sosialiste en aristokrate nog altyd in gemeen gehad het, is ʼn veragting van die middelklas, ʼn klas wat veral in die Protestantse lande gedy vanweë die klem op relatief streng kwaliteit onderrig vir die breër bevolking en op die ‘geroepe’ aard van werk.

Teenoor laasgenoemde weet die regstellende praktyke van die staat en die binnekring bevoordelende aristokrate (en vandag die nuwe klas van bestuurders) van beter, terwyl die opgeleide werker bloot moet inval by die prosesmatigheid ten einde meer wins te bewerkstellig, hoewel minder en minder daarvan in sy sak oorbly na aftrekkings. Anders gestel, die klem val vandag minder op die transendente aard van werk, en meer op die ‘bestuur’ en blote gebruikswaarde daarvan.

Die toebroodjie-ondermyning van die middelklas deur vooraf bestuur enersyds en belasting andersyds, word versteek onder die voorwendsel van ʼn welwillendheid jeens die breër samelewing wat die ondermyning van die middelklas sou onderlê, ʼn welwillendheid waarna Calvyn verwys het as ʼn “wrede mensliewendheid”.

Om te verstaan in watter mate hierdie begrip vandag werklik relevant is, kan ons veral kyk na die beweegredes vir die kerkhervorming.

Dit is geen geheim dat die kerk van die vroeë 16de eeu lank reeds tot in die kern korrup was nie, hoofsaaklik vanweë die aflaat, oftewel die boetedoeningspraktyk. Met die geld wat daaruit gegenereer is, soos die 14de eeuse teoloog, Pierre d’Ailly in sy geskrif De Reformatione al uitwys, is die vermeerdering van kerke, die uitvoerigheid van die eredienste, die oorvloed van beelde, die opname van allerlei apokriewe geskrifte en toename van feeste waaruit verdere geldinvordering kon plaasvind, befonds. Hierdie uitbreidings was derhalwe uitsluitlik tot voordeel van die hooggeplaastes.

Standbeelde van William Farel, Johannes Calvyn, Theodore Beza, en John Knox by die Reformasie-muur in Switzerland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Hierdie en ander verskynsels kan sonder veel moeite vergelyk word met hedendaagse tendense:

Die boetedoeningspolitiek ingevolge waarvan ʼn mens se lewe ʼn regstelling van die van die foute van jou voorouers is; die kansellasie-kultuur wat diegene muilband en ‘ekskommunikeer’ van openbare platforms wat waag om van norme af te wyk; die deugpronk fenomeen van iets soos die BLM-beweging; beeldoorvloeding op die skerms waar bomenslike superhelde en filmsterre soos die heiliges van ouds pronk; die terugkeer na eentaligheid; die opkoms van die sogenaamde tegno-feudalisme, verwysend na Big Tech en tegnokrate se toenemende beheer van markte maar ook state; en laastens die klimaatkrisis se apokaliptiese visie wat ʼn situasie van paniek skep.

Hierdie verskynsels is slegs oënskynlik nuut. Waar die kerk van die Middeleeue opsigself as ʼn tipe korporasie met winsbejag beskou is, is die moderne maatskappy deesdae ʼn tipe kerk met allerlei volhoubaarheids- en sosiale geregtigheidsbeginsels, wat dikwels neerkom op niks anders nie as die wrede mensliewendheid, in die opsig dat die werker maar tevrede moet wees met meer werk en minder geld ter wille van die ‘groter geheel’.

Die ooreenkomste met vandag is tekenend daarvan dat ʼn oorhaastige oorgang na ʼn alternatiewe werklikheidsopvatting nie noodwendig ʼn beter toedrag van sake tot gevolg sal hê nie, en veel eerder die risiko loop om die foute wat in die verlede gemaak is te herhaal. Die antwoord wat die kerkhervorming gebied het, is om die vryheid van die mens in en deur die kulturele konteks en taal te beklemtoon.

Dit geskied nie alleen deur die herdenking van kultuurfeeste nie, maar hoofsaaklik deur opvoeding, oftewel Bildung. Die begrip Bildung verwys na die “intellektuele, vakkundige, kulturele en sedelike ontwikkeling en karaktervorming van die jeug”. Die onderrig is nie net gemik op die kategese van die jeug nie, maar op skole, en die universiteitswese.

Bykomend tot die onderrig in die trivium en die quadrivium, stel die kerkhervormer, Philipp Melanchton, digkuns en geskiedenis voor as kernvakke in die onderrigplan.[i] Kwaliteit onderrig en die instandhouding van standaarde staan ook afsydig teen ‘radikale’ heethoofde wat gevestigde praktyke omverwerp en allerlei onbeproefde nuwighede wil insmokkel.

Afgesien hiervan is die versigtigheid met die gebruik van beelde in die Protestantisme welbekend, ʼn skugterheid wat ons toenemend aanvoel meriete dra. Teenoor die wrede, neerhalende mensliewendheid stel die Protestantisme weliswaar ʼn strenger lewenswyse voor, maar een gedra deur die erkenning van die Genade as onderbou daarvan. Dit wil sê as aansporing om jou roeping te kan uitleef, sonder om deur die foute wat gemaak is (en sal word) verteer te word.

[i] Sien prof. Natie van Wyk se nuutste boek, Philipp Melanchton: Die denker, opvoeder en leermeester van die Reformasie.

  • Dr. Hercules Boshoff is ʼn dosent in filosofie by Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Die ooreenstemmings tussen die vroeë kerk en die hele lys van hedendaagse tendense is opvallend en baie interessant!
In Suid-Afrika veral, maar ook in ander lande, herhaal “boetedoeningspolitiek” inderdaad die foute van die verlede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.