Qua vadis in 2020, Suid-Afrika?

Toekomspad

(Argieffoto)

Wanneer hierdie woorde geskryf word, staan ons op die punt om ’n nuwe jaar te betree. ’n Nuwe jaar vol nuwe probleme, maar ook nuwe oplossings; nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede.

Die kuns is om die oplossings tussen die probleme en die geleenthede tussen die uitdagings te sien.

Toegegee, as ’n mens so kyk na die party wat ons land regeer, is dit moeilik. Die ANC is van oudsher vol ideologie, maar vind dit moeilik – dikwels selfs onmoontlik – om dit in praktiese politiek om te skakel.

In Desember is byvoorbeeld twee wetsvoorstelle gepubliseer wat die saak goed illustreer.

Die een kom daarop neer dat die ANC-staat byna alle bevoegdhede van sportliggame oorneem, waardeur sulke liggame in die praktyk hul outonomie sal verloor. Die ander is ’n wetsontwerp waardeur die staat sy greep op skole kan verstewig en selfs by die taalbeleid van ’n skool kan inmeng. Sommige mense verwys na die “Lesufisering” van skole, verwysende na Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys en een van die mees verbete vyande van Afrikaans in die land.

Op die oog af sou jy sê die ANC het nog steeds nie sy totalitêre Leninistiese verlede uit die struggle‑tyd ontgroei nie. Destyds is die leiding van die ANC feitlik volledig deur lede van die SA Kommunistiese Party, een van die mees Kremlin-getroue kommunistiese partye ter wêreld, oorheers, en die ANC het feitlik ’n marionet van Moskou geword.

Die begrip “totalitarisme” is vir die eerste keer in 1923 deur die Italiaan Giovanni Amendola gebesig. Dit is twee jaar later deur Benito Mussolini, leier van die Italiaanse Fascistiese Party en diktator van dié land, oorgeneem en gepropageer. Hy het gesê die fascisme politiseer alle lewensfere, sowel “menslik” as “geestelik”: “Alles binne die staat, niks buite die staat nie; niks téén die staat nie.”

Aanvanklik is veral Mussolini se Italië en Adolf Hitler se Duitsland daarmee bedoel. Mettertyd, namate duidelik geword het dat die kommunisme, in die wyse waarop hy hom in die praktyk manifesteer, fundamentele ooreenkomste met die fascisme en die nasionaal-sosialisme vertoon, is ook die Sowjetunie en ander kommunistiese diktature daarby betrek.

Dit beteken eenvoudig dat die regerende party sy ideologie tot in die verste uithoeke van die samelewing afdwing. Die twee maatreëls wat hierbo genoem is (en ander), pas presies binne die definisie van Mussolini.

Dít is die een kant van die munt. Daar is ook ’n ander kant.

’n “Geslaagde” totalitêre diktatuur verg ’n sekere mate van doeltreffendheid. Dit help nie jy kom met die een ideologiese gesigspunt ná die ander en ’n klomp opeenvolgende totalitêre wette en jy is nie in staat om dit in die praktyk te vertaal nie.

Dis egter wat al dekades in die ANC gebeur, al lank voordat hy die bewind in 1994 oorgeneem het.

’n Studie van die ANC se “people’s war” voor 1990 is ’n skitterende voorbeeld.

Nadat die party se gewapende stryd jare lank weinig meer as ’n paar krete was, het die leiers van die ANC en die SAKP Viëtnam in Oktober 1978 besoek om van dié land se geslaagde oorlog teen Amerika te leer. Mettertyd het daaruit ’n heel gesofistikeerde strategie te voorskyn getree.

In die ANC-dokumente van die tyd sien jy dat hulle, onder invloed van die Viëtnamese, ’n indringende studie van people’s war gemaak het. In die afwesigheid van ontoeganklike oerwoude en digte bosse, soos in Viëtnam, sou ’n klassieke guerrilla-oorlog teen die SA Weermag geen enkele kans op sukses hê nie.

Thabo Mbeki het dit in ’n onderhoud met ’n Amerikaanse koerant in 1980 uitstekend verduidelik: “We can’t fight a bush war in South Africa. Look at the map. It is all developed. There are roads, radios and landing strips everywhere. This is not Angola or Mozambique. We do not have forests. The (military) machine would smash us if we tried to send in an army from outlying areas. Also, 87% of the Whites are in towns and cities. Our masses have to serve as our bush. The Black community is our bush.”

Uit ’n teoreties-strategiese oogpunt was dit ’n meesterlike benadering, een wat getuig van ’n goeie insig in die aard van revolusionêre guerrilla-oorlogvoering. Dit het daarop neergekom dat die apartheidstaat nie aangepak word waar hy sterk is nie – die SAW, die Polisie, ensovoorts – maar waar hy swak is, naamlik die townships.

’n Wig moes ingedryf word tussen die swart bevolking en die staat se magsinstrumente. Daardeur moes die staat se gesag in die townships in duie stort, en sou die townships ’n soort bevryde gebiede word, waar die ANC parallelle magstrukture sou vestig. Daaruit sou dan mettertyd ’n volksopstand (insurrection) volg met uiteindelik die verkrummeling van die apartheidstaat en die ANC se triomfantelike oorname van die mag.

Dít was die teorie. Maar die ANC se vermoë om dit teweeg te bring was deur sy eie onbekwaamheid beperk – en wat hy wel reggekry het, het uiteindelik deels  geboemerang.

Die ANC het die lojaliteit van die townships gekry, maar slegs deur grootskaalse dwang en bloedvergieting. Die staat het hard teruggeslaan, en teen 1988 moes die ANC in interne dokumente erken dat hy misluk het.

Só het Ronnie Kasrils in Februarie 1988 geskryf dat “we were not able to take full advantage of the favourable conditions that materialised [met die geweld in die townships]. We were unable to deploy sufficient forces at home; our cadres still found big problems in basing themselves amongst our people; our underground failed to grow sufficiently… the incredible mass resistance and strikes were consequently not sufficiently reinforced by armed struggle.”

Uiteindelik het die ANC wel die mag oorgeneem nadat die destydse regering korrek ingesien het dat suksesse op kort termyn nie op ’n finale oorwinning dui nie, dat hy uiteindelik nie kon wen nie. Bowendien het die kommunisme internasionaal ineengestort, waardeur die ANC se kommunistiese mat onder sy voete uitgepluk is.

Daar is nog iets. Die ANC se veldtog om die townships onregeerbaar te maak, het bygedra tot die ontstaan van ’n kultuur van wetteloosheid, van ’n oortuiging dat die wet maar straffeloos oortree kon word.

Dit het nie met die party se magsoorname in 1994 verdwyn nie; inteendeel, dit het gegroei. En vandag pluk die ANC self die wrange vrugte daarvan.

Die waarheid is dat die ANC, soos destyds, uitstekend is in die maak van planne, maar pateties in die uitvoer daarvan. Die probleem is dat die hele land onder só ’n fundamenteel onbekwame regering ly.

As ’n mens ewenwel nie wil boedel oorgee nie, is Solidariteit se Plan B die mins slegte van alle slegte oplossings.

Ek wens alle lesers ’n uitstekende 2020 in goeie gesondheid toe.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae