Redakteursbrief: Die storie van ʼn dooprokkie, ʼn oorlogfoto en twee geborduurde sakdoekies

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, Lombaard sê die Suid-Afrikaanse media, en Afrikaanse media spesifiek, is tans op ʼn krisispunt waar dit die gevaar loop om alle geloofwaardigheid in die oë van die publiek te verloor. Foto: Noeleen Foster

ʼn Klompie jaar gelede het ek ʼn klompie familie-kosbaarhede wat ek by my ma gekry het, in ʼn mooi boks gepak en ʼn lint om gebind. Sedertdien is dié boks bo in ʼn kas gebêre. Gisteraand, in ʼn sonderlinge oomblik met niks dringends om te doen nie, maak ek my by die kombuistafel tuis en haal die boks se deksel af.

Ek pak dit op die tafel uit: Daar is ʼn fyn babarokkie met kant en pienk lint, miskien iemand se dooprokkie. My oupa se groot silwer flits wat altyd op sy bedkassie gestaan het – as hy saans oor die krakerige plankvloer badkamer toe gestap het, het hy sy flits gebruik, want ná slaaptyd sit mens nie ligte aan nie. My ouma se goueraambril wat altyd bo-op haar Bybel op die spieëlkas gelê het.

Daar is kosbare swart-en-wit foto’s ook: Die oudste foto dateer uit 1899 en wys ʼn klomp Boerekrygers op Markplein in Hanover in die Karoo op hulle perde, gereed om oorlog toe te vertrek. Die perde is nog fris en vet, en die Boere uitgevat in hulle beste baadjies, baarde netjies gekap en hoede windmakerig skeef op die kop. Iewers in die groep is my oupagrootjie en sy broers. In die agtergrond staan ʼn groepie vroue saamgebondel onder ʼn boom en wag om hulle mans en seuns te groet.

Daar is ʼn foto van my oupa se rugbyspan, iewers in die hoërskool, waarop die krae van die seuns se rugbytruie kordaat in hulle nekke opgeslaan is; ʼn troufoto van die egpaar, sy laggend en hy baie ernstig; ʼn foto van my oupa op sy perd as ʼn jong sersant in die polisiediens.

En dan is daar koerantknipsels, kaartjies en kerkblaadjies wat ʼn hele storie van hulle eie vertel. Daar is ʼn klein knipseltjie wat my oupa en ouma, Hermias Jacobus Nieuwoudt en Susanna Maria Magdalena du Toit, se verlowing op 31 Mei 1943 aankondig. Ek onthou dat my ouma vertel het hy was ʼn familielid van hul bure op Hanover wat sy een vakansie ontmoet het toe hy by sy familie kom kuier het, en dit was liefde met die eerste oogopslag. Toe hulle mekaar ʼn tweede keer sien, het hy haar gevra om te trou, en kort daarna is hulle getroud – ʼn gelukkige en geseënde huwelik van 53 jaar tot met my oupa se dood in 1996.

Maar die koerantknipsels vertel ook die stories van die hartseer tye wat deel van hulle lewensverhaal was. My ouma skryf in 2001 in ʼn “Ek dink ver terug”-bydrae aan hul kerkblaadjie:

As ek terugdink aan my skooldae gedurende 1930 tot 1941 [in Hanover], onthou ek die koue. Dit was depressiejare en armoede was erg onder almal. Kinders moes kaalvoet met kort broekies en kortmouhemde, sonder truie, van die koshuis in Seilstraat oor die stasie en rooibrug te voet skool toe loop, en laatkom is nie geduld nie. Daar was net een laken op elke bed en twee dun vaal komberse. Dan slaap ons twee op ʼn enkelbed, want dan is daar vier komberse en jou maat se lyfhitte om warm te word. Ons moes alles self doen – kamervloere op ons knieë vryf, groente skoonmaak voor skool, wat dikwels meegebring het dat jou hande nog pampoen of wortelskraapsels aangehad het as jy moes hardloop om betyds te wees wanneer die skoolklok lui. Vir Sondae se kerk het ons by die Skriba se huis gaan geld haal om in die kollektebordjie te gooi – een pennie per kind wat nie kollektegeld gehad het nie. Weens armoede het die meeste kinders nie kollektegeld gehad nie, want selfs ʼn sikspens (5c) vir drie weke se sakgeld was vir ouers baie geld.

Oor later jare skryf sy:

Elke man op Noupoort [waar my oupa as polisieman gestasioneer was] het ʼn trui gehad wat soos sy buurman sʼn gelyk het, want as een vrou ʼn besonderse breipatroon gehad het, dan het die patroon van buurvrou tot buurvrou gegaan. Daar is gebrei as hulle in die middae saam op ʼn plekkie in die son gekuier het (want Noupoort was ysig in die winter). Breiwol was maar skaars en duur! Sikspens ʼn ons. Wanneer die truie begin stukkend gaan op die elmboë, is die moue omgeruil sodat die stukkende plekke aan die binnekant van die elmboë gesit het, of die trui is heeltemal losgetrek en die beste wol is saam met ʼn ander kleur strepe gebrei om weer ʼn nuwe trui te maak.

Tragedie het hulle as gesin in 1959 getref terwyl hulle in Margate gewoon het. My ma, Engela, se ouer boetie, Frikkie (toe 14), het aan leukemie gely. Hy het een Maandagmiddag ernstig siek geword en is per ambulans hospitaal geneem. ʼn Vriendin van hom, Janet Pragnell, wat toe reeds 16 en ʼn verpleegster in diens van die Margate Rooikruis was, was aan diens en het in die ambulans saam met haar speelmaat van haar kinderjare hospitaal toe gery. Op die hoek van Moore- en Chelmsford-straat was die ambulans in ʼn ongeluk betrokke, en Frikkie, Janet en die ambulansbestuurder is al drie op slag dood.

In die boks is net een foto van Frikkie as klein seuntjie, ʼn paar koerantknipsels wat die storie van sy dood vertel, en ʼn koerantberiggie waarin my oupa en ouma die mediese personeel van die hospitaal bedank vir hulle bystand tydens Frikkie se siekte.

En tog, as ek terugdink aan my oupa Mias en ouma Susan (wat ook lank al reeds oorlede is), onthou ek hulle warmte, menslikheid en liefde, nie hartseer of treurigheid of bitterheid nie. As my ma gesels oor haar grootwordjare op Margate en later op Noupoort, vertel sy van die maats saam met wie sy in die bos naby hulle huis gespeel het, my oupa as polisieman op sy perd, en my ouma met haar breiwerk in die sonkamer. Ek onthou my ouma se wildspastei wat sy in die koolstoof gemaak het en die fyngestampte biltong wat my oupa vir middagete oor ons botterbroodjies gestrooi het. Ek onthou twee sterk mense, met groot harte, vir wie mense belangrik was en nie aardse goed nie. Ek weet dat hulle elke dag met God begin het en elke aand op hul knieë langs hulle hoë dubbelbed met die mosterdkleur deken afgesluit het.

Die tragedie van die tyd waarin ons ons nou bevind, gaan deel van ons lewensverhaal word. Ons gaan eendag ons kleinkinders vertel van die jaar 2020 toe die Groot Pandemie die wêreld getref het; hoe dit almal op ʼn manier geraak het en alles verander het. Maar ek kyk terug na die mense wat deel van my geskiedenis is; na die tragedies, oorloë, depressies, siektes en rampe wat hulle oorleef het, en hoe hulle aan die ander kant uitgekom het – beter mense, omdat hulle geweet het waar hulle krag vandaan kom.

En dan pak ek die boks weer in. Die geborduurde sakdoekies, die knipmes, die flits, die simpatie-kaartjies, die familiefoto met die veertien kinders, die gehekelde baba-kappie. En ek sê dankie dat ek weet ons gaan sterker anderkant uitkom.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Madels

aaw, dis so kosbaar, dankie vir die deel, dit roer iets baie diep binne my.. soveel herinneringe aan vergange dae. Ek dink my pa het nog so ou flits gehad….eendag sal ek hom weer sien … dankie vir die deel

Theresa

Wat ‘n pragtige, sinvolle stuk. Dankie Susan.

Strandloper

Dankie vir die lekker lees. Net voor die lockdown was ek in Noupoort en het my verkyk aan die pragtige ou huise en het stil weg gewonder wat se kosbaare verhale daar al af gespeel het.