Redakteursbrief: Ek wens vir jou ‘n eetkamertafel

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ons is ʼn eg stedelike gesin wat ly aan al die stedelikegesin-kwale: ons hol verby mekaar, weet dikwels nie wat in mekaar se lewe aangaan nie, is gedurig besig om skedules te probeer sinchroniseer (met min sukses) en ry in aparte motors na afsprake en selfs kerk toe, bloot omdat ons program dit dikwels nie toelaat om saam van die huis af te ry nie. Ek en my man praat sommige dae meer met mekaar op Skype en Whatsapp as van aangesig tot aangesig. My en manlief se vroegoggend-koffie word in ʼn wegneembeker in die motor op pad werk toe gedrink (darem met liefde vir mekaar gemaak). Die kwaliteit-tyd wat ons veronderstel is om te hê nadat die kinders saans met ʼn groot aanjaery uiteindelik in die bed is, ontaard dikwels in pappa of mamma wat aan die slaap raak langs ʼn kind wat sukkel om te slaap (dis nou wanneer ons nie ná die kinders se slaaptyd weer ons skootrekenaars aanskakel om ʼn laaste bietjie werk gedoen te kry nie). Soms laat ons gesin my dink aan ʼn klomp rekkies, wat elkeen deur die lewe styfgetrek en dan gelos word en ʼn rigting in skiet; weer terugkom huis toe, net om weer styfgetrek en ʼn rigting ingeskiet te word. As ons toevallig langs die pad mekaar se paaie kruis of in dieselfde rigting geskiet word, is dit ʼn bonus.

Maar voor jy veroordelend frons: As daar een ritueel is wat ons gesin getrou volg, is dit dat ons elke aand, aan tafel, saam aandete eet. Dit beteken almal is aandete-tyd tuis. Selfone of elektroniese toestelle is in dié tyd verbode en die TV is af (nie dat ons in elk geval veel tyd kry om dit aan te skakel nie). Soms sal ons oudste ʼn paar blommetjies in die tuin pluk en in ʼn potjie druk, of ons seunskind sal kerse aansteek. Maar meestal is dit sommer messe, vurke en plekmatjies om die hout-eetkamertafel wat ons ʼn klompie jaar terug met ʼn erfgeldjie gekoop het.

Gisteraand, etenstyd, raak ons om die tafel aan die lag. Ek moet nou mooi dink om te onthou waaroor ons so gelag het, want dis die lekker lag wat my bybly, nie eers die onderwerp nie. Ek onthou nou: Ons het gesels oor die hamster wat vir ʼn paar jaar deel van ons lewe was; veel langer as wat ʼn hamster veronderstel is om te lewe. Daar om die eetkamertafel vertel ons vir die eerste keer vir ons seuntjie dat sy hamster uit sy kleuterdae, jare gelede, eintlik drie keer dood is, en elke keer het ons hom so jammer gekry dat ons stilletjies die dooie hamster met ʼn nuwe een vervang het. Só is hy deur drie hamsters – verskillende kleure en groottes – sonder om enigiets agter te kom. Gisteraand vertel ons hom vir die eerste keer daarvan, en hy lag dat hy amper van sy stoel afval omdat hy niks agtergekom het nie.

In dié oomblik besef ek: By hierdie eetkamertafel skiet ons rekkies terug, almal na een plek toe. Ons is geanker aan dié eetkamertafel. Die spanning is vir ʼn oomblik weg. Ons vergeet van toetsreekse, sperdatums, moeilike onnies en verkeersknope. Ons bid eers saam, en elke kind kry ʼn beurt. Dan gesels ons sonder vooroordeel, kyk mekaar in die oë, gee ons mening, hoor mekaar se probleme. Ons hoor mekaar se harte en wys ons gee om. Sonder om enige formele agenda te volg word waardes oorgedra: “Bella, dalk moet jy vir hom verduidelik hoekom jy nie daarvan hou as hy só met jou praat nie;” of “Josua, dogtertjies is nie grillerig nie, hulle is net anders as jy.” Ons preek nie; ons praat net. Ons hê mekaar net lief.

Ná ʼn halfuur of wat spat die spulletjie weer uit mekaar, elke rekkie in sy eie rigting. Die kinders dek tafel af en ons spring weg met die res van die dol aandroetine. Maar ons het saam geëet, en dis goed.

Ek lees vanoggend weer hoekom so baie bronne en navorsing dui op die belangrikheid daarvan dat gesinne saam moet eet. Focus on the Family, ʼn organisasie wat hulle beywer vir gesonde, Christelike gesinswaardes, lys in die artikel “Dinner: Nourish your family as a family” ʼn lang lys voordele daarvan om as gesin saam te eet, alles bevestig deur navorsing:

  • Daar is ʼn baie sterk verband tussen akademiese prestasie by tieners en gereelde gesinsetes aan tafel.
  • Tieners wat deel is van gesinne wat saam eet, se psigologiese welstand is beter, hul alkohol- en dwelmmisbruik is laer, en daar is laer vlakke van seksuele aktiwiteit en selfmoord.
  • ʼn Studie deur die Universiteit van Michigan het bevind dat gereelde gesinsetes (minstens vyf keer per week) ʼn groter rol speel in ʼn verbetering in kinders se akademiese prestasie as studies, sport of ander skoolaktiwiteite.
  • Voorskoolse kinders wat gereeld aan tafel saam met hulle gesin eet, se woordeskat, vermoë om stories te kan oorvertel en vermoë om hardop te lees, is beter.
  • Kinders wat saam met hul gesin eet, het ʼn laer kans om eetversteurings te ontwikkel.

Daar is nog ʼn lang lys voordele; ook die vanselfsprekende voordele soos die aanleer van tafelmaniere, sosiale vaardighede en gesonde eetgewoontes. Maar net hierdie vyf is al klaar genoeg om my ʼn knop in die keel te gee. Ek is dankbaar vir daai erfgeldjie waarmee ons ons lekker ou hout-eetkamertafel kon aanskaf, en bitter dankbaar vir elke kosbare oomblik wat ons al saam om hom gehad het.

Dis dalk tyd dat ons vir ʼn oomblik ophou moedeloos voel oor die land, en die hopelose taak om iets daaraan te doen. Ons sê gereeld vir mekaar ons moet ʼn verskil maak; betrokke raak; die nood om ons raaksien en help net waar ons kan. Maar dalk is dit tyd dat ons net vir ʼn oomblik stilstaan en na ons eie gesinne kyk. As ons kerngesonde gesinne kweek, is daar vier of vyf of ses meer mense wat in die oggend kan uitskiet, elkeen in hul eie rigting, en met ʼn gesonde hart ʼn verskil kan gaan maak. Dit hoef nie elke aand te wees nie. Begin met een aand ʼn week, dan twee, en probeer by vier of vyf uitkom.

Ek wens vir jou ʼn eetkamertafel. Eenvoudig, sonder spoggerige eetgerei. Een met merke wat stories vertel, en stoele wat moeg gery is. Mag jou mooiste herinneringe om jou tafel gemaak word.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Genieve ·

So waar die lewe is net n gejaag.Die selfone het heeltemal oorgeneem.Dit vat di kommunikasie in die huis weg,ek weet waarvan ek praat.Gewoonlik is ek 1ste by die huis na5 en dan kom my man.Sodra hy ingestap het,sit op die stoel en dan is di selfoon teenaan.Dit voel net asof alles kom verander het,maar ek moet se ek is hard besig om aan dit te werk,glo my.

Leon van Rensburg ·

Fantasties, wens ek kon deel aan jul tafel. Hierdie rubriek het my dag gemaak, veral die “saambid”, ‘n kardinale bestandeel van ‘n gelukkige gesin.

Dankie Susan

Johann Ungerer ·

Susan, hier is ‘n drukkie vir jou. Ons gesin eet ook elke aand, vir die laaste 32 jaar al, aan tafel.
Kosbaar of “priceless” soos die Ingelse sal sê

Yolandé Kersop ·

Sjoe Susan…. Baie dankie vir hierdie pragtige artikel. Ek glo 100% saam met jou dat saam-eet as gesin van onskatbare waarde is. Wees geseënd. Groete Yolandé Kersop

Johan Oosthuizen ·

Baie dankie vir ‘n sak vol pitkos. Liefwees en omgee, tyd vir mekaar, luister na mekaar, aanvaar mekaar ten spyte van en vergiffenis bring heling vir ‘n samelewing wat aan flarde geruk is. Iemand het eendag gesê: “As jy vir God se saak te besig is, dan IS jy te besig!” Ek sê (uit bitterlike ervaring) “As jy te besig is om tyd aan jou gesin te gee, dan IS jy te besig!” In die Woord sê iemand, “My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. “Ek, en hopelik baie ander sê, “My gesinslewe gaan ten gronde weens ‘n skynbaar onkeerbare kennisontploffing!”
Alles waartoe hierdie kennis en tegnologiese vooruitgang lei en die sinnelose gedrewenheid om alles te doen, te benut en na te jaag dat daar vir die heel belangrikste GEEN tyd is nie. Nie eers tyd om saam te eet en die allerbelangrikste en sommer net goetertjies met mekaar te deel nie.
Iemand het eendag ‘n waar ding gesê: “Love is not a feeling. It’s an act of your will.” ‘n Wilsbesluit verg soms bomenslike, daadkragtige besluitneming. As ek regtig lief het en omgee is dit tyd om tyd te MAAK vir die kruks van die saak. Wat help dit dat ons die hele wêreld win en ons verloor mekaar. God het ons kosbaar vir mekaar gemaak en ons is kosbaar vir Hom. Ons moet ophou mors met wat vir God kosbaar is.

Johan Oosthuizen ·

Ai, mag dit nie op dowe ore val of voor blinde oë in die niet verdwyn nie! Iemand het gesê, “As jy vir God se saak te besig is, IS jy te besig.” Ek voeg by: “As ons vir gesinsbelange te besig is, IS ons te besig!” Iemand anders het gesê: “Love is not a feeling, it’s an act of your will.” Om tyd te MAAK ter wille van gesinsbelange is ook ‘n wilsbesluit waarvoor geen prys te hoog kan wees nie. Tegnologiese vordering, lewenseise en die gejaag om by te bly, het die struktuur van liefwees en omgee, praat met mekaar, luister na mekaar en gee vir mekaar aan flarde geruk. Dis tyd vir opoffering om heling te laat plaasvind. Ons is kosbaar in God se oë en ons moet nie mors met wat vir Hom kosbaar is nie. Net ek en jy kan die verandering aan die rol kry.
Dankie, Susan, jy laat ons dink.

nic Joubert ·

Kan maar net alles bevestig wat sy gesê het…dit werk so! Herinner my aan my kinderjare waar ons so saam gekuier het tot teetyd toe. Daardie jare was nie so gejaagd nie… of jaag ons maar self die jare aan?

Jacobus Krynauw ·

Ek deel jou sentiment en vreugde oor saam eet. Alle eer aan my enigste vrou wat dit in ons gesin gevestig het. Saam eet en vooraf saam kos voorberei is van onskatbare waarde.

Sarien ·

Ek nou sommer lekker trane gekry. Jy is sooo n stunning mensie. Ek 17 Jan by jou kantore stop en hier sit n vrou mt Golden Retriever en speel. Toe jy opstaan en ons mekaar ontmoet sien ek dis jy. Susan almal wie jou ken sal saam stem jy is n JUWEEL.

Barnard ·

Susan,ek is n ouma van 68 jaar…het nou jou rubriek so geniet ! Ons het grootgeword in n tyd toe ons nog gereeld saam aan eettafel geeet het…watter wonderlike tye was dit nie ! My oorlede Moeder was n uithaler kok…..en ek onthou as die kos op die tafel geplaas word, die afwagting om begin skep aan haar heerlike kos. Eers is daar gebid, en dan het almal geskep …ek onthou die heerlike samesyn en liefde,lekker lag vir my oorlede Pa se staaltjies wat hy na die ete met ons gedeel het. Dan word daar heerlik aan tafel gekuier voor ons aangaan met ons verskillende take….was SO kosbaar…..beste gesinstyd wat daar is ! Dankie Susan,jy het my weer laat onthou……

JJ ·

My beste tye as kind was tydens aandete by die eetkamer tafel. Ek sal al my meubels opgee vir n eetkamer tafel. Dieselfde reels geld in ons huis – almal kom sit aan tafel en die tv moet af. Somtyds is dit stil om die tafel en ander tye praat almal tegelyk. Die beste tyd vd dag!

zahn ·

Ek besef nou eers hoe gelukkig ons is, en waarom, s ek jou artikel in my lewer kan toepas. Ons het ook jare terug ‘n eetkamerstel aangeskaf, en baie na aan dieselfde roetine toegepas. Ons kinders is vandag ons suksesverhaal, en jou artikel verklaar vir my baie. Daar drop die pennie toe vanoggend. Nou toe nou. Dankie, ek gaan nou vir my vrou vertel!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.