Redakteursbrief: ʼn Man met ʼn byl, ʼn poncho, en stilte in Botswana

Foto: Marieta Kemm.

In die hart van Botswana, terwyl ek ʼn dogtertjie se koue arms probeer warm vryf, kom ek verlede week tot my sinne.

Ek ken nie haar naam nie en ek kan nie haar taal praat nie. ʼn Ysige windjie waai. Sy is een van die tweehonderd of wat kinders van die dorpie Moralane in Botswana wat opgedaag het vir speeltyd by die sendingtasie waar ek saam met ʼn span van ons kerk op ʼn tien dae-uitreik is. Elke middag al hier van twee-uur af kom die kinders aangedrentel, en raak hulle in die stof buite die kerkterrein aan die speel en stoei terwyl hulle wag vir die hekke wat om vieruur oopgaan vir speeltyd.

Dis koud, maar aangenaam wanneer die wind nie waai nie en mens in die sonnetjie kan bak. Ons dra denims en langmouhemde. Die meisietjie wie se arms ek vryf, het ʼn stukkende driekwartbroekie en moulose hempie aan. Sy rittel van die koue. Ek skat sy is so vier jaar oud, maar dis moeilik om te sê. Die meeste kinders is te klein vir hulle ouderdom, want hulle eet min en ongereeld.

Maar sy is nie ʼn patetiese slagoffertjie van haar omstandighede nie. Inteendeel. Marieta, die sendeling wat vir ʼn jaar in Moralane woon, glip ongemerk ʼn wollerige poncho oor die dogtertjie se kop (die beleid is nie om te gee nie, want dit skep ʼn ongesonde kultuur; ouers kan wel vir net ʼn paar pula tweedehandse klere en poncho’s soos dié by die sendingstasie kom koop). Met die warmte om haar lyf voel sy dadelik beter, en binne oomblikke speel sy weer. Die stof maak geel wolkies in die lug soos die kinders kaalvoet touspring, balskop, toutrek en krone en papiervliegtuigies knip en plak.

Net soos die seuntjie wat ons een laatmiddag raakloop toe ons ʼn ent gaan stap. Hy praat goed Engels. Sy naam is Botsang, en hy is 11 jaar oud. Die klere aan sy lyf is te klein, en baie vuil. Maar Botsang kan sy geluk skaars glo dat hy mense uit Suid-Afrika ontmoet. Hy is ʼn klein slimkoppie; sy vrae het geen einde nie. Hy is openlik geskok om te hoor dat kinders in Suid-Afrika nie skool toe kan stap nie, omdat die skool te ver is en dit nie veilig is nie. Van misdaad soos ons dit hier ken, is daar in Moralane geen sprake nie.

Daar is ander misdaad en geweld wat hy wél ken. Werkloosheid, armoede en ondeurdagte welsynshulp van die regering het in dié gemeenskappie ʼn bose kringloop geword. Huishoudelike geweld en drankmisbruik is vir Botsang niks vreemds nie. Tienerswangerskappe, HIV en TB is deel van sy alledaagse lewe.

Maar net soos die dogtertjie is Botsang vrolik en gelukkig. Hy wil eendag ʼn soldaat word, vertel hy. Ek skrik ʼn bietjie. Hoekom? Wil ek weet. Sodat hy ander mense kan beskerm en kan help om vrede te bewaar, verduidelik hy.

En dan vra hy: “Can’t you take me with you to South Africa? Please?”

Iewers in die week het ons een oggend vroeg ʼn tydjie om iewers alleen in die veld te gaan Bybelstudie doen. Ek maak my tuis in die son agter ʼn bos, stoksielalleen, met my kampstoel en ʼn beker koffie. Daar is geen mens naby nie. Die enigste geluide is dié van bok- en beesklokke nou en dan, kinders wat iewers in die verte speel en voëls (ook nie baie van hulle nie) wat sing. Dis stiller as enige stilte wat ek in jare gehad het. Nie net om my nie, ook in my kop.

Skielik hoor ek voetstappe agter my in die lang gras. Iemand hardloop in my rigting. Ek kyk oor my skouer, en word yskoud. Hier is dit nou, besef ek. Die Tswana-man wat na my toe aangehardloop kom, se klere hang in rafels van sy lyf af, en die vuil mus op sy kop is laag oor sy oë getrek. Oor sy skouers dra hy ʼn reuse tuisgemaakte byl. Ek sit versteen, die oop Bybel op my skoot ʼn skrale troos. Ek wonder vlugtig watter van Maroela se joernaliste die storie sal skryf oor my afsterwe in ʼn buurland.

Dan is hy by my. Hy maak vlugtig oogkontak, groet vriendelik in Tswana, roer sy vingers in ʼn wuif en hol verby.

Ek kom stadig tot my sinne; voel ʼn bietjie verspot oor my vrees terwyl ek my hartklop tot bedaring probeer kry. Maar ek weet ook waar dit vandaan kom: Waar ék vandaan kom, is daar niks onskuldigs aan ʼn man wat met ʼn byl oor sy skouer op jou afgestorm kom nie.

ʼn Ruk later kom die man teruggestap, met die twee wegloopdonkies wat hy gaan haal het aan ʼn tou agter hom aan. Hy groet weer. Ek wonder skielik hoe vreemd ʼn wildvreemde wit vrou op ʼn kampstoel met ʼn boek op haar skoot in die middel van die veld vir hóm moes gewees het.

En só, besef ek met my kop wat uiteindelik stil is terwyl ek die dogtertjie se arms vryf, het elke land, elke gemeenskap, elke generasie sy uitdagings en probleme. Sommige gemeenskappe sʼn is primitief en basies. Ander sʼn is kompleks en kunsmatig. Sommige stoei met hongersnood; siektes; koue; die oorlewing van die sterkstes. Ander stoei met verslawing; hedonisme; besige skedules; tegnologie wat hul lewens oorneem.

Ek kan kies om, soos hierdie dogtertjie, iets warms oor my kop te gooi en die meeste te maak van die oomblik. Ek kan kies om die een te wees wat ʼn warm poncho oor iemand anders se kop gooi. Ek kan kies om die seuntjie te wees wat streef na ʼn beter lewe, hier of iewers anders – dit maak nie saak nie. Ek kan kies om my donkies te gaan haal as hulle die pad vat, want hulle is myne. Ek kan kies of ek die byl oor my skouer wil gebruik om iemand anders skade te berokken, of om hout te kap vir vanaand se vuur.

Daar is ʼn klomp goed wat ek nié kan kies nie; ek weet. En ek weet alles is nie so eenvoudig nie. Maar gun my die oomblik van stilte.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Nicolene ·

En ons kan tog so maklik kla…….
Wow!! Wow!
Dis dinge soos die wat ek weer en weer en weer besef. Tel jou seëninge want hulle is goud werd
Dankie Susan, jy het my aarde weer bietjie “geskud” om op te hou met kla en te murmeer.
Laat ek liewerste voor God se oë dans en Sy goedheid prys!!!!

Rudolf Bredell ·

Dankie Susan. Mag die Here verder in jou hart werk. Mag ons begin om die verskil te wees wat nodig is. Was great om saam met jou op die uitreik te wees.

Hendrik ·

Hierdie storie het skrille kontras met die Mej. Suid Afrika herrie né?

Leentjie Preller ·

Baie dankie vir die pragtige stuk Susan.
Maroelamedia is vir ons op die platteland ‘n fantastiese bron van opjektiewe nuus.

Monica Potgieter ·

Baie beskrywend van hoe ons dit saam met jou beleef het, Susan. Ek het weereens besef hoeveel meer vryheid ek beleef het sonder ‘n knaende selfoon, facebook, emails of tv wat heeltyd my aandag wou opeis. Daardie ou met die byl het eerste verby my geloop en my definitief ook op ‘n nuwe vlak van gebed ingelui. ?

Hans ·

Ek het begrip wat die skryfster wil oordra, die vraag wat onwillekeurig by my na vore kom is-in die RSA en in die omgewing van Pretoria is miljoene mense wat hulpbehoewend is hoekom na Botswana reis om daar hulp te verleen.

Susan Lombaard ·

Dagsê Hans. Ek help hier ook. Soms het mens nodig om ‘n nuwe perspektief op jou eie omstandighede te kry, en toe die geleentheid oor my pad kom om verlof te neem en saam met ‘n span Botswana toe te gaan, het ek geweet dis wat ek op dié tyd in my lewe nodig het. Die idee is juis (onder meer) dat mens terugkom met nuwe insig, en met hernude ywer inspring en ‘n verskil maak in die omgewing waar jy elke dag is.

Pieter ·

Ai, hoe verlang ek nou na ons eie sewe maande in Zambië en Malawi! Soms was daar mense wat enige blanke man aansien vir ‘n wandelende kitsbank, maar die hartlikheid, opregtheid, eenvoud en rustigheid daar was wonderlik. Ja, dit was heerlik om weer botter, kaas en joghurt vryelik beskikbaar te hê, maar ek word steeds naar as ek by enige “mall” instap. Mammon in elke venster, die onnodigste dinge denkbaar wat jy móét aanskaf, en “meneer, jy kan dit op krediet neem.” Nee dankie, ek wil hier uitkom. Ek mis die naïewe rustigheid, die mense wat soms baie beter as óns verstaan wanneer die Woord sê dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie…hulle wéét daar is’n geesteswêreld – al ken hulle dalk nie die Here nie. Maar dié wat Hom wél ken – sjoe! By húlle kan die meeste van ons báie leer. Húlle weet van geestelike oorlogvoering, húlle verstaan die krag van die bose magte, maar nóg meer, vérstáán hulle die krag van God wat sodanige magte totáál oorskadu!
Ek verlang my flenters na dié arm, afgeleë, rustige plekke waar mense nie veel hoop het nie, maar nogtans breed glimlag…

Pieter ·

Hans, jy is mos hier! As jy hulle nood raaksien, hoekom reik jy nie uit na hulle nie?
Ons mág nie die mense op ons voorstoep ignoreer nie, en dikwels weet mense op uitreike nie eens waar hulle huishulp of tuinwerker staan met die Here nie – dit laat my wonder hoe ernstig hulle sélf met God is…
‘n Uitreik na ‘n buite-plek het egter voordele:
– hulle sien dikwels dinge raak waarvoor die plaaslike mense al afgestomp geraak het
– hulle kom met ‘n nuwe energie wat deur die andersheid van die omgewing aangevuur word
– hulle inspireer die plaaslike geloofsgemeenskap geweldig

Die nadele is ook daar:
– hulle onkunde word maklik uitgebuit vir finansiële gewin
– daar is nie behoorlike opvolg beskikbaar vir nuwe bekeerlinge nie, met katastrofiese gevolge van “Christene” wat steeds hul tradisionele geloof beoefen en so meer
– dit is soms meer ‘n avontuur as’n uitreik.

My ervaring is dat mense wat uitreik se lewens daarna nooit weer dieselfde is nie. Dit is natuurlik baie voordelig as jy saam met plaaslike kerke of sendelinge kan werk tydens jou uitreik.

As jy niks self aan die geestelike nood in jou omgewing doen nie, dink ek jy moet aan jou eie betrokkenheid werk eerder as om ander se te kritiseer. Die wat uitreik is meestal op plaaslike vlak óók betrokke om mense te bearbei!

Mou ·

Begin by jou eie voorstoep. Mens is dalk meer suksesvol net uitreik in die buiteland veral daar waar mense en hul kinders gesê kan word wat om te glo, maar as jy dit nie met jou eie mense wat dit netso nodig het regkry nie,dan is jy niks in jou werk nie. Gaan en maak disiepels van ALLE nasies, eers Judah, Samaria, en dan aan die uiteinde van die wêreld. Sien jy die orde? Begin by jou eie voorstoep. As jy dink jou eie mense is te wys in hul eie opinies is jy dalk reg, maar dit wys dat hulle dit meer dringend nodig het. Maar Christus, die karakter van God binne jou gaan dit verander. Dis waarna ek streef.
As jy mense in die wêreldse koninkryk wil in lei deur godsdiens te gebruik en wil hê hulle moet alles kry wat meer gemakliker lewensgehalte bied of eerder die wêreld se idee van gemaklikheid en vryheid wil gee deur godsdiens, dan is jy self n slaaf aan sonde. Die Woord oordeel in gees en die wêreldse persoon in die vlees. Ek is saam met jou Pieter. Maar mense moet vryheid kry deur eers te weet wát die sonde is en wat God is, dan sal hul weet wie Christus is. Die waarheid, lewe en die weg. Dan eers sal totale vryheid ervaar word. Dit is die werk. Begin by jou eie mense en van daar af die ander lande.

Johannes 8:13-48.

Hans ·

Pieter-ek doen op my manier ook iets vir my naaste. Ek het nie die skryfster aangeval nie,net n vraag gevra wat sy beantwoord het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.